Nuuskommentaar: Sou Trump-tipe president SA uit piesangrepubliek-sone kon stuur?

Donald Trump

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Is dit moontlik om by Trump se omstredenhede verby te kyk na sy voornemens om sake soos belastinghervorming deur te voer – sake wat Suid-Afrika gebiedend nodig het?

’n Enorme aanslag word steeds gevoer om pres. Donald Trump se beeld onherstelbaar te verwoes. Dit blyk nou maar te ene male ’n gegewe te wees, net soos wat Trump weer die een of ander iets gaan kwytraak wat petrol aan sy lawaaierige opponente gaan gee. Oor die algemeen lyk dit of hy nou vinnig leer en dat die voet-in-die-mond-uitsprake minder word.

In ’n stadium is talle vergelykings tussen Trump en pres. Jacob Zuma getref – tot groot ontsteltenis van die Trump-ondersteuners in Suid-Afrika.

Daar mag wel ’n oppervlakkige ooreenkoms wees in die populistiese styl van die twee leiers, maar dit is inderdaad waar die ooreenkomste eindig. In die ontplooiing van die Trump-administrasie word soveel sake beklemtoon wat ook in Suid-Afrika onder die vergrootglas gehou word:

  • Die gesondheidsplan: Suid-Afrika beweeg skynbaar onverbiddelik af op ’n nasionale gesondheidsplan, ’n proses wat deur die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoealedi, gedryf word. Die idee is dat alle Suid-Afrikaners bekostigbare gesondheidsorg moet kry. In die VSA was iets soortgelyks, bekend as Obamacare, een van Trump se vernaamste voorkeure om met iets minder sosialisties te vervang. Obamacare is tradisioneel skerp deur die meeste Republikeine teengestaan, maar hoe nader aan die verkiesing, hoe meer het hulle bang geword vir die gevolge van die skrapping – veral as die plaasvervangende stelsel nog nie in plek is nie. Nou is die skrapping inderdaad in die Kongres gekelder deurdat baie Republikeine ook daarteen gestem het. Selfs Trump se dreigement dat hy, as dit sou gebeur, Obamacare in plek sou los en eerder op sy beplande belastinghervormings sou konsentreer, het nie die (voorlopige) keldering gekeer nie. ’n Onlangse peiling toon egter aan dat die meeste kiesers steeds ten gunste daarvan is dat Obamacare se wetgewing drasties gewysig moet word (51%) of dat dit geheel geskrap moet word (15%).
  • Trump mik daarna om drastiese belastinghervormings deur te voer, en veral sy planne om sakebelasting met meer as die helfte te sny, staan uit. Peilings toon dat die meerderheid Amerikaners al baie lank dit as ideaal beskou dat die staat se rol en grootte verklein word, ter wille van laer belasting. Trump en sy span wil die hervormings reeds in September vanjaar ’n werklikheid maak, maar dit lyk onwaarskynlik dat dit prakties moontlik sal wees. Dit staan in skrille kontras met Suid-Afrika se begroting wat nie op ’n kleiner owerheidsrol afgestem is nie, maar eerder ’n reuseburokrasie en ongehoorde groot kabinet ondersteun. Genoeg word klaarblyklik nie gedoen om vermorsing te bekamp nie, en voornemens en opdragte hiervoor bly gewoonlik lippediens.
  • Pres Trump se eerste nominasie van ’n regter vir die VSA se Supreme Court, (wat min of meer op ’n samevoeging van die appèlhof en konstitusionele hof hier neerkom), Neil Gorsuch, word sterk in die Kongres teengestaan. Peilings toon egter dat die meeste kiesers glo dat teenstand teen Gorsuch meer polities van aard is, as wat dit met die eienskappe van ’n regter te make het. Hier te lande het Zuma al dikwels gekla dat die regbank nie getransformeerd genoeg is nie, en ’n aantal lede van die Regterlike Dienskommissie vervang. Zuma openbaar steeds ’n groot onkunde oor die verskil tussen ’n grondwetlike demokrasie en ’n diktatuur van die meerderheid, en raak gefrustreerd dat die howe “meerderheidsbesluite” (maar wat ongrondwetlik is) in hul spore stuit.
  • Die Sassa-debakel en benoudheid dat miljoene armlastige mense dalk nie hul staatstoelaes gaan ontvang nie, het lank die nuus oorheers. Dit het ’n ander debat oor die aangeleentheid, naamlik oor of te veel kategorieë mense dalk vir toelaes van die een of ander aard kwalifiseer, en sodoende meer kwaad as goed doen aan die ekonomie se vermoë om werkgeleenthede vir baie van hierdie (en ander) mense te skep. Min of meer dieselfde soort debat word in die VSA gevoer, met 55% van die Amerikaners wat meen te veel mense kry staatshulp.
  • In die VSA wil Trump staatshulp aan stede wat onwettige immigrante beskerm (die sogenaamde “sanctuary cities”) opskort, en dit word deur 52% van die kiesers gesteun. Die Zuma-administrasie volg ’n min of meer oopdeur-benadering tot die kwessie weens ’n Pan-Afrika-ingesteldheid. Xenofobie kom egter gereeld voor.

