Nuuskommentaar: Sol-Tech, Afrikaans en transformasie

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

‘n Aantal jare gelede stel die Vrystaatse Wetgewer ‘n persoon aan om die Vrystaatse media te monitor. Die persoon kon egter nie ‘n woord Afrikaans verstaan nie (en was boonop ‘n Kaizer Chiefs-ondersteuner).

Om nie Afrikaans magtig te wees nie maar die Vrystaatse media te monitor, is min of meer so doeltreffend as om net Pools te verstaan en deur die Withuis aangestel te word om die Amerikaanse media te monitor. Die Vrystaat het nie eens ‘n Engelstalige dagblad nie.

Tog, volgens ‘n artikel vandag in Volksblad, het prof. Adam Habib, rektor van Wits, breedvoerig uitgewei om te verduidelik hoekom ‘n Afrikaanse universiteit “’n slegte idee” is. Hy meen ook dit druis teen die gees van die grondwet in. Wat noodwendig beteken dat die Suid-Afrikaanse grondwet een ding op skrif stel, gekoppel aan die internasionale reg, maar dat sy “gees” iets heeltemal anders kwytraak. Boonop het min of meer elkeen sy eie idee wat met die “transformasie” bedoel word.

Nie ver van Wits af nie, het Solidariteit nuwe geriewe vir Sol-Tech bekend gestel. Die onderrigmedium is Afrikaans. Die hoofspreker is dr. Theuns Eloff, wie se termyn as rektor van die Noordwes-universiteit pas verkort is, skynbaar onder meer oor beriggewing wat die woord “hoernalistiek” te baar. Eloff het onder meer gesê navorsing sal wys dat een van die grootste foute wat Suid-Afrika gemaak het, is om Engels in almal se kele af te druk. Hy beklemtoon weer internasionale navorsing wat op die positiewe waarde van moedertaalonderrig dui.

En dit is juis hierdie navorsing wat in die internasionale reg vermeld word as belangrike motivering vir die reg op moedertaalonderrig, spesifiek vir minderheidsgemeenskappe. Die ander anker is dat dié reg daartoe bydra om konflik tussen verskillende taal- en kultuurgroepe te verminder, iets wat Habib blykbaar verkies om nie raak te lees nie.

Habib meen die feit dat daar 20 jaar ná die aanbreek van die nuwe bedeling steeds universiteite is wat oorwegend Afrikaans is, die bou van ‘n diverse, kosmopolitaanse omgewing in die wiele gery word.

Habib is geen gek nie, maar Eloff ook nie.

In ‘n interessante artikel deur Fikile-Ntsikelelo Moya, ‘n uitvoerende redakteur van die Pretoria News, word hoogs tydig kritieke vrae gevra oor wat transformasie werklik behoort te wees. Opsommend stel hy dit dat die blote feit dat iemand swart, of ‘n vrou is, hom of haar nie outomaties ‘n kandidaat vir transformasie maak nie: “It would seem too obvious a thing to need saying but clearly it is not, so it will have to be said: there is nothing inherently ‘transformational’ about being a woman or about being black.”

Voorts meen hy om vas te stel of iemand “getransformeer” is moet verder gekyk word as dinge waaroor die persoon geen beheer het nie, soos watter kleur of geslag hy gebore is.

Voorts argumenteer hy dat ‘n omvattende ondersoek na ‘n persoon se geskiktheid sal voorkom dat die verkeerde mense in poste aangestel word. Hy gebruik die voorbeeld van die nuut-aangestelde minister van landbou, Senzeni Zokwana, wat agterna geblyk het sy eie veewagter minder as die minimumloon te betaal het, en langer ure as die toelaatbare laat werk het.

Hoewel baie ontleders waarskynlik nie met alles wat Moya geskryf het sal saamstem nie, is dit ook so dat die woord “transformasie”, of toenemend “radikale transformasie,” te maklik gebruik word sonder dat daar duidelikheid is wat bedoel word, of dat dit wat bedoel word, hoegenaamd met die grondwet strook.

Die sogenaamde Wessels-verslag wat oor die PUK opgestel is, is ‘n goeie voorbeeld. AfriForum Jeug het nou ‘n prokureursbrief aan die raad gestuur om nie die verslag in sy huidige vorm te aanvaar nie, omdat dit “nie aan die bepalings van die Wet op Gelykheid voldoen nie en tot onbillike diskriminerende en stereotiperende gevolgtrekkings kom. Die verslag is duidelik diskriminerend teenoor alle Afrikaners en grens selfs aan haatspraak”.

Die huidige gebeure in Irak en Sirië toon duidelik hoe belangrik dit is om ‘n ding vanuit die staanspoor – as die geleentheid nog daar is – reg te maak. Deur ‘n ideologies-gedrewe model af te forseer, veral een wat die beproefde faktore oor baie jare wat die internasionale reg rig, in die tande te skop beteken bloot dat die probleem saam die toekoms ingepiekel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bettie Slabbert ·

Baie opgewonde oor wat Sol-Tech besig is om te doen, en dit sal fantasties wees as daar n net Afrikaanse-Universiteit op die been gebring word wat veral in die mediese rigtings spesialiseer. Na my siening is dit absoluut noodsaaklik om die huidige kennis wat nog beskikbaar is, van persone tussen 50 en 60 oorgedra word aan ons jeug voordat dit verlore is. Wat my ongelooflik grief is dat kinders wat matriek het agter n winkel till sit tussen R1000 en R3000 verdien in plaas van hulle bekwaam as verpleegsters en ambagsmense, en so vir hulle n baie beter toekoms kan verseker i.p.v. ander mense te verryk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.