Nuuskommentaar: So, maar so sat vir Zuma-stories

Jacob Zuma

Jacob Zuma

Baie lesers se vernaamste waarneming van pres. Jacob Zuma is sy vermoë om soos ’n neet te klou, en nie meer die gevaarlike onhebbelikhede waarmee die president gereeld vorendag kom nie.

En omdat soos ’n neet klou vandag, net so nuuswaardig as ’n neet klou môre is, taan die belangstelling in Zuma se doen en late by baie. Maar onverwags is die neet die afgelope paar dae amper losgeruk, en is daar bepaald begin skryf aan ’n nuwe Zuma-hoofstuk. Hopelik ’n kort slothoofstuk.

Zuma het die jongste aanslag teen hom, dié keer in die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC oorleef. Dié keer was dit naelskraap. Volgens kenners het Zuma swaar gewond van die petalje afgekom.

Vir die eerste keer kon ’n redelike blik gekry word van hoe groot die verset teen Zuma was, hoewel daar waarskynlik nog sou wees as hulle identiteitsbeskerming sou geniet.

Die interessantste is dat van die beste ministers hulle duidelik téén Zuma uitgespreek het, en dat van die swakstes sy grootste voorpraters was.

Premier Ace Magashule van die Vrystaat se voorstel dat diegene wat teen Zuma gestem het, die trekpas kry, is egter afgestem. Dit lyk dus of van Zuma se ondersteuners traag is om ’n skeuring in die party af te dwing.

Tydens ’n nuuskonferensie later vandag sal dalk meer duidelikheid verkry word. Dit lyk of ʼn soort kompromis bereik is om die Zuma-kwessie aanstaande jaar tydens die ANC se konsultatiewe konferensie te bespreek. Indien wel, beteken dit dat Zuma nie nou werklik ’n kabinetskommeling kan doen sonder om die “op die ys”-situasie te verbreek nie. Maar Zuma is Zuma en enigiets kan nou te wagte wees – veral oor Kerstyd wanneer sy raadgewers ook gaan uitspan, en Zuma in sy heimat, en gebaai deur ondersteuners, al te dikwels dinge kwytgeraak het wat die buitelandse pers laat uitbasuin het watter piesangrepubliek Suid-Afrika geword het.

Zuma self is intussen vort Kuba toe om Fidel Castro se begrafnis te gaan bywoon.

Zuma se doen en late het vir hom baie teenstand op die lyf laat loop. Sy blok van ondersteuning is so verbrokkel dat die ANC banger vir ’n geheime stemming in die Algemene Vergadering geword het as die duiwel vir ’n slypsteen. #ZumaMustFall het ’n lewe van sy eie gekry met baie prominente ANC-lede wat die toon aangee. Die SAKP en Cosatu het Zuma die rug toegekeer.

Tog is dit ’n algemene waarneming dat die algemene publiek sat raak vir die “Zuma-stories”. Waar Zuma-berigte betreklik onlangs nog baie lesers getrek het (en lustig aan die Zuma-bashing meegedoen is), kry dit nou veel minder aandag. Hier en daar kla ’n leser dat hy/sy nou al so siek en sat vir Zuma is, en of die media dan nie ook ander stories het nie?

Maak nie saak hoe ongewild Zuma is nie, hy is ’n belangrike nuusmaker. Dit is veral goed gedemonstreer met die Nene-insident – en daar is nog ’n handvol soortgelyke situasies wat Zuma kan veroorsaak, sommige met selfs groter gevolge.

Benewens die bloot baie nuusdekking wat Zuma kry, is daar egter ook ’n nader faktor dat baie lesers sy optredes, of selfs doen en late, nie meer as belangrike nuus beskou nie. Die lesers raak gewoond daaraan dat Zuma allerhande lawwighede kwytraak en dan enige afsettingspoging grinnikend oorleef. Sy vernaamste kenmerk by baie is nie meer sy lawwe bekkighede of dikvelligheid nie, maar sy vermoë om soos ’n neet te kan klou. Dis ’n statiese “aksie” en iets wat staties bly, is later nie meer nuuswaardig nie.

