Nuuskommentaar: Solidariteit en AfriForum in die visier van “contraband” liberalisme

Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging Foto: Solidariteit

Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging Foto: Solidariteit

Solidariteit en AfriForum is gewoond daaraan om kritiek te kry. Dié kritiek kom vanuit die ganse spektrum van die politiek, maar veral van die twee uiterste pole – links en regs. Dit kom dikwels van die land se voorste transformasiedrywers, soms in die vorm van terloopse verwysings in rubrieke soos dié van prof. Jonathan Jansen waar sekere stereotipes gewoon as “feite” opgedis word. Soms word daar langtand, skoorvoetend of verskonend toegegee dat AfriForum en Solidariteit die regte ding doen, soos die planne met Akademia, maar uit daardie kringe is die feit dat Solidariteit en AfriForum alternatiewe standpunte nie net goed kommunikeer nie, maar daadwerklik iets daaraan doen, ’n growwe klip in die akademiese pantoffel.

Dit beteken dié twee organisasies is besig om ʼn verskil te maak, en krap agendas deurmekaar.

Die afgelope week het die manier waarop die vinger in Solidariteit en AfriForum se oog gedruk word, aan die histerie begin grens.

Die kommentaar wat waarskynlik die bekendste is, is ’n artikel deur dr. Christi van der Westhuizen in Media24. MaroelaMedia het reeds haar artikel in die nuuskommentaar, Liberalisme en die Suid-Afrikaanse werklikheid onder die loep geneem.

In haar artikel skryf Van der Westhuizen onder meer: “AfriForum en Solidariteit se slim weergawe van “ons-teen-hulle” is meer op die “ons” as op die “hulle” gefokus. Die “hulle” is ’n karikatuur waarteen ’n spesifieke wit, Afrikaanssprekende “ons” geskep word wat die twee organisasies kan ondersteun. Hierdie boodskappe het genoeg speling sodat Solidariteit tussendeur die bevordering van Afrikanerbelange ook bruin Afrikaanssprekendes in ’n hofgeding kan verteenwoordig. Só word ’n meer inklusiewe kulturele vorm paradoksaal gebruik om ’n wit agenda te legitimiseer.”

Die ander prominente monduitspoel teen AfriForum en Solidariteit kom van prof. Pierre de Vos, hoogleraar in Staatsreg aan Ikeys. In sy artikel in die Daily Maverick skryf hy onder meer dat AfriForum nie oor die “intellektuele gereedskap” beskik om aan die debat oor onder meer die aangeleentheid – of dit reg is om swart en bruin mense vir haatspraak aan te kla – deel te neem nie.

Uit die aard van die saak loop hierdie kritici op hul beurt onder kritiek deur. Te midde van die kritiek teen Van der Westhuizen se skrywe, is daar een opvallende uitsondering – deur Anne-Marie Mischke, afgetrede adjunkredakteur van Rapport, waarin sy nie net die kritici aanspreek oor hulle so lelik met Van der Westhuizen is nie, maar dat onthou moet word “ons” is net deel van ʼn groter geheel.

Hoekom “die deel van die groter geheel” nie op internasionaal- en grondwetlike minderheidsregte kan aandring en homself teen haatspraak kan verweer nie, is nie duidelik nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Uit De Vos se skrywe is dit duidelik dat die beswaar teen AfriForum se haatspraakklag teen die kletsrymgroep Dookoom nie op regsarumente gebaseer is nie, maar ’n filosofiese argument wat sekerlik net in Suid-Afrika die beskrywing van ’n “liberale” argument sal kwalifiseer. In werklikheid is dit waarskynlik die teenoorgestelde van liberalisme – waar die “ons” paternalisties namens die “hulle” besluit wat die “hulle” moet of behoort te pla.

In hierdie wêreld, so lyk dit, moet die “ons” nie standpunte huldig wat uit pas is met die “groter geheel” s’n nie, omdat dit polarisasie sou aanblaas.

Dit klink darem verdag baie na ʼn argument wat dikwels uit ANC-geledere gehoor word dat plekname, soos die naam van Pretoria, verander moet word “ter wille van versoening”.

Dit behoef nie veel “intellektuele gereedskap” om te weet dat so ’n eensydige proses van een deel wat deurlopend moet gee, en die ander deel wat deurlopend moet vat, ’n resep vir rampspoed afstuur nie. Dit is verder opvallend dat die intellektuele wat wél hierdie deuntjies sing, gewoonlik juis in akademiese poste gekoester word. Hul grootste bedreiging is waarskynlik om die reputasie te kry dat hulle die rasbehepte transformasieprosesse bevraagteken.

Dit beteken egter nie dat van hierdie mense nie ook baie sterk voel oor hul sienings wat hulle self as liberaal beskou nie. Selfs al hang hulle ’n plaaslike en eietydse weergawe van wat in die literatuur as “contraband liberalism” bekend staan aan, is hulle aktief besig om voorbrand daarvoor te maak. In die proses is AfriForum en Solidariteit egter beduidende faktore wat die proses bemoeilik … of so word geoordeel.

