Nuuskommentaar: Solidariteit en skole-sportkwotas

wegspringblokke-atletiek

Foto: Thecoachingtoolscompany.com

Vandag begin ’n regstryd in die arbeidshof in Johannesburg wat bepalend vir die sportaspirasies van talle jong Suid-Afrikaners kan wees, wanneer twee van die instansies wat deel uitmaak van die Solidariteit Beweging, AfriForum en Solidariteit, hande vat teen die regering se rasbeheptheid in veral skolesport.

Dit val saam met ’n omsendskrywe van die departement van sport wat gelas dat skoleatletiek op alle vlakke voortaan minstens 40% verteenwoordigend van voorheen agtergeblewe skole moet wees. Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (Sasa) het egter gister weer ʼn omsendbrief uitgestuur waarin hy aandui dat die vorige omsendbrief, waarin die transformasieteikens uiteengesit is, teruggetrek word.

Selfs die DA, wat transformasieteikens in sport, ook skolesport, voorstaan, was gekant teen Sasa se drastiese ingreep. Die Vryheidsfront Plus het in Januarie vanjaar gesê die parlementêre komitee oor sport se voorsitter, Beauty Dlulane, se stelling dat sportkwotas nie verband hou met bedrewenheid nie, bewys dat die ANC nie daarin belangstel om meriete in sport te laat geld nie. Dlulane het haar standpunt gestel nadat die Springbokkaptein, Siya Kolisi, gesê het hy sou verkies om eerder op meriete as weens sy ras verkies te word. (Lees ook ʼn vorige nuuskommentaar oor die saak hier.)

Die instruksie wat nou onder skoot kom, hou geen verband met sport-werklikhede nie. Talle voorheen agtergeblewe skole (’n eufemisme vir skole wat steeds, na ’n kwarteeu van ANC-bewind, groot agterstande onder andere met sportgeriewe ondervind) kan eenvoudig nie die nodige sportgeriewe bekostig nie.

Sportkodes self wend binne hul eie vermoëns en met die hulp van borge heelwat pogings aan om sportsoorte te bevorder, soos met die bou van sement kolfblaaie en geplakte tapyte. Sokker kan nog min of meer op ’n skoongeskraapte stuk veld gespeel word, maar nie rugby nie.

Toerusting, soos kolwe, beenskutte, kopskerms en selfs die “boks” is baie duur en laat selfs middelklas ouers sug.

Die punt is, selfs die beste talent ter wêreld kan nie behoorlik ontwikkel word as die geriewe nie op standaard is nie. En hier lê die teenswoordige agterstande vierkantig op die skouers van die regering. Dink net hoeveel skoolsportgeriewe kon ontwikkel word as korrupsie en staatskaping die afgelope paar jaar nie soveel miljarde rand geroof het nie.

Sondaars met oranje oorpakke is nog so skaars soos hoendertande. Die einste ANC het van die geïmpliseerdes deur hul takke as parlementskandidate probeer nomineer, insluitend oudpresident Jacob Zuma. Dit lyk darem of die integriteitskomitee hier ingetree het, hoewel dit onduidelik is hoe deeglik die kam deurgetrek is, en of die sifting onder politieke druk gaan hou.

In Bloemfontein word nou naarstigtelik na geld gesoek na vier jong Vrystaatse kinders van ’n grootliks minderbevoorregte judoklub die enigste vier Vrystaters opgelewer het wat vir die SA span wat aan die Afrikaspele in Senegal moet gaan deelneem. Drie van die jongelinge is van die swart woongebied Batho, en hul ouers het dit nie breed nie. Die vierde is ’n bruin meisie van die kinderhuis, en die finansiële vermoëns spreek vanself.

Neem in ag dat die egpaar wat as sensei’s die afrigting behartig, dit gratis doen vir die kinderhuiskinders, dan is dit duidelik tot watter mate goedgesinde mense vir regeringsverantwoordelikhede probeer instaan sodat benadeelde jong mense die kanse kan kry wat hulle merietegewys verdien.

Die lys van versuimde regeringsbetrokkenheid is nog lank nie volledig genoem nie.

Op die oomblik word selfs baie middelklaskinders grootliks van sporttoegang ontneem omdat hul ouers nie betaal-TV kan bekostig nie. Die betaal-TV het feitlik ’n monopolie op sportsoorte soos rugby waaroor die meeste lawaai oor “onderverteenwoordiging” gemaak word.

