Nuuskommentaar: Springbokke en die Polinesiese woema

rugby-springbok-logo-groot

Argieffoto.

Suid-Afrika is pas goed deur die All Blacks afgeransel, en onder die vrae wat gevra word, is of die All Blacks nie nou daarin geslaag het om Polinesiese woema so in te span dat die span byna onoorwinlik word nie – met SA wat weer gedryf deur die sosiale media daarvan verdink word om deur kwotavereistes nie die beste span op die veld te stoot nie.

Sal Suid-Afrika ooit weer in staat wees om Nieu-Seeland in ’n rugbytoets te klop? Versekerings uit Suid-Afrika dat die land wel oor die spelers beskik wat fisiek kan opweeg teen die groot en sterk All Blacks van Polinesiese afkoms het die afgelope Saterdag taamlik blootgestel gelyk.

En dan is die vraag ook nog of die Springbokke weens die kwotabeleid en transformasie nog werklik die sterkste span oplewer?

In die Amerikaanse media word die vinger hard na die sosiale media en die opkoms van Donald Trump gewys as oorsake dat rassisme weer skerp aangevuur word. Die idee met hierdie nuuskommentaar is nie om rassisme onder die loep te neem nie, maar in hoofsaak te kyk of Nieu-Seeland, met Australië op sy hakke, danksy die optimale inspan van Polinesiese spelers in die rigting van ’n staat van onoorwinlikheid beweeg.

Nieu-Seeland kies nie net sy spelers uit tuisbodem nie, maar ook veral uit Samoa, Fidji en Tonga – eilandstaatjies wat ten spyte daarvan dat hulle van hul beste spelers gestroop word, self nie mamparras op die rugbyveld is nie. Boonop is die Maori’s ook van Polinesiese herkoms.

Trouens, in ’n stadium is berig dat dit “in” is dat sterk rugbyklubs in byvoorbeeld Frankryk, Brittanje, Japan en elders minstens een Polinesiese speler insluit.

Maar het Nieu-Seeland nou werklik die towerformule gevind waarvolgens spelers van verskillende herkomste en verskillende talente,in spanne ingebind word wat bykans outomaties te sterk vir ander spanne sal wees?

Oor die antwoord sal nog lank gedebatteer kan word. Nieu-Seeland ervaar nog heelwat rassisme, en Dame Susan Devoy, Nieu-Seeland se kommissaris vir rasseverhoudinge, het nog verlede jaar gesê Maori’s staan ’n drie keer groot kans as wit Nieu-Seelanders om rassediskriminasie en rasse-afjakke te ervaar.

Skynbaar loop veral die Fidjiane en mense van Tonga nog erger deur. Van skoolvlak tot in Super-rugbyvlak is daar gevalle en bewerings van rassediskriminasie, en die Crusaders van Christchurch is enkele jare gelede daarvan beskuldig dat hulle nie sommer meer as drie spelers van Polinesiese herkoms insluit nie. Dis vanuit ampsweë ontken.

Daar is redelike konsensus dat wanneer dit by die kies van die All Black-span kom, rassediskriminasie nie plaasvind nie. Dit beteken nie dat spelers nie onder opmerkings van die publiek deurloop nie, en die opvatting loop wyd dat die Polinesiese spelers nie baie slim is nie, maar oor krag, vaart en vaardighede beskik wat nie sommer elders aangetref word nie. In Suid-Afrika het van die bekendste pioniers die vleuelposisie “so ver as moontlik van die spel” begin beset, en het dit in Suid-Afrika ’n rariteit geword dat ’n wit speler vanuit die skoolbanke tot die Springbokspan sou vorder. Nou speel swart en bruin spelers in alle moontlike posisies, hoewel effens minder in sommige.

Om geskikte spelers op die Polinesiese eilande te gaan “oes”, het ook beteken dat die plaaslike talent op hierdie eilande behoorlik moes ontwikkel, en dit is met oorgawe gedoen.

Ook die VSA se nasionale voetballiga baat by die talente van die Samoane (die VSA besit Amerikaans-Samoa), en die Samoane is tot verhouding van hul getalle erg “oorverteenwoordig” in die VSA se topspanne.

Daar is heelwat literatuur oor hoe dit gekom het dat die Polinesiërs fisiek so sterk en vaardig kon ontwikkel. Baie hou verband met natuurlike seleksie wat noodwendig moes plaasvind in die enorme lang seereise wat onderneem is. Voorts wys nuwe genetiese toetse daarop dat die Polinesiërs heelwat later begin vermeng het met mense wat onder meer uit Papoea-Nieu-Guinee gekom het en dus ook lang seereise moes onderneem het. Die hedendaagse Polinesiërs verskil baie van plek tot plek en sommige bronne onderskei nou tussen mense van Polinesië, Mikronesië en Melanesië (wat op swart velkleur dui).

Heelwat water het al in die see geloop sedert die gewilde Willie O (Viliami Ofahengaue) die eerste keer die Wallaby-trui oor sy kop getrek het. Sedertdien is dit ook algemene praktyk vir Polinesiërs om vir Australië te speel, terwyl die land se spanne in die Super-kompetisie ook goed gelaai is. Min inheemse spelers van Australië word egter bemerk (Australië speel ook verskeie ander soorte rugby waar meer inheemse spelers wel hul merk maak). Bekendes aan Suid-Afrikaanse gehore is egter Wendell Sailor en Kurtley Beale.

In die VSA het ’n ander variasie ook nou sy kop uitgesteek. Dit het begin toe ’n swart voetbalspeler in die NFL voor ’n groot wedstryd op sy knie neergesak het toe die volkslied gespeel is. Hy het aangedui hy het dit uit protes teen rassisme gedoen, en ter ondersteuning van die #Black Lives Matter-veldtog. Verskeie ander spelers het hom dit begin nadoen. Die gevolg hiervan is egter dat TV-kanale al geld aan adverteerders moet terugbetaal weens ’n afname in belangstelling deur kykers. ’n Rasmussenpeiling bevestig dit – 32 % van die volwasse Amerikaners oorweeg dit om hierdie seisoen nie die NFL te volg nie.

Sport en politiek meng maar moeilik.

Maar met veral Nieu-Seeland wat skynbaar die resep gevind het om Polinesiese woema in sy nasionale en super-spanne te integreer, staan Suid-Afrika ooit weer die kans om ernstig teen die All Blacks op te weeg? Veral as daar hier te lande na kwotas gekyk moet word wat die vlammetjie van agterdog voed dat die beste span dalk nie op die veld is nie. Die een se raaiskoot is so goed soos die ander, hoewel dit gestel kan word as die potensiaal in swart gemeenskappe van jongs af behoorlik ontwikkel word, die kanse verbeter dat spelers gevind sal word wat man vir man teen die All Blacks sal kan opweeg. Maar die talent in wit en bruin gemeenskappe durf ook nie afgeskeep word nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Jakkalas ·

Nee watse bog is dit? Ons het die spelers om teen enige land te wen. Daar is egter te veel invloede wat hulle benadeel om tot hulle potensiaal te speel. Eerstens politieke inmengery is taboe. Tweedens is ervare belangstellende amptenare en bestuur wat rugby se belange op hul hande en hart dra. Dan is daar keurders wat kennis het van rugby en wat spelers met potensiaal kan raaksien en ontgin. Verminder die hoeveelheid pro rugby unies daars te veel. Dan moet jy ‘n afrigter inkry van NZ of waar ookal en ‘n span plaaslike kundiges /hulp afrigters om hom kry wat nuwe ‘n styl en kennis kan leer. Hou daai groep saam en faseer dit af na die unies toe met die een doelwit om SA Rugby weer sterker te maak nie provinsies nie. Almal speel dieselfde tipe rugby. Dan ontgin spelers jonk al en hou hulle met meer geld in minder unies. Kies net spelers wat in die land bly speel. NZ doen dit en dit werk vir hulle. Kies spelers op meriete en in vorm. Net die bestes. Dissipliene is krities in rugby en spelers moet profesioneel wees. Minder gym en meer vaardighede en fiksheid. Dis nie alles nie maar ‘n goeie begin.

Gerhard ·

Natuurlik kan Suid-Afrika Nieu-Seeland klop. Ons rugby word doodeenvoudig swak en amateuragtig bestuur in teenstelling met die van Nieu-Seeland. Met goeie bestuur op alle vlakke van ons rugby sal al ons talentvolle spelers deurkom en kans kry as dit toegelaat word sy natuurlike gang te gaan. Maar ja, kwotas tesame met ons kultuur in rugby waar die nasionale span nog altyd tweede viool speel teenoor die provinsies gaan ons nog baie trane besorg.

