Nuuskommentaar: Spoel die mond uit (as jy mag)

Argieffoto

Argieffoto

Gister was dit die internasionale dag vir kubervryheid. Dit is al ’n geruime tyd bekend dat daar ’n migrasie van nuusverbruikers van gedrukte koerante na die kuberruim is, hoewel die kykkassie oor die algemeen nog maar die publiek se voorkeur-nuusbron is.

’n Onlangse peiling in Nederland het aan die lig gebring dat nege uit tien Nederlanders daagliks die internet opsoek. ’n Dekade gelede was dit nog net meer as sewe uit tien. Veral die senior burgers het die afgelope dekade flink begin inhaal.

In Suid-Afrika sal daar om verskeie redes ’n sleureffek wees. Dit het ook die afgelope week bekend geword dat Suid-Afrika se internet nie net van die duurste ter wêreld is nie, maar ook van die stadigste. In ’n land waar armoede en werkloosheid hoog is, is dit ’n gevoelige aspek. Hoewel Afrikaanssprekendes gemiddeld meer vermoënd as van die ander is, moet baie eenvoudig kies of hulle betaal-TV wil hê of die internet. Dit is immers nie meer soos voorheen toe gesê is dit betaal om Afrikaans te wees nie; nou moet betaal word om Afrikaans te wees. Ek praat van betaal-TV en betaalplatforms. En lank nie almal kan dit bekostig nie.

Die verskuiwing na die kuberruim is egter ’n gegewe. Op die oomblik is daar wêreldwyd 160 joernaliste in aanhouding, hoewel daar 175 internetjoernaliste agter tralies is.

Omdat dit moeiliker is om te voorkom dat iemand die kuberruim inspan om alternatiewe inligting en idees na die publiek te bring as om koerante en radiostasies te viktimiseer, neig lande met ’n totalitêre ingesteldheid om dan op die bronne (die joernaliste) toe te slaan – met klem op slaan want in lande soos Saoedi-Arabië en Iran is ondenkbare swaar strawwe van sweepslae nie uitgesluit nie.

Die internet as inligtingverspreider is nie net belangrik in lande waar die meer konvensionele media onder die duim gehou word nie, maar ook in lande waar die media wel in beginsel vry dog ideologies redelik met mekaar gesinchroniseer is en alternatiewe stemme dit moeilik vind om hul inligting te “hiperboliseer” – met ander woorde om dit in ʼn medium te laat verskyn wat groot trefkrag het. Dit is een van die redes waarom Suid-Afrika, waar koerante min of meer net wat hulle wil van die president kan sê, nie te waffers op die persvryheidsindeks vaar nie. Maar dan moet darem bygevoeg word dat optredes en uitlatings van die regering ook mildelik daartoe bydra, soos die lang proses om die snoerwet tot op pres. Jacob Zuma se lessenaar te kry, dr. Blade Nzimande se vloermoer om beledigings van die president strafbaar te maak, en vele meer. Die bontpratery oor die seinversteuring in die parlement en die joernalis wat buite die parlement bietjie deur die “withemde” gerol en gedwing is om foto’s van sy kamera te verwyder, sal ook nie baie help om Suid-Afrika se posisie op die indeks te lig nie.

Dit is eintlik ironies dat heelwat peilings, veral in die VSA, toon dat nuusverbruikers ’n hoër premie op die geloofwaardigheid van kubernuus plaas as op die nuus in gedrukte media. Politiek speel wel deeglik ’n rol in die assosiasies, maar die kuberruim is ook kort-kort in die spervuur oor onder meer die verspreiding van kinderpornografie, die bevordering van terreur, en natuurlik die verspreiding van die allerergste wolhaarstories.

Dis immers die broeiplek van ontkenners en samesweringteorie-aanhangers. In Suid-Afrika is daar kort-kort ʼn storm omdat rassiste die smerigste haatspraak op selfs die mees gerespekteerde webwerwe plaas, en eintlik die bedryfspan se produktiwiteit liederlik in die wiele ry om hierdie smerighede op te spoor en te verwyder. Want daardie webwerf kan in die sop beland oor hierdie “juweeltjies” as dit nie gou verwyder word nie.

Die rede vir die hoë aansien wat internetnuus dikwels geniet, is dat daar eerstens ’n onderskeid getref word tussen ’n nuuswebwerf wat vinger trek, en een wat nie skroom om die waarheid geweld aan te doen nie. ’n Leserskorps word ook nie in die reël oornag geskep nie. Dit is grootliks op die aanslaan-effek van tevrede lesers wat ander inlig te wyte. Namate dit groei sal dit ook verskillende fases beleef, soos wanneer konkurente teenaksies begin loods.

Gedrukte koerante migreer self tot ’n groot mate na die kuberruim. ’n Lastigheid is dat die lewensbloed van media, die advertensiewese, stadiger migreer as die nuusverbruikers.

