Nuuskommentaar: Soek die rassespook op regte plek in die taaldebat

Grafika: Twitter

Grafika: Twitter

Om slagspreuke as name aan veldtogte te gee wat dikwels in bewegings omsit, het geblyk doeltreffend te wees. As na die verskynsel internasionaal gekyk word, is daar waardevolle slagspreuke wat ook vir Suid-Afrika lesse inhou, soos dat almal se lewe belangrik is – nie net dié van diegene wat meen hulle word benadeel nie.

Dit het mode geword om veldtogte name te gee soos #FeesmustFall en #OpenStellenbosch, wat dan as bewegings voortgesit word. Dit is egter nie alleen eie aan Suid-Afrika nie. Sommige van hierdie slagspreuke sny diep om die drogredenasies wat soms ’n gemaksone in samelewings gekry het, aan die kaak te stel.

Een so ’n Amerikaanse slagspreuk en sy alter ego wat belangrike lesse vir Suid-Afrika inhou, is die Amerikaanse “Black lives matter”. Die slagspreuk en die gevolglike beweging het sy ontstaan in die omstrede gevalle waar swart mense, dikwels ongewapen, deur die polisie doodgeskiet is.

Hoewel Hillary Clinton wat aan die Demokrate se nominasiestryd vir volgende president deelneem – baie soos in die gees van Matierektor Wim de Villiers se styl om by #OpenStellenbosch te gaan kers opsteek – op haar beurt by Black Lives matter raad gaan vra het, toon opnames dat die meeste Amerikaners dié beweging nie goedgesind is nie. Die enigste bevolkingsgroep wat beduidend steun verleen, is die swart gemeenskap van wie maar ook net ongeveer ’n derde Black Lives matter steun.

Hierteenoor kry die plaasvervangende gedagte, All lives matter, oorweldigende steun. Dit lyk dus op die oog af of bitter baie Amerikaners voel dat verby mense se velkleur in beoordeling gekyk moet word, en dat almal se mensheid die enigste norm behoort te wees.

Bykans dieselfde gees straal uit ’n aanbieding van die Nederlander, Bart Bouwman, op LitNet. Bouwman was ’n uitruilstudent by Kovsies en het Afrikaans onder die knie gekry, en is nog intens by Suid-Afrikaanse sake gemoeid. Hy begin sy aanbieding met ’n slagspreuk: #NtuliMustRepresentAll. Hy verwys na die voorsitter van die Kovsie-studenteraad, Lindokuhle Ntuli, wat hom op die Bloemfonteinse kampus teen Afrikaans uitgespreek het.

Bouwman spreek in sy aanbieding ʼn wye verskeidenheid vraagstukke aan, waarvan slegs enkele beginsels hier onder die loep geplaas kan word.

  • Kan iemand voorsitter van ’n studenteraad wees en dan slegs sektorale belange bevorder? Dit herinner aan pres. Jacob Zuma wat sy ampseed na die maan stuur deur openlik die ANC bo die land te stel, en boonop sy standpunt tot in die parlement verdedig (al giggelend).
  • Bouwman betwis ook die stelling wat algemeen gehoor word dat Engels die enigste internasionale wetenskapstaal is. Bouwman voeg daarby tale soos Spaans, Frans en Portugees. Hy meen dat Duitse en Nederlandse vakliteratuur in sommige velde verder ontwikkel is as die Engelse. Maroela Media het juis voorheen reeds daarop gewys dat studente wat in Afrikaans studeer, dikwels goed bemagtig is om ook uit die rykdom van Nederlandse en Duitse vakliteratuur te put wat hul horisonne veel meer verbreed as die medestudente wat slegs Engels gebruik.

Dit, in soverre Bouwman se aanbieding betref.

Is die groot probleem nie maar dat die owerhede se aandrang op Engelstaligheid bloot ’n poging is om die eintlike olifant in die vertrek te versluier nie? Dit staan immers in die konteks van die transformasiebeleid wat in Suid-Afrika heeltemal rasbehep geword het.

Wanneer na argumente van ontleders gekyk word wat die pro-Engelse opsie ondersteun, word baie aandag gegee aan hoe vervreemd nie-Afrikaanse studente op kampusse moet voel waar “alles” nog die gees van Afrikanerdom uitstraal – standbeelde, geboue se name, wit dosente en so meer. (Dit is ook nie alleen eie aan SA nie – in die VSA is daar nog gereeld gevalle waar swart studente die fyn balans tussen sensitiwiteit oor die slawe-era gebruik om die historiese werklikheid van die suidelike konfederale era te erodeer.)