Tog, die naweek en gister, het die neet amper losgekom, en dit op een van die plekke waar Zuma hom waarskynlik die meeste gekoester gevoel het. In die proses het een van die ANC se hoofargumente vir die behoud van Zuma se leierskap, naamlik die eenheid van die party, soos ’n kaartehuis ineengestort. Met of sonder Zuma is daar verdeeldheid in die ANC. Met Zuma aan bewind word die skade vir die ANC en die land al groter.

Namate perspektief op vanjaar se munisipale verkiesings verkry word, word dit vir al meer ANC-lede duidelik hoe ’n groot rol Zuma gespeel het om die ANC in veral stedelike gebiede die kreeftegang te laat gaan.

Dit word vir al meer denkende ANC-leiers duidelik: As die ANC nog die volgende staatspresident wil oplewer, moet die party so gou moontlik selfs ’n president kry wat vertroue inboesem, en verkieslik ook ’n lang genoeg tyd in die stoel van staatspresident kry om kiesers te oortuig die tyd van gevaarlike hansworsery en duisterwerk is verby.

Maar die neet sal weldra weer behoorlik vassuig …

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Leendert ·

Ek sien hy het gister op die vergadering, toe hy die kongresgangers toegespreek het, gesê sy vyande wil hom in die tronk sien, en om te bedank sal wees soos om hom aan sy vyande oor te lewer, en dit sal hy nooit doen nie. Dus lyk dit my hy is nog lank, lank, lank nie klaar nie, hy het nog baie plannetjies. Dalk is sy hoop nou op ‘n vrouepresident.

Ella ·

Ek dink ek weet wat baie Suid-Afrikaners vir Kersfees wil hê….iets op ‘n silwer skinkbord ……

AL ·

Dit sal n baie groot geskenk wees vir miljoene suid-afrikaners.

Jan ·

Soos Herman sê, “hy klou soos ‘n neet”, so dit is nog lank nie klaar met hom nie.

Rynhardt ·

Zuma se mense was net n klomp lafaards, daarom kon hul nie teen hom gaan nie! Ou gewoonte.Zuma het 88lyfwagte wat hom oppas terwyl ons mense deur sy regime onderdruk word en boere uitgemoor word.Die feit dat Zuma- hul,vinnig hul maatjie, Castro se begrafnis kan gaan bywoon, wys hy voel vere wat aangaan in SA!Zuma kan altyd reken op lafaards wat hom steun! Somtyds wonder ek,waar was die blankes se koppe destyds met die politiek? Kan ons mense destyds en vandag, nog steeds nie die politiek lees in SA nie! Die Anc is nie goed, met of sonder Zuma in nabye toekoms nie!

Waghond ·

Dit is die begin van die einde vir Zuma en die ANC. Die tekens is daar.

Heinrich ·

Ai waghond, ek wens ek kon saam met jou stem. Ongelukkig is hierdie Afrika, en demokrasie werk nie so in Afrika nie. Die ANC wil dan so graag kers opsteek by hul rolmodel in Zimbabwe. Soos daar ook maar net gerugte was van ‘demokrasie’ in Zim is daar ook maar net gerugte van integriteit in die ANC; ek het êrens gehoor dat hulle glo ‘n integriteits kommittee het: wat ‘n oksimoron as jy nou ooit een gesien het.
Maar ek droom saam met jou dat hierdie terroriste-organisasie sy stert sien…

Callie van der Merwe ·

Zuma gaan nog n paar streke trek maar sy dae is getel! Hy vergelyk homself met Jesus en net daar het hy die lyn oorgesteek tussen arogansie en afrekening. Wat die arme ANC NUK nie besef nie is die vasklou aan Zuma die rede gaan wees dat hul waarskynlik die volgende verkiesing gaan verloor. Hoe langer hulle klou hoe groter die skade!

