Nuuskommentaar: Staatskaping kry gestalte

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

In die parlement is begin om een van die staatskapingrafels, Eskom, los te torring, en dit is nie ’n mooi prentjie wat ontvou nie. En hef aan lê nog voor.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, se beswaar oor hoekom die parlementslede wat staatskaping in die Eskom-konteks ondersoek juis die Guptas as familie, met wie hy bande het, uitsonder, het waarskynlik menige Suid-Afrikaanse nuuskyker se oë laat rek. Die Guptas se dominante rol in staatskaping het immers in die Suid-Afrikaanse kollektiewe gedagtegang “algemene kennis” geword. Die sogenaamde “Gupta Leaks” speel hierin ’n belangrike rol.

Veel van ’n getuie is Zwane nie nou nie. Hy is in verskeie ander juridiese prosesse wat met die Guptas en staatskaping verband hou, betrokke, en wil nie nou getuienis lewer wat hom daar kan inkrimineer nie.

Maar Zwane is nie die enigste getuie nie. Namate die ondersoek vorder sal die omvang en karakter van staatskaping beslis al duideliker gestalte kry.

En dis nog net Eskom.

Wat duidelik is, is dat staatsentiteite weens kwesbare praktyke wat korrupsie ruim moontlik gemaak het, gewilde teikens vir staatskaping was.

Sondag berig Rapport dat Gupta-groepe Transnet-pensioene gesteel het. Dit verwys na die arm Tweede Vaste Voordelefonds waarvan die pensioentrekkers so min as R1 000 per maand verdien, en die pensioene elke jaar met 2% verhoog word.

Op ’n effens ander noot, is SAL se omstrede voorsitter, Dudu Myeni, en van die ander raadslede, afgedank. Hulle is op die oog af deur kundiges vervang. Hoe lank moet politieke aanstellings ’n instansie in die grond bestuur voordat die regering besef kundigheid is belangrik. Veral iets soos SAL wat in ’n baie komplekse en mededingende omgewing moet kompeteer.

Die SAUK het uiteindelik ’n vaste raad gekry, en dadelik was daar kommer dat veral die voorsitter noue Zuma-bande het. Hy het dit intussen weerlê.

Ook die SAUK is in finansiële tamatiestraat nadat Zuma se Wunderkind, Hlaudi Motsoeneng, nog onlangs gespog het oor die wonderlike finansiële voet waarop hy die SAUK gebring het.

Die nuwe raad het egter ook ’n groot taak om talle bestuurders so ver te kry om bestuurstyle aan te neem wat met die grondwet strook.

Op die oog af lyk dit of Zuma nou skielik toelaat dat dinge in semi-staatsinstellings verbeter. Dit moet egter onthou word dat nog net een van die rafels van staatskaping nou in die parlement uitgetorring word. Die ander komitees sleep voete, en die groot regterlike ondersoek wat die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, gelas het, bly steeds op die langebaan.

Om ’n idee van die geheelbeeld te kry, is die burgery grootliks van ondersoekende joernaliste afhanklik wat veral op die Gupta Leaks fokus. Die Gupta-troue by Sun City, wat met die Waterkloofgate-sage saamgeval het, is juis ’n lekker warm patat omdat ’n papierspoor aandui dat R30 miljoen van die ewe omstrede Vrede-melkplaasprojek gebruik is om vir die troue te betaal.

En dit alles staan en val by een man wat eintlik die hele konsep van die regstaat en demokrasie as gyselaar hou, adv. Shaun Abrahams. As hoof van die nasionale vervolgingsgesag het hy tot dusver alles in sy vermoë gedoen om Zuma in die sogenaamde bande-saak skotvry daarvan te laat afkom. Dit laat die bekende rubriekskrywer, dr. Leopold Scholtz, vra of Suid-Afrika ’n demokrasie en regstaat is. Hy kom tot geen besliste gevolgtrekking nie.

Kan ’n gekaapte staat nog ’n demokrasie en ʼn regstaat wees? Die interessantheid is dat die huidige grondwet, anders as die oorgangsgrondwet, nie bepaal dat Suid-Afrika ’n regstaat moet wees nie. Dit bring egter meer van ’n teoretiese nuanseverskil teweeg, want uit die inhoud van die grondwet is dit duidelik dat dit ’n regstaat veronderstel – of iets bitterlik naby daaraan.

Nou moet nieregeringsorganisasies en die opposisie eers veg daarvoor dat dit in die praktyk neerslag vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rassie Rasioneel ·

Ek vertrou leopold net soveel soos wat ek vir shaun vertrou. Wolf in skaapklere.

Cherokee ·

As jy ‘n rasionele kommentaar beoog moet jy jou bewering op ‘n voetstuk plaas; redes gee vir jou verdagmaking, andersins moet jy van gebruikersnaam verander.

Eish ·

Watter gevolg kan n parlementêre komitee se besluite meebring indien die blik wurms oopgemaak word en besliste bewyse bestaan van korrupsie en kaping soos getuienis reeds bewys het?
Waaroor kan hul besluit?
Hoe afdwing gebaar is hul besluite?
Met die NVG en OB duidelik uit hul diepte asook die lojaliteits kwessie, wonder mens tog waarheen dit stuur?

m.d.r. ·

Staatskaping ? Hierdie is maar net sektorale staatskaping.
In der waarheid is die hele staat gekaap op 27 April 1994……

rassie ·

Beste naamgenoot Rassie,

Alhoewel ek nie altyd met Leopold se menings saamstem nie en dit ook hier op MM al duidelik in kommentare op sy berigte gestel het, stem ek ook nie met jou mening saam nie. Leopold gee ten minste redes vir sy aannames. Jy nie. So jou mening vertrou ek glad nie.

My groot probleem met verdagmakery is dat dit altyd die broodnodige debat binne Afrikaner gelede net daar en dan kelder. Dit gebeur telkens dat ‘n berigskrywer of politieke kommentator eers geklassifiseer word as konserwatief, liberaal, regs, links, pienk, rooi, volksvriend, volksvyand ens ens en dat sy hele mening dan in totaal verwerp word deur diegene wat nie in dieselfde katagorie as die skrywer val nie. Net daar eindig die gesprek dan gewoonlik in verwyte, beskuldigings en selfs beledigings.

Ongelukkig speel ons te dikwels die man as ons self nie weet wat om met die bal aan te vang nie en hou aan skrum terwyl die bal lankal by die bek van die skrum uit is en oor die kantlyn gerol het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.