Nuuskommentaar: Sport, ras en kwotas en die hof

Argieffoto

Suid-Afrika moet twee spanne uit die Superreeks onttrek, met Nieu-Seelandse spanne wat van krag tot kragtiger gaan. Suid-Afrikaanse spanne word deur ’n voortdurende politieke inmengery en rasbenepenheid met ’n blok aan die been gelaat, en dié toedrag van sake word nou met ’n regsaksie deur Solidariteit en AfriForum aangespreek.

Suid-Afrikaners skud gereeld die kop oor hoe ons rugbyspanne by die Nieu-Seelandse spanne in die Superreeks wedstryd ná wedstryd ʼn nederlaag ly. Kenner ná kenner meen die gaping tussen Nieu-Seelandse rugby en rugby in Suid-Afrika en Australië het vergroot. Volgens minstens een Nieu-Seelandse rugbykenner het sy land nou die “resep” ontdek om baie sterk spanne in die veld te stoot.

Dié resep, so blyk dit, is om eie talent aan te vul en selfs te vervang deur ruim gebruik te maak van spelers van die Suidsee-eilande – veral spelers van eilande soos Samoa, Tonga en Fidji. Vir hierdie spelers is kontrakte in Nieu-Seeland so aantreklik soos kontrakte van Europese klubs vir Suid-Afrikaanse spelers. Deur reg te kies kan spanne saamgestel word wat basies nét oor sterkpunte beskik. Of dit balvaardige makro-vleuels is wat kan aftrap soos min, senters wat weet hoe om aan te val, of skoppers wat soos klokslag niemandsland kan opsoek, daar is eenvoudig speler vir speler plofkrag, en daar word daarin geslaag om dit in ’n eenheid saam te snoer.

Die vraag is natuurlik of Nieu-Seelandse rugby op die duur nie die prys gaan betaal vir hierdie aankope nie. Dit sal egter nie gou gebeur nie, want as spelers van eertydse mandaatgebiede is daar min struikelblokke om die Suidsee-sterre All Blacks te maak.

In Suid-Afrika het die voor- en teenstanders van kwotas mekaar gereeld aan die keel beet, en Solidariteit en AfriForum neem nou verskeie sportkodes hof toe in ’n poging om die regering se aandrang op kwotas as onwettig verklaar te kry. Dit word in terme van arbeidswetgewing gedoen. Saru is behoorlik rammetjie-uitnek hieroor en is bereid om sy saak in die hof te beveg. Dit sal Saru se regspan dalk net loon om hom te vergewis daarvan dat Suid-Afrika enkele jare gelede ’n internasionale verdrag geratifiseer het wat die gebruik van kwotas verbied. (Die Internasionale Konvensie oor Burgerlike, Maatskaplike en Kulturele Regte – ICESCR.)

Die voorstanders van kwotas verdedig die stelsel gewoonlik op grond van die aanname dat, sou dit nie vir kwotas wees nie, die wittes teen swart en bruin spelers sou diskrimineer wanneer spanne gekies word. So word wit mense by verstek tot rassiste verklaar. Die teenstanders van kwotas meen die stelsel frustreer rugby-ontwikkeling in agtergeblewe gemeenskappe, en spanne koop eenvoudig hul kwotas by spanne met “surplus”-kwotaspelers aan. Plattelandse rugby word dus die hele tyd van gehalte gestroop, terwyl die groot bonde hul gewete sus deur af en toe ’n “kliniek” aanbied waar kinders die bal vir mekaar gooi.

Netbal, daarenteen, se poging klink veel meer haalbaar in terme van die reg: “Ons is kleurblind wanneer dit kom by die kies van die nasionale span.

“Ons spelers word op gond van gehalte en verdienste gekies. Wanneer die beste spelers só gekies is, sal ’n mens sien dat die span altyd verteenwoordigend van die land se demografie is,” aldus Blanche de la Guerre, uitvoerende hoof van Netbal SA.

Volgens De la Guerre fokus NSA eerder op die ontwikkeling van die sport op voetsoolvlak, maar “moedig hy die provinsiale unies aan om te transformeer”.

Niemand sal ontken dat rugby reeds heelwat swart en bruin sterre opgelewer het nie. Maar was dié sukses aan kwotas of rugby-ontwikkeling te danke? Trouens, selfs in die afwesigheid van ontwikkelingsprogramme was daar nog altyd swart en bruin sterre in bonde waar rugby deur die apartheidsjare bly floreer het, soos in die Oos-Kaap, die Wes-Kaap en die Boland. Hulle moes net die geleentheid tot die hoogste vlak kry – iets wat die etniese Proteas en Luiperds nie kon bied nie.

Met krieket is daar ’n onrusbarende stroom jong spelers wat regstreeks ná matriek kontrakte in Brittanje opsoek, en kry. Hulle is openlik daaroor dat Krieket SA se strawwe kwotas hulle die kans ontneem om hul brood en botter plaaslik in krieket te verdien. Intussen het kriekethardebaarde hul monde goed uitgespoel oor die gehalte van bedryfsreg- en veral provinsiale krieket, wat glo maar swak vergelyk met die gehalte van klubkrieket enkele dekades gelede.

Baie sterkte aan Solidariteit en AfriForum vir wie ’n lang en epiese regstryd, waarskynlik tot in die konstitusionele hof, voorlê. Sodat met rassisme in welke gedaante ook al klaargespeel kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Ek is lid van Afriform.Ons is dankbaar vir Afriform se werk……maar ons moet nou al die mootlike hulpbronne toe spits op die radikale ekonomiese transformasie planne van die staat….eenvoudig gesê die staat wil wit uit hê….dit sluit in land, besigheid, die ekonomie……soos die anc nou gesels kom daar moeilikheid as jy hoor wat hulle praat…..hulle steek.nie meer hul planne weg nie…….alles in wit besit moet na swart besit gaan….dit gaan gedoen word deur wette te probeer verander……en dit maak nie saak of dit die land sal laat ondergaan of n oorlg laat veroorsaak nie……hulle wil nie hê almal in die land moet saam werk nie…..

Johann ·

Kan nie meer saamstem nie! Ons staar grondvergrype in die gesig, anargie is aan die orde van die dag met brand en breek en verwoes en moor en snelweë beset…maar sport kwotas is die fokus?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.