Nuuskommentaar: Staatskapingkommissie – Wag hier weer ’n wapenskandaal?

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Die ANC se entoesiasme oor ’n kommissie van ondersoek na die staatskaping, wat al wat moontlike klip waaronder inligting verskuil mag wees gaan omkeer, word gedemp deur die land se ondervinding met die kommissie van ondersoek na die wapenskandaal. Gaan Zuma die “regte” persoon as voorsitter aanstel?

Een van die hoofredes wat die ANC se woordvoerders, en nie net pres. Jacob Zuma nie, aangee vir die instelling van ’n kommissie van ondersoek na staatskaping, is om diegene wat daarby geïmpliseer word, die geleentheid te bied om hul onskuld te bewys. Die manier waarop die nuus aangebied word, laat enige entoesiasme oor die kommissie egter in die stof byt.

Die noodsaak vir die aanstelling van ’n geregtelike kommissie van ondersoek het sy vernaamste ontstaan uit die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se verslag oor staatskaping, waarin sy nie net so ’n kommissie aanbeveel nie, maar verder aanbeveel dat die hoofregter die voorsitter van die kommissie moet identifiseer. Zuma sou dan volgens sy grondwetlike regte die aanstelling moes doen.

Zuma en sy adviseurs het ’n eng vertolking van die grondwet gebruik om die saak op die rak te probeer plaas. Die grondwet dui immers aan dat die president die alleenmag het om sulke kommissies en hul voorsitters aan te wys. Hulle vergeet egter ook dat alles binne die konteks van internasionale konvensies staan, soos dat niemand regter in sy eie saak kan wees nie. Die onsmaaklike nasleep van die Seriti-kommissie hang nog swaar oor die land, en verskeie instansies is op pad hof toe om dié kommissie se bevindings tersyde te laat stel.

Regter Willie Seriti se aansien het ’n blywende knou weg nog voor enige hof beslis het dat die bevindings tersyde gestel moet word.

Kortom, die skynbare entoesiasme in die ANC oor ’n kommissie na staatskaping, veral die “verklaarde uitkomste”, klink hoogs verdag. Dit beteken nie dat daar ’n belangrike segment binne die ANC is wat hoop dat die kommissie inderdaad tot op die been sal deurdring, en die waarheid genadeloos en sonder aansiens Des, ekskuus, des persoons, aan die kaak gaan stel nie.

Dit wat reeds via mediaberigte in die openbare domein bekend is, skets immers klaar ’n prentjie van groot onheil waaraan daar jare lank gebou is. Die Guptas gooi wal oor die jongste onthullings, naamlik e-posse wat skynbaar ’n groot deel van die staatskaping bewys, en verklaar dat dit gedokterde e-posse is, of dat dit deel is van die fopnuus wat die wêreld nou so oorstroom.

Om ’n bietjie perspektief op die Seriti-kommissie te gee:

Verskeie mense, waaronder Terry Crawford-Brown, het hulle daarvoor beywer dat die wapentransaksie tot op die been oopgekloof moet word. Die saak hang immers steeds soos ’n albatros om heelwat politici se nekke. Ook minstens sommige van die meer as 700 aanklagte teen Zuma hou met die transaksie verband, en sy finansiële raadgewer, Schabir Shaik, het ook reeds tronkstraf uitgedien vir sy aandeel in hierdie “korrupte verhouding”. Nog ’n ANC-politikus, Tony Yengeni, is skuldig bevind en tronk toe gestuur vir sy aandeel in die transaksie. Hy mag nie meer as parlementslid dien nie, maar word steeds deur die ANC as ’n soort held hanteer.

Die groot pikantheid is die ooreenkoms tussen die Seriti-kommissie se mandaat, en dié wat nou aangedui word waaroor die nuwe kommissie sal beskik. Só het die Mail & Guardian die Seriti-kommissie se mandaat beskryf: “It was given wide terms of reference to investigate allegations of fraud and corruption, as well as the rationale behind the arms deal and the economic benefits of the purchase.”

Klink dit nie bekend as daar na die beloftes geluister word oor die magte waaroor die nuwe kommissie sal beskik nie? Beloftes ten spyt, so iets kan juis gebruik word om ’n stofwolk en weinig meer te skep.

