Nuuskommentaar: Staatskaping, en wie is die regering eintlik?

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (20 Augustus 2018). Foto: Karen Sandison/ANA

Wie was, of is selfs nou, die regeringshoof in Suid-Afrika? Die persoon wat as president van die land aangewys is, of die baas van die staatskapers? Maar wie is nou eintlik die baas van die “beweerde” staatskapers?

Vir ’n paar jaar was die Guptas die hooffigure in die voortslepende drama. Hoewel die meeste denkendes besef het dat die Guptas kompetisie moes hê, was dit nie altyd deel van die openbare diskoers nie. Hoewel name van tyd tot tyd opgeduik het, en selfs detail oor onheilige bande en praktyke die lig gesien het, het die Guptas die vernaamste fokus, natuurlik saam met oudpres. Jacob Zuma, gebly. Die term “Zupta” is mildelik ingespan.

’n Naam wat wel so tussenin opgeduik het, was Bosasa. Die kollig het eers werklik na Bosasa verskuif toe dit bekend geword het dat pres. Cyril Ramaphosa, via sy seun, ’n skenking van Bosasa gekry het om sy kanse in die ANC se presidentsverkiesing, en dus as Zuma se opvolger, te versterk. Ramaphosa het dit as ’n misverstand voorgehou, en aangedui dat hy die geld aan Bosasa gaan terugbetaal.

Vir Ramaphosa, wat as die beste hoop op die bekamping van korrupsie en staatskaping gesien is, se beeld was die voorval ’n harde hou in die wind.

Met die huidige onthullings oor Bosasa se staatskapingsrol voor die Zondo-kommissie verbleek die Gupta-beeld effe. Die bedrae wat in die Bosasa-geval genoem word (en die onthullings is ver van klaar) klink plek-plek nie of dit vir die Gupta-bedrae terugstaan nie. Selfs die sekretaris van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping is as voorsorgmaatreël voorlopig met spesiale verlof hangende ʼn ondersoek na die bewering dat hy as senior beampte by die departement van korrektiewe dienste ook omgekoop is.

Dr. Khotso de Wee was ’n belangrike ANC-figuur, veral tydens sy Vrystaatse verblyf toe hy onder meer die LUR van landbou was.

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Die omvang van die Gupta-tentakels was eenvoudig verstommend, veral inaggenome dat hulle laat-aankomelinge in Suid-Afrika was. Nou lyk dit of Bosasa hulle byna kan troef.

Daar is nou, saam met dié van Zuma, op die oog af drie gesigte van staatskaping, maar hoeveel nog? Met die verhoor van Shabir Shaik is verskeie name genoem, waaronder die miljardêr Saantha Naidu.

Wat al die name gemeen het, is dat daar duidelike bande met Zuma was, bande wat vir Zuma groot geldelike voordele sou inhou.

Dit word geraam dat die ondersoek na staatskaping ’n allemintige R250 miljoen kan kos. Dit is egter net ʼn druppel aan die emmer van die tussen R100 miljard en R500 miljard wat verlede jaar genoem is in verband met die koste van staatskaping van die land en wat dit ons reeds gekos het. Ander reken die koste veel, veel hoër, en dit was voordat Bosasa se beweerde aandeel in die soeklig beland het. En sou daar werklik op groot skaal met vervolging begin word, gaan dit nog etlike miljarde na ’n aantal mense in die regsberoep se sakke laat rol.

Die belangrikste les is dat kiesers hul verantwoordelikheid moet besef wanneer hulle hul kruisies trek.

Om iemand as president te verkies is ’n gedugte taak, ongeag die kiesstelsel wat uiteindelik bepaal wie die regeringshoof sal wees. Dit lyk of die Kongo (DRK) ná die effektiewe Kabila-hegemonie met groot onstabiliteit opgesaal kan wees. Die verkiesingskommissie het Félix Tshisekedi as wenner aangewys. Die SAOG en Suid-Afrika het dit aanvaar en hom gelukgewens.

Maar daar is by die invloedryke kerke in die DRK en baie instansies en lande ’n groot sekerheid dat Martin Fayulu ongeveer 60% van die stemme gekry het. Fayulu verwerp die uitslag en hits sy ondersteuners tot vreedsame protes aan. Boonop het die Belgiese universiteit, van wie Tshisekedi ’n sertifikaat in handel ingedien het, onthul dat dit ’n vervalste dokument is.