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Soos sake nou staan, moet die ANC teen Desember ’n nuwe president kry. Dit is wel tegnies moontlik dat Zuma hom vir nog ’n termyn beskikbaar kan stel, maar dit sal beteken dat die land in 2019 ’n nuwe staatspresident kry, terwyl Zuma se termyn as ANC-president eers drie jaar later sal verstryk. In normale omstandighede sou egter verwag kan word dat die volgende staatspresident teen die einde van die jaar die nuwe ANC-president sal word (hoewel “normale omstandighede” nie juis ’n Zuma-kenmerk is nie).

Die verwagting is baie groot dat Zuma se opvolger sake wat Zuma laat ontspoor het, moet kom regruk. Die feit dat die ANC dit nog nie self gedoen het om Zuma te pos nie, dra daagliks daartoe by dat meer en meer kiesers nie meer glo die ANC kan iemand oplewer wat die land op die regte koers – ten minste ekonomies dan – kan kry en volhou daarmee nie.

Omdat Suid-Afrika ’n ander tipe presidensiële kiesstelsel as die VSA het, is dit onmoontlik om te sien waar ’n nuwe president vandaan gaan kom wat sake hier omvangryk kan regruk.

Dit plaas net ’n groter onus op die Solidariteit Beweging se Plan B om te slaag. As Zuma se opvolger ook begin EFF-beleid steel, en byvoorbeeld, soos Zuma deesdae, pleit vir grondonteiening sonder vergoeding, gaan die ekonomie in ’n groot stofwolk inplof. Plan B bied dan vir diegene wat, soos Max du Preez verkondig het, deur Solidariteit “ge-staatskaap” is ’n mate van isolering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

MyC ·

Trump is my tiepe president en mens. Hy sit sy land eerste, nie soos die ruggraatlose ander presidente nie, met Putin as uitsondering. Die ANC kan nie hul self regruk nie, nog minder die land, net meer tax, net meer om te steel.

m ·

Ek glo dat iemand soos Trump n enorme verskil in hierdie land sal maak. Dit gaan net lank vat want alles is nou vernietig wat opgebou was maar na hy sal n verskil kan maak.

Rupert Ashford ·

‘n Trump tipe sal in elke land met geweld teensgestaan word deur die politieke klas en met die media wat in die voorste linies veg om hulle eie plek op die soustrein te beskerm.

elmarie ·

trump kan sui afrika se pres wees enige tyd dan sal die poppe dans

Loeis ·

Dit is tog interessant: die mense is nie ten gunste van Obamacare nie, maar die Amerikaanse kongres besluit om daarmee voort te gaan, Republikeine inkluis. Dus verteenwoordig hulle nie die mense se voorkeure nie.

Intussen stem mense vir een van die twee grootste partye om die ander een teen te staan, al veg daardie party nie vir hulle belange nie. Dit is nog ‘n ooreenkoms met Suid-Afrika.

Op die ou end sit biede lande met ‘n demokrasie maar dit is nie werklik die mense wie regeer nie.

pieterdp ·

Dit gaan op die einde van die dag nie oor Zuma of Tump nie.

Dit gaan oor n EERBARE Prisedent ; LPs en regerings amptenare wat daar is vir die land en sy mense.

Ongelukag is ons regering deur vlek met koripte amtenare. Prisedent wat rase haat aanblaas as ok koripsie aanmoedig om sy bas te red.

Kom ons vat liewer hande en praat en beinvloed ons nie blanke burgers om op die end van die dag die regte ding te doen.

Rina Kotze ·

Wanneer kan Mnr Trump begin asb?

Hoop net hy stel ‘n totaal nuwe kabinet aan!!
Met meer bevoegde mense!!!

Rupert Ashford ·

Sal interessant wees om te sien hoe die ANC en nasionale pres verkiesings verloop en hoe hard Zuma aan mag probeer vashou. Mbeki se vashou aan mag is voorgehou as een rede hoekom hy herroep is.

Jos ·

Zuma weet hoe om skade aan die rand en land aan te rig met sy denkwyse waar Trump sy land eerste stel.

John ·

Die VSA is sedert 1944 reeds ‘n millitere junta en die presidente net flukse akteurs. Obama was die droompresident, ‘n robotzomie geskep deur pentagon-dragoniers wat die volk onder narkose hou dmv ge-‘photoshop’-te feite. Oorlog en geld vir oorloe is die hoofsaak vir die FBI, CIA en die res… en vyande moet daar wees… Trump word gespeel totdat hy hulle ‘game’ speel en geld vir die oorlog-speletjies gee en gee. Dis ‘n baie siek land…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.