Ja, Solidariteit en AfriForum het baie lede, en is via uitstekende kommunikasie-instrumente besig om in ’n gewigsklas ver bo hul getalle te veg. En die “gebrekkige intellektuele gereedskap” is steeds sterk genoeg om gereeld hofsake in sy en sy lede se guns te beklink. Maar is hier nie ook ander kragte aan die werk nie?

Die eerste vraag is of daar nog in werklikheid na die politieke spektrum gekyk kan word as ‘n lyn wat van ver links via die sentrum na regs loop? Hang die meeste partye wat uit ander dampkringe as die liberale kom nie aspekte soos vrye pers, algemene stemreg, die onafhanklikheid van die regbank en so meer aan nie?

En is dit noodwendig so dat die wêreld geleidelik in die rigting van liberalisme beweeg? In Suid-Afrika se isolasiejare het Nederland deur ’n liberale fase beweeg wat sterk elemente van permissiwiteit bevat het – dae van premier Joop den Uyl en andere. Sedertdien het Nederland reeds deur verskeie fases gegaan waar die Christen-demokrasie die leidende politieke krag was. In Duitsland is dit steeds die Christen-Demokratiese Unie van kanselier Angela Merkel wat nou al verskeie verkiesings al sterker en sterker word. Met die jongste verkiesings van die Europese Parlement het die groep wat die Christen-demokrate insluit, weer as sterkste groepering daarvan afgekom. Die effense insinking wat ervaar is, is niks in vergelyking met die slagting wat liberale partye beleef het nie, en is aan die opkoms van selfs ekstreem regse partye te wyte.

In België is pas vir die eerste keer in jare ’n koalisieregering saamgestel wat die sosialiste uitsluit. Veral die Franssprekende Wale is ontsteld, want hulle het ’n lang tradisie van sosialisme (wat danksy ʼn baie groot subsidie van die nie-sosialistiese Vlaandere in stand gehou word).

Voorts is Suid-Afrika se liberale ook uit pas met hul Europese eweknieë. In Europa word minderheidsregte, saam met individuele regte, as ’n integrale deel van menseregte beskou. In einste Den Uyl se kabinet was die voorvegter teen apartheid, sy minister van buitelandse sake, Max van der Stoel. Max was egter in Europa veral bekend vir sy stryd vir minderheidsregte, en ’n jaarlikse prys aan die persoon wat die meeste hiervoor doen, is ook na hom vernoem.

Trouens, die grootste aandrang op minderheidsregte in Europa kom steeds dikwels uit linkse en liberale kringe. Die sosialiste in Skotland het byvoorbeeld die veldtog vir onafhanklikheid die hardste gedryf. Die mosie in die Franse parlement waar die Armeense volksmoord aan die hand van die Turke veroordeel is, is deur veral linkse groeperings gedryf, en ironies, bitterlik deur die regses teengestaan.

Maar is daar enige piep, anders as kritiek, uit Suid-Afrikaanse liberale geledere oor minderheidsregte – veral as dit handel oor minderheidsregte vir die Afrikaner? Trouens, heelwat juridiese akrobasie word aan die dag gelê hoekom die Afrikaner nie as ’n minderheid met regte kan kwalifiseer nie.

En dit kos nie veel van ’n kas vol intellektuele gereedskap om te besef dat politieke korrektheid in Suid-Afrika deur ’n karikatuur van liberalisme gekaap is en onderling warm gebroei word nie.

En ja, Akademiaans word dikwels ingespan om hierdie idees in ’n baadjie van meerderwaardigheid te klee. Maar om argumente te voer deur die aanwending van hiperboliserende vaktaal wat ’n skynbare onderliggendheid van intellektualisme van die laterale bewussynsvlakke moet transpondeer om hierdie dingidividualiteite in ’n sfeer van universele geldendheid te suspendeer, is kômmin. Dit verdoesel nie die feit dat hierdie eksponente gewoonlik vanuit ’n verskanste posisie van eie bevoorregting die woord voer nie. As die kat dit moet inkry…

 

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Kobus ·

Ek weet van mense wie nie meer koerante uit die Media24 stal koop nie en as gevolg van die inhoud van daardie koerante byvoorbeeld ‘n tyd gelede al oorgeskakel het na Engelse koerante.

Dit het laat in die dag geword as Afrikaans sprekendes na Engelse koerante toe oor skakel, nie om die taal nie, maar om die inhoud. ‘n Gees en obsessie het by van sekere rubriekskrywers in die Afrikaanse koerante vaardig geraak dat Afrikaans en die Afrikaner ten alle koste geveg moet word.

Eendag as Media24 hul oë uitvee, dan sal hulle dalk agter kom dat nie net die Afrikaners en die mense teen wie hulle vuur spoeg, nie meer lesers nie.

