Nuuskommentaar: Staatsrede: Die prez se drie huise en die wolf

President Jacob Zuma en sy vrou Nompumelelo Ntuli Zuma op 17 Junie 2014 voor die parlement. Foto: GCIS

President Jacob Zuma en sy vrou Nompumelelo Ntuli Zuma op 17 Junie 2014 voor die parlement. Foto: GCIS

As pres. Jacob Zuma se staatsrede in oënskou geneem word, herinner dit aan die verhaal van die drie varkies wat elk ‘n huis gebou het – die eerste van strooi, en die tweede van riet, en die derde van steen. Die honger wolf het gou met die eerste twee huise klaargespeel deur dit om te blaas, maar die derde huisie het die wolf se aanslae weerstaan.

Met ‘n goeie staatsrede sou die swakhede in die ekonomie aangespreek word om te verseker dat al die huise so stewig soos die huis van steen staan.

Zuma se adviseurs het wel min of meer die regte sake geïdentifiseer wat aangespreek moet word, maar die boumateriaal wat hy bestel het, is hoofsaaklik strooi. Dit lyk of die president se adviseurs hulle laat lei het deur die staatsrede van Duitsland, en dit wat ook in die VSA as die vernaamste kwellinge van kiesers is. Volgens die jongste Rasmussenpeiling plaas die meeste Amerikaners die ekonomie, gesondheidsorg en staatsuitgawes aan die bo-punt van hul kwellinge.

Die ekonomie en werkskepping het, soos in die Duitse staatsrede, hoog op Zuma se agenda nesgeskop. Soos in die Duitse staatsrede spreek Zuma die energiekwessie aan, maar ontspoor dan by die hóé: waar Duitsland op hernubare bronne fokus en teen 2050 tagtig persent van die Duitse elektrisiteitsbehoeftes uit die hernubare sektor wil voed, verbind Zuma die land tot hidro-breking en kernkrag. Beide is omstrede, en in die praktyk word steenkoolsentrales ook nog gebou. Hy het darem ook na wind- en sonkrag as deel van die energiemengsel verwys, wat bespoedig moet word, maar stel weer ‘n burokratiese proses voor om dit te bewerkstellig.

Zuma wil ‘n miljoen werksgeleenthede in die landbousektor laat skep. Soos in Duitsland en die VSA, stel Zuma ‘n hoë premie op ‘n minimumloon. Maar wat die VSA en Duitsland betref, is daar staatsubsidies vir die landbou. In Suid-Afrika word die werk- en welvaartskeppende deel van die landbou op talle maniere bedreig – van plaasaanvalle tot vee- en gewasdiefstal, tot  klimaatsuiterstes en onsekerheid oor produksiesekuriteit en eiendomsreg.

AfriForum vat raak met die volgende stelling: “Dit wil voorkom of die president radikale ingryping op al die verkeerde plekke wil toepas, terwyl die areas waar radikale ingryping benodig word, grotendeels geïgnoreer word.”

Vragte strooi word bestel in plaas van stene – meer en meer staatsinmenging of regstreekse staatstoetrede tot die ekonomie, wat eintlik roep om minder staatsinmenging om behoorlik werkskeppend te kan wees.

Selfs die EFF het ‘n punt beet deur die staatsrede as ‘n dwepery met middelmatigheid te beskryf.

Die ANC is tevrede met Zuma se staatsrede, maar het volgens een bron dit as “voldoende” beskryf. Vir ‘n staatsrede word ‘n bietjie meer as “voldoende” verlang, maar ook darem gestroop van beloftes wat nie nagekom gaan word nie, of nie eens nagekom kan word nie.

Die opposisiepartye, behalwe die NFP wat in ‘n ANC-bondgenoot ontpop het, is minder opgetrek.

Die waarde van die staatsrede lê egter in die uitvoering en uitvoerbaarheid van dit wat aangekondig is. Met die munisipale verkiesings oor minder as twee jaar sal dit min verbaas as die beskikbare bronne eers die volgende twee jaar aangewend sal word om op munisipale dienste vir agtergeblewe, verstedelikte gemeenskappe bymekaar te hark nie. Dit is inderdaad as prioriteit genoem. Maar omdat die ANC tot rasgebaseerde bemagtiging en kader-ontplooiing verbind bly, kan dit ‘n bodemlose put word. Veral as korrupsie nie eers behoorlik vasgevat, en nek omgedraai word nie.

Die woord “transformasie” word nou links en verder links deur die regering ingespan, en verstaan skynbaar iets daarmee wat nie so lekker met die verklarende woordeboeke strook nie. Strooihuise word steeds deur kaf aanmekaar gesit, en steenhuise, soos Nkandla, word dikwels op die dryfsand van omstredenheid gebou.

En die honger wolwe is baie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae