Nuuskommentaar: Spraakvryheid en aanstootlikheid: Is alles geoorloof?

Grafika: Verslaggewers Sonder Grense (http://en.rsf.org/)

Grafika: Verslaggewers Sonder Grense (http://en.rsf.org/)

Die terreuraanval op die Franse satiriese koerant, Charlie Hebdo, het nie net internasionaal groot steun vir die vryheid tot meningsuiting ontlok nie; internasionaal kry ’n debat oor of aanstootlikheid, haatspraak en ander goggas ook baat moet vind, ook momentum.

Dit is immers geen geheim dat Charlie Hebdo hom nie aan die grense van fatsoenlikheid en gesonde verstand gesteur het nie – anders as byvoorbeeld Swede waar koerante juis ter beskerming van demokrasie wyd gehou het met godsdienstige uittarting.

Die kwessie word breedvoerig in die Bostonse koerant, Christian Science Monitor, onder die loep geneem. Die opskrif Hebdo attacks: Offensive speech is protected. When should it be used? dui die dilemma goed aan.

In Suid-Afrika is die kwessie nou juis baie relevant na die Vryheidsfront Plus aangekondig het dat hy pres. Jacob Zuma weens sy uitlatings oor Jan van Riebeeck vir haatspraak by die Menseregtekommissie gaan verkla. Intussen het Front Nasionaal aangedui dat hy en twee webwerwe Zuma weens verskeie aanklagte van misdade teen die mensdom, soos haatspraak, rassisme, ontkenning van basiese menseregte en aanstigting tot volksmoord by die Internasionale Strafhof gaan verkla.

Hierdie stryd oor wat die tong mag, en nie mag nie, is nie nuut nie. In 1 Kor. kom dit twee keer ter sprake. In 1 Kor. 6: 12 lees ons: “Daar is mense wat sê: “Alles is my geoorloof.” Ja, maar nie alles is heilsaam nie. “Alles is my geoorloof,” sê hulle. Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie.”

Die Bybel is vol voorbeelde wat daarop dui dat die tong baie skade kan aanrig, en dat dit nie onbeteueld gelaat kan word nie. In Psalm 12 lees ons: “Die Here sal al die vleitaal uitroei en die grootpratery van mense wat sê: ‘In ons tong lê ons krag. Ons lippe help ons. Ons buig vir niemand nie.”

Daar word gereeld gesê die Here het ons nie om dowe neute net een tong, maar twee ore gegee nie.

Elke persoon se ideologie bepaal waar hy meen die grens, indien enige, oor wat onder spraakvryheid behoort te geld, sal loop. In hierdie rubriek is al meermale gewys onder welke geweldige kritiek AfriForum (en sommer Solidariteit en sy voorganger, die Mynwerkersunie), deurgeloop het oor die “liedjie” van Dookoom, “Larney jou p*&s”, vir haatspraak verwys is.

Nie almal laat hulle deur godsdienste se riglyne oor wat aanvaarbaar is, rig nie. Maar, soos ook in Suid-Afrika se grondwet, is daar duidelike grense, of beperkings, aan wat toelaatbaar is onder meningsvryheid en wat nie. Vandaar die gereelde stroom klagtes, en die gereelde lang gesigte as die hof, soos in die geval van Julius Malema, besluit die grense is inderdaad oorgesteek.

’n Interessante siening is dat meningsvryheid die grense oorsteek wanneer dit dialoog tot niet maak. Maar onder watter omstandighede sou dialoog met die IS moontlik wees? Die bereidwilligheid tot dialoog moet immers van twee kante kom.

Plaaslik is dit ook ʼn moeilike kwessie. Hoeveel keer het die land se belangrikste kerke nie reeds vir Zuma en ander ANC-ringkoppe voor stok gekry oor sekere uitlatings wat as godslasterlik, of dan minstens grensend daaraan beskou word nie? Dit duur egter ongehinderd voort, en Zuma het met sy Kaapse ekskursie na berig word by herhaling gesê die ANC sal tot die wederkoms regeer.

Selfs, en miskien juis die president weens sy ampseed, moet ’n wag voor die mond plaas.

’n Tweede uitgangspunt in die nuwe debat is of onbeperkte spraakvryheid onbegrens kan wees as dit ander kwets. In ons grondwet, en enige grondwet wat sy sout werd is, word onder meer ’n reg op waardigheid ingeskryf. ’n Mens sou verwag dat in die liberale konteks met die fokus op die regte van die individu, hierdie reg sterk sou staan, maar in die reël word dit erg sekondêr teen onbeperkte meningsuiting gestel. Dieselfde beginsel geld byvoorbeeld die reg op lewe – soos die twis of daar ’n verband is tussen Malema se aanhitsing tot grondbesetting en plaasmoorde.

Tradisioneel word baie dinge vergeef as dit onder die vaandel van satire aangewend word, maar ook hierdie grens kan oorskry word, soos heelwat gebelgde kunstenaars en “kunstenaars” al moes beleef as dele van die gehoor met ’n bitter wrang smaak in die mond uitstap. Volgens sommige bronne is dit ’n ou tradisie van Franse satire om besonder obseen en vulgêr te wees.

En ons is nie Franse nie. Tog, as daar na kuberkommentare gekyk word, is dit heel dikwels duidelik dat baie mense hierdie medium ook as die uitlaat vir “besonder obseen en vulgêr” beskou.

Hierdie soort reaksies op byvoorbeeld ’n nuuskommentaar waarin so objektief as moontlik na plaasaanvalle gekyk word, hou die gevaar in dat die analis kopsku kan word om sake onder bespreking te neem as van die lesers dit as aanhitsing tot rassisme en haatspraak gebruik. Terwyl die een persoon wat reaksie lewer sal afgaan oor hoe sy die “goed” (swart mense) haat en net wil platry, sal ’n ander heel ironies afgaan en die analis daarvan beskuldig dat hy en die instansie waarvoor hy skryf “geel” is en nie meer radikaal wil lostrek nie.

Terwyl die werk van die analis is om objektief en onverbonde te wees.

Met dieselfde maatstawwe wat ander veralgemeen word, so kan enkelinge wat hul varkpakke aantrek wanneer hulle die kuberpen opneem, ook die Afrikaner se saak onmeetlike skade berokken. Daar is omvangryke strategieë wat tot in die buiteland strek, om die saak van die Afrikaner en ander minderhede te versterk, en dit kos dikwels net een onbesonne individu om ’n multi-miljoen rand se projek erge skade te laat opdoen.

En hierdie oproep is nie nuut nie. Onlangs het ’n Afrikaner-webwerf wat dalk as baie regs beskou kan word, ook so ’n beroep op sy ondersteuners gedoen.

Neem dus in ag; voor die kuberpen in die ink van vulgariteit en haatspraak gedoop word, al is dit waar dat alles geoorloof is, nie alles heilsaam is nie. Moenie dat by die punt gekom word waar dit in die eie belang beter sou wees om die tong uit te sny nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Cathy Kotze ·

Charlie Hebdo dryf die spot met alle gelowe, alle politieke oortuigings, meeste heilige koeie.
Net een geloof vind dit nodig om daaroor die doodsvonnis te vel.

Christene and Christenskap loop gedurig deur, selfs in kommentare op Maroela Media en Nuus 24. Konserwatiewe denke oor aborsie word knaend belaglik gemaak.

Die gewone mense se reaksie is gewoonlik: vat dit van wie dit af kom. Ignoreer dit. Moenie die beledigende publikasies koop nie.

Mens het steeds vrye keuse. Charlie Hebdo het maar ‘n baie klein sirkulasie gehad. Vandag se uitgawe is skielik regoor die wêreld uitverkoop.

Die uitsondering is wanneer ‘n regerende party teenstanders beledig deur middel van wan voorstellings, leuens en disinformasie. Dis veral laakbaar indien ‘n regering een seksie van die land se bevolking uitsonder om te demoniseer. Hier verskil die ANC nie veel van die Nazis nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.