Nuuskommentaar: Solidariteit-DKD-saak wys wie het ruggraat

Van die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Van die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Oor ’n hele wye politieke spektrum is steun toegesê aan die konstitusionele hof se uitspraak in die Solidariteit-DKD-saak, maar tog, so kort voor ’n belangrike verkiesing, is partye, ook partye waarvan dit nie verwag is nie, besonder swygsaam hieroor.

Nog selde is daar oor so ’n wye front blydskap uitgespreek as oor die konstitusionele hof se uitspraak in die Solidariteit-DKD saak. Onder diegene wat positief daarop reageer het, was die Vryheidsfront Plus, Sanco (wat gereeld as die ANC se vierde arm beskryf word), Max du Preez, die FW de Klerkstigting se Sentrum vir Grondwetlike Regte, dr. Danny Titus en Peter Marais.

Amper nog vreemder is wie swyg, of geswyg het, met veral die DA wat hier vreemd uitstaan en daarom ook onder skoot kom. ’n Besoek aan die webwerwe van die UDM en Cope toon ook dat niks hieroor uitgereik is nie. Die ACDP het ook niks hieroor uitgereik nie.

Dat die ANC niks sê nie, is eintlik te wagte. Dit beheers immers die regering wat hierdie stuk blatante onreg vir die behoud daarvan tot in die konstitusionele hof gedryf het.

Die uitspraak het juis nou kort voor ’n belangrike munisipale verkiesing gekom.

Hoewel hierdie uitspraak nie die aller-antwoord op alles is nie, is dit so belangrik dat ondersteuners van partye wat swyg, gerus, en in die belang van daardie partye, standpunt inneem al is dit nou half ’n derde gelui.

Werklik, as Sanco, by monde van Jabu Mahlangu, die uitspraak kan steun, kan geen party weens verskimmeldheid oor die moontlike verlies aan swart stamme, daaroor kopsku wees nie.

Boonop is van hierdie swygsame partye ook bekend daarvoor dat hulle nie juis op nasionale vlak iets oor plaasaanvalle uitreik nie. Eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP het selfs geweier dat ’n verklaring oor ’n plaasmoord in Noordwes wat vir hom voorberei is, onder sy naam uitgestuur word “want dan sê die ANC weer ek is ’n Boere-meeloper”. (Dit kon wel onder die naam van die Wes-Kaapse provinsiale leier uitgestuur word.)

Maar werklik! Is die skynbare aanname dat swart kiesers negatief sal reageer oor steun vir die konstitusionele hof se uitspraak nie erg beledigend teenoor swart kiesers nie? Kan sommer net so aanvaar word swart kiesers, of so ’n beduidende hoeveelheid dat dit swaarder weeg as die verlies aan bruin kiesers, so sterk oor ’n onreg en juridiese vergryp sal voel dat hulle daarom weg sal stem van ’n party wat hom vir die beginsel van natuurlike geregtigheid uitspreek?

Dit is moeilik om te bepaal hoeveel steun en invloed Peter Marais nog onder veral bruin kiesers in die Wes-Kaap het. Dié politieke veteraan skroom egter nie om sy mond op sy Facebookblad en ander korrespondensie uit te spoel nie. In een van sy inskrywings skryf hy onder meer: “VICORY! VICTORY! for Coloured workers at Correctional Services in the WC. VICTORY for Solidarity Trade Union. VICTORY for the BBB and Justice for minority rights … Shame ANC for discriminating against Coloured workers.
“Shame DA for not fighting for these workers in the Constitutional Court but preferring to sit on the sidelines.

“PRAISE GOD FOR VICTORY.
NOW WE KNOW WHO ARE OUR FRIENDS.”

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte bekyk die saak hoofsaaklik uit ’n regs- en grondwetlike hoek. “Importantly, the decision affirms fairness as a procedural value in the implementation of any workplace employment equity policies.”

Adv. Anton Alberts van die Vryheidsfront Plus meen die konstitusionele hof het met sy uitspraak in die korrektiewe dienste-saak die VF Plus se siening bevestig dat regstellende aksie soos dit in die ANC-regering se transformasie-agenda toegepas word immoreel en skadelik is.

Adv. Alberts sê die uitspraak is hopelik die begin van die einde vir regstellende aksie met die vooruitsig van verbeterde dienslewering oor die hele Suid-Afrika indien mense weer op meriete aangestel word en nie streng op grond van ras nie.

“Die VF Plus wil hiermee sy gelukwensinge oordra aan die Solidariteit en die betrokke amptenare. Die ANC kry hiermee ook duidelik die boodskap dat hy nie onbepaald kan voortgaan om skadelike en ongrondwetlike beleid op die minderhede van die land af te dwing nie.

“Die VF Plus se standpunt is nog deurlopend dat transformasie niks anders nie as rassisme is. Die skade daarvan op die land se ekonomie en op dienslewering in die algemeen is enorm.