Piet Pompies ·

Dit was nie die Springbok span wat Saterdag gespeel het nie, dit was ‘n politieke goedgekeurde span wat gespeel het. Die beste spelers was nie op die veld en dit verteenwoordig nie die Springbok embleem.
Die wat dit nie verstaan, gaan kyk eerder “Day’s of our life’s” en lewe jou fantasie uit!

Kiepie ·

Nee wat Piet Pompies, jy praat bog. Noem asseblief die spelers wat nie daar was nie wat kwansuis die span soveel sterker sou gemaak het dat ons kompeterend sou wees. Die feit van die saak is Suid Afrikaanse rugby het vasgehaak in die 1990’s toe ons mog met brute krag ons oponente kon oordonder. Ons het nie tred gehou met vooruitgang in die spel nie en nou is ons spel verbeeldingloos en oneffektief. Ons enigste hoop is om ons hele spelkultuur aan te pas en die spelers se vaardighede daarvolgens te ontwikkel. Die Leeus en Cheethas het al treë in die regte rigting begin gee. NZ gee die bal meer uit in een beweging as wat Suid Afrika in ‘n hele wedstryd doen. Hulle speel in die gapings in terwyl ons juis bo-oor die oponemte probeer hardloop. Nee wat, transformasie kan nie hier die skuld kry nie.

Kiepie ·

Jy maak my punt vir my beter as wat ek dit self kon doen Jacobus. Jake White het vir ons die wêreldbeker “gegee” en dit is waar ons vasgehaak het. Ons speel vandag nog presies dieselfde verbeeldinglose rugby. ‘n Duidelike teken daarvan is dat ons steeds moet steun op spelers soos Morne Steyn en Brain Habana. Ek vra weer, as ek dan verkeerd is noem vir my die spelers wat hierdie span soveel sterker sou gemaak het dat ons hulle Saterdag sou kon wen. Daar is nie want hulle almal speel dieselfde verbeeldinglose rugby.

R Eaton ·

Kiepie. Jy se dis nie tranformasie skuld? Jy wil he hul moet n beter “game plan ” he . Maar die afrigters is aangestel agv transformasie. N mens kan nog weg kom met n paar kwotas. Maar as jou afrigtings span daar is agv tranformasie dan het jy probleme.

Piet Pompies ·

My vriend se seun is op Universiteit met ‘n Rugby borg, uitstekende speler maar hy mag nie gekies word vir ‘n provinsiale span omdat hy nie ‘n kwota speler is.

Lions ·

Solank as wat politiek in ons rugby die sport dryf sal ons nêeens kom nie. Jy kan die beste sportmanne en vroue in die wêreld hê maar indien daar nie integriteit is by die bestuur nie sal spelers nie in hulle glo nie. Daar is geen manier dat sukses in spanne rypgedruk word soos wat tans die geval is by ons nie

Van Tonder ·

Snaaks dat al die uitblinkers in die All Black span, Barrett, Read, Whitelock, Retalick ens, nie vir my lyk of hulle polinisiers is nie.

Nog snaakser is dat Barrett, Ben Smith en n paar ander nie baie groot is nie, en ek is seker daar is geen seerowers in hulle bloedlyn nie. So daar gaan daai teorie van jou ook af met die lae gety.

Miskien moet jy en ander ophou om die probleem slegs by politiek te soek. Daar is dalk baie ander oorsake.

Miskien kan julle bietjie bespreek hoe Jake White die euwel begin het om spelers te kies en uit te laat, tov hulle grootte en gewig en nie talent Heineke Meyer het dit voorgesit. Nou sit ons met n klomp opgepompte spelers sonder enige vaardighede. Gaan kyk gerus na Hoerskool rugby, al die steriod opgepompte mannetjies wat stadig is en net kan storm. Dis die tradisie wat White en Meyer agtergelaat het.

Gelukkig te danke aan groot transformasie reels in provinsiale spanne, sien ons darem meer manne wat deur kom wat nog kan hardloop, sidestep ens. So hopelik na n klompie jare sal ons weer manne sien met vaardighede, wat eers n lyf natuurlik gaan kry as hulle hier oor 21 is, sonder hierdie opgepomte steroid spiertjies wat niks beteken

Jan ·

Coetzee se belediging teenoor beter spelers huidiglik in SA, is n skande. Dit bewys wie hy is

Kiepie ·

Jan, noem vir ons die spelsrs wat nie daar was Saterdag wat soveel beter is dat hulle hierdie span kompeterend sou maak.

