Nuuskommentaar: Spektakel-politiek – rooi hemde, wit hemde, gele hesjes, oranje oorpakke

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: ANA.

In Frankryk het die gilets jaunes (geel hemde) baie skielik die bewind van pres. Emmanuel Macron in ’n nagmerrie “omgetower”. Die een oomblik was Macronisme nog so gewild dat dit aan ’n kultus gegrens het, toe brand die land as’t ware. Die gilets jaunes het byna oornag tot stand gekom om, baie vereenvoudig gestel, om teen verhoogde brandstofpryse te betoog. Betogings het lelik geword, en enorme skade is aangerig.

“Dis nie ons nie,” laat hoor die gilets jaunes, en laat ’n mens onmiddellik aan ons eie weergawe, die rooi hemde van die EFF dink.

Intussen brei die gilets jaunes na ander lande uit, soos België en Nederland, waar hulle as die Gele Hesjes bekend staan. En hoewel die brandstofprys as kern-element die samehang bevestig, dui dit op veel meer los drade in die gemeenskap en spesifiek die demokrasie. Dis reeds ’n warm besprekingspunt.

“Blijft de volksopstand uit?” (Gaan ons ’n volksopstand beleef?) So wil Guido Steenkiste in die Vlaamstalige koerant, De Standaard weet. Steenkiste word sterk met die, ja wag maar daarvoor, nog ’n kleur geassosieer, die groenes.

Hy meen die Gele Hesjes is ’n manifestasie van die volk se frustrasie met baie sake. Hulle verkies nog om ’n uitweg deur verkiesings te vind, maar hoe lank nog?

Hy plaas ’n lang lys van griewe.

Effens aangepas kon hy net sowel na Suid-Afrika verwys het, soos die hoë vlakke van armoede, werksverliese, deur voorkeur te gee aan migrante (in SA dalk SEB-voortrekking?) en vele meer.

Die FW de Klerk-stigting se eenheid vir Eenheid in Diversiteit vat die manifestasie in Suid-Afrika goed saam: “The last few weeks have witnessed a time of politics by insult and grandiose displays of power, largely orchestrated by Julius Malema and his EFF colleagues. Many commentators and analysts have argued that the EFF have used these tactics to control the terms of the debate on State capture, corruption and kickbacks. With the Zondo and Nugent Commissions in full swing and investigative journalists laying bare that which broke VBS Bank, there appears to be wild flailing against civility, respectful dialogue and argument, and reasoned defence – if these exist.”

Argieffoto

’n Beskuldiging word gereeld in Suid-Afrika gemaak dat die EFF sy ondersteuning en groei grootliks te danke het aan die feit dat die media soveel aandag aan die grootmond-leier en sy gevolg gee. Die beskuldiging van fopnuus word heen en weer geslinger.

In Nederland, volgens mediaberigte, speel die koerante nie soseer ’n rol in die groei van die Gele Hesjes nie. Hulle self maak hoofsaaklik van die internet gebruik om werwing te doen.

Steenkiste verwys na die volk se frustrasie met verkiesings, maar dat hulle voorlopig nog verkiesings verkies. Maar dan sy onheilspellende vraag: “Maar hoe lank nog?”

Is hierdie spanning nie ipso facto by die Suid-Afrikaanse Grondwet ingebou deur ’n basies unitêre grondwet op ’n heterogene gemeenskap van toepassing te maak nie?

Ja, die tronke hét al ’n klompie mense wat nie kon vrede maak met die de facto ontkiesering nie, en nou oranje oorpakke dra. Sou daar waarheid steek in die los praatjies wat soms in geselskap opduik, wag daar nog oranje oorpakke op talle.

Hierteenoor erken die grondwetlike demokrasie, naas die ingeboude rol van die vrye media, ook die rol van burgerlike bewegings. Dit is moeilik om te dink waar Suid-Afrika, pas deur Johann Rupert as huiwerend op ’n afgrond genoem, sou wees as dit nie vir burgerlike instansies sou wees soos Freedom Under Law, Outa, die Solidariteit-beweging en ander nie. Waarskynlik reeds oor die rand van die afgrond?

Sonder die verantwoordelike burgerlike organisasies, wat die regbank gereeld inspan, sou die EFF se Rooi Hemde lankal met die Rooimiere klaargespeel het, sou die Wit Hemde kon aantree vir swart gordels in straat-skolliegevegte en sou die oranje oorpakke vir die klein vissies gereserveer wees terwyl die groot visse kan aanhou plunder.


  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Piet ·

n Goeie slot paragraaf Herman. Solank ons regsbank staande bly sal daar nog hoop wees, al is dit grashalmpies.

Netso ·

Ja jammer Herman jy is ook afgevee van die “post” af asof dit niks beteken het nie!

Spike ·

Hierdie rooioorpakke en comrades se ideologie en manier van optrede is ñ verleendheid vir die mensdom.

Karlien ·

25 miljoen swart mense in SA is werkloos so presies hoe bevoordeel SEB/BEE hulle?

Jerry ·

Sonder AfriForum sou wit en swart spontaan saam in opstand gekom het teen swak regering en kon dit n beter storie gewees het met natuurlike leiers wat na vore sou tree. Nou sit die meerderheid van die wat wit is terug en wag vir n paar selfaangestelde leiers om met iets vorendag te kom wat mense kan verenig, maar niks in dievoege gebeur nie! Inteendeel het hulle verdeeldheid teweeg gebring nie net onder wit en swart, maar ook onder wit en wit en dit alles met hulle skoorsoek benadering, sake agenda en politieke agenda. Die beste wat hulle kan doen met 250 000 lede is om 250 bymekaar te kry vir n byeenkoms en dan besing die skrywer so ewe hulle lof. Was dit nie vir AfriForum nie, dan sou daar waarskynlik nooit n EFF ontstaan het nie!

Brutus ·

Jerry jou kritiek teen Afriforum raak nou regtig afgesaag , val eerder die koruptes aan en die toekomstige grondiewe.

Pegasus ·

Jerry, jy praat twak. Om Afriforum die skuld te gee vir die verdeeldheid in hierdie land is loutere nonsens.

Adam ·

Jerry, om te glo dat swart en wit saam in spontane opstand sou kom is gewoon ‘n dwaling. Die swart bevolking is verdeeld in duidelik waarneembare faksies en die wit bevolking kon eweneens nog nooit saamstaan nie. In beide gevalle sal dit ook nooit verander nie. Jou kritiek op Afriforum dat hulle teenwoordigheid tot die EFF is eweneens wyd van die merk. Wat wel waar is is dat Afriforum swart opstandigheid van brandstof voorsien. Kriel was vinnig om die EFF se kostebevele aan die groot klok te hang en gister se hou sal hy maar op die ken moet vat. Hoe Afriforum kon dink dat hulle die aansoek op ‘n dringende basis aangehoor kon kry, is tekenend dat hulle nie behoorlik geadviseer was nie. Afriforum doen ook uiters goeie werk en dit is tragies dat hulle hierdie uitdagende manier ten toon stel terwyl hulle in die pers boer en wat ongelukkig skade doen aan hulle beeld.

Pegasus ·

MM is dit nodig om Malema se bakkies vir elke berig moontlik te gebruik! Dit maak my siek dat hy so baie publisiteit kry. Dit sterk hom in sy kwaad.

LHS ·

Mag ons maar asb. enige iets wat met de Klerk te doen het met minagting verwerp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.