Wanneer ʼn mens na nuuswebwerwe kyk, is dit ook interessant watter verskillende tegnieke adverteerders wat wél die sprong maak, aanwend om die lesers se aandag te trek en gevange te hou. ’n Relatiewe nuwe tegniek het lesers egter warm onder die kraag. Die teks verdonker kort na ’n mens begin lees het, en ’n blokkie spring op waar ’n mens die keuse kan uitoefen om na die advertensie te kyk of nie. Jy druk die knoppie vir nee, maar die webwerf gaan eenvoudig voort om die advertensie oop te maak. Dit neem ’n hele ruk om die advertensie te kan toemaak, en as jy daarin slaag, is die berig waaraan jy gelees het ook weg, en moet dit weer van voor af opgeslaan word – tot die “keuse” weer op die skerm spring. En dit alles teen Suid-Afrikaanse lyn-“spoed.” Vanselfsprekend raak die nuuswebwerwe gou ontslae van hierdie advertensies.

Die kort en die lank is dat ’n nuuswebwerf wat suksesvol wil wees, jaloers oor waardes en norme (soos kwaliteit) moet waak. Dit moet egter ook nie in ʼn selfsensuur verval wat aan lesers niks bied nie. Daarom is dit nie soseer ’n geval van mond uitspoel nie, maar die fatsoenlikheid waarmee dit geskied.

En in Suid-Afrika is daar baie waaroor die mond maar goed uitgespoel behoort te word. Daar is Eskom (of is dit nou Jygaan?), die president wat werklik ’n verleentheid vir die land is, die omvang van korrupsie, die regering se manewales om plaasaanvalle nie tot prioriteitsmisdaad te verklaar nie, volgehoue ooglopende lawwe voorstelle oor grondhervorming, blaamverplasing so ver terug as Jan van Riebeeck, kinder- en vrouemishandeling, dwelmmisbruik, padvarke, parlementslede wat nie eens werk in ʼn sirkus sal kry nie omdat sirkusse sonder streng dissipline eenvoudig sal platval en darem die een of ander vaardigheid verg.

Die kritiek moet egter ook redelikerwys met die omvang van die probleem verband hou. Gister, in die nuuskommentaar, is geskryf die parlement skep die indruk van ʼn vreet- en praathuis. ’n LP het beswaar gemaak. Die betrokke LP is inderdaad van ’n party, die Vryheidsfront Plus, wat, soos al telkemale in die nuuskommentaar gemeld is, ver bo sy gewigsklas baklei.

Veralgemenings kan seermaak waar die seer nie verdien word nie, en daarom moet elkeen wat sy hand aan die internet waag om mond uit te spoel, omsigtigheid aan die dag lê.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

philip ·

Herman, dit is baie goed gestel, veral ek hou daarvan om dinge te sê wat ek wil, (soos hier gebruik ek ‘n skuilnaam) alhoewel ek nie ‘n joernalis van enige aard is nie en ook glad nie oor iets kan skryf nie, voel ek soms of ek my mening moet lig., want mens raak warm om die kraag, maar kort voor lank is die opmerking verwyder, so daar is seker dan nie ‘n doel om meer ‘n mening te lig nie of hoe?
Puik artikel dankie!

Grassie ·

Ek het so lank laas ‘n koerant gekoop, ek kan nie eers onthou wanneer nie. Kyknet se nuus behoort ook maar aan Naspers wat in hul alwysheid besluit wat die plebs “daar buite” moet hoor of nie moet hoor nie. Nuuswebwerwe moet eerlik bly want as hulle snert in hul berigte plaas sal hulle binne minute onder kwaai kritiek deurloop.

Herman, wat die vreet- en praathuis betref – ek dink jy het een woord uitgelaat, nl slaap. As ‘n mens so na daardie dik lywe kyk as hulle in die agtermiddae sit en slaap en jy weet dat hulle gedurende etenstyd ‘n enorme hoeveelheid kos verorber het dan moet daar mos gisting in daardie groot mae plaasvind. Ek dink dit sal gevaarlik wees om dan ‘n vuurhoutjie tussen hulle te trek.

Hein ·

Die groot waarde van die kommentare is dat ‘n mens vinnig kan sien of jy dieselfde oor die saak voel as die joernalis, en of jy dieselfde voel as die ander mense wat reageer op die artikel. Vir my is dit deesdae asof ek eers ‘n artikel se volle omvang te verstaan nadat ek al die kommentare gelees het. Joernaliste het gewoonlik ‘n sekere invalspunt, ek die kommentare gee ander punte om te oorweeg. Maar ek sal bes gee; baie kommentare is ook maar in die hitte van die oomblik sonder veel nadenking ingetik!

Herman Toerien ·

Dirk, dis ‘n interessante opmerking wat jy maak oor eers ‘n rubriek verstaan na jy leserskommentare daaroor gelees het. Ek het dit al dikwels ervaar. ‘n Mens maak soms die fout om te aanvaar dat iemand wat swak styl aan die dag lê met hoe hy kommentaar lewer, noodwendig ook intellektuele beperkings sal hê in terme van kennis en / of redenasievermoë.
Veral in gedrukte koerante is rubriekskrywers onderhewig aan lengetebeperkings. Lengtebeperkings geld ook elders, soos bv die nuuskommentare van Radio Pretria wat nie langer as 500 woorde mag wees nie – en 500 woorde is bitter min om feite, agtergrond en beredenering oor ‘n ernstige onderwerp te stel
Die internet is minder onderhewig hieraan. ‘n Mens kan meer agtergrond gee, en ‘n mens kan meer woorde gebruik om te motiveer hoe ‘n mens by gevolgtrekkings kom. En as dit ‘n herhaling van vorige agtergrond is, bring ‘n mens gewoon elektroniese skakels aan sodat goed nie onnodig herhaal word nie.
In ‘n gedrukte koerant (al word dit dan ook op die koerant se webwerf geplaas) kan nie van skakels gebruik gemaak word nie. Gewoonlik is plasingsruimte uiters beperk. Die skrywer moet dan besluit wat weggelaat word – en dit beteken dat iemand wat om die een of ander rede nie die agtergrond het nie, nie sonder bykomende kommentara kan snap nie. As Volksblad bv, weens ander prioriteite en plaaslike voorkeure, nie oor iets berig het nie waaroor ‘n rubriek later verskyn, moet mens gewoonik gaan oplees.
Maar leserskommentare bring ook ander insigte.
Waaroor die kritiek op hierdie lesersbydraes gaan, is wanneer die leser se bydraes dinge bevat wat volgens die grondwet nie toelaatbaar is nie, soos haatspraak en opmerkings wat rassisme aanblaas. Die nuuswebwerf is wetlik verplig om dit te verwyder, al sou die webwerf selfs daarmee saamstem.
Dan is daar lesers wat werklik uit onkunde dinge sê, soos die een wat die Byel misbruik het om rassisme te “regverdig”, en dan die blankes oproep om saam te staan om vir die DA te stem!
Dan is daar gevalle waar mense swetswoorde gebruik (en ongelooflik dikwels die vloekwoorde verkeerd spel).
Dan moet mens nog begin oor sameswerings en ontkennings. In die VSA is daar nou ‘n storm omdat minstens een deelstaat met die idee gesmous het omlle kommunikasie oor klimaatsverandering aan die ban te doen. (Ek mag die kat aan die stert beet hê want ek het regtig net die opskrifte van sulke kaf gelees). Maar sou dit reg wees, kan ‘n mens maar net die kop skud oor die volstruispolitiek.

Henry ·

“…Dit moet egter ook nie in ʼn selfsensuur verval wat aan lesers niks bied nie. Daarom is dit nie soseer ’n geval van mond uitspoel nie, maar die fatsoenlikheid waarmee dit geskied…”

Inderdaad ‘n baie fyn lyn wat heelwat kundige en objektiewe vermoëns van kommentators/lesers asook van moderators vereis. Alhoewel dit vir alle partye geld, behoort laasgenoemdes te alle tye daarteen te waak om persoonlike voorkeure en subjektiewe oortuiginge as rigtingwyser te gebruik.

Dirk ·

Hierdie artikel is sommer “plain” galbraak. Die waarde en rol van ‘n joernalis is besig om sy agterwereld te sien. Dit is die waarheid. Alles wat ‘n joernalis opskep is nie meer net poeding nie.

Die internet en tegnologie het byna alles vir die gewone man ook oop gemaak. ‘n Enkel perspektief is eenvoudig nie meer die realiteit van die tyd nie. Daar is vrydenkers wat graag nuus sonder suiker geniet. Met ander woorde – die naakte waarheid as die enigste waarheid.

Daar is deesdae meer bronne en meer perspektiewe as die van ‘n enkel joernalis wat die algemene denke en siening van die samelewing wil oordonder. Die leuen is dus nie meer eenvoudig soetkoek nie.

Die vrydenker kan deesdae relatief maklk op ‘n vliegtuig klim en self gaan kyk wat die werklikheid en waarheid is.

So word sameswerings en verdraagings wat algemeen is onder joernaliste die nekslag toegedien. Die werklikheid is so groot gevaar vir joernalistiek dat daar nou paniekerig geblaas en geraas word oor kleinighede.

Beeld en sy aanslag op Potchefstroom is maar ‘n enkele voorbeeld. Nog ‘n goeie voorbeeld is die hele tweede wereldoorlog geskiedenis.

‘n Derde voorbeeld is jou geblaas oor vrydenkers se kommentaar.

‘n Goeie joernalis behoort objektief verslag te kan doen sonder dat sy persoonlike siening of politieke korrektheid ‘n rolspeel. Dit gebeur egter glad nie meer nie. So pas hulle dan eerder selfsensuur toe ter wille van…

Klim op ‘n vliegtuig en spandeer tyd tussen die verskillende kampe waar 6 miljoen jode na na bewering vergas en verbrand is. Gaan kyk self na die set-up en doen jou eie wiskunde en gou leer jy die leuen wat die koerante as die waarheid opgedis het en steed in ons kele wil afdruk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.