Nuuskommentaar: Speel met ras en geskiedenis – lesse uit Springbokspan en die Oekraïne

Argieffoto

Argieffoto

Die Oekraïne is uiteindelik besig om die regte ding te doen – om die grondwet te wysig sodat veral oostelike dele van die land groter outonomie kan kry. Maar ultra-regses is in protes, en in die proses is minstens een polisiebeampte dood en verskeie beseer. Hulle beskou die grondwetwysiging as ’n toegewing om (pres. Wladimir) Poetin van Rusland ter wille te wees.

Die Oekraïne-kwessie het die wêreld tot die punt gebring waar baie ontleders weer werk met die veronderstelling dat die Koue Oorlog in volle gang hervat is. Die situasie is soms so plofbaar dat die tekens duidelik teenwoordig is as snellerelemente vir die uitbreek van ’n derde wêreldoorlog.

Etnisiteit is grootliks te vinde in die onvrede, met etniese Russe wat hulle in die tyd van die Sowjetunie ook in groot getalle in ander Sowjetrepublieke gaan vestig het. Veral Estland, maar ook Litaue en Letland, hou sake in die Oekraïne benoud dop. Van hierdie lande het lankal aanbeweeg en byvoorbeeld lidlande van Navo en die Europese Unie geword, wat beteken dat Russiese aggressie nie so onbeantwoord sal wees as in die geval van die anneksasie van die Krim-skiereiland nie.

Etnisiteit is egter nie al onderliggende faktor nie. Trouens, die wysigings wat nou aan die Oekraïne se grondwet gemaak word, is in pas met die Europese handves wat die opsie van outonomie vereis, en tot die outonomie van Biskaje, Katalonië, Skotland en selfs gedeeltelik vir Cornwallis, en vele ander gelei het. Onder die Sowjetbewind het groot dele van die ryk in historiese tydkapsules beland, en ideologies is daar nog dikwels Nazi’s en Staliniste met mekaar haaks – juis oor argaïese oorwegings. Danksy die Sowjet-mediabeperkings, en nou aldus die persvryheidsindeks gedeeltelik voortgesit in Rusland, bly die opvattings en idees in hierdie kapsules min of meer intakt.

Maar wat het dit alles met die kies van die Springbokspan, en eintlik Suid-Afrika, uit te waai?

Al ontken die ANC dit, is daar enorme politieke druk op sportspanne in Suid-Afrika. Met die vorige wêreldbekertoernooi het politici selfs gedreig om die Springbokke se paspoorte terug te neem. En soos taks gaan dit oor die etniese samestelling van die span.

Baie van die redenasies dui ook daarop dat dit in tydkapsules vasgevang is. Die manifestasie van regeringsbeleid word nie gemeet deur die swak beleid of die swak toepassing en uitvoering nie, maar die slote waarin die ou koeie begraaf is. Blaam word dan uitgedeel, en op kitsoplossings (al weer) aangedring wat geen heil inhou nie.

Dis nie net sport nie. Kyk maar na die stywer aandraai van die skroewe om van Afrikaans op kampusse ontslae te raak. Die mees belaglike praktyke en gedagtes kry ontoepaslike name soos “regstellende aksie”, transformasie, demokrasie en vele meer terwyl die regering op ’n daaglikse grondslag demonstreer dat hy geen begrip het van die term grondwetlike demokrasie nie.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, skryf hieroor onder meer soos volg: “Die ANC sê gereeld dat politieke vryheid sonder ekonomiese vryheid net ‘demokrasie vir die rykes’ is. Hierdie samevoeging van Marx en Lenin se stellings verwys na die strategie om eers politieke mag met demokrasie te verkry, en dit dan te gebruik om sosialisme af te dwing. Aan die ander kant leer Afrikaners nou dat politieke vryheid sonder kulturele vryheid net demokrasie vir die meerderheid beteken. Daar word hoog opgegee oor ons demokrasie, maar in die praktyk word meerderheidsregering nou meerderheidsoorheersing. Die ANC wil oor elke deel van ons lewe besluit, vanaf die naaste laerskool se taal en die straat voor my huis se naam, tot die samestelling van ’n sportspan en die ras van werknemers. Hierdie ondemokratiese behandeling van ’n kultuurgemeenskap as politieke minderjariges, sal in geen demokratiese land probeer, of deur ’n selfrespekterende minderheid geduld, word nie. Die feit dat sommige mense dit nou al as ‘normaal’ aanvaar, maak dit nie normaal, reg of demokraties nie. Dit druis in teen Afrikaners se reg op vryheid, menswaardigheid en gelykheid.”

Die besef by die meeste politici in die Oekraïne is al lank aanwesig dat die land groter desentralisasie en plek-plek streekoutonomie verlang. Van hulle het selfs hul verkiesingsveldtogte daarop gegrond. Senior mense is aangewys om die proses nie net te ondersoek nie, maar in werking te stel. Dit handel nie net oor streke wat etnies anders is nie, maar die praktyk dat stede en streke opgesaal sit met Mandaryne wat deur die sentrale regering aangewys word, en “met ’n valskerm” op hulle neergelaat word. Hulle word dus in ’n opsig deur hul eie mense, hul eie staat, en hul eie tradisies “gekolonialiseer”. Streke wat etnies anders is, sal uiteraard die druk sterker aanvoel.

Die ironie is dat die land wel een groot uitsondering gemaak het. Die Krim-skiereiland het ’n groot mate van outonomie geniet, terwyl die oorspronklike inwoners, die Krim-Tartare, weer hul eie verteenwoordigende liggaam gehad het. (Die toekoms hiervan ná die Russiese anneksasie is nog nie duidelik nie – dit was egter voor die anneksasie reeds duidelik dat die Russiesbeheerde streekparlement groot ongeduld getoon het met die Tartaarse verteenwoordigende liggaam.) Verskeie prominente Tartaarse leiers is ook ná die oorname belet om na die Krim terug te keer.

Dit alles sien die res van die Oekraïne, en nou, ingevolge die grondwetwysiging, kan die oorwegend Russiessprekende oostelike dele groter outonomie kry. En Poetin, soos dit reeds geblyk het, kan nie vertrou word nie.

Die keuse van die Springbokspan staan hier ook in die konteks van hoe minderheidsgroepe behandel word. Daar is regte maniere, en daar is verkeerde maniere, en in dié stadium word heeltemal op die verkeerde snare getokkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Winston ·

Herman. Weereens n puik samevatting van wat ons nou almal as ” normaal” beskou. Iewers gaan ons as Suid Afrikaners ons begin hewig verset teen sosialistiese kommuniste. Hoe gouer hoe beter. Tyd om die slinger vel en klippies te vat. Goliat moet val of ons moet maar aanvaar Palistina is reg.

HEVW ·

Dankie, wat ken n mens meer relevant se. Miskien n geringe verskil. In die geval van die Oekraiine en Russiese konteks word daar sekerlik met wysheid gewedywer, maar hier te lande verkeer alles in die greep van n moedswilige korillamentaliteit. Daar word gehoor maar nie verstaan nie.

Henry ·

Die afwesigheid van ‘n warmwater hawe was deur die eeue heen Rusland se Achilles hiel.

Onder die Tsaarskap van Peter die Grote het hulle uiteindelik daarin geslaag om die toenmalige ‘heersers’ van die Swart See – die Ottomaanse Turke – suidwaarts te stoot en beheer oor die Krim gekry. Iewers teen die einde van die sewentiende eeu…

Die behoud en uitbreiding van hierdie toegang tot die Middelandse See en die res van ons planeet, is sedert die jare toet die mees fundamentele voorwaarde van buitelandse beleid.
Per slot van sake. Sonder so ‘n fasiliteit kan Rusland nie hul invloed na die res van die wêreld uitbrei, of verdedig nie.
Of dit nou gedurende die Tsaristiese tydperk van die vorige eeue is, of tydens die kommunistiese bewind vanaf 1917, beheer en toegang tot die Krim en die hawe fasiliteite van die Swart See is ‘n ononderhandelbare vereiste vir enige Russiese owerheid.
Dat Kruchev iewers in die vyftiger jare die gebied aan die Ukraine ‘weg gegee’ het, is bloot tewyte aan die ou dronkie se grootheidswaan. Die ou het destyds gedink dat hul kommunistiese Utopia onvernietigbaar is. Iets soortgelyk aan Hitler se 1000 jarige drome…
Soos jy Herman, is ek is ook geen ondersteuner van die voormalige KGB kolonel Putin nie. Hy is bloot die nuwerwetse Russiese diktator wat die Marxistiese droom van sy voorgangers aan die wye wêreld wil smous.
Maar een ding is vas en seker. Soos al die regime’s voor hom, sal hy nie rus voordat Rusland volle beheer en toegang tot die warmwater hawegeriewe van die Swartsee het nie.
Terloops. Ek vermoed dat hy minder as niks vir die huidige en/of vorige inwoners van die gebied voel nie.

Henry ·

Ek het per ongeluk die stuur knoppie te gou gedruk.
Jammer dat MM nie ‘n redigeringsfasiliteit bied nie.

Gerhard ·

In my opinie moet die regering ophou om dit wat werk te probeer afbreek, en self iets doen om veranderinge te bewerkstellig. My seuns is na 1994 gebore, en is baie entoesiastiese sportmanne. Die feit dat hulle wel goed ontwikkel het in hulle onderskeie sport soorte het absoluut niks met hulle ras te doen nie, maar alles met my keuses. Die praktiese voorbeel is die volgende: Ek en my kollega verdien altwee min of meer dieselfde salaris (hy so bietjie meer as ek). Hy gebruik sy geld om in ‘n groot huis te woon, ‘n duur Duitse motor te ry en snyerspakke te dra. Sy kinders bly by hulle ouma in die platteland, en woon ‘n skool by wat nie noodwendig die fasiliteite het vir sport ontwikkeling nie. Ek aan die ander kant bly in ‘n kleinerige meenthuisie, ry ‘n eenvoudiger Japanese motor, en dra maar winkel klere. My grootse uitgawe is my kinders se opvoeding, nie net op sport gebied nie, maar op elke moontlikke gebied waar hulle kan ontwikkel. My vraag aan die Minister van Sport en Ontspanning is derhalwe “Sal dit regverdig wees as my kollega se kind ‘n Springbok word omdat hy swart is? Al het sy pa besluit om nie vir hom die beste opleiding te gee nie?” Hoe moet ek vir my kind verduidelik dat hy nie mag sport doen op die hoogste vlak nie, net omdat hy nie swart is nie? Die tyd het aangebreek vir hierdie regering om verantwoordelikheid te begin vat vir al sy burgers, en op te hou om net een groep se belange ten koste van die ander te bevorder! Dit gaan oor keuses, nie oor verkleur nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.