“Die waarheid is dat die staatsdiens tans agter is om die wanbalanse teenoor wit en bruin werkers reg te stel. Daar is tans ʼn onderverteenwoordiging van wit en bruin op alle vlakke in die staatsdiens. Die VF plus sal aanhou om druk op die regering te plaas om dit reg te stel.

“Selfs in die privaat sektor is te min wit en bruin werkers in junior poste. Waarom word dit nie ook aangespreek nie? Die ANC is duidelik besig om net ag te slaan op die swart wanbalanse in die arbeidsmark, wat suiwer rassisme is,” sê adv. Alberts.

Ook Peter Marais spreek die privaat sektor aan en suggereer dat die baie supermarkte in die Wes-Kaap wat, ook binne bruin gebiede, feitlik uitsluitlik swart personeel aanstel (wat boonop nie Afrikaans magtig is nie) optrede hieroor kan verwag. (Hy doen sy Facebook-inskrywings min of meer om die beurt in Afrikaans en Engels.)

’n Interessante tussenspel het hom gisteraand op RSG se program, Kommentaar, afgespeel. Die aanbieder, Heindrich Wyngaard, het die kwessie ter berde gebring en wou by die paneellede weet of die uitspraak ’n goeie ding is. Die antwoord was ’n eenparige “ja” hoewel dit ook gekwalifiseer het dat dit nie die einde van alle vorme van regstellende aksie inlei nie. Hierop wou Wyngaard by die paneellede weet of Solidariteit vir sy aandeel in die uitspraak bedank en geloof moet word. Veral Max du Preez, wat gereeld sy pen in gal oor Solidariteit, en veral AfriForum doop, is in ’n hoek vasgeverf. Max het komieklike bokspronge gemaak en byvoorbeeld te kenne gegee hy is nie mooi bewus van Solidariteit se rol nie (gie, gie), maar as Solidariteit inderdaad met finansiering en regshulp betrokke was, verdien Solidariteit dank.

Nou presies wat verhinder die ander swygsames?

Daar word nou gereeld geskryf oor wat gedoen kan word om wit en bruin Afrikaanssprekendes in almal se belang oor ’n wyer front te laat saamtrek. Bitter baie redes word aangevoer oor hoekom dit vanuit ’n perspektief van historiese pyn so moeilik sal wees.

Tog bied Solidariteit se optrede, saam met die uitspraak, die geleentheid dat daar goeie vordering hiermee gemaak kan word. Die geleentheid moet nou net aktief opgevolg word, en bruin leiers wat in hierdie stroombaan dink, geïdentifiseer word.

Net so sal daar nou behoorlik polisieman gespeel moet word om te verseker dat die staat hom by hierdie uitspraak hou. Dr. Danny Titus, een van die ATKV se grootbase en ook deeltydse kommissaris van die Menseregtekommissie (hoewel dit lyk of hy meer werk gedoen kry as ’n hele klomp voltydse kommissarisse saam), wys juis daarop dat daar ’n geskiedenis is van administratief sake in werking stel wat nie met die Grondwet en hofuitsprake te versoen is nie.

Die uitspraak bevestig ook dat vir alle praktiese reëlings die ou rasseklasifikasiewet wat die destydse NNP reeds voor 1994 uit die wetboek verwyder het, steeds geld. En dit tref inderdaad ’n onderskeid tussen bruin en swart.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Josua Keys ·

Waarom swyg sekere politieke partye??? Is hulle bang hulle verloor stemme???? As julle enigsins n ware opregte poliktieke party was sou almal reageer het op die hof se uitspraak(die ANC is verstaanbaar) bly die res stil in my oë is julle valslik en ly mense dan om die bos om stemme te werf ek het sopas die politieke party wie ek sou ondersteun gegroet en is nou 100% seker vir wie ek gaan stem dankie vir die berig Maroela.

pieter ·

EK LUISTER KOMENTAAR GEREELD, DIT IS NES ONS SUID AFRIKANERS, BANG OM STAND PUNT IN TE NEEM.EK DINK DIT HET TYD GEWORD DAT ONS HIERDIE MENSE MEER ONDERSTEUNING GEE,TEN MINSTE VEG HULLE VIR WAT REG IS.

Hein ·

Bruin Bemagtiiging Beweging. Selfs hulle eie mense wil nie inkoop in die organisasie en wil deel wees van die ANC of die DA.

Basson ·

Ja Max het baie swaar gesluk toe die programleier hom pertinent gevra het oor Solidariteit se rol, terwyl hy altyd vinnig is met kritiek. Ek het dit baie geniet, sy onderrok het VER uitgehang.

Dirk Breytenbach ·

Die blinde sambok het sy werk gedoen, dit was te komieklik.

