Nuuskommentaar: Sol-Tech as lewende monument van hoop

Die sooispitseremonie en skoudag vir Sol-Tech se nuwe kampus het verlede jaar op 13 September plaasgevind. Die bou van die kampus het begin met geen idee wat 2020 vir ons sou inhou nie. Die nuwe (voltooide) kampus het onlangs sy naambord opgesit. Die naambord sal nie net gebruik word om die kampus uit te ken nie. Dit sal ook dien as gedenkteken vir die Afrikaner wat stewig gewortel in ons geskiedenis met nuwe hoop na die toekoms kyk.

Weens die harde inperking van vroeër vanjaar, is bouwerk aan die nuwe kampus vir ʼn lang tydperk gestaak. Tog het die planne nooit verander om dit begin 2021 in te wy nie. Vrydag 4 Desember 2020 was die laaste dag wat Sol-Tech-studente op hulle ou Kirkney-kampus deurgebring het. Maandag 7 Desember het die groot trek na die nuwe Monumentpark-kampus begin. Dit ten spyte van al die struikelblokke wat almal vanjaar moes oorleef.

Die nuwe Sol-Tech-kampus moes toevallig, of dalk juis nie, in een van die mees uitdagende jare in die onlangse geskiedenis gebou word. In dié jaar waarin die staat soos diktators op ons almal neergedaal het, is die kampus steeds gebou. In dié jaar waarin ons beweging en vryheid ingeperk is, is die kampus steeds gebou. In dié jaar waarin die ekonomie deur die regering mishandel is, het duisende Solidariteit-lede se skenkings steeds gesorg dat die kampus gebou word. In dié jaar van oënskynlike wanhoop is een van die grootste moderne monumente van hoop vir die Afrikaner opgerig.

Die nuwe kampus verteenwoordig alles wat ons vanjaar weer onthou het:

  1. Indien ʼn mens enige iets gedoen wil hê, gaan jy dit sélf moet doen.
  2. Die regering is nie net nutteloos nie, maar is ook ʼn aktiewe las op enige doeltreffende en vooruitstrewende elemente van die samelewing.
  3. Ten spyte hiervan is Afrikaners se stoere Westerse werksetiek gekombineer met die gehardheid wat Afrika ons geleer het die perfekte teenmiddel hiervoor.

Ons het vanjaar geleer dat ons uitdagings groot is, maar ons oplossings groter. Vanjaar se gebeure en die regering se reaksie daarop was ʼn absolute hoogtepunt in die ANC onbevoegdheid en magshonger wat ons oor die afgelope 26 jaar leer ken het. Die feit dat Sol-Tech ten spyte hiervan hulle nuwe kampus voltooi het, is die absolute toonbeeld van die Afrikaner se antwoord hierop.

Ons antwoord is nie om uit verwyt af te breek nie. Dit is eerder om opnuut te bou. Dit is nie om deur uitdagende omstandighede verlam te word nie. Dit is eerder om in teëspoed vernuwende oplossings op die tafel te plaas. Ons antwoord is om te doen wat ons moet om ons vryheid, geskiedenis en toekoms te bewaar.

Die Sol-Tech-kampus is suksesvol afgehandel omdat ons hele gemeenskap dit laat realiseer het. Dit is daarom ons elkeen se grootste prestasie en grootste monument. Dié monument wat gebou is uit:

  • 11 500 m² se ontwikkeling
  • meer as 150 km se elektriese kabel
  • 8,5 km se pypleiding
  • 4 000 kubieke meter beton
  • 571 sementtrokke
  • 500 ton staal
  • 1,3 miljoen stene
  • 9 500 m² dakplate en sybekleding
  • 600 werkers en subkontrakteurs
  • meer 1 600 argitekplanne wat uitgereik is
  • meer as 1 500 struktuur- en siviele planne wat uitgereik is
  • meer as 1 300 elektriese planne wat uitgereik is.

Begin Desember vanjaar was die bou van die kampus 40 dae voor skedule en 7% onder begroting. Dit spreek van goeie idees wat met uitstekende beplanning en doeltreffendheid uitgevoer is om ʼn krisis op te los. Indien dieselfde aanslag op al ons toekomstige planne toegepas kan word, gaan ons nie die einde van ons sukses ken nie. Indien ons gemeenskap dié aanslag kan dupliseer, sal ons nie net al die probleme in ons land oorleef nie, maar sal Sol-Tech net een van vele monumente van uitnemendheid word. Ons sal dan suksesvol verskeie eilande van uitnemendheid vir onsself kan opbou en bewaar.

Winston Churchill het dit beskryf deur te sê: “Ons gee vorm aan ons geboue, en daarna gee hulle vorm aan ons.” Churchill het duidelik verstaan dat lewende kultuur en gebruike ook in tasbare kulturele monumente omskep (moet) word. Hierdie monumente spreek van dit wat aan die hart van ʼn kultuur lê. Deur in hierdie monumente te leef en groei, word die toekomstige geslagte ook deur die kultuur gevorm.

Lewende monumente soos die nuwe Sol-Tech-kampus is deur ons gevorm en gaan ons ook nog vorm. Dit gaan nie net wêreldklas ambagslui oplei nie. Dit gaan ook een van die instellings wees waardeur ons kultuur bewaar kan word. Sodoende gaan dit ook een van die instellings wees waardeur ons nalatenskap gevorm kan word.

Mag ons terugkyk op hierdie jaar en die puin van ANC-politiek miskyk. Mag ons eerder die lewende monument sien wat midde in die as daarvan gebou is. Met groot genade, bereidwillige hande en hoopvolle harte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.