Nuuskommentaar: Staatskaping uiteindelik onder die loep

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Hoekom sou pres. Jacob Zuma juis nou kopgee en ’n kommissie van ondersoek na staatskaping aanstel soos die vorige openbare beskermer gelas het? Ontleders lees reeds baie bymotiewe in dié verwikkeling.

Teen dié tyd is staatskaping al so afgesaag dat baie Suid-Afrikaners nou, vir eers, eerder kopkrap oor die implikasies van Oprah Winfrey se besluit om haar vir die Amerikaanse presidentsamp beskikbaar te stel. Maar staatskaping is seker die belangrikste saak wat onder die loep geneem moet word.

Pres. Jacob Zuma het waarskynlik ’n rits bymotiewe in die oog gehad toe hy gisteraand laterig aangekondig het dat hy besluit het om ’n kommissie van ondersoek daarna aan te stel. Hy het selfs kopgegee oor die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se dwingende aanbeveling dat die hoofregter die voorsitter van die kommissie sal aanstel. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het adjunkhoofregter Zondo aanbeveel.

Madonsela en verskeie ontleders het egter hul kommer uitgespreek oor die verwysingsraamwerk wat Zuma besonder wyd uitgespel het. Dit veroorsaak eerstens dat, as die kommissie by hierdie verwysingsraamwerk bly en nié dié van die openbare beskermer nie, “nooit” klaargekry sal kan word nie. Tweedens laat dit die deur oop vir verskeie bymotiewe. Die een, volgens ’n ontleder, is dat solank daar twee sentrums van mag in die ANC is, enige optrede teen Zuma as ’n aanval op hom gesien sal word. Dit gee ’n aanduiding dat Zuma nie van plan is om te loop nie.

Meer onrusbarend is dat Zuma sy woorde so gekies het dat dit ook as ’n aanslag teen adj.pres. Cyril Ramaphosa vertolk kan word. Hy stel dit naamlik duidelik dat die ondersoek die opvatting by die publiek moet insluit dat die staat deur private belange gekaap is, ten koste van dié wat deur die publiek in die regering verkies is. Probeer hy impliseer dat Ramaphosa so die leierskapstryd van die ANC ten koste van sy keuse, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, gewen het en ook ondersoek moet word?

Sekere aspekte waaroor hy nou kopgegee het, is steeds onder appèl. Die belangrikste hiervan is dat die hoofregter, en nie Zuma as president nie, die voorsitter moes aanwys. Terwyl die Grondwet die mag van aanstelling aan die president toeken, het die howe dit ook duidelik gemaak dat ’n universele regsbeginsel dat niemand regter in sy eie saak mag wees nie, steeds geld.

Die Seriti-ondersoek na die wapenskandaal sal as ’n groot swart kol tussen die groeiende aantal swart kolle in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis opgeteken bly staan.

Is hoofregter Mogoeng Mogoeng nog te vertrou met die aanwys van ’n regter wat Zuma moes ondersoek? In ’n onlangse minderheidsuitspraak het Mogoeng sy mederegters in die konstitusionele hof daarvan beskuldig dat hulle in hul meerderheidsuitspraak eerder teen Zuma as oor die betrokke regsbeginsel beslis het. Mogoeng het ook aangedring dat sy minderheidsuitspraak tydens uitspraak in die hof voorgelees word.

Alles hang natuurlik van regter Zondo se integriteit af. In hierdie saak is daar geen aanduiding dat hy ’n óórsimpatieke standpunt teenoor Zuma sal inneem nie.

Intussen het verskeie nagevorste boeke, waaronder dié deur Jacques Pauw, die lig gesien wat reeds baie waardevolle inligting bevat wat die kommissie deeglik as algemene verwysingsraamwerk kan benut. Hoeveel van die beskermde bronne bereid sal wees om openlik na vore te tree, sal egter die boeke se trefkrag bepaal. Ondersoekende joernaliste het ook al groot werk gedoen om korrels uit die #GuptaLeaks-e-posse te haal, en verskeie aspekte, soos Eskom se betrokkenheid, is al in parlementêre komitees ondersoek.

Intussen het Zuma op opspraakwekkende manier getoon dat hy steeds daar is, en dat hy sy presidensiële amp kan gebruik om relevant te wees … en te bly.

Dit is immers ondenkbaar dat Zuma die kommissie sou aanstel as hy nie oortuig was dat sy patronate sy bas doeltreffend kan beskerm nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Ja soos die wapenskandaal ondersoek tot n doodloop punt gevorder sal die ook doodloop en niemand sal skuldig bevind word nie…..die man lyk net dom maar hy is baie slim…..

Watch this space…..

Al ·

Inderdaad is Zums die groot strateeg besig om ñ plan van aksie in te stel om te hoop hy wordnie omgekantel nie. Hy besef sy toekoms as presixent hang aan ñ baie dun draad.
Gaan hy mense weer mislei soos met Nkandla toe hy Madonsela se verslag laat sloer het, toe die kritieke 2014 verkiesing op hande was?

snoefie ·

noy word lieflike wortels (winsgewende plase en gratis tersiëre opleiding) onder die massas se neuse gehou om te keer dat hulke teen hom in opstand kom! sies vir rie paddaman wat dieselfde doen.

Jerry ·

Die skrywer se ontleding is akkuraat en beslis nie goeie nuus vir Suid-Afrika nie. N slim mens reageer onmiddellik, want hy is slim, geleerd en vol kennis. N wyse mens reageer eers na hy die kat uit die boom gekyk het en hy het die oplossing gevind, maw op die regte tyd. Zuma het gewag totdat sy adviseurs die oplossing gevind het. N mens kan nou n voorspelling waag en se dat daar dadels van die ondersoek gaan kom en daar is niks wat enige persoon of instansie daaraan sal kan doen nie, veral as almal weer oorreageer. Interresante tye le voor, tye wat insig as vereiste stel in die realiteite van die tyd, plek en mense waarin ons lewe. Die tyd en manier van hoe ons reageer en optree is alles bepalend of geregtigheid sal seevier of nie.

Sarel Strydom ·

Kommissie deur Zuma aangestel ??????? Nog ‘n Zuma grap en die ANC wat spook vir oorlewing vir die volgende verkiesing. Ek wag vir die dag as slim sy baas vang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.