Nuuskommentaar: Sorg vir die ekonomie, en die ekonomie sorg vir die politiek

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

’n Burgeroorlog is skynbaar aan’t ontwikkel tussen pres. Cyril Ramaphosa en die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule. Hoe nader die D-dag kom, hoe minder seker lyk dit dat Ramaphosa nié seker van ’n oorwinning kan wees nie – grootliks te danke aan Ramaphosa se eie onoortuigende optrede. Boonop lyk dit of Ramaphosa sy ore al hoe meer aan onbekwame of onbevredigende raadgewers uitleen wat as vyfdekolonners ontplooi is – dikwels deur Ramaphosa self.

Die regering en regeringswoordvoerders dui al hoe meer aan hoe die wel en wee van Eskom ’n enorme, en selfs die grootste, invloed het op die stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Daar is skaars ’n welvaartsaspek van die land waar Eskom se naam nie boaan die lys van belangrikheid staan nie. Die versoeking om dit te beheer is ’n natuurlike verskynsel in ’n land waar die kragvoorsiener en sy bestendigheid net so belangrik is soos sy vermoë om saam met die ekonomie se behoeftes te kan groei, én wel bestendig te kan groei.

Suid-Afrika is nie uniek wat betref die behoefte aan ekonomiese groei vir politieke bestendigheid nie, en natuurlik ook aan politieke bestendigheid vir ekonomiese groei nie. Dit word nou al ’n paar jaar lank gedemonstreer deur die VSA, waar pres. Donald Trump deur verskeie faktore amper gewaarborg is van ’n tweede termyn terwyl die ekonomie van die VSA in veral sekere aspekte sterker word. (Lees hier.)

Terwyl Eskom se beeld taan, word ook die beeld van pres. Cyril Ramaphosa al hoe dowwer. Dit word in groot mate veroorsaak deur sy skynbare onvermoë om Eskom in staat te stel om sy probleme opgelos te kry. Die mate waartoe Eskom ’n rol in die Ramaphosa-beeld se kreeftegang speel, word deur Sarel van der Walt op Netwerk24 bespreek.

Adjunkpresident David Mabuza (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Hoeveel water die weergawe inhou, soos dat adj.pres. David Mabuza sy rug op die president gedraai het en nou vir Ace Magashule kant kies, word al hoe duideliker. Ramaphosa se kanse vir herverkiesing as president word al hoe skraler, en die sprake dat Ramaphosa dalk selfs al vanjaar die spit kan afbyt, bly in omloop al wys bekendes daarop dat die verkiesing van ’n nuwe pesident nie vanjaar reeds kan plaasvind nie.

’n Rede wat aangegee word dat die proses gebruik kan word vir ’n veranderde skedule is dat die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, so gou moontlik teen moontlike vervolging gevrywaar moet word. Mabuza, as president, is skynbaar al een wat genoeg invloed sal kan uitoefen om Ace uit die tronk te hou.

Intussen groei die konsensus dat Ramaphosa besig is om statuur in te boet. Die verwysing na Ramaforia is al betreklik in onbruik, en kon selfs nie nuwe lewe daarin geblaas kry ná die Wêreldbeker-rugbysukses nie.

Die interessantheid is dat Ramaphosa se teenstanders skynbaar steeds voluit glo dat min. Pravin Gordhan as Ramaphosa se achilleshiel ingespan kan word. Maar die opvatting dat Gordhan dalk meer wind as knap is, word min of meer deur die bekende Dawie Roodt gedeel. Boonop gebruik Roodt baie goeie en oortuigende feite om sy sienings oor Gordhan te rugsteun. Hoe lank Ramaphosa se poging nog kan slaag om Gordhan as groot oplossing voor te hou, is nie meer so seker nie. Die tyd wat Gordhan as minister vir munisipale sake moes instaan, het ook sy beeld erg aangetas, maar dit is ook so dat daar eers veel wetlike en bestuursaanpassings oor die regeer van munisipaliteite gemaak sal moet word om munisipaliteite ’n kans op sukses te bied.

Dit is egter bykans ondenkbaar dat die ANC dit sal kan bekostig om stellig sy belangrikste bron van poste vir kaderbeloning prys te gee. Dit wissel van hoë kader-ontplooiingsampte soos die burgemeester, tot “politieke adviseursposte” waarin raadslede pryk wat nie herkies is nie.

Hierdie poste is in sommige gevalle ongeveer net soveel soos die amptenare wat in diens geneem word, wat veronderstel is om paslike kwalifikasies te hê, en wat min of meer iets van die werk af behoort te weet. In wese is dit gereeld onkundiges wat bo sterkte die munisipaliteite se geldsake dreineer.

En hierdie tsoenami van bedreigings is byna reeds op Ramaphosa.

ANC-president Cyril Ramaphosa lewer die ANC se jaarlikse verjaardagtoespraak. Die vieringe word vanjaar in Kimberley gehou. (Foto: @MYANC/Twitter)

Die regte dinge wat Ramaphosa doen, boemerang dikwels ook weens die tydsverloop van baie sake omdat dit die indruk wek dat dit deel is van die ANC se tegniek om sake se relevansie te laat verjaar, maar nou skep die publiek se frustrasie ’n deurlopende koor van protes teen die vertragings. En die bankrot Eskom kan nie meer die batterye borg wat nodig is om Ramaphosa se projekte, soos die Zondo-kommissie, effektief te hou nie.

In ’n magstryd is dit belangrik om die botoon in die gepaardgaande propaganda-oorlog te voer. O ja, en bondgenote of alliansievennote met kundigheid te kies.

In plaas daarvan om die reuse- potensiële wit en bruin mark te probeer opvorder, knou hy dit deur toesprake op twee agtereenvolgende Welwillendheidsdae, vernietig sy eie kanse en stimuleer so die “alliansie” tussen Cosatu en Magashule.

Bruin mense kry ook te dikwels weer ’n “dice” wat nie reg kan val nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elizabeth ·

1. Voordat dit finaal te laat is, behoort die president en die betrokke minister (deur die hof) gedwing te word om die papiere af te teken wat op hulle lessenaars lê en wat dit moontlik maak vir klein kragopwekkers om krag aan Eskom te lewer.
2. Voordat dit finaal te laat is, behoort die bekende staatskapers in die tronk te beland (indien nodig, moet ook dit deur die hof afgedwing word).
3. Voordat dit finaal te laat is, behoort Eskom in sakeredding ingedwing te word (waarskynlik sal ‘n hofbevel ook hiervoor nodig wees), want dit is nie in die belang van ‘the powers that be’ dat dit gered word nie.

Hans ·

‘N party wat soveel energie bestee op interne gevegte ens kan nie hul regeer funksie uitvoer nie.

Leon ·

Onthou twee dinge.
Eerstens, die ANC is eerste, tweede en derde. Die ANC is die Alfe en die Omega. Niks in die land is belangriker as die ANC nie. Solank die ANC goed leef en funksioneer kan die land maar tot niet gaan.
Twwedens is die unies. Die unies is die belangrikse. Solank hulle kan geld melk uit die werkers sodat hulle kan in weelde leef, maak absoluut niks saak nie. hulle sal aanhou vir verhogings net sodat die unie base kan floreer. Die industrie en werkskepping kan gaan bars solank die unies die voordeel kry.
Klein krag voorsieners het nie kaders wat die ANC instop nie, so hulle is uit.
Daar is nie genoeg selle en tronke om die staatskapers te huisves nie. Groot probleem. Dan het ons nie meer ‘n ANC regering as hulle in die tronk is.
Sakeredding vir ESKOM gaan beteken die ANC se kaders sit sonder werk. Dit is weer eens die ANC wat geld verloor. Ook nie ‘n ‘n oplossing vir die ANC.
Dit is dit.

Werner Fourie ·

Dan is my vraag, waarom maak hulle nie maar ‘n lys van al die persone se name (ANC kaders) wat voor die Zondo kommissie geïmpliseer word, al synde hulle by staatskaping of korrupsie betrek is nie, en gee aan hulle vrywaring, dan word miljarde se geld gespaar en ons kan op die toekoms konsentreer.

Dit is ‘n gegewe dat daar altyd ANC kaders sal wees en solank die ANC regeer sal hulle die belange van die ANC, ook eiebelang, voor die belange van die kiesers en inwoners van die land stel. In sekere gevalle sal hulle eiebelang sommer ook voor die belange van die ANC stel.

ap ·

Die span narre laat my lekker lag , hulle klink soos pappegaaie wat dieselfde deuntjies fluit , en net hulle glo dit sal gebeur , fooitog

John ·

Die fat cat unies en hul ideologie het Eskom beet en hulle wil base hè wat na hul pype dans. Die minister moet klaarblyklik kommunistiese standpunte steun en op sy knieè voor die unie-base staan en niks minder nie. Ace regeer reeds. Cyril leef in ‘n droom. Eskom is nie te groot om te knak nie.

Jurgens ·

Alles is net retrorik om die land te destabeliseer om werkloosheid so hoog as moontlik te kry armoede so hoog as moontelik te kry en daar deer die massas ver genoeg te druk om n revoliesie te kan begin en om die hele land te nasionaliseer .

Kobus ·

1. Magashule asook Mabuza is albei Zuma mense .
2. Magashule is meer geslepe as wat Zuma was en tot dusver alles bereik het watvhy wou. Sy volgende oogpunt is President
3. Rhamaphosa het homself uitverkoop aan die twee en hulle het hom aan sy anstomie beet. Ek glo Rhamaphosa wasxte bang om sy msg te gebruik en daarmee homself en die land uitverkoop.
4. Die ANC het geen lojaliteit teenoor die land of sy mense nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.