Nuuskommentaar: Sou ander kiesstelsel beter SA kon verseker?

Foto: Maroela Media

Die land brand oor ’n wye front, en politieke partye stamp koppe oor ’n meer geskikte kiesstelsel vir die land. ’n Kiesstelsel kan verligting bring, maar die wortels van kompleksiteit lê veel dieper as ’n oppervlakkige beskouing.

Met die land wat op verskeie plekke brand, met Solidariteit wat die regering oor ras en rassisme in die howe aandurf en by verskeie internasionale organisasies verkla, met ’n hernude vlaag plaasaanvalle waarvan minstens een so wreed is dat RSG-nuus sensitiewe luisteraars voor die lees van die berig moes waarsku, is dit ’n relevante vraag of ’n ander kiesstelsel ’n meer aanvaarbare uitkoms sou kon verseker.

Die kwessie is ingelui met ’n aanval van die Vryheidsfront Plus, by name sy leier dr. Pieter Groenewald, op die DA omdat die DA: “… in die hande van die ANC (speel) as hulle die kiesstelsel in Suid-Afrika wil verander na ʼn suiwer kiesafdelingstelsel. ʼn Suiwer kiesafdelingstelsel sal die ANC ʼn groter meerderheid van tot 80% in die Nasionale Vergadering kan gee. Dit is selfs bevestig deur dr. Van Zyl Slabbert in die ‘Electoral Task Team’-verslag (bl.19) oor kiesstelsels.”

In 2009 nog het kundiges die destydse leier van die DA, Helen Zille, geloof omdat sy ’n gemengde kiesstelsel voorgestel het waar sommige LP’s en LPW’s proporsioneel, en ander per kiesafdeling, verkies sou word. Sy het egter ’n ander belangrike kwessie, wat veral met die presidentskap van Jacob Zuma relevant is, ter sprake gebring, naamlik dat die president en premiers regstreeks deur die kiesers gekies behoort te word.

Die VF Plus se beswaar teen ’n volkome kiesafdelingstelsel, veral as ook aan minderheidsverteenwoordiging gedink word, is geldig. Groenewald se doktoraal het immers hieroor gehandel.

Ook ’n gemengde stelsel sal die verteenwoordiging van verspreide minderhede geen guns bewys nie. As die stelsel in die Nasionale Vergadering met sy 400 setels toegepas word, moet ’n party wat sektorale belange soos godsdiens of kultuur verteenwoordig, in plaas van die huidige 25 persent (kwart) van die stemme vir ʼn gewaarborgde setel, 50 persent stemme (dus, die helfte) kry. Dit klink op die oor af nie onredelik nie, maar dit moet in gedagte gehou word dat heelwat partye sukkel om noemenswaardig verby die eenpersent-verteenwoordiging te kom.

Die tweede probleem is dat die kiesafdelings enorm groot sal wees, waarin minderhede wat in ’n bepaalde woongebied saamgetrek is, ten spyte van die geografiese konsentrasie heeltemal kan verdrink. Die gevaar bestaan ook dat die regerende party juis deur die gerrymandering van kiesafdelings oorlog kan voer teen gebiede wat en bloc teen die regerende party kan stem.

Van die regering se Kodesa-onderhandelaars het sedertdien verduidelik dat die huidige proporsionele kiesstelsel die beste was wat beding kon word om dit moontlik te maak dat selfs ’n baie klein minderheid op die hoogste vlak verteenwoordiging kan kry.

Maar is die gewaarborgde setels vir inheemse minderhede soos onder meer in Indië en Nieu-Seeland geld nie ’n beter waarborg nie? Dit is nou ’n akademiese vraag. Dis egter ’n interessante verskynsel dat die Maori’s neig om hul gewaarborgde setels te “verkwansel” deur daar ook vir van die groot partye soos die Arbeidersparty te stem. In hul geval beskik hulle egter ook nog oor die Maori-kongres (parlement) wat sektorale belange dien.

Die strewe om kiesafdelings te hê waar die verteenwoordiger eerder aan die kiesers as sy party verantwoording doen, het sekere aantreklike elemente. So ’n stelsel neig om die nodigheid van koalisies uit te skakel en so ’n meer stabiele regering te hê (al regeer so ’n party met ’n numeriese minderheid, soos die NP ná twee verkiesings, en nou waar Donald Trump as president verkies is, al is hy met amper drie miljoen stemme deur sy teenstander, Hillary Clinton, uitgestof).

