Nuuskommentaar: Spioenasie en objektiwiteit

Vandag is die 100ste herdenking van die inwerkingtreding van die Naturelle Grondwet. Die wyd-uitlopende weergawes oor die geskiedenis van grondbesit in Suid-Afrika en die spanning wat hierdie dikwels teenstellende persepsies skep toon hoe noodsaaklik dit is dat veral regerings oor goeie, akkurate en objektiewe inligting moet beskik. Oor die uiteenlopende weergawes waarsku die TLU SA op die vooraand van die herdenking: “Met die herdenking van die Wet op Naturelle Grondbesit, wat op 19 Junie 1913 in werking gestel is, is dit nodig om sekere sake net in perspektief te plaas.

“Ter wille van ’n politieke beleid is gepoog om grondbesit te orden in volks- of stamverband. Of daardie beleid reg of verkeerd was, is ’n ander debat.

“Daardie wet het grondbesit gereguleer ingevolge ‘n koloniale beleid om grondbesit te orden in volks- of stamverband. Die geskiedenis kan nie met vandag se feitestel beoordeel word nie.

“Trouens, die wet het in die eerste plek van die uitgangspunt uitgegaan dat sekere gebiede nie aan blankes mag behoort nie.

“Die Wet het niemand die reg gegee om ’n ander se grond eenvoudig te neem sonder vergoeding nie.  Ook die destydse regering kon nie net grond van enige persoon of groep afneem nie, sonder om daarvoor te vergoed of ander grond in ruil aan te bied nie.  Hierdie feite is onlangs weer eens aan die hand van bewyse en dokumente volledig gedokumenteer deur o.a. prof. Louis Changuion in sy boek, Omstrede Land.

“Die huidige beplande wetgewing staan in skrille kontras teenoor die 1913-wet.

“Daar word vandag openlik geëis dat blankes hulle grond moet prysgee.  Daar word vanuit die regeringsparty al meer geëis dat daardie grond sonder vergoeding prysgegee moet word deur blankes. Ingevolge die Groenskrif op Grondhervorming word daar metodes in plek gestel om in wese aan hierdie eise gehoor te gee.”

‘n Vroeëre verklaring wat die konflikpotensiaal uitspel kan hier gelees word.

Regerings kan nie bekostig om besluite op grond van subjektiewe persepsies te neem nie. Daardie inligting moet absoluut korrek wees.

Op die oomblik is Suid-Afrika en Turkye suur na dit aan die lig gekom het dat ‘n Britse agentskap tydens die G 20-beraad in Brittanje op dié lande se afvaardigings gefokus het om kommunikasie te onderskep.

Elke noemenswaardige land belê aansienlik in die verkryging van sulke inligting. Maar nie alle inligting is in die sogenaamde oop bronne soos die media te krye nie, en daarom word minder konvensionele metodes ingespan om daardie inligting te bekom. Van hierdie metodes druis op die oog af in teen mense se basiese menseregte, en daarom word hierdie inperkings afgemeet een die ingrepe wat daar op ander regte sou wees, sou hierdie opofferings nie gemaak gewees het nie. Die reg op privaatheid word dus beperk om die reg op veiligheid te beskerm. Trouens, as iemand veiligheid geniet groei sy ander regte soos die reg op bewegingsvryheid.

Om strategiese redes deel een land nie sommer al sy inligting met ander lande nie – nie eens sy vriende nie. Soms, as inligting wel om strategiese redes gedeel word maar daardie land verkies om om politieke of ideologiese redes hardhorend te wees, of ‘n korrupte politikus te beskerm, sal die land wat die inligting gedeel het dan van ‘n sogenaamde “stringer” gebruik maak, en lees die publiek daardie inligting wat die regering probeer weerhou het in die koerant.

Dit is lank nie meer ‘n geheim dat noemenswaardige lande besonder baie van ander lande weet nie. Die CIA se indrukwekkende “Fact Book” is immers vry op die internet te siene. Hierdie data is dikwels meer betroubaar oor ‘n hele aantal lande as die data wat daardie lande oor hulself versamel.

Landsat se materiaal oor die afgelope 40 jaar is onlangs met Google Earth geïntegreer wat beteken enige persoon met internettoegang kan voorwerpe so groot soos ‘n bofbal (‘n aks groter as ‘n krieketbal) uit die ruimte herken. Die behoefte aan peperduur lugfoto’s om waardasierolle op te stel word nou grootliks deur iets wat gratis is uitgeskakel. Op die oomblik word waardevolle argeologiese ontdekkings oral ter wêreld danksy die Lidar-tegnologie gedoen, waaronder ‘n antieke verlore stad in die woude van Kambodja.

Enige persoon wat ‘n bietjie Google-vaardigheid het, kan verstommend baie inligting oor bykans enige onderwerp uit die internet optower.

‘n Soortgelyke tegnologie word ingespan om privaat kommunikasie te onderskep. Aanhangers van die TV-reeks, NCIS, sal gereeld die verwysings na “chatter” hoor – die kommunikasie in die kuberruim en oor die luggolwe oor spesifieke onderwerpe. Dit is uiteraard onmoontlik om letterlik alle inligting wat elke oomblik gekommunikeer word te ontleed, en daarom word rekenaars en programme ingespan om dit wat sekere sleutelwoorde, of kombinasies van sleutelwoorde bevat, te onderskep en te ontleed.