Sara ·

Die VF+ veg vir minderheidsregte en die bruin mense begin dit insien. Die hoofbestuur van die VF+ is seker van die bekwaamste politici wat in die parlement is. Die ander maak net geraas. Musi Maimani met sy verskillende aksente vir vir verskillende gehore laat ‘n mens wonder aan sy bekwaamheid.

Theuns ·

Ek stem saam met jou Sara. Die moraal van die gebeure is stem vir die VF+.

hans ·

Daar moet n “wettige” wyse gevind word om die politieke partye en andere in die openbaar tot verantwoording te roep om te se wa hul standpunte is.

ig ·

Meshoe is n lafaard en n huigelaar met die bybel onder die arm.Die DA is nou so bang om enige rimpels te maak net ter wille van stemme , Die vrees om nou verkeerde uitsprake te maak gaan standpunte te bowe.

Theuns ·

Herman jy lewer weer uitstekende kommentaar. Heindrich Wyngaard verdien ook ‘n pluimpie. Die vreemde Afrikaner Hater het maar swaargesluk om die vraag oor die uitstekende werk wat Solidariteit gedoen het te antwoord en was baie halstarig. Kon hoor hoe hy (halstarig) stadig asemhaal!!Hie heha! Die ou het geen skaamte nie en dan kry hy sommer ‘n ere professorskap verniet by UF.

Paul ·

Ja wat, Max is dikwels “nie mooi bewus” nie. Dit keer hom egter nie om homself as ‘n “kenner” oor alles en nog wat uit te gee nie.

jaco ·

ek kan verstaan as wit mense nie bevorder word nie, want hulle word gestraf net omdat hulle wit is of hulle word gestraf oor apartheid. vergeet of die straf reg is of nie – dis feite en ek aanvaar dit maar so. MAAR wat ek nie verstaan nie, is dat Kleurlinge nie werk kry nie of nie bevorder word nie omdat hulle nie swart genoeg is nie. Kleurlinge was dan ook slagoffers van apartheid. Wat is ‘n Kleurling anyway? Dis n naam wat wit mense vir “hulle” uitgedink het. Ek ken mense wat hulself Kleurlinge noem, maar as ek my arm langs hulle s’n hou, is hulle “witter” as ek. ek ken ander mense wat hulleself Kleurlinge noem, maar hulle is “swarter” as swartmense uit die Kongo. Kan die ANC asseblief hulle rasseklassifikasie verander as dit by affirmative action kom: sonder NET wit/blanke mense uit. behandel die res wat nie “wit” is nie, almal dieselfde.

Theuns ·

Dagse Jaco. Net so terloops Die mense na wie jy vewys verkies om Bruin Mense genoem te word en nie Kleurlinge nie. Groete.

Paul ·

Nie almal nie, Theuns. Sommige mense verkies die een naam, ander verkies die ander naam. Ander verkies weer “Khoisan”, maar dit op sigself is eintlik grappig, aangesien die naam “San” ‘n skeldnaam is wat vanuit sekere Khoi-tale toegepas is op “agterlike” mense wat gejag het in plaas daarvan om te boer. So om “Khoi” en “San” saam te gooi asof dit een ding is, is antropologies laf. Dit sou wees om ‘n benaming soos “Boersouties” te gebruik vir wit mense in Suid-Afrika.

Andre ·

Theuns. Gaan luister na die konstitusionele hof se uitspraak,en kyk watter term die hof gebruik

Dirk Breytenbach ·

Jaco, verstaan ek jou reg? Beveel jy aan dat witmense “gestraf moet word? Vir hoe lank nog en watter wit mense (almal of die wat voor 1994 gebore is? Die sogenaamde “witmense” is reeds oor en oor getraf of is die doel dan dieselfde as Mnr Malema s’n wat bereik sal wees sodra alle wittes boemelaars is? Nee wat Jaco ek beveel aan jy bestudeer die geskiedenis ‘n slag en maak dan sulke wilde voorstelle.

Dirk Breytenbach ·

Ek weet nou wie nie meer my stem sal kry nie!!!!

lettie ·

Die ANC gebruik rasse klassifikasie wanneer dit hul pas. Wanneer misdaad gepleeg word, word rasse klassifikasie gerieflik uitgelaat wanneer daaroor berig word. Die hele rasse kwessie wat die regerende party mense wil verdeel, misluk in werklikheid op grondvlak. Elkeen kan die ANC fnuik deur alle mense menswaardigen vriendelik te behandel in hul onmiddellike omgewing. Verdraagsaamheid en omgee blus haat en woede.

Theresa M ·

Dankie vir die storie Herman. Tov die saak het ek geweet die ANC sal nie kommentaar lewer of Solidariteit ondersteun nie; ek het vermoed die DA sal ook nie, want hulle het dubbel standaarde. Ek is teleurgesteld in ACDP en sal hulle nie meer ondersteun nie. Ek het wel onlangs besef die VF+ is die enigste party met morele waardes. Ek stem dus van nou af vir hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.