Of ʼn “meer stabiele regering” in Suid-Afrika so aanbevelenswaardig is, is ’n oop vraag omdat die ANC se meerderheid so oorweldigend was dat dit in die proporsionele kiesstelsel kon gebeur, en mettertyd erg gestrem is deur korrupsie, onbevoegdheid, ’n aanslag op die Grondwet, sektorale voortrekkery, en oplaas staatskaping. Die wydlopende veldtogte om Zuma uit die kussings te dwing en verbete pogings om die onafhanklikheid van die regbank te verseker (gerysmier deur optogte ter ondersteuning van Zuma se pogings om “bo-oor” die Grondwet te regeer), is duidelike bewyse dat ’n kiesstelsel wat ’n regerende party se posisie verskans, dom is. Vandaar die VF Plus se “dwarslopery”.

In die destydse onderhandelingsmilieu by Kodesa was dit moeilik, en kunsmatig politiek inkorrek, om ’n tipe minderheidsbeskerming in te bou wat net ’n effense etniese reukie sou voortbring. Partye wat destyds hiervoor beding het, het dus in die geval van die Afrikaner afgestap van “blank” en die internasionale definisie vir volk (taal en kultuur) gebruik. Dit is nietemin deur die ANC as ’n verskuilde agenda beskou om “apartheidsvoorregte” te probeer verskans.

Die gevolg was dat potensiële stelsels van internasionaal erkende etnies- of minderheidsgebaseerde stelsels nie vir Suid-Afrika oorweeg is nie, al was die opdragte aan die NP/regering se onderhandelaars dat dit juis bevorder moes word – in elk geval tot in ’n stadium. Ons het dus nie iets soos ’n etniese federasie (België en Indië), regionale selfbeskikking op variërende vlakke soos Skotland, Wallis, Noord-Ierland en Cornwallis, Katalonië, Baskeland, Sardinië en vele ander gekry nie – ook nie korporatief om geografiese verstrooidheid teen te werk, soos die Maori-kongres nie.

Soms word op die oog af die mooiste “toring” gebou vir minderheidsverteenwoordiging. Die vorige grondwet van Sirië het byvoorbeeld setels gewaarborg aan Christene en ander godsdiensgroepe, en aan talle van die etniese minderhede. So iets word egter dikwels op twee maniere ondermyn, onder meer deur die president se magte so sterk te maak dat die parlement eintlik niks anders as vertoon is nie, of deur dit binne die konteks van ’n eenpartystelsel te bedryf waar byvoorbeeld die pan-Arabiese sosialistiese Baath-party die enigste wettige party is.

Artikel 235 van die Grondwet maak wel voorsiening vir selfbeskikking, hetsy korporatief of geografies, as onlosmaaklike deel van Suid-Afrika.

Dat (nog) geen groot oorhoofse poging aangewend is vir die Afrikaner, of selfs die bruin gemeenskap, om artikel 235 in te span nie, beteken nie dat sektorale politiek nie lewend is nie. Verwikkelinge in die bruin gemeenskap kan redelik goed gevolg word deur die Facebookprofiel van die voormalige Wes-Kaapse premier, Peter J. Marais, te volg. Die wetsontwerp op tradisionele leiers en die Khoi-San-mense is tans onder die vergrootglas. Hy doen ook ’n beroep op steun vir die mense van Eldoradopark (na aanleiding van die onluste daar).

In grondwetlike demokrasieë speel burgerlike belangegroepe ’n uiters belangrike rol, en is die Solidariteit Beweging verreweg die mees prominente manifestasie hiervan vir die Afrikaner – tot so ’n mate dat Max du Preez meen Solidariteit het ’n “staatskaping” op die Afrikaner uitgevoer.

Die interessantheid is dat die Solidariteit Beweging, ten spyte van die omvattende  terrein wat dit aanspreek, nié self die partypolitieke arena betree nie, en soos byvoorbeeld Cosatu in alliansie met ’n party gaan nie. Van partypolitieke kant is daar egter wel oor ’n taamlike wye front deurlopende pogings om minstens simpatiek vir die beweging se ideale te wees.

