Nuuskommentaar: Sonder saamstaan met Afrikaans gaan dit lol

Argieffoto

Argieffoto

Kan al die rolspelers wat hulle op die een of ander wyse vir die behoud en uitbou van Afrikaans beywer, genoegsame konsensus koester om die taal, en die gepaardgaande grondwetlike regte, te bestendig? Die taal kan nie bekostig dat saamstaanprojekte soos paddastoele word wat oornag opskiet, en ’n dag of wat later in die son verwelk nie.

Tweespalt, of liewer driespalt, tussen drie Christelike kerke het daartoe gelei dat ’n nie-Christelike owerheid moes ingryp en die bekende Grafkerk in Jerusalem onveilig moes verklaar, voordat onderlinge verskille genoegsaam oorkom kon word om dié historiese gebou te red.

Baie Christene glo nie die kerk is oor die werklike graf van Christus gebou nie, en ander meen dat selfs al sou dit die regte grafkelder wees, moet die Christen se fokus immers op die opstanding uit die dood, eerder as die graf val.

Maar drie kerke, die Rooms-Katolieke, die Grieks-Ortodokse en die Armeense voel dat dit wel die plek is waar Christus uit die graf gekom het. ’n Kerk, ook bekend as die Kerk van Wederopstanding, is daaroor gebou. Trouens, daar was al verskeie kerke oor die perseel gebou wat weens oorloë en ander oorsake in die slag gebly het. Die huidige gebou, in die vroeg-Gotiese styl, dateer van 1149. Sedert die 4de eeu is dit ’n gewilde pelgrimsbestemming.

Die drie kerke het gesamentlike beheer oor die gebou, maar weens onderlinge verskille, het elk sy eie sektor. Trouens, in 2008 het die Grieks-Ortodokse en Armeense monnike fisiek handgemeen geraak. Maar die eintlike probleem was dat die onderlinge verskille die afgelope 200 jaar verhinder het dat die nodige restourasiewerk gedoen kon word. En die vorige restourasie, in 1810, was ook noodgedwonge nadat ’n brand groot skade aangerig het.

Verlede jaar is die gebou gesluit nadat die Israelse Oudhede-owerheid die gebou onveilig verklaar het. Dit het die drie kerke genoop om koppe bymekaar te sit, en onderlinge verskille uit die weg te ruim. Die sowat R50 miljoen wat nodig is vir restourasie is gevind, en ’n span wat restourasiewerk aan die Akropolis gedoen het, behartig nou die restourasie van die kerk. Die restourasie sal na verwagting sowat ’n jaar duur, maar sal vroeg soggens en saans gedoen word om sodoende nie besoeke te belemmer nie.

Herinner dit nie baie aan die stryd oor die voortbestaan van Afrikaans nie?

Oor bykans niks word saamgestem nie, ook nie oor die vraag of Afrikaans se voortbestaan, of voortbestaan as taal van hoër onderwys en as wetenskapstaal, hoegenaamd bedreig word nie.

’n Beskuldigende vinger dat Afrikaanssprekendes nie kan saamstaan nie, is met baie ironie gelaai. Daar is seker min minderheidstale wat oor soveel instansies beskik wat juis saamstaan ten doel het, of saamstaan as een van sy doelwitte het. Die FAK is ’n sambreelliggaam, maar ook die Afrikaanse Taalraad verteenwoordig ’n groot verskeidenheid Afrikaanse instellings, of instellings wat ook ’n belang by Afrikaans het. Die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans fokus op die jeug en onderwysterrein.

Die Solidariteit Beweging is op sy beurt weer ’n oorkoepelende beweging wat ook die FAK insluit.

Die aksies staan selde los van mekaar, en daar is ’n komplekse netwerk van onderlinge oor-en-weer-verteenwoordiging. En uit hierdie netwerk kom ’n groot verskeidenheid stemme wat ook heeltemal onafhanklike en dikwels teenstrydige standpunte verteenwoordig.

Dan is daar ’n magdom instellings wat nié aan hierdie netwerk gekoppel is nie, en baie van hulle is erg in die politiek geanker – uit die ganse politieke spektrum.

