Nuuskommentaar: ‘Staatsgreep’ in Zim – sal SA betrokke raak?

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe en pres. Jacob Zuma van Suid-Afrika. Foto: GCIS

Ten spyte van ontkennings lyk dit al hoe meer of ’n staatsgreep in Zimbabwe onderweg is. Volgens die jongste berigte het die weermag versterkings ontbied, terwyl die regerende Zanu-PF-party die weermag se optrede met verraad vergelyk het. Dit, ten spyte daarvan dat die weermag die versekering gegee het dat daar geen staatsgreep is nie, en dat Mugabe en sy familie veilig is.

Daar is talle redes vir ingryping in Zimbabwe, en al instansie wat dit kan doen is die weermag. Die eerste rede, wat ook deur die bevelvoerder van die weermag duidelik uitgespel is, is dat nie toegelaat sal word dat veterane (van die bosoorlog) uitgeskuif sal word nie. Dit is ’n duidelike verwysing na Mugabe se afdanking van die adjunk-president, Emmerson Mnangagwa. Hy het daarna na die buiteland gevlug, en is van hoogverraad beskuldig.

Dit raak ook algaande duideliker dat Mugabe sy eertydse nyatsi, en nou eggenoot, Grace, as sy opvolger beskou. Sy is egter erg ongewild en is onlangs in Bulawayo uitgejou. Mugabe was woedend. Zimbabwe se ekonomie is erg in die knyp, hoofsaaklik danksy Mugabe, maar Grace gaan voort om miljoene rande op luukshede te spandeer.

Of die verwikkelinge in Zimbabwe op ’n staatsgreep gaan uitloop of nie, (en die Zanu-PF se reaksie dui daarop dat die weermag dalk geen keuse gaan hê om dit volledig deur te voer nie), die verwikkelinge is groot nuus in die buiteland, en sommige koerante plaas op hul webwerf die een opdatering na die ander. Verskeie lande het hul burgers in Zimbabwe gemaan om binnenshuis te bly.

Maar is dit wat in Zimbabwe gebeur meer ingrypend as die staatskaping wat Suid-Afrika se ekonomie bykans verwoes, en ’n paar skatryk families opgelewer het? Die staatskaping het stil-stil agter die skerms gebeur, en dit kos talle instansies al baie ure om die omvang hiervan te ondersoek en ’n geheelbeeld te skep. Dit ten spyte van #GuptaLeaks wat ’n groot hupstoot is om die proses aan die kaak te begin stel.

Weermagtenks op pad na Harare (Foto via ANA)

Suid-Afrika kan eenvoudig nie sy hulpbronne na behore benut nie, en probeer deurlopend die wiel herontwerp. Met al Suid-Afrika se hulpbronne is die land ver agter verskeie Afrika-lande in arm dele van die vasteland. ’n Skokkende 27% van die Suid-Afrikaanse leerlinge wat reeds ses jaar skoolgaan, kan nie lees nie. In Tanzanië is dit net 4% en in Zimbabwe 19%, aldus dr. Pieter Mulder, parlementslid van die Vryheidsfront Plus.

Nog ’n woord wat al in die Suid-Afrikaanse konteks gebruik is, is statutêre staatsgreep. Seker die mees klassieke voorbeeld in die Suid-Afrikaanse geskiedenis was toe FW de Klerk vir PW Botha as president opgevolg het. Die regverdiging hiervoor was dat die land geen ander keuse gehad het nie, omtrent dieselfde soort argument wat die weermag nou in Zimbabwe opper.

Zuma se vervanging van Thabo Mbeki kwalifiseer waarskynlik ook as statutêre staatsgreep. Zuma se gereelde miskenning van die grondwet stellig ook.

Maar sou ’n volledige staatsgreep teen Mugabe uitgevoer word, sal SAOG, en veral Suid-Afrika, dit gelate aanvaar? Die optrede teen soortgelyke verwikkelinge in die kleine Lesotho was waarskynlik ontoereikend – om veral militêr in Zimbabwe te gaan ingryp sal ’n baie groot hap wees.

’n Zimbabwe sonder Mugabe kan ’n groot voordeel vir Zimbabwe en die streek wees. SAOG (met die periodieke uitsondering van Botswana) het egter ’n lang geskiedenis van Mugabe ter wille te wees, gewoonlik ten onregte – dwarsdeur gekookte verkiesings en ander diktatoriale optredes deur.