Meer swart dosente soos waarop aangedring word, veral as die nasionale demografie gebruik word, beteken noodwendig dat slegs ’n klein persentasie dosente klasse in Afrikaans kan, of wil aanbied. Die Solidariteit-DKD-saak toon immers dat dit ook nie “help” om bruin dosente wat wel Afrikaans is as “swart” aan die regering te gaan probeer opfeil nie. Waar parallelmedium volledig onderhou word, plaas dit enorme druk op die dosente wat wel in Afrikaans kan klas gee. Die kritiek op fluister-tolkdienste wat uit die pro-Engels geledere kom, maak dit ook nie maklik om ’n oplossing te vind wat almal tevrede sal stel nie.

Boonop is die ANC-regering lief om die Afrikaanse taalkwessie met die raskwessie gelyk te stel. Die talle rasgebaseerde wette sodat ons nou eintlik maar in ʼn staat van neo-apartheid leef, en die verdediging daarvan, dui daarop dat die land nog bitter ver is van die punt is waar gesê kan word All lives matter.

Dit word nog verder bemoeilik deur die regering wat eerder as meerderheidtirannie ontvou as ’n grondwetlike demokrasie waar die regering in algemene belang, en nié sektorale belang regeer nie. Maar nou ja, as miljoene rande vir nuwe vuurwaens vir tradisionele leiers bewillig word, en nie ʼn sent vir droogtehulp in Mpumalanga nie, gaan #NtuliMustRepresentAll nog lank ’n hersenskim bly.

En as Zuma inderdaad beskikbaar gaan wees vir ’n derde termyn as ANC-president, en die land dan ’n marionettepresident gaan hê, gaan die land nog lank nie vir almal ewe veel omgee nie. Want Zuma se styl van begunstiging en die kweek van eietydse paladyne verstaan niks van regeer in algemene belang nie – ook nie een van regeer in landsbelang nie, want die belangrike ANC se stropermentaliteit moet vetgevoer bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Tdw ·

Laas week is daar optog gehou voor ‘n afrikaanse hoërskool wat nie engels aanbied nie. Intussen is dit die enigste afrikaanse hoërskool, van 3, in die dorp wat nie engels aanbied nie. Verder is daar nog 7 hoërskole in die dorp wat net engels aanbied. Maar daar sal baklei word oor 1 hoërskool. Hoekom? Dis ons taal, ons is trots op ons taal. Hulle wil ons taal verneder, verkleineer en uitroei! Ek sê altyd dis moeilik om ‘n sukses te maak van iets in Suid Afrika. Want sodra dit ‘n sukses is wil die ANC deel hê daaraan. En sodra hulle ‘n vinger in die “pie” het, dan word dit misbestuur en later afgebrand. Ons probeer bou. Hulle kom om alles wat ons bou af te breek. Wat kan ons minderheid doen? Ons bou maar weer die volgende ding..so loop die siklus in Suid Afrika.

Winston ·

Weereens n puik raakvatting van die waarheid Herman. As daar n olifant in die pad staan ry jy om hom, maar as dit n kakkerlak is, ry jy bo-oor hom.

Koos ·

Miskien moet ons ‘n slag saam begin bou en die ‘hulle’ (wat inderdaad enigiemand anders as ‘ons’ kan wees) uit ons woordeskat laat terwille van eenheid. Interessant, Namibia, ons buurland het nie hierdie angst oor die voortbestaan van etniese tale, insluitend Afrikaans nie. Daar is een landstaal, nl Engels, maar ek het dikwels gehoor hoe praat alle rassegroepe Afrikaans met mekaar ter wille van goeie kommunikasie en eenheid. Miskien moet die voorbeeld gevolg word en hierdie ewige beheptheid met ‘ons’ taal once and for all begrawe word.

Liza ·

Dis net so hartseer, onnodig en dom. Dit is soos om ‘n arm af te sny omdat al die ander nie ook ‘n arm het nie. In plaas van om die ekstra arm te gebruik , op te pas , te oefen tot voordeel ook van die met net een arm. Wat bereik ons daarmee, dieselfde as om kinderhuise en fasiliteite vir ander gestremdhede te versaak. Gisteraand se onderhoud met die Maties se ondervoorsitter van hul studenteraad, was pateties! Is dit die vlak van intellegente beredenering wat voorkeur gaan geniet voor deurwinterde kenners se menings. Mense wat vir ALMAL ‘n gelyke plek onder die son gun. Daarby het Ivor Price ook duidelik gesê Engels is beter. Wat sal die nut van Afrikaanse skole enigsins nog wees. RSG en KYKNET kan ook maar Engels word, want hulle sluit mense uit!!! Soos daar ander radio stasies is, is daar ander Universiteite!!!

Frederik ·

@ Koos.
My een seun het 2 jaar by TUT ingenieurswese studeer. Hul klasse was op daardie stadium hoofsaaklik in Afrikaans. Daarna het hy kom klaar maak by UCT, waar al die klasse in Engels was. Volgens hom is daar sekere terme in Engels wat net eenvoudig nie in Afrikaans verstaanbaar is nie of sin maak in Afrikaans nie.
Na hy klaargemaak het, is hy direk oorsee waar hy tot vandag werk. Die amptelike taal in sy werkplek is in elk geval Engels.

Breytie ·

Dit is by my ‘n vraag of die swart bevoorregtes regtig ernstig is met hulle verkondigde bedoelings wanneer hulle die blankes en spesifiek Afrikaners verantwoordelik hou vir die gebrekkige vordering van die swartmense. Ons sien tog duidelik met BEE en Kader-aanstellings dat daar nie regtig ‘n basisgroep van swartes met talent en integriteit is vanwaar kundiges en leiers ontwikkel kan word nie. Die tydsberekening van die huidige studente-opstand om saam te val met eksamen is vir my baie verdag omdat ek uit binnekring inligting bewus is daarvan dat swartes baie meer hulp verg om ‘n volle akademiese pad dwarsdeur nagraadse studie te loop. Dit blyk dat hulle nie so maklik soos blankes die aard van akademiese ingesteldheid baasraak nie. Is dit nie waarom hulle gekies het om hulle griewe met eksamentyd te lug nie?

En is die besware oor Afrikaans en Afrikanerteenwoordigheid nie ook maar gebore uit hulle onvermoë nie en nou soek hulle redes om dit te verklaar. In hulle harte moet hulle tog besef hulle kom nie by nie. Ekself onderrig ook volwasse swartes en ek het hulle gevra waar hulle dink swart professore en lektore vandaan moet kom, Wie moet sulke mense voortbring? Tot my verbasing het hulle aanvaar dit moet deur die blankes verskaf word.

Dan wonder ek of al hierdie gemaal rondom swart studente en hulle eise nie dalk ‘n geskree teen die donder is nie, want dis onafwendbaar dat residensiële universiteite nie hoop het om nog lank te bestaan nie. Tersiêre onderrig word al meer virtueel beskikbaar gemaak en vir ouers om ‘n kind vir vier of meer jare te onderhou en studiegeld te betaal is vir meer en meer mense onmoontlik. Met die vordering van tegnologie sal dit dalk moontlik wees om lesings virtueel aan te bied in verskillende tale. Alternatiewelik sal dit dalk vir die Westerse lande slegs in Engels aangebied word, dan is die huidige stryd in elk geval nutteloos.

Miskien moet ons ‘n oog stewig op die tegnologiese ontwikkeling hou sodat ons nie veg vir iets wat in elk geval uitgedien is nie. Ons Afrikaners kan dalk ons identiteit genoegsaam uitleef deur ‘n eie netwerk binne ‘n virtuele wêreld te ontwikkel. Ek twyfel nie daaraan nie dat ons genoeg kundiges het om so iets moontlik te maak.

Koos ·

En ek dog ek is al stem roepende in die woestyn ….. duidelik dat die swygende meerderheid inderdaad logies en onemosioneel dink. Dankie Liza en Frederik – lyk my tog daar is ‘n lig in die tonnel. Miskien kan ons eendag ook van een nasie in die RSA praat as elkeen net bereid is om minder precious te wees.

Leendert van Oostrum ·

“…as elkeen net breid is om minder precious [sic] te wees.”

Maar dit is juis waaroor die befaamde Handves van Menseregte in ons grondwet gaan – die feit dat elke mens uniek en “precious” is, met sy eie identiteit en persoonlikheid.

Dit is ‘n fundamentele begrip in ons grondwetlike stelsel van “Koos” en “Frederik” hier aanval. (In “Frederik” se geval, skynbaar eintlik verruil vir materialisme en konsumerisme.)

Rietrot ·

Woorde is blind. Dit geld vir alle tale…. laat die wat dit kan lees, dit lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.