Nuuskommentaar: Sport, politiek, prestasie en lojaliteit 

Heinrich Klaasen in aksie. Foto: (AP Photo/Halden Krog)

Gister se eendag-krieketwedstyd tussen Suid-Afrika en Australië het opnuut getoon hoe ’n groot rol Afrikaanssprekendes deesdae op die kriekeveld speel, met boonop ’n Labuschagne wat vir die Aussies diens gedoen het. Boonop het die Mzanzi-reeks getoon dat daar nog Afrikaanse spelers uit veral die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal is wat woes die kolf kan swaai, maar nie eens op die Protea-radar is nie.

Gisteraand se klinkende oorwinning van Suid-Afrika se manskrieketspan teen Australië in Bloemfontein om sodoende die eendagreeks teen Australië te beklink, het sommer baie harte laat tjôklits klop. En dit is met reg so.

Maar is dit politiek-korrek dat Afrikaners ook trots is op die rol wat Afrikaanssprekendes in die huidige stand van sake speel? Maar dit was nie altyd so nie. Die kriekettydskrif Cricket Monthly skryf in sy uitgawe van 14 Augustus 2017 dat die betekenisvolle toetrede van Afrikaanssprekendes tot groot krieket ’n relatief nuwe verskynsel was. Baie van die verwikkelinge word simbolies gedemonstreer deur ’n wedstryd 15 jaar tevore tussen Affies en King Edward VII. Twee toekomstige Proteaspan-kapteins, AB de Villiers en Faf du Plessis was in daardie span. Ook Neil Wagner, wat nou ’n Kiwi-staatmaker is, was daardie dag in Affies se span. King Edward het daardie dag naelskraap met een lopie geseëvier.

Presies hoe sterk Afrikaans onder die land se huidige en vorige krieketsterre staan, is moeilik om te bepaal. Was Clive Eksteen, wat ook op RAU studeer het, werklik ’n Boerseun soos ’n joernalis destyds opgewonde geskryf het in ’n artikel waarin hy skoon uitasem was oor al die boerklonge wat hul naam op die krieketveld maak?

Wat van spelers soos Pieter van der Byl en sy seun Vincent? As kind kon die uwe deur nog ’n berig agterkom die Springbokkaptein Peter van der Merwe is g’n stuk Afrikaans nie. Daardie berig het juis gehandel oor die eerste Afrikaanssprekende in jare wat amper die Springbokspan kon haal, en wel as twaalfde man, André Bruyns. Toe was die kaptein Ali Bacher nadat Van der Merwe uitgetree het. En, blyk dit na afloop van daardie krieketseisoen, op provinsiale vlak het Bruyns vir Bacher met sy kolfgemiddeld uitgestof.

Is daar deur die English establishment van Suid-Afrikaanse krieket teen Afrikaanssprekendes gediskrimineer? Met spelers soos Graeme Pollock, Mike Procter, Barry Richards, Tiger Lance, Dennis Lindsay, Colin Bland, Eddie Barlow en ander sterre het Suid-Afrika toe ’n besondere sterk span gehad – ’n span van legendes. Bobby Simpson en Bill Lawrie se Aussie-spanne het hier te lande die kous met mening oor die kop gekry. Toe kom die isolasiejare en dit was nie maklik om die omvang en kwaliteit van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrikaanse krieket te meet nie.

Met hertoetrede het Kepler Wessels, gewese Australiese toetsspeler, as kaptein, die gedagte laat posvat dat Afrikaans, of dan minstens Afrikaansprekendes, nie meer nodig gaan hê om die muur van vooroordeel oor te steek nie. Dit, ten spyte daarvan dat Kepler van die Wes-Kaap, waar hy hom wou vestig, na die Oos-Kaap moes verhuis. Volgens Wessels se Australiese vrou wat hy reeds in Australië leer Afrikaans praat het, het die WP se (Engelse) krieket-establishment erg teen Afrikaanssprekendes gediskrimineer. Dit is skynbaar gestaaf deur beriggewing in Die Burger, wat dit weliswaar nie by die naam genoem het nie, maar uit die gepubliseerde uitslae, van klubkrieket sowel as die WP-B se uitslae. Wie, wat destyds krieket intensief gevolg het, sou byvoorbeeld van Vaatjie Nel, WP-B se bonkige draaibouler vergeet, wat amper sonder aanloop onverwags met ’n opslagbal kon lostrek. Of, op nasionale vlak, het die noorde se Joos le Roux en André Nel ooit die erkenning gekry wat hulle verdien het?

’n Nie-rassige krieketwedstryd tussen die land se beste Afrikaanse en Engelstalige spelers is in ’n stadium gereël maar is deur die nasionale krieketraad verbied.

Tog het Wessels se kapteinskap skynbaar dinge laat verander. Benewens snelboulers soos Corrie van Zyl en Alan Donald het ander Afrikaanssprekendes tot bo gevorder. Wyle Hansie Cronjé was ’n besonder suksesvolle kaptein, terwyl ook spelers soos AB en Faf met die kapteinskap toevertrou is. Hierdie verwikkelinge het gekom terwyl die regering se regstellende aksie effektief ook kwotas veral op die laer vlakke afgedwing het. Daar het ongetwyfeld spelers van kleur dit op grond van meriete tot bo gemaak, maar min hiervan het uit agtergeblewe agtergronde gekom – juis die braak hinterland wat vir talent omgeploeg kon word. Swart en bruin spelers het hulle gereeld tot ergernis van die regering uitgespreek daarteen dat hulle as kwotaspelers bekend moet staan. Byna almal kom uit prestige skole waar hulle die beste afrigting gekry het.

Gister se span het heelwat Afrikaanssprekendes ingesluit, maar iewers het iets vreemds gebeur – wat het van die land se bruin spelers geword? Bruin spelers het sedert die “normalisering” van sport diep spore getrap, soos Paul Adams, JP Duminy, Vernon Philander, Omar Henry en ander. Ja, daar is spelers soos Beuran Hendricks in die poel, maar het nie gisteraand gespeel nie.

Afrikaans moet nie gerus gesus word nie. Om by ten minste sommige unies na enige geskrewe spoor van Afrikaans te soek, van webwerwe tot mediaverklarings en padpredikante lewer dadels op. Die SAUK-TV se uitsendings van nasionale wedstryde is English only, met so ’n klein kookseltjie isiXhosa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Venter ·

Dankie vir ‘n terugblik met bekende name, ek lees darem so nou an dan hier ‘n sportberig. Ongelukkig het die ANC regering my geskool om met ‘n politieke oog na ons sport te kyk, dus kyk ek dit vir jare nie meer op TV nie, ook vang ek net so nou en dan ‘n berig. Ek kyk eerder oorsese sport, veral tennis, maar ek mis die internasionale Cue-Sport uitsendings op TV, veerpyltjies, ook Amerikaanse basketbal. Dan sal ek net so ‘n paar plaaslike programme en uitsendings op DStv kanaal KykNet beloer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.