Fanus ·

Ek stem met jou saam Kobus. Die een se dood is die ander se brood! Dis nou die tyd om ‘n alternatief vir Media24 te skep. So ook vir die SAUK en die radiowese.

Henk Theron ·

Baie goeie artikel en antwoord op die PC’s met die misplaasde selfvertroue. Hulle argumente word gewoonlik in hoogdrawende Engels of Afrikaans geplaas sodat dit moet voorkom asof hulle weet waarvan hulle praat.

Net jammer dat hierdie artikel hierbo in Afrikaans is en net gelees sal word deur enkele van hierdie ‘liberals-wanna-be’s.

Ek sal my ook nie teveel steur aan Pierre de Vos nie, veral geoordeel aan die kwaliteit akademici wat tans deur die UvK opgelewer word (Tim Noakes en vennote). PdV se skrywes kan dus ook nie ernstig opgeneem word nie, net soos Tim Noakes s’n ook nie.

Wat vir my veral teleurstellend is van die huidige debat, is dat dit Afrikaners is wat Afrikaners aanval. Sekerlik word daar tog iets goeds ook gedoen deur AFriforum en Solidariteit? Hoekom word dit nie uitgelig nie? Of sal jy jou gewete moet verkrag om dit te doen mnr./mev. Die Liberaal?

Al die ander ‘bevolkings/kultuurgroepe’ lag alte lekker vir ons terwyl ons onsself so deur die voet skiet en die aandag van hulle afhou.

Hanno Visagie ·

As mediese dokter pla dit my dat jy die briljante prof Tim Noakes so wetenskaplik en professioneel ongemotiveerd afkraak. Hy het boonop niks met die strekking van die artikel hierbo te doen nie. Swak!

Deon ·

Die opvatting van liberalisme is verkeerd. “Progressiewe” liberalisme soos verwoord deur de Vos, van der Westhuizen, Croukamp, Max du Preez et al het niks met ware liberalisme te doen nie. Ware liberalisme stel minderheidsregte, vryheid van spraak, onafhanklikheid van regerings inmenging, elke persoon se kapasiteit om te produseer en te lewe sy hy/sy wil sonder dat ander se wil op hulle afgedwing word heel eerste. Maroela noem dit “contraband” liberalisme. Miskien ‘n goeie beskrywing waarvan ek nie bewus is nie – wat ek wel van bewus is (en enige konserwatiewe / libertyn wat ‘n bietjie daaroor nadink en ondersoek instel om hulself in te lig) is dat “progressiewe” liberalisme deurspek is met Sosialisme/ Marxisme/ Maoisme. Wanneer julle tot daardie besef kom sal julle verstaan hoekom “Afrikaanse” liberale juis so ‘n broerdjiedood het wat Afriforum – of enige “regse” en Afrikaner beweging – se doen en late is. Dit het minder as zero met liberalisme te doen nie en alles met die geraadbraakte visie van “Utopia” en die kollektief. Dat hierdie konsep ‘n hersenskim is pla die klomp glad nie. Soos die skrywer tereg se – en soos ek voorheen vir Dr Thomas Sowell aangehaal het – kruip hierdie mense in akademia weg waar hulle idees en ideologie nie die toets van realiteit hoef te slaag nie.Hulle gebruik groot impossante woorde om die vlakheid van hulle argument te verbloem. Moet liefs nie te veel aandag aan hulle skenk nie. Indien jy aandag gee aan die huidige situasie in die land is dit tog duidelik dat die Linkses beheer verloor het oor hulle maaksel.

Pieter ·

Ek verstaan nie die laaste paragraaf nie, gladnie. is dit Afrikaans ?

Herman Toerien ·

Moenie komkommer nie – dis draakstekery met die mense wat eintlik nonsens skryf en dit in sulke hoghe taal opdis dat dit na iets belangriks of gesaghebbend moet klink. Henk Theron hierbo het ook daarna verwys.
Dit was op ‘n tyd ‘n soort mode in sekere unniversiiteitsdepartemente. Die gevolg was dat baie studente wat juis hierdie dinkvakke, waar hulle moes leer om self dinge uit te pluis, soos papegaaie geleer het. Groot onding. En dan is dit boonop “vaktaal” genoem.

Nico ·

Dit is interessant hoe baie liberales, soos Helen Zille, wat in die ou SA baie baklei het vir die bevordering van die ANC, nou baie hard baklei teen die swak ANC regering. Ons regses het dit verwag en baie regses was in die ou SA nie noodwendig rassiste nie, dit was meer ‘n vrees vir ‘n toekoms wat ons verwag het ons gaan benadeel. Die aanvalle van die liberales, glo ek, is maar net ‘n manier om te weier om te erken dat die regses wel ‘n punt beet gehad en dat hulle, die liberales, eintlik geheel en al naief was. Hulle wil net nie erken dat hulle verkeerd was nie.

SJ ·

Tot Afriform en genote nie reguit uitkom en staan vir ‘n onafhanklike Boere republiek nie, sal hulle nooit my ondersteuning kry nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.