Ook met die jongste, en lofwaardige aksie, www.afrikaans.com, moes baie van die deelnemers verskille eenkant laat om die wonder van Afrikaans te kan laat blom. Soms is die verskille klein, soos nuanses oor tot waar die belange van Afrikaans slegs deur die bou van gesindhede bevorder kan word, en waar die voet neergesit moet word en die owerhede voor die hof sleep om grondwetlike regte te kan uitoefen.

Daar word ook verskil oor die vraag of Afrikaans reeds in die intensiewesorgeenheid is of nie. Aan die een kant dui die aanslag teen Afrikaans as onderrigmedium by veral universiteite op ’n ambulansgeval – ander sien weer net lewenskragtigheid in die aantal Afrikaanse kutuurfeeste, die aantal CD-verkope van Afrikaanse musiek en die aantal Afrikaanse gemeenskapsradiostasies wat meestal baie gewild is by luisteraars.

Dit help ook nie as joernaliste wat hoog aangeslaan is skynbaar positief oor die Afrikaans.com berig, maar tog links en regs etikette uitdeel wat bydra tot verdagmakery nie. Aan die ander kant, die etikette gee deelnemende instansies dalk ook die nodige inspirasie om bietjie na binne te kyk en te besin oor hoe ander die instansies beskou – die mens reageer immers eerder op sy persepsie van die werklikheid as die werklikheid self.

Die sinvolle behoud van Afrikaans hang grootliks af van of daar genoegsame konsensus getroetel kan word. Dit raak komplekser wanneer die kwessie bygevoeg word van kulturele en ander grondwetlike regte wat uit die taalregte voortspruit.

Waaroor daar nie twyfel kan wees nie, is dat die diverse gemeenskap wat Afrikaans as moedertaal gebruik, op die een of ander wyse genoegsaam moet saamstaan om mekaar te kan rugsteun.

Of anders, soos die drie kerke van die Grafkerk, wag tot die owerheid drasties raak en gesamentlike optrede noodsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

koot ·

Ag heigent tog – alweer ‘n gewroeg. As Afrikaans nie op eie pote kan staan nie moet dit eenvoudig ‘n pynlose dood sterf. Solank ons die taal praat en dit nie in ander se kele probeer afdruk nie sal dit aanhou om ‘n kommunikasiemiddel tussen verskillende rasse te wees. Dis wat dit is – ‘n kommunikasiemiddel – nie ‘n vloek of sukkelende fetus wat ten alles koste aan die lewe gehou moet word nie.

christine ·

Niks maar niks maak my so vies as mense se Afrikaaners kan nie saamstaan nie, dis glad nie waar nie ons kan saamstaan ons het dit al bewys ook. Dis die Engelse afkraak van soveel jare dat ons dit as n feit glo. Dan nog n ding as ek na n radio stasie gaan en hulle is Engels dan moet ek Engels praat. Maar die Afrikaner radiostasie nooi die Engelse en voer die gesprek in Engels HOEKOM. Praat eendag met n Engelse dame Afrkaans sy se ” Speak Eng or are you stupid or what” Ek mag stupid wees maar ek kan 3 tale praat teen haar1.

JC ·

Ek sal vir haar se “praat Afrikaans of voertsek! Is jy onnosel of wat!
EN ONS AFRIKANERS EN AFRIKAANSES KAN SAAMSTAAN! KYK NET NA AL DIE REAKSIE OOR AFRIKAANS.COM!

GJ de C K ·

Soos al Herman Toerien se artikels: uitstekend!

Herman, raak ‘n hele paar punte aan wat tot uitgebreide gesprek behoort gevolg te word (myns insiens):

Sinvolle behoud, genoegsame konsensus, vertroeteling van Afrikaans, kulturele en ander voortspruitende regte, dat dit ‘n diverse gemeenskap is wat Afrikaans as moedertaal het, en die kruks van die artikel: saamstaan en/of rugsteun.

