Nuuskommentaar: Solidariteit se opleidingsplanne versus “transformasie”

Argieffoto

Argieffoto

Solidariteit se aankondiging van ‘n driejaar-opleidingsplan teen ’n koste van R400 miljoen wat planne vir private Afrikaanse onderwys van laerskoolvlak tot universiteitsvlak insluit, is soos musiek vir diegene wat vir hul kinders die beste moontlike toekoms in hul vaderland wil verseker.

Om seker te maak hul kinders is onmisbaar vir die ekonomie deur hul geleenthede letterlik oop te leer, maar spesifiek met die beste tegnieke en meer toepaslike vakke, en altyd met die oog om te kan funksioneer in ‘n inligtingsgedrewe samelewing.

Solidariteit se planne sal egter nie juis vir prominente regeringslui en ander transformasiedrywers soos musiek op die ore val nie. Daar moet egter dadelik gekwalifiseer word dat hier verwys word na transformasiedrywers wat met ’n bepaalde rasbenepenheid en vooroordeel meer as net ’n titsel afkeer aan Afrikaans daarin inbou.

Die Haagse aanbevelings met betrekking tot die opvoedkundige regte van nasionale minderhede, soos weergegee deur UNESCO, klink egter byna soos ’n bloudruk van Solidariteit se planne, en is presies in pas met die internasionale reg. Dit voorsien ook die reg tot eie onderrig, in die moedertaal, van minderhede van laerskoolvlak tot universiteitsvlak. Hoewel die klem op private onderrig val, word die verantwoordelikheid van die staat om met fondse en hulpbronne te help nie uitgesluit nie.

Die interessantheid is dat die argitekte van die Haagse dokument, net soos die voorstanders van suiwer transformasie, ten doel het om vrede tussen gemeenskappe te verseker. Die dokument het in die Europese Organisasie vir Veiligheid en Samewerking ontspring, en is gedryf deur die Hoë Kommissaris vir Nasionale Minderhede. Trouens, die Haagse dokument plaas die verpligting op state om as proaktiewe maatreël onderrig in minderheidstale in te stel en tot die maksimale vermoë van staatsbronne te ondersteun.

Voorts word state belet om deur wetlike en administratiewe maatreëls hindernisse vir daardie instellings op te rig.

Die volgende paragraaf uit die Haagse dokument som die kwessie baie netjies op: “State educational authorities should ensure that the general compulsory curriculum includes the teaching of the histories, cultures and traditions of their respective national minorities. Encouraging members of the majority to learn the languages of the national minorities living within the State would contribute to the strengthening of tolerance and multiculturalism within the State.”

Wat Solidariteit in die oog het, is alles behalwe konfliksoekend met ander, soos die meerderheid, maar juis om verdraagsaamheid te verhoog.

Die Europese model is geen produk van regse politiek nie. Een van die belangrikste dryfkragte hieragter was die bekende kampvegter vir menseregte, Max van der Stoel, wat in Suid-Afrika dalk beter onthou sal word as die “giftige” anti-apartheidsminister in die kabinet van Joop den Uijl. In Europa, soos in die internasionale reg, word minderheidsregte as ‘n onlosmaaklike deel van menseregte beskou.

Dit is egter nie net ‘n Europese konsep nie. ‘n Groot deel van die beskikbare literatuur handel oor Indië waar die National Commission for Minority Educational Institutions geskep is. Die doel hiervan word omskryf as om te verseker dat minderhede die reg kan uitoefen om opvoedkundige instellings van hul keuse te vestig en bestuur soos beskryf in artikel 30 van die Indiese grondwet.

Die opstellers van die Suid-Afrikaanse grondwet het veral met die bewoording en uitlegpotensiaal van die handves van menseregte sterk uit die Indiese grondwet geput.

Minderheidsregte in Afrika manifesteer volgens verdrae en beslissings eerder as groepregte, en onder die wye reeks voorskrifte is artikel 17 van die Afrika-manifes besonder toepaslik: “Article 17 states that everyone may freely take part in the cultural life of his community and goes on to provide that [t]he promotion and protection of morals and traditional values recognized by the community shall be the duty of the State. In interpreting this provision, the Commission has noted, language is an integral part of the structure of culture; it in fact constitutes its pillar and means of expression par excellence. Its usage enriches the individual and enables him to take an active part in the community and in its activities. To deprive an individual of such participation amounts to depriving him of his identity.”