Uiteindelik verg dit weer mannekrag, onder meer omdat baie van hierdie kommunikasie vertaal moet word.

Soms, onder bepaalde omstandighede, kan besluit word om all kommunikasie van sekere individue te onderskep en te ontleed. So ‘n besluit word nie maklik geneem nie weens die mannekrag wat dit vereis.

Die oorgrote volume veiligheidsinligting wat lande insamel kom uit oop bronne soos die media. Die klein deeltjie wat nié so versamel kan word nie, kom van spioene, informante, meeluistering en ‘n verskeidenheid ander bronne. Hierdie inligting word daarna ‘n reeks prosesse onderwerp, en geklassifiseer.

Gereelde bronne word self geklassifiseer aan die hand van die betroubaarheid van hul inligting. ‘n 1-bron is die mees betroubare, en daarom sal min lande so ‘n klassifikasie aan ‘n mens toeken. ‘n Vyf-bron is gewoonlik onbetroubaar, en ‘n ses-bron kon nog nie vir geloofwaardigheid geëvalueer wees nie. Wanneer die opponent weet sy foon word afgetap, kan hy die grootste twakstorie daaroor verkoop, en daarom kan ‘n 1-bron ook E-inligting oplewer (inligting wat in alle waarskynlikheid onjuis is).

Dit is ironies juis by hierdie deel waar die menslike oordeel ingespan word waar sake verkeerd loop. Talle terreurdade kon voorkom gewees het as inligting wat wel iewers binne die stelsel was, nie weens menslike oordeel as vals of onbelangrik geag is nie. Die Twin Tower-aanvalle en die Bostonse bomontploffings tel hieronder.

Afhangende van die sensitiwiteit van die bron of die inligting, kan dit enige klassifikasie van Beperk tot Uiters Geheim verkry.

Daar word ander stappe ingespan soos om inligting binne ‘n instansie te kompartementeer, terwyl die “nog om te weet”-beginsel ook geld. Alles uit NCIS te lere.

Die afgelope sowat twee jaar het individue dit goed geag om veral Amerikaanse geheime uit te blaker, onder meer deur dit aan WikiLeaks beskikbaar te stel.

Dit is nou uit een van hierdie bronne dat dit bekend geword het dat Brittanje op die Suid-Afrikaanse n Turkse afvaardigings gefokus het.

Natuurlik moet Suid-Afrika en Turkye verontwaardig reageer. Verbaas kan hulle egter nie wees nie, want ander lande sorg in die eerste plek vir hul eie belange, en met ‘n groot span kommuniste in die Suid-Afrikaanse kabinet, ‘n hele rits bedenklike internasionale vriende (soos Mugabe) en ‘n openlike flikflooiery met China tender om vir spioenasie uitgesonder te word.

In Suid-Afrika het verskeie politici al gekla dat hul telefoongesprekke meegeluister word. Ook die leier van die opposisie, Helen Zille, het laat blyk dat sy by geleentheid, toe sy haar telefoon opgetel het, na ‘n opname van ‘n vroeëre gesprek wat sy gehad het kon luister.

Brittanje sal ingevolge internasionale praktyk sake weer reg dokter, soos om waardevolle inligting oor Suid-Afrika, waaroor die Suid-Afrikaanse inligtingsdienste nie beskik nie, as soenoffer beskikbaar te stel.

Die wêreld van die spoke gaan nie sommer verdwyn nie… nie terwyl soveel mense en instansies wêreldwyd onheil beplan nie.

Die finale swak plek in die inligtingsketting is die politici. Die inligtingsgemeenskap se taak is om korrekte inligting aan die regering te voorsien, nie net die inligting waarvan die regering hou nie. Politici se koppe werk dikwels anders – hulle floreer op inligting wat hulle wil hoor, en daarom sneuwel uiters belangrike inligting maar te dikwels – tot nadeel van die land.

Wat, byvoorbeeld, is die kanse dat pres. Jacob Zuma die standpunt van TLU SA openlik met sy ondersteuners sal deel dat geen huidige blanke boer sy grond by ‘n swart persoon gesteel het nie? Daar is immers ‘n verkiesing op pad, en opnames toon dat sowat 80 persent (en dit word al meer) swart mense glo blankes se grond is oorspronklik by swart mense gesteel. Aan die ander kant het die Ad hoc-komitee oor eiendomsreg onlangs ‘n konferensie gehou hieroor, met die veelbetekende titel: “Die groot leun.”

Net so kan gevra word wat die kanse is dat Zuma sy weergawe sal wysig dat swart grondbesit na die Naturelle Grondwet hoofsaaklik tot die land se droër gebiede beperk is? Enige persoon kan nou Landsat raadpleeg om te kyk of die kaarte wat reënval-isotope aandui inderdaad kluitjies bak soos wat Zuma in effek te kenne gee.

Wat die politici met korrekte inligting doen, of nie doen nie, is een saak. Maar as ‘n intelligensiediens self sy kliënt, die regering, met populistiese inligting begin voer in plaas van absolute feite, is daardie diens ‘n groter verraaier as die land se grootste vyand.

Die gewone publiek sal byvoorbeeld nooit weet of Marikana die gevolg van brouwerk deur die intelligensiedienste was, en of die politici verkies het om nie die waarheid te hoor nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae