Nuuskommentaar: Staatskapers kry waardigheid en dromers duik

donald trump

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

Sowat 800 000 jong mense in die VSA het ’n onseker toekoms nadat pres. Donald Trump aangedui het hy gee die kongres ses maande tyd om die “dreamer programme” te vervang, of hy sal self intree. Hierteenoor weier die minister van binnelandse sake om die Guptas se SA burgerskap op te skort sou hulle alles hier verkoop en na Dubai verhuis, want sy wil nie hul waardigheid aantas nie.

In die VSA gons dit behoorlik oor pres. Donald Trump se besluit dat jong onwettige immigrante, bekend as die “dreamers,” nie langer op beskerming van die staat kan reken nie. Hier te lande sê die minister van binnelandse sake, Hlengiwe Mkhize, die Guptas moet met waardigheid hanteer word.

Tydens pres. Barack Obama se bewind het die sogenaamde “dreamers programme” beslag gekry: Onwettige immigrante wat die land as kinders binnegekom het sou deur die staat teen deportasie beskerm word. Dié program staan as DACA bekend en mense wat daarvoor kwalifiseer moes aansoek doen om daarin opgeneem te word. Mense met onder meer kriminele rekords sou uitgesluit word. Formeel was die program net bedoel om tydelike verblyf te verskaf en spesifiek vir goed soos studies, maar ook om die VSA te woon en te werk.

Ná ’n tydperk van ses maande van nou af sal sowat 800 000 mense deur ’n baie onseker toekoms in die gesig gestaar word as die Amerikaanse kongres nie in dié tydperk met ’n behoorlike alternatief vir DACA vorendag kom nie.

Peilings toon dat die meeste Amerikaners teen die afskaffing van DACA is. Hulle meen dat die “dreamers” nie ’n bedreiging vir werkgeleenthede inhou nie. Trouens, immigrante vul al meer noodsaaklike poste wat die Amerikaners self “ontgroei” het, en vorm dus ’n belangrike ruggraat in die ekonomie.

Trump se voornemens het die impak van die storm Harvey plek-plek as hoofnuus verdring, en storm Irma word ook nog deur die beplande aksie teen die “dreamers” effe op die agtergrond gehou.

Minister Hlengiwe Mkhize. Foto: Flickr/GovermentZA

Hierteenoor sê minister Mkhize sy sal nie die Guptas se burgerskap opskort sou hulle al hul sakebelange hier verkoop en in Dubai gaan hervestig nie. Sy wil hê hulle moet met waardigheid hanteer word. Het sy onlangs die feitlik daaglikse onthullings van die sogenaamde #GuptaLeaks gelees? Het sy kennis geneem dat die direkteur van Nasionale Vervolging met verskeie ondersoeke na staatskaping wat die Guptas impliseer besig is? Die webwerf, #GuptaLeaks word redelik volledig bygehou.

Suid-Afrika word redelik hard aan sy hand gepik deur miljoene mense uit Afrika en ander lande soos Pakistan en Bangladesj wat hier verwelkom word. Uiteraard is nie almal misdadigers nie, maar berigte oor bordele, dwelmnetwerke en bedrieglike skemas is taamlik algemeen. Werklose Suid-Afrikaners wat hulle hierteen verset word van vreemdelingehaat beskuldig. Die werklike situasie is uiteraard veel komplekser as hierbo geskets.

Hierteenoor is dit vir mense in ontwikkelende lande baie moeilik om visums en verblyfpermitte te kry, selfs wanneer hulle met Suid-Afrikaners in die huwelik kom tree.

Natuurlik kan daar nie op ’n onwaardige wyse teenoor die Guptas opgetree word nie, in elk geval so lank niemand nog aan iets skuldig bevind is nie. Maar geld die beginsel nog as die prima facie-getuienis oorweldigend is en daar opsigtelik voete gesleep word met die instel van vervolging? En is dit onwaardige optrede om mense wat uitverkoop en die land onder ’n diep donker wolk verlaat, se burgerskap op te skort? Bowendien, een van die Guptas het nie Suid-Afrikaanse burgerskap opgeneem nie aangesien hy nie kans gesien het om sy Indiese burgerskap prys te gee nie. Indië erken nie dubbele burgerskap vir sy burgers nie.

Volgens die handves van menseregte is almal op waardigheid (dignitas) geregtig, maar die Grondwet bepaal ook dat almal gelyk voor die reg is. Dit beteken dat die reg op waardigheid beperk word sodat dit nie inbreuk kan maak op ander se regte nie.

Los maar misplaaste sagte handjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Brolloks se kleinsus ·

DIE SPYKER OP DIE KOP GESLAAN, Herman! Uitmuntende kommentaar – en rare, ware woord.

Die Guptas moet met “waardigheid” behandel word – maar die blanke boere en oor die algemeen gebore Suid-Afrikaanse burgers kan maar kanonvoer word vir die misdadigers? Ek wens ons kan ‘n Donald Trump in SA kry. Dié man werk nie met handskoentjies aan nie. Hy is miskien blatant en dikwels ongeskik in sy tweets en opmerkings, maar hy pak immers die bul by die horings.

Min. Mkhizwe se geheue word ontval van die tallose skandale waarby die Guptas en hul sakebelange of besighede nou al by ingetrek is. Of is dit ‘n kwessie dat sy nie verby die balk in haar eie oog kan sien, om die splinter in ‘n ander ou se oog te kan raaksien nie?

HEVW ·

Is daar iewers n ligpuntjie in hierdie donker nuwe eeu wat ons tans beleef? Die benadering van min Mkhizwe is kenmerkend van dit wat tans bykans die wereld oorspoel. Dit wil voorkom of die idee van die Nuwe- wereldorde n al hoe meer werklikheid word. Nie alleen gaan dit om die totale vermenging van volkere, n wereldnasie nie, maar ek worstel met die groot vraag rakende verskillende gelowe en dit word vir my duidelik dat die uiteindelik stryd n geloofsstryd sal wees en sal sekerlik die felste stryd wees wat die mensdom nog ooit beleef het.

John ·

…. ja, geloofsoorloe kom al skree almal… die baasspelerige pous ook … vrede… vrede. Die Roomse Kerk het in die verlede ‘n groot rol gespeel in die verloop van die wereldgeskiedenis… ook die rede waarom menige Suid-Afrikaner tans glo hier ‘plak’. Daar is ‘n dramatiese swaai te bespreur by die RK waar alle gelowe selfs klipaanbidders omarm word met ‘lieflike’ slange die hooftema tot in die vatikaan…. enigiets om die RK te laat groei. Die pous (en sy vreemde eweknie die sg swart pous) staan reg teenoor Trump en beveg sy muur-idee omdat dit die Nuwe-wereldorde se saak belemmer. Baie meer is ter sake as bloot die modewoord ‘aardverwarming’ as deel van die evolusie-konsep sonder Goddelike betrokkenheid. Tik gerus ‘Pope and snake’ in op die web en lees… kyk. Ons mense moet kennis neem. Suid-Afrika is ook deel van planeet-Aarde… glo dit as jy wil…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.