Nuuskommentaar: Sosiale kontrak en geheime stemming

Pres. Jacob Zuma en speaker Baleka Mbete. Foto: Elmond Jiyane, departement van kommunikasie

Die konstitusionele hof het beslis dat die speaker die reg het om ’n geheime stemming in ’n mosie van wantroue teen die president te gelas, en ook sterk gesuggereer dat die omstandighede om pres. Zuma se kop, en wye ongelukkigheid daarmee, so ’n geheime stemming regverdig. ’n Geheime stemming dra egter nie Zuma se goedkeuring weg nie en dit laat die speaker met ’n keuse van wat behoort te gebeur.

Daar kan geen twyfel wees nie dat pres. Jacob Zuma die sosiale kontrak wat tussen hom en die kiesers gesluit is, by herhaling skandelik geskend het, al meen hy self dat hy Suid-Afrika goed lei.

Hoewel die idee van ’n sosiale kontrak uit die vroeë liberalisme kom en oorspronklik afgestem was om ’n geordende gemeenskap te vorm waar diegene wat die sosiale kontrak skend deur die ander tot orde gedwing kan word, is die konsep vandag veel meer op die wedersydse band tussen kieser en verkose verteenwoordiger afgestem.

Kortom, wanneer ’n verteenwoordiger of leier gekies word, ontstaan ’n sosiale kontrak waarin die verkose verteenwoordiger of leier sommige ondernemings doen en die kieser dit aanvaar. Deur die Grondwet word verseker dat die kontrak tussen die president en al die burgers, nie net ondersteuners van die meerderheidsparty of ’n bepaalde bevolkings- of belangegroep nie, gesluit word.

Soos met ander kontrakte is dele van die kontrak wat onwettig is nie afdwingbaar nie en kan ’n bepaling wat contra bones mores (teen die algemene morele standaarde) is die kontrak ongeldig maak. Kontrakbreuk het sekere regsgevolge.

Benewens die feit dat Zuma in verskeie opsigte sy ampseed geminag het, en dit by geleentheid deur die konstitusionele hof bevestig is, dui die land se misdaadstatistieke ook daarop dat Suid-Afrikaners nie die veiligheid kry wat ’n sentrale vereiste van ’n sosiale kontrak tussen leier en burger is nie.

Ten spyte daarvan dat die sosiale kontrak by herhaling geskend word, meen Zuma die stemming in die parlement oor ’n mosie van wantroue moet in die ope geskied. Zuma argumenteer dat die opposisieprtye deur ’n geheime stemming stemme gaan bykry wat hulle nie gehad het nie. Sy argument kom daarop neer dat as die kieser eenmaal gestem het (al is dit soos in SA onregstreeks) dat iemand president word, daardie keuse in beton gegiet bly. Hy verstaan dus hoegenaamd nie die konsep van ’n sosiale kontrak en die gevolge van kontrakbreuk van sy kant nie.

Intussen word die staatskapingbewyse in dié stadium deur verskeie kenners as genoegsaam beskou om die president se kontrakbreuk vir beslissing aan die kiesers se verteenwoordigers voor te hou. (Die woorde “sosiale kontrak” word nie noodwendig gebruik nie, maar sterk geïmpliseer.)

’n Geslaagde mosie van wantroue sal die politieke einde van Zuma en voorlopig ook van sy kabinet wees. Zuma se opvolger sal waarskynlik van sy suksesvolste ministers behou (wat eintlik nie veel is nie, en boonop is daar hopeloos te veel ministers).

Om te verseker dat die mosie van wantroue misluk, wend die ANC tot dusver ’n poging aan wat in wese teen die sosiale kontrak indruis. Lede van die ANC word gedwing om vir die president te stem, anders word hulle uit die party geskop en verloor hulle hul setels in die parlement. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het egter in sy uitspraak oor die geheime stemming gesê dit is belangrik dat ’n verteenwoordiger ooreenstemmend met sy gewete en oortuigings kan stem, eerder as in die party wat hy verteenwoordig se belang. In die VSA kan kongreslede so stem, en is ’n oor-en-weer afvalligheid met stemmings ’n alledaagse gebeurtenis. Dit verseker dat ’n president of party nie bloot sy meerderheid of magte kan gebruik om iets deur te stoomroller nie.

