Nuuskommentaar: Staatskaping, korrupsie en geld wat weg is

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Halfvoltooide projekte wat tot stilstand knars omdat kontrakteurs nie betaal word nie, ongemagtigde uitgawes wat die ouditeur-generaal jaar vir jaar aandui, en ’n ondersoek na staatskaping wat prof Adam Habib se hare laat regop staan, skep meer begrip vir hoekom oud-minister Pravin Gordhan gesê het Suid-Afrikaners moet die kolletjies begin verbind.

’n Klein swart elite is besig om die land so te kaap dat die breë massa niks uit die situasie wen nie.

Is Kersvader werklik? Só wil kinders gereeld weet wanneer hulle bietjie oud word om in te val by verhale oor die tandemuis, die Paashaas en Kersvader. Maar word na die nuus gekyk, is dit duidelik dat daar baie politici, amptenare en raadslede is wat meen die Tesourie is ’n soort Kersvader wat, wanneer die nood druk, eenvoudig net ’n paar knoppies iewers druk en die masjien spoeg gou-gou nog ’n paar miljoen uit.

Kort-kort lees ons van ’n reuse bedrag wat selfs ’n klein munisipaliteit uithaal om vir die begrafnis van ’n afgestorwe raadslid te betaal. Die gat wat elders in die begroting ontstaan, is anderdag se probleem. En hierdie tekorte weens ongemagtigde uitgawes, diefstal en bedrog word jaar vir jaar deur die ouditeur-generaal uitgewys.

Onlangs het Eskom sy voorneme geadverteer om verskeie munisipaliteite wat baie groot bedrae aan Eskom skuld, se kragtoevoer te onderbreek. Plek-plek het dit gebeur, en soos voorsien is, is inwoners en sake-ondernemings wat ten volle opbetaal is, die hardste getref.

Onder die jongste voorbeelde is die departement van waterwese waar die minister vandag aan die parlement moet verduidelik hoe haar departement R1,463 miljard aan kontrakteurs gaan betaal. Die geld bestaan eenvoudig nie en moet uit oordragte van ander projekte gefinansier word.

Terselfdertyd het die hoofkontrakteur op een van die groot padbouprojekte in Bloemfontein die munisipaliteit van Mangaung laat weet dat hulle dadelik hul werk opskort. Hulle is in Desember verlede jaar laas betaal. Dis ook nie kleingeld wat ter sprake is nie, en ook nie die eerste voorval van sy soort nie. Ook ander kontrakteurs wag op betaling, soos dié wat veiligheidsdienste by stortingsterreine moet lewer.

Maar omdat hulle nie betaal word nie, kan die veiligheidspersoneel nie betaal word nie, en is verskeie inwoners onder die neuse van die veiligheidsmense beroof en aangerand.

Sake verval in ’n soort vaste patroon – projekte word teen ’n getenderde bedrag goedgekeur, die koste styg onverklaarbaar en om die projek klaar te kry moet die spaarvarkie uitgeskud word – tot op ’n dag dat die spaarvarkie nie meer ’n geldjie gehoes kry nie. Die rommelstatus bemoeilik ook nou pogings om geld geleen te kry.

Om byna R1,5 miljard kort te wees vir ’n strategiese departement soos waterwese en sanitasie, is skokkend. En dis nou afgesien van ’n begrotingstekort van R2 miljard.

Kan staatskaping die “wegraak” van geld wat tot tekorte van hierdie orde lei, verklaar?

Netwerk24 voer ’n wydlopende onderhoud met prof. Adam Habib, rektor van Wits, na aanleiding van ’n verslag wat navorsers van sy universiteit saam met navorsers van die Universiteite van Stellenbosch, Kaapstad en Johannesburg oor staatskaping opgestel het. Dié verslag, “Betrayal of the promise: How South Africa is being stolen” plaas genoegsame gegewens in die oopte dat selfs die grootste skeptikus moet aanvaar dat staatskaping wel ’n werklikheid is.

Oor of Suid-Afrika reeds ’n mafiastaat is, is daar meningsverskille. Miskien is die mees tegnies korrekte uitdrukking dat Suid-Afrika ’n skim-kabinet het wat die werklike toutjies trek. Die verslag van die akademici verwys na verskeie skim-kabinette op verskillende vlakke.

Nog meer lig behoort op die kwessie van staatskaping gewerp te word as minister Lynne Brown se ondersoek, wat deur ’n afgetrede regter gesinchroniseer sal word, na Eskom se sake op dreef is. Die polisie se spesiale ondersoekeenheid sal ook by hierdie ondersoek betrek word.