Tog, was dit nie vir private inisiatiewe nie, sou die situasie in Suid-Afrika en Indië selfs nog meer as nou in opponerende rigtings uiteengeloop het.

Opsommend, wat Solidariteit beplan en reeds deur Soltech en Akademia bewerkstellig het, is suiwer volgens die internasionale reg, en alles behalwe konfliksoekend.

Maklik gaan dit nie wees nie. Sodra Afrikaanssprekendes deur hierdie program hul gemeenskappe weer laat uitpresteer, sal die afguns waarskynlik weer verskerpte pogings oplewer om dit te kaap of te sloop. Daar sal weer en weer stemme opgaan onder diegene wat ’n renons in Afrikaans het, dat hulle deur die voertaal van Afrikaans “uitgesluit” word – asof dit ‘n rasgedrewe motief sou hê – en dat die projek dus “ongrondwetlik” of anti-transformaties is. Trouens, hierdie perd was al opgesaal en heelwat meer nuusdekking gekry as die bekendstelling van Solidariteit se jongste planne.

Die projek sal daarby baat as die boodskap tuisgebring kan word dat dit nie oor uitsluiting handel nie, maar oor ’n universele reg – ’n reg wat opgeneem moet word om die Afrikaanssprekendes die beste moontlike toerusting te bied om sy regmatige plek in ’n land te kan inneem waar sy velkleur van die wieg tot die graf teen hom ingespan word – in elk geval soos die politieke wind nou waai.

Dit sal goed wees as die projek die volle steun kan kry van alle Afrikaanse instellings wat nie noodwendig lid van die Solidariteit-beweging is nie, en ook die Afrikaanse media, al weet ’n mens reeds by voorbaat minstens een jong redakteur, na aanleiding van sy vloermoer ná Julius Malema aan haatspraak skuldig bevind is, glo die Afrikaner is nie op minderheidsregte geregtig nie.

Wat Suid-Afrikaners nou aanskou, is die onontbeerlike rol wat burgerlike instellings binne ‘n grondwetlike demokrasie speel om te help verseker dat almal in die land volwaardige voordeel uit die grondwet trek.

Die woorde van Jaco Schoeman, na hy as nuwe leier van die Afrikanerbond aangewys is, beskryf die situasie baie goed: “Afrikaners se selfbeeld, trots en identiteit word … deurentyd verdag gemaak en ons moet dit as doelwit stel om Afrikaners se selftrots te herstel. Indien dit bereik word kan Afrikaners hulle regmatige plek opneem in die toekoms van Suid-Afrika. Deel van die selftrots is om ook ʼn hand uit te steek na ander gemeenskappe in Suid-Afrika, en in hierdie verband wil die Afrikanerbond deur sy minderheidsinisiatief ʼn rol speel. Die tyd is egter verby dat Afrikaners, hoed in die hand, apologeties moet wees oor die verlede.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Danie ·

Mese moet asb aansluit by Solidariteit en sy strukture.Die regering het nou sy “tweede oorgang” aangekondig en ook “radikale ekonomiese transformasie”.Regstellende aksie gaan verskerp word,selfs grondonteiening is nou op die agenda.Solidariteit is werklik die enigste organisasie waar Afrikaners kollektief kan saamstaan om hul regte te verdedig.Dis of n kwessie van saamstaan of gaan onder.Ek persoonlik het aftrekorders vir Solidariteit,Afriforum en Helpende Hand,en voel baie trots om n bydrae te lewer.Niks kom verniet nie,almal wat kan moet asb aansluit.n Mens kan net gee wat jy kan bekostig.Ek ervaar hulle baie baie positief.

Rudi ·

Danie,
Ek stem 100% met jou saam. Ek werk vir ‘n groot maatskapy en die mense wat dit opgebou het word vergeet en gebruik om die BEE’s en AA’s te dra. Geen wit kinders mag aangestel word nie. Ons MOET begin dink aan ons kinders. Ons moet begin om op ons eie voete te staan en mekaar te ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.