Anti-Chris ·

Kiepie, laat ek jou dan antwoord as niemand anders wil nie.
Kom ons begin by die begin en vergeet heeltemal van oorsese spelers.
1. Dylan Smith (nie in die span nie)
2. Malcolm Marx (In die groep maar dra duiksakke rond)
3. Julian Redelinghuys (In die span maar is reserwe)
4. Eben Etsebeth (Huidiglik in die span)
5. Franco Mostert (Dra duiksakke rond)
6. Jaco Kriel (Moet terugstaan vir ‘n Stormer favourite van Coetzee)
7. Pieter Steph du Toit (Op 7 instede van 5 net omdat daar nie rerig enige iemand anders is nie)
8. Warren Whiteley (Huidiglik in span net omdat Duane beseer is, maar 10 keer beter as Duane)
9. Faf de klerk (Daar is nie rerig enige ander 9’s wat huidiglik in SA speel nie)
10. Patrick Lambie
11. Jamba Ulengo (Nie eers naby die span nie)
12. Rohan jansen van Rensburg (Beste 12 in SA by verre)
13. Francois Venter (Beste 13 in SA by verre)
14. Met Combrinck wat beseer is seker dan Mapoe?
15. Jesse Kriel (Hy het homself bewys op heelagter maar nog bitter min kans daar gekry)

Dus 12 veranderinge aan die beginspan. En hierdie span sal die AB’s n go gee, dalk nie maklik wen nie, maar ook nie met 40 punte verloor nie.

Kiepie ·

Dankie Anti-Chris, oor die meriete van jou span kan ons seker gesels as ons wou maar dit sal blote spekulasie wees aangesien ons dit nie kan toets nie, maar immers is jy bereid om jou kaarte op die tafel te sit en die net vae stellings te maak nie. My punt bly egter, in jou span los jy twee “kwota” spelers uit wat Saterdag in die beginspan was (Beast en Oupa) en jy vervang Habana met Ulengo. Maw as dit dan alles transformasie en regstellende aksie se skuld is dat ons so swak is dan moet al die skuld voor hierdie 3 spelers se deur gelê word. Ek dink dis reg nie en die blaam (selfs volgens jou spankeuse) moet dan voor swak spankeuses en swak wedstrydplan gelê word en nie heelhartig voor transformasie nie.

bendons ·

Ag Ja.
Ons Springbok Span het al 1996 sag heengegaan.
Ons sal nooit weer ‘n regte egte span sien nie.
Wat help al ons gepraat dit val net op dooie ore.
As reenboognasie nie kan saamstaan nie hoe sal ons ooit weer ons koppe kan lig.
Nie in ons leeftyd nie.
Ons het die spelers.
Die Allblacks kan geklop word. Het dit by twee geleenthede Sat gesien toe hulle op die agtervoet geplaas is deur Willie se breekslag maar waar was sy ondersteuning nerens want hulle is jimjunkies.
So wat nou gedoen.

Pietman ·

Probleem begin by die bestuur wat polities aangestel en gemotiveerd is. Daar is nie rugbykenners in SA rugby se bestuur nie. Ons afrigtingspan was ‘n kwota aanstelling en die span word ook op grond van kwotas gekies. En dan natuurlik is ons voedingstelsel van laerskoolvlak tot Curriebeker nie gebasseer op meriete nie (SO SELFS AL KIES ON ‘N 100% WIT SPAN MET ‘N AFRIGTER OP MERIETE SAL ONS NOGSTEEDS SWAKKER VAAR). Kyk hoe swak gehalte is Curriebeker deesdae. Ons beste spelers speel almal oorsee, uit die oog, weg van politiek, besig om ‘n inkomste te verdien. So is iemand verbaas oor die konstante laagtepunte?

Van Tonder ·

Kan jy vir ons asb statistiek gee van n afrigter wat die laaste 4 jaar beter as Coetzee gedoen het in superrugby en curriebeker rugby?

Rupert Ashford ·

Goed gese Pietman. Hierdie ding het nie gister begin nie, dit kom al ‘n lang pad en gaan ook nie oornag reggestel word nie. Maar nouja die mense verstaan nie wat jy se nie…of miskien wil hulle nie.