Wat baie duidelik is, is dat daar soveel as moontlik ondersoeke moet wees wat heeltemal onafhanklik van pres. Jacob Zuma en sy kornuite plaasvind, en só plaasvind dat die ondersoeke nie ook gekaap kan word nie. Dit sluit hofprosesse in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johannes ·

Lyk my die sous trein is besig om sonder kole te gaan staan

broos ·

hoeveel verslae nog moet gedoen word? hoeveel rande moet nog gespandeer word om hierdie verslae op te stel? hoeveel tyd moet nog gespandeer word om hierdie verslae op te stel? ek dink teen die tyd is die antwoord meer as duidelik…….nou moet ons net wag vir iemand om ‘n paar te groei om dit stop te sit!

Loeis ·

Dit gebeur orals. Ek het ‘n aantal jare gelede by UNISA gewerk en moes met ‘n antieke rekenaar oor die weg kom. Daar was daardie jaar glo R6000000 vir nuwe rekenaars begroot, maar toe besluit die Raad om ‘n partytjie te hou om demokrasie te vier. Ek is meegedeel dat die rekenaar begroting sommer baie handig daar ingekom het, en de hel met die mense wie hulle werk moes doen. Ek het ‘n voeltjie hoor fluit dat die rektor ‘n vriend van Mbeki is, en tamalik onaantasbaar. Die hele gemors het nie by Zuma begin nie.

Justice ·

Stop die bloeding reg bo by tesourie wat `n die verskuilde Kersvader is.

Ander Annie ·

So getrou wat ons betaal, so getrou word daar gesteel. Die sous trein is 5-ster.

Henry ·

Dankie vir inligting/agtergrond wat op hierdie stadium van ons stryd, van soveel belang vir ons, die inwoners van hierdie droewe land is. Die omvang van die regime se misbruik en onvermoëns, wat in talle gevalle aan kriminaliteit grens, is skrikwekkend, om dit sagkens te stel.

Hierdie artikels van Hermann en enkele ander minder gereëlde bydraers s’n, is mynsinsiens van groot nut vir ons, die agtergeblewenes, wat hier moet oorleef.

Dit beteken veel meer as artikels oor bekende situasies wat in ander wêreld dele afspeel en uiteindelik weinig tot geen invloed op ons problem of voortbestaan het nie. Gebeure wat daagliks op ander platforms tot verveling, beskryf word – CNN, BBC FOX, RT, AL JAZEERA…

Om later dieselfde stories en raaiskote wat ook via die internet te lese is en eweneens stokou nuus is, op MM teë te kom, verdien slegs om as materiaal vir ‘n mens se spoedleesoefening te dien.

Dankie Hermann en doe zo voort.

Dirk ·

Die dotjies is nog nie almal verbind nie.

Herman ek hoop jy lees hier.

Is die Guptas die enigste staatskapers? Die Guptas is maar slegs die opvolger van ‘n vorige familie. Daai familie was ‘n leerskool wat met die Guptas vermy was.

‘n Pakkie sigarette het ‘n vaste belastingkoers. Dit is die bedrag wat aan SARS betaal word nadat ek en jy ‘n pakkie gifpyltjies gekoop het. Hierdie berdag word jaarliks tydens die aankondiging van sonde belasting aangekondig.

Enige leser doen jouself die guns en stap na ‘n kaffee op ‘n straathoek in die onderkant van die dorp. Kyk na die make op die rak en kyk dan na die prys daarvan.

Jy sal vind dat dat nie-BAT produkte ver onder SARS belastingwaarde verkoop word. Van die aspek is oom Pravin deeglik bewus. Ou Loggies het geraak hier. Guptas is nie hier nie!

Verbind dan die dotjies.

Gaan sit vir ‘n dag op een van die afgeleë vliegvelde naby aan enige grens tussen BOB se land, die KONING se land en SAM se land.

Verbind dan die dotjies.

Hierdie is twee voorbeelde van vele.

Die Guptas haal die nuus. Ander vlieg onder die radar. Die Guptas is net ‘n baie groot rookskerm.

Die verslag hierbo verbind die blertse en nog nie die dotjies nie.

Gupta is die sigbare afleiding van die werklikheid. Steek weg so openlik moontlik, dit wat jy nie gesien wil hê nie. Daardie plek is reg rondom ons.

Is direkte staatskaping die enigste vorm van staatskaping?

KYK

Dirk ·

Ek gaan nou die verslag indiepte tees. Ek soek name. Baie spesifieke name.

Eish ·

Dit is skokkende leesstof. Ek onthou jare terug het een van die ANC terugkerendes gese hul was nie in die struggle om arm te bly nie. Gestand aan die woord gebeur die staatskaping en net mooi alle ander kwessies is aandagaftrekkers. Rassisme teenoor blankes, die hele politieke dress rehearsal, alles. Wat n gemors. Nou wie gaan vervolging instel? Nie eens die grondwet word eerbiedig nie. Die regerende party is nou n hoolhoop. Hier is genoeg werk om Gerrie Nel besig te hou tot hy aftree. Weet voorwaar nie waar anders is n wil om die rotnes te takel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.