’n Opwindende paar dae lê voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Anoniem ·

Onthou : Derduisende Zimbabwiërs wat in SA is smag om na hulle geboorteland terug te gaan ! Tjaila TYD is naby !?Hou moed

Nee nee ·

Wie gee om? Ek persoonlik gee NIKS om vir ZIM nie. Hulle is in die moeilikheid wat hulle is agv hulle ondersteuning AAN Mugabe .. het hulle gedink dit gaan vir ewig goedgaan? GROOT verandering is nodig daar en hulle moet NOU vir Mugabe verwyder, ek gee nie om of hulle hom aan sy hare daar uitsleep nie, persoonlik dink ek SA moet hom daaruit hou, dis nie asof hulle in SA kom help om moorde te bekamp nie.!

Tess ·

Dis soos om met ‘n stok in riool water te staan en dan aanhoudend met die stok die water te slaan.

MANIE ·

Die wereld sal n beter plek wees as die massamoordenaar en sy vrou aan die hangpaal hang. Dit wys jou net jy kan nie n skurk vir ewig wees. Hoop daardie seuntjies van hulle in Sandton is ook onder huis arres

Alida ·

Ons weermag se tenks het nie diesel nie. Die geld lê in KFC se geldlaaie.

Kannaland ·

Ek het in spanning gewag vir Herman se opinie, dankie. Nou wag ek nog net vir Sebastiaan. Maroela het die eerlikste politieke ontleders, die mees objektiewe insigte kom van julle, en dankie daarvoor.

Louise ·

Ek stem dat Maroela Media altyd goeie beriggewing doen. Hoog tyd dat iets in Zim gebeur, al wat ek nie verstaan nie is dat daar aanhoudend vir Mugabe gestem word. Mense gaan dood van die ellende maar hulle het hom aan bewind gehou. Dalk sal ouboet die staatskas verder plunder om sy boetie te gaan help, maar is dit regverdig om ons land se burgers in gevaar te stel?

Callie ·

Sal goed wees as SA weermag daar betrokke raak. Dit sal beteken daar is dan totaal niks van n hopelose SAW oor nie. Wie gaan dan vir Zuma beskerm. SAP alleen kan nie

Doringsaad ·

In 1978 het my pa besluit om ‘n pragtige plaas naby Bulawayo agter te laat vir die veiligheid van sy vrou en kinders. Pa was vir jare te seer om eers oor die plaas te praat.

In 2004 het ons besluit om my pa te verras met ‘n nostalgiese vakansie na Zimbabwe. Op die grenspos moes ons die kar uitpak en het die grenswagte klomp van kos wat ons saamgeneem het by ons afgeneem – blikkieskos, gedroogte vrugte – selfs sjokolade…

By die plek waar die plaas eens gestaan het in al sy glorie, was daar niks. Ek bedoel niks. Bome afgekap, grond kaal, die oorblyfsels van die plaashuis gestroop van enige elemente van waarde. Die boorgat en die plaasdam was droog. Die enigste sigbare water was die paar druppels op my pa se wange…

Mooi geskryf ·

Mooi geskryf, ek het self nou ‘n traan in die oog gekry. Dit is so jammer dat alles vernietig en verniel moet word. As Mugabe regtig omgegee het vir sy mense het hulle mos nou mooi plase gehad en almal was versorgd en het voedsel produseer, of at least aangegaan met jou pa se plaas? Hoekom is daar nou niks? Hoekom is alles verniel en tot teen die grond afgebreek? Is dit regtig bester sonder die boere daar? Ons almal weet die antwoord, maar die feit dat die regering in SA in dieselfde rigting gaan beteken ons is op dieselfde afdraande pad en NIEMAND het iets hieruit geleer nie. Die plase is beslis nie in die hande van die ‘people’ nie. Daar is ‘n paar plase in die hande van die regering, die res le braak en onbewerk. Skandelik.

Marinda ·

Voel baie jammer vir die onskuldinge mense in hierdie land. Hulle het al genoeg gely. Hierdie ding sien kom.

Alida ·

Zuma moet sy neus daar uit hou en sy eie land oppas anders gebeur dieselfde hier. Hy kan begin deur ontslae te raak van die Guptas en dan self stil stil verdwyn. Niemand gaan hom mis nie.

Elsa ·

Wil net noem dat dit nie SADEK is nie maar SAOG – Suider Afrikaanse Ontwikkelings Gemeenskap. SADC – Southern African Development Community

Dalene de Vente ·

Dagsê Elsa
Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.