Goeie voorbeelde van sektorale verteenwoordiging, maar buite-parlementêr die afgelope ruk, is TLU-SA se uitloof van ’n prys van R100 000 vir die een wat gronddiefstal kan bewys, en Agri SA wat op die vlaag plaasaanvalle reageer  het. Agri SA se mediaverklaring word soos volg afgesluit: (Mnr. Kobus) Breytenbach (voorsitter van Agri SA se Beleidskomitee oor Landelike Veiligheid) het sy simpatie met die slagoffers en naasbestaandes uitgespreek en slagoffers ’n spoedige herstel toegewens. “Ons wil graag ’n beroep doen op die boerderygemeenskap om met die polisie saam te werk, binne die strukture van die Landelike Beveiligingstrategie, om landelike misdaad aan bande te lê. Verder word ’n beroep op boere en plaaswerkers gedoen om die nodige beveiligingsmaatreëls toe te pas wat in huidige omstandighede noodsaaklik is om plaasaanvalle te probeer voorkom.” Breytenbach sê ten slotte: “… dat deur die Agri Securitas Trustfonds hulp aan verskeie boerderygemeenskappe gebied word om hulle beveiligingsmaatreëls op te skerp en hulle te staal teen landelike misdaad”.

Alles dui op ’n instaan vir verantwoordelikhede van die regering, maar waarmee die regering hetsy weens onbevoegdheid verbrou, of omdat die regering hom nie steur aan die bepalings in onder meer die president se grondwetlike ampseed nie, dat na die belange van al die land se mense omgesien word nie.

Trouens, die klagtes wat die Solidariteit Beweging teen die regering lê, ook oorsee, is ’n duidelike manifestasie dat die regering nie net sy verantwoordelikhede teenoor minderhede versuim nie, maar die minderhede aktief ondermyn, deur hulle onder meer die rassismekaart om die nek te hang, terwyl die regering self hand oor hand meer rasbenepe word.

Tot tyd en wyl minderhede hul sake so in orde kry dat statutêre outonomie deur artikel 235 sinvol opgeneem word (mits die ANC-regering dit sal toelaat), en solank minderhede aan blatante diskriminerende praktyke onderwerp word – selfs tot nadeel van veral die land se ekonomie – so lank sal burgerlike instellings en nieregeringsorganisasies ’n onontbeerlike rol speel, en versterk moet word. Maar dit beteken nie daar moenie ook die beste van die politieke gegewe gemaak word en die stembus pligsgetrou besoek word nie.

En nie met die kiesstelsel gepeuter word tensy ’n werklik verbeterde model die lig sien wat die land se probleme doeltreffend gaan aanraak nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Kaufman ·

Ideaal moet die man op straat stemreg verdien deur iets by te dra en n minimum vlak van intellek he, soos minimum kwalifikasie. Demokrasie in land van ongeletterdes is skadelik, werk eenvoudig nie en sal eers werk die eeu wanneer ongelettertheid uitgesorteer is.

Koalisie ·

JA ek kan glad nie verstaan hoekom minderhede in SA geen se het nie. Wat se DEMOKRASIE is dit waar minderhede onderdruk word en met wette verder geboelie en ingeperk word. Hoekom word minderhede in SA heeltemal geignoreer. Alles word override deur die meerderheid. Wat se SE of STEM het ek in SA as lid van ‘n minderheidsgroep? Wat se beskerming het ek as belastingbetaler en wetsgehoorsame burger? NIKS NIE. Die koalisieregering was vir my ‘n oplossing .. Hoekom moet die minderheidsgroepe toegee op alles? Alle ander lande beskerm hulle minderheidsgroepe, in SA kry hulle elke dag slae en word gedreig van verhoe af . dieselfde mense wie se salarisse deur die minderheidsgroepe se TAX betaal word, het geen verweer, geen se, straatname word verander .. na die MEERDERHEID se helde toe .. toe dit andersom was was dit verkeerd, hoekom is dit nou reg? Hoekom word bomplanters vereer? Omdat die meerderheid daarvan hou .. neewat .. die minderhede MOET ‘n gelyke se in SA he, al is dit ook net oor hulle EIE goed! As hulle oral uitgesluit en uitgestem en met kwotas uitgehou word HOEKOM mag hulle dan nie hulle ei plekke opsit nie? EN dis belaglik dat INMATES kan stem, waar in jou lewe kan ‘n tronkvoel wat GEMOOR EN VERKRAG EN GEROOF het ‘n stem he?

Dok ·

Die meerderheid glo dat muti en kommunisme werk. Hoe kan hulle oor ons toekoms wil besluit? Nee dit werk nie meer so nie.

Louw ·

Julle is duidelik nie vetroud met die definisie van politieke terme nie, en dis dalk deel van ons ondergang: onkunde. Demokrasie word nie geïmplementeer vir die minderheid nie, dis vir die massas.

Chivago ·

Laat die kiesstelsel maar staan, ons moet die kierserskorps (stemvee) verander. Bv slegs geregistreerde persoonlike belastingbetalers moet stem en geen persoon in gevangenisskap nie. “One man one vote” werk beslis nie in RSA nie.

al ·

Jip, dit behoort sake heel om te swaai. Ongelukkig is dit nie haalbaar nie – as jy nie jou sin kry nie, brand, breek en plunder jy.

Leois ·

Herman, die heel laaste sin in jou artikel het ook op minuspaliteite betrekking.

Reeds voor verlede jaar se minuspale verkiesing het Dr Pieter Mulder van VF+ kleiner minuspaliteite bepleit waar mense nie van een dorp na ‘n ander hoef te ry om bv by hul minuspale kantoor uit te kom nie. Dit gaan verder: kleiner minuspaliteite sal ook beteken dat een gemeenskap nie ‘n ander gemeenskap finansieel moet dra, of deur ‘n ander polities ‘oorheers’ word, soos wat wel nou aan die gebeur is nie. ‘n Goeie voorbeeld is wanneer ‘n middklas woonbuurt en ‘n plakkkerskamp in een minuspaliteit of selfs een wyk is. Jy betaal vir hulle, en hulle besluit daaroor, nie jy nie.

Kleiner minuspaliteite kan dus outomaties op baie plaaslike selfbeskikking vir minderhede neerkom. Die ANC se afbakeningsraad probeer dit te voorkom, en slaag ongelukkig heel goed daarin.

Elsa ·

gaan nie oor kies-stelsel….eerder bekwaamheid en wysheid…ander eerste stel

Regstellende Aksie = RSA Brand ·

Die rassistiese beleid van Regstellende Aksie begin nou sy ware kleure te wys en die mislukking van die sisteem word nou vir almal sigbaar. ‘n Nuwe kiessisteem met dieselfde rasiste in beheer sal dieselfde uitwerking hê.

Die ANC swamp moet nou gedrein word, en al die ras gebasseerde wette van die ANC, en hulle base in London, afgeskaf word.

‘n Kiesstelsel waar verkiesings net vir vermaak is, is Afrika se manier!

Pjk ·

Enige iets anders sou beter gewees het. Swak onderhandeling destyds

Zirk ·

SA se politieke stelsel misluk om 2 hoofredes nl;
1. Demokrasie op die Westerse manier, is vir die Afrikaan onbekent EN in sy huidige vorm, onaanvaarbaar.
2. Die Afrikaan is histories verknog aan een sterk, oppermagtige en later wrede diktatoriale stamkaptein, opperhoof en koning.
Ons is op die oomblik ‘n goeie voorbeeld daarvan nl;
1. Na 1994 is ons geregeer deur die tirannie van die ongeletterde, oningeligte, halfgeskoolde meerderheid.
2. Soos dinge gevolglik verkeerdloop, verlaat die gepeupel hulle meer en meer op die leierskap van ‘n wrede ( al is hy ook korrup) maar volgens hulle ‘n sterk, diktator.
Kyk maar na lande noord van SA as voorbeeld. Dus; eers die tirannie van die meerderheid wat oorgaan in die tirannie van ‘n diktator.
Mag God ons behoede.

Lampies ·

Die kern van Herman se artikel, asook die voor-die-hand-liggende oplossing vir die probleem van die Afrikaner se politieke marginalisering, is opgesluit in die onverstaanbare ignorering van Artikel 235. Waarom skram die VF+ daarvan weg om onomwonde die implementering van art 235 as hul hoofbeleid te aanvaar? Die ANC kan ook nie die implementering van Art 235 stop nie, aangesien hulle verskeie internasionale verdrae onderteken het wat die selfbeskikkingsregte van minderhede waarborg. Die Afrikaner moet net ophou om getallepolitiek te bedryf en besef dat die DA geen oplossing bied nie!

John ·

Die wyse waarop die president verkies word, is dalk eerder die huidige probleem omdat hy die kieskollege kies wat hom moet kies en dit is net ‘n paar duisend mense uit die groot bevolking. Ons huidige leier buit dit deeglik uit. Waarop dit neerkom is dat indien ‘n president sleg uitdraai ons met hom vir ‘n dekade lank opgeskeep sit wat genoeg tyd is om die land ten gronde te rig en soveel skade kan aanrig wat nie ongedraai kan word nie… soos wat ons nou reeds deeglik ervaar… En in die’ opsig is selfs die hoogste hof bloot ‘n speelbal in sy hande.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.