Henry ·

Van Tonder ek kan sommer vir jou twee name gee.
Het jy al van Johan Ackermann en Swys de Bruin van die Lions gehoor?
Weet jy dat die Lions hierdie jaar in die finaal van Super Rugby gespeel het?
Lyk nie so nie.
Die Lions het ook die Curriebeker in 2015 teen Coetzee se span gewen. Duidelik dat jy ook daarvan niks weet nie.

Van Tonder ·

Henry, jy sal sien ek het vir statistiek gevra en nie emosionele duimsuigery nie. Terwyl jy so alles weet.
Het jy geweet dat Allister Coetzee aangewys is as Bok afrigter lank voor die Lions hierdie jaar in die finaal gespeel het? So gee vir one nou maar die stats soos ek gevra het van Ackerman in superrugby die laaste 4 jaar voor vanjaar. Dis seker hoe intelligente mense besluite sal maak?
Een curriebeker terwyl ander spanne se top spelers vir die Bokke speel, kan seker ook nie as voldoende bewys wees dat n afrigter beter is as qnder nie? So kyk daar ook maar na n paar jaar se resultate, dis hoe intelligente besluite en aanstellings gemaak word

Pietman ·

Van Tonder dis maklik . Allister se rekord in SA konferensie 2012 1ste, 2013 3de, 2014 3de, 2015 1ste. moenie vergeet van rassie se invloed by die stormers nie asook jaques Nienaber, Inteendeel Nienaber sal heelwat krediet moet kry aangesien die Stormers se welslae baie van hul verdediging afgehang het. Ek stem ons het maar vrot afrigters ( buiten vir Ackerman en miskien Franco ) Watter afrigters het aansoek gedoen ? Sover ek weet niemand. Allister is slegs aangestel. Jake White wat darem al ‘n wêreldbeker gewen het is nie eens genader nie. NIck Mallet , wat al groot sukses behaal het ook nie genader nie. OP meriete is Ackerman beslis ons beste afrigter. Maar ons weet Allister is vir ander redes aangestel. Die minister is nie een skaam om dit openlik te noem nie.

Van Tonder ·

Pietman, jy het nou Allister se rekord gegee oor 4 jaar, maar dan se jy op meriete is Ackerman ons beste. Gee nou vir ons Ackerman se rekord in superrugby oor dieselfde 4 jaar dan kan ons mos vergelyk of jou stelling oor meriete, waar is

Jakkalas ·

Van Tonder kyk met watse bevondsing en spelers het die Stormers so gevaar. Die Lions was uitgeskop ook deur politieke inmengery om plek te maak vir die Kings so hulle het nie ‘n volledige “track record” nie. Die no name spelers wat in so kort tydperk deur Ackerman tot daai vlak afgerig is spreek boekdele. Iets wat Alister nooit met al daai geld sal reg kry nie

Jeff ·

Klink ietwat soos suur druiwe. Die Kiwis se sisteme is net beter. Dit begin by sentrale kontrakte en sentrale gameplan waarmee alle superspanne speel.

Pieter ·

Ek wonder darem regtig of politiek ‘n rol speel in Sterdag se verloor. As die bokke die basiese goed reg doen soos lyne reguit maak, bal hantering, behoorlike duikslae uitvoer en ook nie die bal onnodig weg skop nie dan het ons ‘n kans. Natuurlik probeer ons baie fisies speel wat ons moeg maak en seer maak. Die All Blacks gaan baie sagter in losskrums in maar maak seker hulle behou die bal. Ons spel is so voorspelbaar dat selfs ek weet wat die Bokke se volgende beweging is.Hoeveel te meer die All Blacks. Verder het ons geen spelskeppers wat uit staan wat die verdediging trek om spasies te maak nie. Die Bokke se vleuels is pateteties en Habana moet nou maar regtig ophou rugby speel. Verder loop die bal te stadig deur die agterlyn.

ke-ke-le-ke ·

Die probleem met vandag se rugby spelers is: hulle speel nie meer met trots en vir die saak dat hulle met hulle harte speel nie – vandag se spelers speel rugby met die wete dat hulle bank rekeninge oorloop.

Therese van Schalkwyk ·

As Suid-Afrikaners die “Polinesiërs” in NZ en Australië se rugbyspanne gaan begin bevraagteken, slaan daar ‘n besliste sweempie van desperaatheid deur. Dié mense woon en werk in hierdie lande. Moet hulle die voorreg ontsê word om rugby te speel? Nog ‘n apartheid-sportskandaal …?