Vanuit ‘n bloot kommunikasie-handel beskouïng, wil mens amper tot ‘n gesindheid neig dat een algemene taal die “logiese”, doelmatige weg is wat gevolg moet word, dus – ver-Engels alles in SA.

Maar, taal, is meer as net ‘n kliniese kommunikasie-medium. Soveel verborge boodskappe groei uniek in ‘n taal en só word taal meer as net ‘n een-dimensionele “boodskap-draer”.

In Afrikaans, in al sy dialekte en vlakke (huis, kombuis, universiteit, hof, raadsaal, hospitaal, of plaas-se-stof) is wysheid en “siel” wat aan geen ander taal “bemaak” kan word nie.

Saamstaan en rugsteun? Die simboliek van die Kerk van die Wederopstanding is myns insiens meer gepas as wat op die oog af mag lyk. -Dit het MY opnuut aan die dink…

vermeende ·

Herman die probleem met saamstaan is, daar is altyd die gene was skree “kom ons staan nou saam dan volg julle almal vir my”
Dit werk nie so nie en dit is ook nie n bewys dat daar nie saam gestaan kan word nie, dit wys net die mense se wantroue nie in die saak nie maar die voorlopera. Pakslae het ons mense al net teveel gekry om blindlinks te vertrou.
Almal wat Afrikaans praat is wel patriotte in Afrikaans.

JC ·

Dis reg! Ons almal moet saamstaan vir Afrikaans as een samebindende faktor wat ons almal een gemeenskaplike Afrikaanse gemeenskap maak in die RSA! Al ons Afrikaanses! Bruin, wit, swart- soos een man vorentoe! Ons moet ons verskillende dialekte, nuanses en idiosinkrasiteite betreffende DIE TAAL waardeer, koester en uitbou!
Eendrag maak mag!

John ·

Afrikaans gaan Afrikaans ‘n stille dood laat sterf. Die Afrikaanse trein gaan die Boere/Afrikaners se kultuur doodwurg. ‘n Te veel saamryers sonder treinkaartjies en te veel treinwaens wat buite beheer en sonder remme teen helshoogte afjaag, is die gevolg. Is ons boere so dom? Is ons so hardop? En die vyand so slim? Koebaai, ek ry nie saam nie.

Attie Snyman ·

Afrikaans behoort nie ekslusief net aan Afrikaners nie. Ook nie net aan Boere-Afrikaners nie. Dit behoort ook aan die meerderheid Afrikaanssprekendes, die bruin mense van SA. Ons hoor nie hulle stem in die verdeelde poging vir die handhawing en bevordering van Afrikaans op vele terreine nie. Waarom dan nie? Afrikaans het immers onder die slawe in die vroeg Kaapse geskiedenis sy ontstaan gehad. Word hulle doelbewus uitgesluit of wil hulle nie, in watter opsig ookal, deel wees van al die pogings om Afrikaans as taal te handhaaf en te “beskerm” nie? Die beeld of mening dat Afrikaans ekslusief aan Afrikaners behoort is ‘n miskenning van die geskiedenis en vandag se werklikhede. Afrikaans behoort aan almal wat Afrikaans praat.

Herman Toerien ·

Dis baie moeilik om namens bruin mense te praat oor die skynbare mindere betrokkenheid by debatte oor die toekoms van Afrikaans. ‘n Mens kan moeilik raai hoe verteenwoordigend die groep is wat die apartheidsgeskiedenis blameer vir die skynbare vervreemding van die saak vir Afrikaans. Net so die groep wat Van Rheede, Jansen en ander akademici insluit wat eerstens kyk na die groter Suid-Afrikaanse geheel en fokus op die absorbsie daar, en waar Afrikaans dan maklik vir ander voordele ingeboet word. Maar laat ek dadelik sê – ek het al ‘n klomp van hierdie literatuur gelees en kan steeds nie sien hoe die ideaal en slotsom by mekaar uitkom nie. Daar is ook ‘n groep wat skynbaar minstens ligweg ongelukkig is omdat hulle Afrikaans is en nie hul Khoi-tale as moedertaal het nie en dit dikwels ook glad nie kan praat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.