Boetman ·

Ek dink dis hoogtyd dat Maroela ‘n onderhoud met FW reel sodat ons kan hoor wanneer presies die wigte en teenwigte sal inskop.
Ons wil nie meer hoor van “daar is hier en daar probleme, maar niks is onoorkomlik nie” – ons wil net weet van die wigte en teenwigte.

Adam Boshoff ·

Hy maak my naar met daai hehehe laggie van hom Seker die swakste president wat SA nog gehad het Ons kan net beter doen die dag as hy weg is

ouma ·

As Zuma nie die toekenning kry vir Nuusmaker van die Jaar nie, koop ek ‘n hoed om op te eet. Hy is altyd in die nuus! He-he-he!

Johan ·

As iemand ooit gedink het die skurk gaan gaan…… dink weer die ou gaan nêrens tot 2019 nie…..

Zachrys ·

DANKIE ou ZUMA! die Neet wat nie n Neut is nie!
Ou zoempies het vir ons die anc meerderheid, populariteit en ideologie vir Ons mooi op gebreek. Julle moet nie so negatief oor die ou wees nie!
Dit het ons almal ‘n baie groot guns bewys!
Soos ‘n baie swak speler in die ander span.
En ja dit kos BAIE maar sou enige iets anders as juis DIT hierdie uitwerking gehad het?
fw Maak my meer naar, ons word afgeslag daar buite en hy gee seker net so ou skewebek glimlag na binne soos my vriend hier bo,…. nalatenskap van die volks veraaier. Maar gelukkig draai die gety nou na die konserwatiewe kant my verligte vriend, die liberalisme is maar self vernietigend die een wereld mag begin te kraak…

Hendrik ·

Die helfte van die ANC NUK het soos Zuma ook geraamtes in die kas. Hulle beskerm hulle eie belang. Hulle is bang, dat wanneer Zuma vervolg word, hulle ook in die slag gaan bly. Gelukkig is die ANC besig om minder en minder geloofwaardigheid by sy tradisionele kiesersbasis te hê. Ongelukkig swaai hulle nie DA toe nie, maar EFF toe.

Rynhardt ·

Op SABC 2 het Jesse Duarte van die Anc sopas gese:”Nobody would stand in the way of our revolution”.Daar het jy dit! Die ouens wat glo jy gaan die Anc klop in n verkiesing, moet weer gaan dink.

Etienne ·

In die ou dae – voor die SABC sirkus – was daar ‘ n program met die naam “Misdaad”.Dit het ‘ n kenmerkende kenwysie gehad wat speel terwyl iemand weg hardloop.’ n Spiraal is oor die man getrek wat al hoe nouer en nouer draai – tot by ‘ doodlooppunt ….Dit is waaraan die ANC my laat dink.

Henry ·

Stem saam met Herman se skryfsel.
Behalwe dat Zuma eerder soos strooi* aan ‘n wolkombers klou/kleef, ipv die ‘neet’ geklouery.

*self gesensor

Wilhelm ·

So gaan dit in ‘n land waar mense nie kan of wil dink nie! Hierdie euwel sal voortbestaan totdat die stemvee logies kan begin optree . As mens moet oordeel aan die huidige gebeure is die sterkste juis die een wat almal probeer uitkry!

Johannes Meintjes ·

Dit is tragies dat Zuma tog aan die einde van die dag deur die ANC, die publiek en die internasionale gemeenskap “verdra” word, ten spyte van korrupsie, wangedrag, die spies van die nasie insidente in verskeie vorms (o.a.) en uitlatings wat eenvoudig glad nie van staatsmanskap getuig nie. Wys maar hoe begogel ons mensdom is en hoe sterk die internasionale skaakspel wat hulle duur gekoopde pionne op die skaakbord hou, al in ongeregtigheid gevorder het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.