Nuuskommentaar: Staatskaping – uiteindelik die kommissie

Die lede van die kommissie. Foto: Gertrude Makhafola/ANA

Bitter baie is op die spel met die ondersoek na staatskaping wat nou aan die gang begin kom. Dit handel egter nie net oor die herwinning van miljarde rande wat saam “gekaap” is nie, of die vervolging van skuldiges nie, maar oor die herstel van die beginsel van natuurlike geregtigheid in ons regspraak.

Geduld, en nogmaals geduld is van Suid-Afrikaners verwag om die proses waardeur staatskaping ondersoek gaan word, op dreef te kry.

Amptelik gaan die kommissie onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo nou sy werk begin doen, maar dit is duidelik dat heelwat werk agter die skerms eers gedoen moet word. Volgens Zondo sal die name van sommige ondersoekers nooit bekend gemaak word nie. As rede voer hy aan “om verstaanbare redes”.

Verstaanbaar, maar tragies.

Doeltreffende ondersoekers moet oor spesiale vaardighede beskik. Te maklik word in die konteks van Suid-Afrika as grondwetlike regstaat bloot verwag dat nuwe aanstellings oor ’n LLB-graad moet beskik. In gevalle waar die ondersoeker, of ’n toesighouer, nie ’n aanvoeling vir ondersoekwerk het nie, beteken dit poste word wesenlik afgeskaf, maar teen ’n aansienlike vergoedingspakket steeds ruim vergoed. In sommige kringe word die toenemende tekens van gebreke in afgehandelde sake van die openbare beskermer (OB) juis hieraan toegeskryf.

Daarom is dit verblydend dat regter Zondo se span van kommissarisse nie uitsluitlik regslui is nie. Die sekretaris, dr. Khotso de Wee, beskik byvoorbeeld oor ’n doktorsgraad in openbare administrasie. Die hoof van die ondersoekspan, Terence Mbembe, is byvoorbeeld iemand wat diep spore as geoktrooieerde rekenmeester getrap het. Die ander lede is regslui.

Nou kort die kommissie in sy aanstellingsproses nog mense wat met die span kan saamsmelt en met hul insigte en talente onbepaalbare waardevolle werk doen.

Die proses is egter ook tydrowend, en tyd het Suid-Afrika nie. Die meeste Suid-Afrikaners ervaar dat hulle ook nog erg gaan bloei, terwyl van die hoofverdagtes nog los rondloop. Die relatief stadige pas laat ’n storie gedy dat pres. Cyril Ramaphosa self iewers betrokke is, en tyd nodig het om sy eie spore skoon te vee.

Dié keer gaan dit moeilik wees om feite verdag te maak en uit te gooi. Dit gaan gewoon beteken dat die Zondo-kommissie gaan sink te midde van groot buitelandse ondersoeke, soos nou deur die Indiese Inkomstediens bekend gemaak, asook ondersoeke in die VSA en Brittanje. Dan kan ’n mens nie versuim om na die ondersoekwerk van joernaliste en skrywers te verwys nie. Hierdie ondersoekers en skrywers het reeds gewys hoeveel oopkrappery en onthullings ongeag kwalifikasies moontlik is.

Hierteenoor staan twee “intelligensieverslae” wat in die Zuma-kamp geproduseer is, en ten doel gehad het om Pravin Gordhan en Nhlanhla Nene te diskrediteer. Die verslae het egter die Zuma-administrasie vir sy amateuragtige gehalte aan die groot klok gehang, en is nou skynbaar gerak met die idee om hul bestaan in die vergetelheid te laat verval.

Vir die Zondo-kommissie is die heel belangrikste egter dat Zondo self se naam ongeskonde moet wees. Die Seriti-kommissie onder leiding van regter Seriti was lank reeds gediskrediteer voor die verslag gefinaliseer is.

Die Zondo-kommissie gaan onder enorme druk kom. Zuma en sy blouligbende rits steeds met staatsvoertuie rond. Hy het nog nie die presidensiewonings ontruim nie. Hy sorg dat die openbare oog op hom gefokus bly, en baie van sy ondersteuners glo steeds die beter Suid-Afrika onder Zuma is op pad. Die afgelope paar dae was daar juis berigte oor ’n moontlike staatsgreep in SA.

Die heel belangrikste is egter dat die regstelsel in Suid-Afrika geloofwaardigheid herwin. Dit is in die jongste verlede net te veel deur niejuridiese uitsprake ontsier, wat die verdraaide sosio-ekonomiese en historiese faktore as vertrekpunt gebruik het, eerder as die juridiese, wat tog die beginsel van natuurlike geregtigheid ondervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alida ·

Herman uitstekende artikel soos altyd. Die gesloer en gewag gee hierdie skelms net meer tyd om leuens uit te dink of te vlug. Hulle weet mos lankal wie almal betrokke was. Zuma moes lankal uit die presidentswoning gegooi gewees het. Wat soek hy hoegenaamd nog hier. Gee hom ‘n spertyd en hy moet waai na sy Nkandla paleis en baie vroue toe. Almal wat betrokke was se paspoorte moet ingehandig word anders is al hierdie ondersoeke verniet.

nico k ·

Dit was tog interessant dat daar ‘n hele mag in die Vervolgingsgesag gereed gesit het en die volgende oggend na Zuma bedank het is die eerste Gupta meelopers reeds gearresteer. Daar is dus wel ‘n groot anti Zuma mag in die staat.

Paul ·

Herman, hierdie kommisie is dan nou al kaar gediskrediteer met die aantygings wat die EFF, met Malema aan die voorpunt, vandag oor Terence Nombembe, voormalige outeurgeneraal, se beweerde betrokkenheid by Trillian Capital, ‘n maatskappy wat met die Guptas verbind word, gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.