En ’n president kan hom, met die steun van sy eie partylede, in ’n staat van beskuldiging bevind en die trekpas kry.

Die enigste manier, onder die huidige omstandighede, is dus om ’n praktyk te vestig waar die stemming in ’n wantrouemosie in die geheim behoort te geskied. Die wesenlike moontlikheid dat ’n president sy amp kan verbeur verseker dat hy sy sosiale kontrak nougeset sal nakom. So sal ANC-lede wat vir die mosie van wantroue stem, verseker dat die ANC nie teen hulle kan optree nie, al is dit bloot omdat die party nie sal weet wie die “skuldiges” is nie.

Die konstitusionele hof het die korrekte uitspraak gelewer dat die speaker (wat dit ontken het) die magte het om ’n geheime stemming te gelas. Tegnies is die uitspraak dat die speaker nie verplig is om dit te doen nie, ook korrek omdat die Grondwet daaroor swyg, al verplig dit ’n geheime stemming wanneer die president verkies word – ’n gegewe wat die UDM wat die aansoek gebring het, onsuksesvol laat argumenteer het dieselfde behoort in die proses rondom afdanking te geld.

Dit is jammer dat die hof nie sy wyer magte, soos in ander sake, gebruik het om die leemtes aan te vul nie. Maar gee dit werklik aan Mbete die vrypas om ongeag die omstandighede te besluit dit moet ’n oop stemming wees, soos wat Zuma graag wil hê.

Mnr. Steve Swart, ’n regsgeleerde en LP van die ACDP, argumenteer tereg dat die konteks van die uitspraak bepaal dat Mbete ’n rasionele besluit moet neem, anders kan haar besluit weer deur die hof hersien word. Boonop het die konstitusionele hof ook bevind dat die omstandighede in die land nou van so ’n aard is, wat wydverspreide ongelukkigheid met Zuma tot gevolg het, dat die mosie van wantroue van hoë prioriteit is. Dit, op sy beurt is weer deur die hof uitgewys as rede oor waarom sommige parlementêre stemmings in die geheim behoort te geskied.

Die feit dat Zuma en Mbete die regskostes moet dra, dui ook aan dat die hof neig om in die “guns” van die opposisiepartye te oordeel.

Mbete kan dus nie sonder die verwagting van reperkussies, en onder druk van Zuma, besluit dit moet ’n oop stemming wees nie.

Dit is moeilik om te voorspel wat Mbete sal besluit as sy eers van die moontlike regsgevolge bewus word. Sal sy, as voorsitter van die ANC, haar speakerplig versuim? In die verlede het dit in daardie rigting geneig.

Gaan die feit dat sy self presidensiële ambisies gehad het, en selfs te midde van groot TV-dekking by haar stam in die Transkei die stam se goedkeuring en steun gaan kry het, maar toe deur Zuma self afgeskiet is, haar net dalk motiveer om ’n ware speakersbesluit te neem?

Of gaan die bevinding van grondwetlike versuim teen die parlement deur die vorige openbare beskermer haar tot objektiwiteit dwing? Die bevinding was immers tot ’n groot mate voor haar deur gelê, omdat sy Zuma so pligsgetrou beskerm het.

Intussen is dit nie ’n slegte idee dat sy by Steve Swart gaan kers opsteek nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Loeis ·

Alles hierbo is waar, en Mbete is nou in ‘n moeiliker situasie as ooit, maar maak dit regtig enige verskil?

1) Mbete kan steeds kies om nie ‘n geheime stemming te hou nie,
2) veronderstel ‘n geheime stemming word wel gehou, beteken dit nie Zuma sal noodwendig uitgestem word nie,
3) en selfs as hy uitgestem word, word hy waarskynlik deur sy x-vrou, nog ‘n Zuma, vervang, en die partytjie duur waarskynlik net voort,
4) sy is wel dalk meer bevoeg as hy, en mag dalk ook die ANC verenig, terwyl hy hulle verdeel en selfs steun wegstoot, soos wat onlangse tussenverkiesing uitslae in Natal gewys het,
5) daar is ‘n geveg tussen Zuma en die EFF. As hy uit is, mag die EFF dalk na die ANC terugkeer, en as dit voor die volgende verkeising gebeur, het hulle sam ‘n tweederde meerderheid in die parlement.