Suid-Afrika sit met ‘n ‘goudmyn’ om te ontgin vir rugby as ‘n mens dink aan die groot, sterk Zulu-nasie. Slegs onbevoegdheid en wanbesteding van fondse weerhou die land van uitnemendheid op sportgebied.

Henry ·

My wêreld!
Nou waarheen op dees aarde het al daai sterk Zulu’s sedert 1994 verdwyn, terwyl hulle hul geliefde sport – sokker – in die afgrond sien verdwyn het???
SA sokker wat tot kort na 1994 een van Afrika se beste spelers en spanne opgelewer het en wat wyd en syd deur vriend en vyand gerespekteer is.
Wat sedert 1994 skouspelagtig ten gronde gegaan het en nie eers vir die Afrika beker, wat hulle laaaaank gelede gewen het, kan kwalifiseer nie.
Terwyl jy so sterk oor onbevoegdheid en wanbesteding van fondse voel (kroek en bedrog?)kan jy vir ons meer vertel van al hierdie droewe land se skatryk sokkerbase. Waar kom hulle hulp vandaan en waarom lewer SA sokker hierdie droewe vasteland se hopelooste sokkerspelers sedert 1994 op.
Sal jou nie eers vra waarom daar geen wit spelers in SA sokkerspanne is nie.

Therese van Schalkwyk ·

Goeie genugtig, Henry, versigtig vir ‘n oorval.

‘n Opmerking gewaag oor SA se selfveroorsaakte probleme … nie gesê ek gaan dit oplos nie.

Verneem graag jou mening oor die Polinesiërs in die NZ rugbyspanne.

Henry ·

Ek kan aan geen goeie rede dink waarom ek ‘n mening oor Polenisiërs in wie ookal se spanne moet, of wil uitspreek nie.
Jy is klaarblyklik baie rasbewus. Eers die ‘sterk’ Zulu’s, nou weer die Polenisiërs…
Wat’s volgende op jou spyskaart?
:-)

Therese van Schalkwyk ·

Die titel van die artikel mag dalk vir jou ‘n aanduiding wees … of miskien ook nie.

Nico K ·

Ek dink ook nie politiek alleen kan die skuld kry nie. Daar is regtig nie veel beter spelers in SA nie. Ons moet eerlik wees dat sedert ons terugkeer in 1992 kon ons nog net ‘n derde van alle toetse teen Nieu Zeeland wen. En dit was onder talle afrigters. Ons kan nie elke keer die afrigter afdank as ons teen die Kiwis verloor nie. Die Polinesiërs in die All Blacks het beslis ‘n groot voordeel. En ja daar is nog blanke spelers wat ook uitstekend is. En ons sit met die probleem dat swartes in SA stel nie belang in rugby nie en ‘n minderheid speel rugby. So die getalle om uit te kies is klein. Die Kleurlinge is groot op rugby, maar hulle is ongelukkig van nature klein. En soos Japan kan mens nie ver kom in rugby net op entoesiasme nie. So ek sien geen oplossing nie.

Justice ·

Skryf die Bokke in vir volgende jaar se Craven week – dalk net dalk onthou hulle weer die basiese beginsels van hardloop rugby. Soos hulle nou speel gaan dit maar `n getjommel wees om die eindstryd te haal. Huidiglik sal daar maar min Springbokke wees wat die SA skole span op meriete sal haal.

Moenie onder mekaar stry ·

Moenie onder mekaar stry. Julle almal het ‘n punt. Daar moet egter na basiese punte gekyk word. Politiek bly uit, afrigter kry hulp by suksesvolle manne, moenie dieselfde foute as Heineke maak nie. Kies spelers op grond van kwaliteit en in regte posisie, haal spelers wat die game sukkel af en vervang met ander, jy kan nie vir Lambie ophou en Mornè afhaal wat jou enigste punte aangeteken het nie, Gr1 somme. Hougaard is die beste skrumskakel op die oomblik, hy word op vleuel dan op skrum, hy is aanpasbaar, maar daar is nie tyd vir rondspeel, jy speel teen die beste. Ons as publiek moet julle ook meer kans gee om kombinasies uit te toets en die beste te vind, maar asb berei die manne voor sodat al die senters enige oomblik enige kombinasie kan wees en so weer by die voorspelers ook. Ek is self ‘n afrigter en ja ons het altyd ons eie planne, maar ons moet ook voortdurend by ander kyk en leer om so bo te bly!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Sydney ·

Die kwota kwessie is al holrug gery. Eerstens… Kyk na talent ongeag wat hulle ouderdom en kleur is. Kyk nou na ons krieket wie blink die meeste uitblink, die jong laaitjies wat met oorgawe speel. Tweedens gaan luister na oom Frik se gesprek met Dr Ali Bacher , in sy jongste opname. Hulle het die bal die werk laat doen en dan ook die teenstaanders geduik dat hulle seer was die volgende dag………… Dit lyk al of die manne van vandag eers betaal word dan gaan hulle op die veld.