Kabila se handperd, Emmanuel Shadary, het derde gekom, maar dit lyk of Kabila en Tshisekedi ’n geheime ooreenkoms gesluit het toe dit blyk dat Shadary nie genoeg stemme sou kry om selfs “reg” te toor nie.

Martin Fayulu, opposisiekandidaat in die DRK, verlaat die Philadelphie-sendelingsentrum in Kinshasa in die DRK (13 Januarie 2019). Foto: Jerome Delay/AP

Fayulu sê die verkiesing is gekaap. Hoeveel, in praktiese terme, verskil ’n verkiesingskaping van ’n staatskaping wat Suid-Afrika beleef het?  Die verskil kan, eventueel, in dollar gemeet word. In 2017 het Kabila sy persoonlike ryk só uitgebrei dat dit reeds meer as 700 maatskappye ingesluit het. Kabila se ryk word as ’n toppunt van ’n kleptokrasie beskou. Sy plunderaars het selfs die plunderaars van voormalige pres. Mobotu Sese Seko geplunder.

Was Suid-Afrika ver agter?

Vandag se hoofartikels van Media 24-dagblaaie handel heel gepas oor die huidige regeringskrisis in Zimbabwe. Het Zimbabwiërs met die afsetting van Mugabe ’n beter keuse met Emmerson Mnangagwa (die krokodil) gemaak? Klaarblyklik nie.

Vir pres. Ramaphosa sal dit baie belangrik wees om met sy internasionale omhelsings meer kieskeurig te wees. ’n Blote voortsetting van die tradisie dat veral ’n SAOG-leier noodwendig reg moet wees, kan vir Suid-Afrika rampspoedig wees. ’n Groot toestroming van nuwe vlugtelinge uit Zimbabwe kan Suid-Afrika se beoogde ekonomiese herstel laat knyp (veral as daar nie daadwerklik met die staatskapers en hul meelopers gehandel word nie).

En dit kos geen profeet om te voorspel dat ’n stroom Kongolese ook verwag kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andrew ·

Ontspan, dis net normale SEB. En die grondwet vereis dit mos.

Kaufman ·

Uitstekende uiteensetting en perspektief op hoe ernstig staatskaping en die probleme in Zim en die DRC is.

Thinus Erasmus ·

Ek dink die enigste kans wat SA het om die korrupsie probleem suksesvol te ondersoek en te beregtig, is om ‘n internationale owerheid te betrek, of beter, die ondersoek in totaal aan hul oor te dra.

Marga ·

Is hierdie ondersoek nie te groot vir net een regter nie? In my oë moes daar ‘n paneel van bekwame finansiële persone as sy assessore saam met hom gesit het. Wat die artikel betref – ongelooflike uiteensetting van feite. Briljant.

Gert ·

Mens kan net wonder hoe vry en regverdig ons volgende verkiesing gaan wees. Hulle weet sekerlik dat hierdie onthullings hulle stemme gaan kies, en as die EFF of DA saam met die ANC in koalisie moet inkom, moet die korrupsiegeldjies mos met hulle gedeel word.

Paul ·

Maar ons man in Davos is mos uitermatig kundig in BEE, in landbou om grond te herverdeel sodat voedselsekerheid behoue sal bly, let wel, die kurwe nie in die hek duik nie. Hy is ook ‘n goeie spreker, want hy praat dan so mooi. ‘n Pluspunt is dat hy die land se geskiedenis op die punte van sy vingers ken, van Jan Van Riebeeck se tyd, dus weet hy presies watter grond van die swart mense afgevat is en wat nou sonder vergoeding teruggeneem sal word.

O’ja en sy bekentenis oor sy ‘seun’ wat voordeel uit Bosasa getrek het, was toe al die tyd papa self, wat nie sy bankrekening dopgehou het nie, en hy het belowe om die geld terug te betaal. Die kleitrappery van diegene wat nou voor die Zonde-kommissie uitgewys is laat die oë rek. Dit laat my dink aan gister se artikel van Dr Pieter Mulder op Maroela oor onder andere PW Botha en die Erasmus kommissie.

Lees gerus die volledige artikel by: https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/hoe-vergelyk-zondo-kommissie-met-eertydse-erasmus-kommissie-en-inligtingskandaal/

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.