Uiteindelik het die Konstitusionele Hof Crawford-Brown gelyk gegee, en is Zuma gelas om ’n kommissie van ondersoek aan te stel. Hy het twee regters, onder wie Seriti, as voorsitters aangewys. Die ander regter het gou onttrek, en so ook van die ander personeel wat gekla het dat Seriti dit in effek duidelik maak dat die kommissie se taak is om die hele aangeleentheid te begrawe.

Die kommissie het uiteindelik bevind dat daar geen spoor van ongerymdhede was nie. Dit staan in skrille kontras teen die feit dat twee prominente persone inderdaad hieroor tronk toe gestuur was.

Seriti is ’n appèlhofregter, en sal volgens Zuma se kriteria die ideale persoon met boonop toepaslike ondervinding wees om die staatskaping te ondersoek. Dit beteken egter nie dat Seriti nog so ’n knou aan sy reputasie kan bekostig nie, en veral nie ’n skandvlek op die regbank nie, sou die hof inderdaad die uitslag van die wapenskandaal se ondersoek ter syde stel. Dit lyk egter of Zuma reeds die “geskikte” persoon geïdentifiseer het om die kommissie te lei.

Deur die openbare beskermer se aanbeveling te systap dat die hoofregter die persoon aanwys wat as voorsitter aangestel moet word, kan Zuma inderdaad sorg dat hy regter in sy eie saak sal wees. Dit mag egter ook wees dat die stroom kritiek van Zuma en sy kornuite teen die regbank reeds sulke diep spore in die gemoed van die regbank getrap het, dat Zuma vir hom as’t ware ’n kat in die sak kan aanskaf. Die aangestelde regter kan besluit om die reputasie van die beswadderde regbank by die breë publiek te bevestig, en ’n deeglike objektiewe verslag te lewer.

Hoewel die ANC die indruk van groot haas met die saak probeer skep, sal die kommissie se verwysingsraamwerk soos aangedui so wyd wees dat die werksaamhede nie oornag afgehandel sal kan word nie. Van die betrokkenes is boonop welgesteld en sal peperduur regspanne kan bekostig wat die kommissie dae lank met regstegnikaliteite en vertragingstaktiek sal kan besig hou. Ook van die politici sal baat deurdat belastingbetalers hul regskostes dek. Getuies oor die staatskaping kan bloed sweet omdat baie van die inligting wat nou gebruik is om die prentjie van die staatskaping te skets, tegnies as hoorsê afgemaak kan word. Seriti het juis met die ondersoek na die wapenskandaal ruim hiervan gebruik gemaak. En gaan die media, ’n belangrike rolspeler, self getuig, hoe gaan die beskerming van bronne die saak beïnvloed?

Ongelukkig is dit ’n swak plek in ons grondwet wat soveel magte aan die president, veral met sleutel-aanstellings, verleen. Trouens, hierdie magte het die president in staat gestel om sleutelaanstellings te doen wat tot sy voordeel, en die land se nadeel, was.

Dié keer is daar moontlik ’n ander uitkoms. Die faksie in die ANC wat sat is vir Zuma raak al sterker, en Zuma mag moontlik weet dat as hy nou skeeftrap met die aanstelling van die regter, hy hom baie maklik in ’n geslaagde mosie van wantroue kan vasloop. Dan is Zuma sommer gou-gou uit, al sou die kommissie hom uiteindelik skotvry van enige gekonkel verklaar.

Enige opgewondenheid oor die kommissie moet noodwendig wag tot Zuma die voorsitter aangestel het, en hiermee kan hy moontlik sloer om seker te maak dat hy die “regte” man of vrou op die voorsitterstoel plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Arie ·

Uit vorige ondervinding met die Seriti-Kommisie weet ons nou al dat dit n nuttelose/vrugtelose uitgawes gaan wees as Mnr Z die voorsitter aan wys sonder konsultasie met die inwoners van die land.

Pierre ·

Soos my dierbare skoon pa altyd se, ja gaan verklaar die duiwel by die hel.

John ·

Die banke en die Ruperts en natuurlik ons lekker-ou-Jan en sy nasate gaan die skuld kry vir al die pyne en skete van die Gupta-clan en hul lekker-lewe-onderdane… soos oa ons Zoeloe-grootbaas. En vergeet maar van ‘n Zuma wat tot inkeer kom… Koop gas en ‘n lekker laaaang-brand-houtstofie want die winter kom met mening…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.