Gegee bg is dit dalk nie in ons belang dat Zuma nou gaan nie.

As ons tot 2019 kan uithou mag die ANC dalk deur ‘n koalisie tussen die DA, IFP, VF+ en ACDP vervang word. En hopelik is die EFF op geeen manier daarby betrokke nie.

Grassie ·

Hierdie mosie van wantroue moes nie ingestel gewees het nie. Zuma en sy trawante het die meeste ANC-lede oortuig dat ‘n stem teen hom eintlik ‘n stem teen die ANC is. Of hulle in die geheim gaan stem of nie maak nie saak nie – Zuma gaan oortuigend wen. Dit gaan hom in ‘n baie sterker posisie plaas as wat hy nou is want die parlementslede verteenwoordig die “people” en hy sal met genoegdoening en sy gewone arrogansie by die opposisie kan invryf “the peoples have spoken, he he he he.” Hy gaan dan met ‘n vryer hand op sy plundertogte voortgaan.
Die geslepe Zuma het hom al ‘n hele paar jaar lank, met behulp van Gupta-fondse, so diep in sy amp ingegrawe dat ‘n stootskraper hom nie daaruit sal kan stoot nie. Die sosiale kontrak met sy kiesers wat hy veronderstel is om te eerbiedig kan hom min skeel, by hom tel net eiebelang.

Rw ·

Op News 24 kan jy vir jou MP ñ email stuur oor 3 belangrikste kwessies vir ‘vote of no confidence’

Alida ·

Ek dink die feit dat sy persoonlik aanspreeklik gehou gaan word vir die kostes sal haar 2 keer laat dink voor sy die verkeerde besluit neem. Dit sal haar ook leer om die Grondwet te bestudeer, wat sy in elk geval in die eerste plek moes doen voor sy irrasionele besluit neem. Sy dink seker haar vriendskap met Zuma is ‘n paspoort hemel toe. Daar slang gaan haar pik.

Sw ·

Hy is nou al so arrogant dat hy gister gesê het in parlement daar was al 7 mislukte pogings teen hom. Sewe is ñ gelukkige nommer, hopenlik draai nr 8 teen sy geluk.
Ek vertrou die Here en glo wat ookal gebeur, Hy is met ons.

ant ·

Ek sit en wonder so oor al die as’e:

Daar is wel potensieel probleme vir 2019 as ons opposisie nou druk. Vraag is eintlik, is die risiko groot genoeg om al die menseleiding wat die volgende 18 maande noodwendig inhou, te regverdig? Ek twyfel. Sodra dit begin beter gaan, sal Jan Alleman probeer insien hoekom, en die wiel sal verder draai.

Ek dink dis veral nuttig om verskeie as’e nou te gebruik en Jan Alleman (en dalk ook Mbete en JZ) te leer van potensiële gevolge. Mbete moet besef sy moet rasionaliteit opweeg teenoor ‘n baie gewillige publiek wat haar reeds sien as aandadig in die kleptokrasie. En die reg wat haar reeds onbevoeg laat lyk. Die OVK hou nie van borgtog vir aangeklaagtes nie. Waar sal ons hulle dan beskerm teen die honger piromane? Miskien moet mens weer Robben Eiland begin dink. Of, as hulle hierdie probleem wel opgelos kry met Dubai, laat ons regstelsel ons toe om in landsbelang voorlopig met in absentia verhore te begin? Hoe ver ondersteun VAE die Internasionale Hof?

Ek weet dis net “as”, maar is dit werklik so onmoontlik dat almal stilbly oor hierdie realiteite, of maak ek nou hopeloos te veel slapende spoke wakker? Ek dink hulle sien dit as onwaarskynlike gevolge omdat die media stil is hieroor. En dit moedig ander in hul onkunde aan om net voort te ploeter dieper in die gemors in. Kan ‘n dief vir 18 maande maar aanhou vir die DA?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.