Om bloot buig-of-bars‑kwotas af te dwing kom neer op die onverantwoordelike versuim van die staat om sy werklike pligte na te kom. Daar is boonop sterk aanduidings dat in minstens sommige provinsies, geld wat vir sport-ondersteuning begroot word, reeds vir ander doeleindes herkanaliseer is voordat enige sportsoort vir gebruik daarvan kon aansoek doen.

Dit is ook soms lewensgevaarlik, en werklike talent kan voortydig gebreek word.

Voorts is dit geen waarborg dat die werklike talent ondervang sal word voor die regering sy werklike verantwoordelikhede nakom nie.

Die Grondwet maak wel voorsiening daarvoor dat menseregte wat in die handves van menseregte gewaarborg word, soos dat nie op grond van ras teen ’n persoon gediskrimineer mag word nie, deur wetgewing beperk mag word. Daar is egter ’n belangrike bepaling, naamlik dat daardie beperking nie van so ’n aard mag wees dat dit die oorspronklike reg tot niet maak nie.

Maar laat die minister se instruksie, laat staan nog wet, nie die oorspronklike reg in die slag bly nie?


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

KLK ·

Ek onttrek net my sponsorship vir die volle span helemal terug, en gee vir individue wat dit verdien en nie gekies word op velkleur nie.

Jannie ·

Net weereens onomwonde bewys dat hulle nie op gelyke vlak met ons kan meeding nie…….en daarom moet drakoniese wetgewing hulle by die wenstreep bring…nog voordat die wedren begin het!!!

Afrikaner ·

Ek sien nou elders Sasa het afstand gedoen van hul 40% verteenwoordinging van voorheen agtergeblewenes. Druk was natuurlik te groot.

Afrikaner ·

Wat die DA aan betref, kan mens met ‘n stok aanvoel die skoen druk erg soos hulle teenkanting van wit kiesers oor hul beleid in die algemeen ervaar. So begin die DA nou al meer geluide maak om hul wit kiesers te probeer paai. Kyk hoe het John Steenhuisen nou in die dae bont gestaan oor wat hulle met hul BEE bedoel en waaroor dit nou EINTLIK gaan. ‘n Keer of so het ek al gewonder of hulle nie nou in trurat draf nie. Maar luister mens na Mmusie Maimane so ‘n paar dae gelede dan is ‘n party wat vir taalregte en kultuur staan, uit die bose.

Afrikaner ·

Die DA hardloop mos voor in die koor op plaaslike vlakke met dienslewering soos in Die Kaap waar hulle hoog opgee, dis nou daardie munisipaliteite wat onder hulle beheer is, so ry hulle op Die Kaap se rug en het tot op hede staatgemaak om dit te verkoop, dat dit die trekpleister sal wees om ook mense Nasionaal na hulle te trek.

Maar nasionaal is dit ‘n heel ander storie, daar gaan dit nie oor strate en paaie regmaak, vullisverwydering nie, soos hulle dit ook nou voel met die druk van mense wat sekere behoeftes en waardes op Nasiomale vlak nasteef, en daar werk net vullisvrwydering nie, ook nie SEB nie. En dan het minderhede sekere aspirasies wat nie geag word nie, in effek het dit nie eens plek in die DA se woordeskat nie. Kultuur en Taal, kom by my op, dit waarmee elkeen van geboorte af op moederskoot gevoed word.

chris ·

my kommer is dat die minister dalk vanuit die staanspoor geweet het dit kan nie slaag nie, dat daar burgerregte organisasies is wat dit in die hof sal teenstaan en dat die wet voorsiening maak vir ń suksesvolle afwysing van die minister se voorstel. maar wat hy daaruit kry is die skyn vertoon van die ‘behoefte’ tot bevoordeling van sy kiesers en ń verdere skuif om onder andere die solidariteit beweging as onwillige transformeerders te posisioneer (kyk maar hoe word die beweging op sosiale media hieroor behandel). intussen word nóg hout op die vure van rasse-onmin gestapel. ek glo maar as ń aksie vir jou onnodig lyk, maar tog uitgevoer word, is dit dalk omdat daar vir ń ander nut daarin steek.

Jurgens Dietrichsen ·

Dankie Solidariteit! Ons kinders verdien n regverdige kans. Niks van die gemors in die land is hulle skuld nie. Ek staan 100% agter julle!

J ·

Waarom ontrek al die witmense nie maar uit enige sport. Probleem opgelos. Dan sal ons sien hoe val sport of hoe hoog stuig sport op enige vlak. Ons witmense word nog steefs as n bedreiging beskou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.