Frans C ·

Daar is een belangrike ding wat almal vergeet en dit is dat rugby behalwe dat ‘n spansport is.dit ook ‘n man teen man sport is. As jou teenstander jou ore in die lynstaan aansit, wie se skuld is dit,joune of die haker?

As ‘n senter jou arms met krag ooploop, wie se skuld is dit ? Joune of die skrumskakel op wie jy gewag het soos Saterdag om die joppie vir jou te doen ?.As jy nie jou teenstander in toom kan hou nie en hy amok op die veld maak.lê die fout by jou en niemand anders nie.

Wees dan eerlik so Frik du Preez in sy onderhoud waarin hy erken dat ‘n fransman in Frankryk hom ore in die lynstaat aangesit het. De Jong kry die bal in ‘n baie gunstige posisie, vertrou hy sy spoed en vermoë om sy teenstander te klop- nee hy verkies ‘n skoppie vorentoe en ‘n wedloop teen een van die vinnigste spelers op die veld.

Het hy so min selfvertroue of is dit maar wat hy geleer en gewoond is om te doen. Dit is beter om die bal te hou en te kyk of hy nie die doellyn kan haal nie, of dan te kies om in die teenstander se kwartgebied oor die kantlyn gedruk te word. ‘n Lynstaan gee darem kans om te herorganiseer. Nee dit is nie hoe dinge gedoen word in Coetzee se rugbyklas nie.

Roger ·

Ons kan nou maar derms uitruig of spelers en/of afrigters bevoeg is, maar onthou net dat hul nie hulself kies nie. SARU is die vlieg in die salf. Die oomblik toe hul deur politici gekaap is en liggewigte daar aangestel is, het dinge drasties verkeerd begin loop vir plaaslike rugby. PS…gaan kyk bietjie hoeveel geregistreerde senior rugbyspelers is daar in SA en vergelyk die getalle met NZ. Ons oortref hul 5 teen 1. Dit is soos ‘n om ‘n seunskool te vergelyk met ‘n plattelandse skool. Eersgenoemde kan die room kies uit hul getalle….ongelukkig in Suid-Afrikaanse rugby kan die administrateurs nie daardie sommetjies maak nie, want hul te besig met ander agendas. PPS…en die ANC lag weereens in sy mou, want nog ‘n voormalige bastion van “blanke-SA” het getuimel.

Maria van Dieweeck ·

Die span reflekteer ongelukkig maar net ons land. Onderstebo en deurmekaar :(

Pietman ·

Van die laaste 126 springbokke speel 55 tans oorsee ( dit neem nie in ag die wat alreeds uitgetree het nie) Van daardie 55 is 44 wit en 10 gekleurd. Dws 50% van die laaste 88 wit springbokke speel oorsee teenoor 26% van die laaste 38 gekleurdes. Punt 1 , te veel spelers verlaat die land. Punt 2, ‘n wit springbok se kanse is dubbel so goed om ‘n oorsese kontrakte los te slaan.

Helene ·

Dis maar net weer n sirkel wat oir 2 tot 3 jaar weer goeie Springbokke gaan oplewer. Ook gaan All Blacks ook weer minder goeie ouens oplewer en paar jare weer goeies. So gaan die kringloop aan met al die lande. Indien daar goeie swart of watter kleur ookal is roep hul op. Rugby moet met geen kleur vergelyk word, Speingbok afrigter het hulp enkan darem nie pa staan vir als nie. Hou op net een vinger wys na een persoon. .

Henry ·

Skitterend Helene!!!
Is uiteindelik so waar wat jy sê!
Hoe meer dinge en hoe meer sirkels verander, hoe meer bly dit dieselle!
Is/was nog altyd so…

Henry ·

Dankie Helene!
Uiteindelik sal ons Springbokke weer kitaar slaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.