Nuuskommentaar: Staatsrede – ANC wil als buiten fundamentele probleme hervorm

Staatsrede 2022 by die Stadsaal in Kaapstad (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand die jaarlikse Staatsrede gelewer. Jaar na jaar maak Ramaphosa wonderlike beloftes wat ons nie juis nader aan enige goeie oplossing bring nie – minstens nie indien jy uitsluitlik van die staat vir oplossings afhanklik is nie.

John Steenhuisen, leier van die DA, het die staatsrede as ʼn massiewe skuif bestempel – veral die aankondigings oor ekonomiese hervorming het volgens Steenhuisen die regte note getref en was reg uit die DA se boeke. Hier is dit belangrik om te verstaan dat Ramaphosa tog teoreties die regte dinge gesê het oor ekonomiese hervorming – ons moet dereguleer om ekonomiese aktiwiteit te vergemaklik, ons het stabiele elektrisiteit- en watervoorsiening nodig, die private sektor moet werksgeleenthede skep eerder as die staat, en ook dat die ekonomiese probleme wat ons wel het struktureel van aard is.

Steenhuisen was werklik positief oor die feit dat die ANC by monde van sy president uiteindelik hulle aandeel in die probleme kon erken en ook, minstens in woorde en teorie, die regte tipe oplossings kon voorhou. Talle ekonome was ook werklik opgewonde oor die meer realistiese, praktiese en tydgebonde planne wat Ramaphosa voorgelê het. So kan ʼn mens, indien niks anders nie, Ramaphosa 10/10 gee vir sy talent om altyd ʼn prysenswaardige redenaar te wees.

John Steenhuisen, leier van die DA. (Foto: DA/Twitter)

Tog, het Steenhuisen gemeen, het die ANC al in die verlede die regte goed gesê, maar nooit werklik die nodige stappe gedoen nie. Pieter du Toit van News24 het ook in reaksie op die staatsrede geskryf dat Ramaphosa, die groot hervormer, in die wiele gery sal word deur ʼn swak staat. Dus het Ramaphosa absoluut die wilskrag om die land te red, weet presies hoe om dit te doen, maar hy het nie ʼn bevoegde staat waardeur hy dit sal kan doen nie.

Die VF+ se kommentaar in dié opsig was waarskynlik die akkuraatste – volgens hulle het Ramaphosa deur en in sy toespraak die ANC bo die land gekies. In kontras met Du Toit se kommentaar sal die VF+ nie saamstem dat Ramaphosa se grootste probleem bloot uitvoeringsvermoë is nie – dit is veel meer fundamenteel inhoudelik.

Dit is waar dat Ramaphosa die regte kwessies aangespreek het en selfs in sommige aspekte die regte tipes oplossings voorhou. Ramaphosa wys regtens uit dat grootskaalse deregulering van die private sektor en ʼn groterwordende rol vir die private sektor in ekonomiese groei, is wat ons nodig het. Die ewige stryd bly egter dit wat die ANC sien as ekonomiese hervorming en deregulering en die hervorming en deregulering wat ons werklik nodig het. Dit is dan ook waar Groenewald se kritiek die werklikheid perfek opsom; dat die ANC net bereid is om te hervorm in soverre dit nie fundamenteel aan hul party‑ideologie karring nie.

Die feit dat hulle die R350-toelaag vir nog ʼn jaar verleng het (en waarskynlik in 2023 net weer gaan verleng) bevestig dit dubbel en dwars. Die ANC kan doodeenvoudig nie wegskram van die maatskaplike afhanklikheidstaat kweek en uitbou nie – dit wesende een van die grootste bydraende faktore tot ʼn lomp en finansieel parasitiese staat. So druis vandeesweek se verhoging van die minimum loon in teen die hele gedagte van deregulering met die doel om die private sektor te bevry. Die regering se aandrang op ʼn minimum loon kniehalter uiteindelik net die arbeidsmark met minder mense wat toegang tot werke kry omdat die “prys per werker” kunsmatig hoër gehou word as dit wat die mark eintlik kan betaal. Dit is dan nog nie eers gepraat van die oorgroot en oorgesentraliseerde aard van die staat en alle probleme wat daaruit vloei nie!

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die Staatsrede 2022 (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Interessante kommentaar op die staatsrede was ook afkomstig van Qaanitah Hunter, News24 se politieke redakteur, wat juis kritiek gelewer het teen Ramaphosa se groter betrekking van die private sektor by oplossings wat die staat eintlik moet uitvoer. Sy verwys spesifiek na die aanstelling van Sipho Nkosi, voormalige CEO van Exxaro en huidige voorsitter van die Instituut vir Kleinsake, as hoof van die span verantwoordelik vir die groter deregulering van die private sektor. Dit spreek vir haar van ʼn president wat gefrustreerd is met sy eie regering se onvermoë om gedoen te kry wat gedoen moet word. Aangesien Ramaphosa egter weens politieke redes nie net mense links en regs kan vervang met eweknieë uit die private sektor nie, word hy “gedwing” om deur taakspanne, adviseurs en panele te regeer. Hier kan ʼn mens weereens terugverwys na Groenewald se uiters geldige kritiek.

Hunter meen dat Ramaphosa hierdeur die deur oopmaak vir ʼn klein parallellestaat om in sy regering tot stand te kom – een wat eintlik los staan van die staat, tot ʼn mate in beheer is van sake, maar veel beter funksioneer as die staat self. Dieselfde regering wat al die probleme in die eerste plek geskep het, gaan steeds hand aan hand met dié vennote uit die private sektor moet saamwerk, omdat daardie selfde swak regering die regering gaan bly – uitsluitlik weens politieke onwilligheid om die nodige stappe vir radikale verandering te doen.

Die waarheid wat Hunter (dalk per ongeluk) hiermee saamvat, is die volgende: Daar waar die ANC as party onwillig is om van die staat te onttrek, ontkoppel gewone burgers noodgedwonge daarvan. Omdat die ANC volkome onwillig is om hul magtentakels uit die staat los te maak, word die staat al groter en ook al swakker. Namate die staat verswak, verswak die omstandighede op grondvlak daarmee saam en word mense gedwing om na alternatiewe oplossings buite die staat te soek. Sodoende bestaan daar reeds ʼn parallellestaat op grondvlak waarin mense noodgedwonge en ontkoppel van die staat die werk doen wat die regering eintlik veronderstel is om te doen – soos persoonlike veiligheid, private mediese sorg, gemeenskapsinstandhouding van infrastruktuur en beheerliggame wat eintlik maar staatskole dra.

So is dit ook die perfekte opsomming van vanjaar se staatsrede. Omdat die ANC so onwillig is om grootskaals van mag, ideologie en die staatsmasjinerie afstand te doen, verklaar hulle hulself toenemend irrelevant. Sodoende is die ANC bereid om alles te hervorm en verander buiten die probleme wat aan die kern van amper alles anders staan – ANC-ideologie en magshebsug self.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Dit is hoekom mens eerder vir die VF+ moet stem as die DA, hulle verstaan dinge beter en wil nie net die heletyd handjies vas hou met hulle maaitjie nie.

Jacobus ·

Kan jy my se waar regeer die VF+ sodat n mens kan sien wat hulle al reggekry het en dat dit nie net praat is nie? Soos bv die goeie werk wat die DA in die WESKAAP doen. Ja ek bly in die WESKAAP so ek praat van eerstehandse ondervinding.

annie ·

Dit kan ook beteken dat Cyril ‘n dubbelagent is. Die tweede staat word dalk geskep om beleggings te lok dmv oëverblindery; dat dinge beter word want kyk hoe vrolik is die private sektor oordat hul vry is, maar eintlik word hul die slawe van gierige, skelm, lui ‘egiptenare’ wat net wag vir biljoene om in te rol, werkgeleenthede/geld geskep word vir nog rykdom/mag vir die ANC en hul Cyril. Gryp gaan hulle aanhou gryp. Onthou WO’e is manna uit die hel vir boewe want die aandag is elders.

efjy ·

Beloftes maak skuld. Die meeste beloftes is reeds 28 jaar oud en daar het nog niks van gekom nie. Wat gaan die keer anders wees?

Herman L ·

My ma het altyd gesê ‘n jakkals verander van haar, maar nie van streke nie. Jy kan nie die ANC se DNA verander nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.