Nuuskommentaar: Staatsrede – eenheid of verdeel en heers?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

’n Dag voor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede 2019 is daar baie rede om groot afwagting te hê oor wat die president op die hart het. Na wat berig word, sal ’n aankondiging oor ’n moontlike reuse-olievonds aan die Suid-Afrikaanse kus “binne dae” volg.

Dié berigte is enkele dae gelede gepubliseer, en môre se staatsrede is ’n gepaste geleentheid om dit amptelik bekend te maak. Volgens Gwede Mantashe, minister wat met mynbou belas is, sal so ’n vonds vir Suid-Afrika se ekonomie ’n reusehupstoot inhou.

’n Ander ideale geleentheid was gisteraand toe Ramaphosa die groot internasionale mynboukongres in Kaapstad toegespreek het, maar dit blyk geen woord oor die vonds is gerep nie. Die kongres duur egter nog tot Vrydag, en ’n woord môreaand kan nog op Vrydag se kongresverwikkelinge te berde gebring word. (Lees die agtergrondskets heel onderaan die nuuskommentaar.)

’n Moontlike olie-aankondiging sal heelwat aandag aflei van verskeie sake wat bygedra het daartoe dat die aanvanklike Ramaforia doodgewurg is. In die gesamentlike hoofartikel van die Netwerk24-dagblaaie skryf die koerante van die groep dat Ramaphosa om verskeie redes nie die luukse het om te hou by sy voorneme dat die staatskapingsondersoeke eers afgehandel moet wees voor vervolging van mense wat daarmee verbind word, kan begin nie. Die koerante verteenwoordig hiermee die gevoel van talle, ook van verskeie ontleders, politieke partye en veel meer.

Pres. Trump in die Roostuin by die Withuis (25 Januarie 2019)
(Foto: AP Photo/ Evan Vucci)

Ramaphosa se staatsrede, kortweg Sona genoem, volg kort op die hakke van pres. Donald Trump se staatsrede. Trump se fokus was op eenheid, terwyl sy teenstanders meen hy is die mees verdelende president wat die VSA nóg gehad het. Dit is nog te vroeg om te sê of die toespraak enigsins tot eenheid sal bydra – en ironies is ’n “verdelingsmuur” om onwettige immigrante uit te hou, deurslaggewend aan die “partisanship” soos die verdeeldheid bekend staan. Dit bevat meer as ’n tikkie ironie dat Sona in die VSA bekend staan as Sotu (State of the Union). Maar van “union” is daar nou min sprake.

Al het die aanvanklike berigte oor die “vermaningsbrief” van die vyf voorste beleggerslande in Suid-Afrika die kat effe aan die stert beetgehad wat feite betref, is die oorhoofse reaksie daarop grootliks in die kol, en dit is dat Suid-Afrika nie ’n internasionale rolspeler in die beleggingsmark kan wees deur die harde werklikhede met fiksie en voeteslepery te vervang nie. Planne om die ekonomie deur grondgryp sonder vergoeding te laat slaag, voete te sleep met die vervolging van (ANC-)leiers oor staatskaping en korrupsie, asook deur die afwys van werklike talent oor mense se (wit en bruin) velkleur, is gewoon doodgebore.

Om die vyf lande soos klein stouterds te gaan vasvat en te dissiplineer gaan boemerang.

Met vandag se kommunikasie is daar geen manier dat ’n president kan wegkom met die ou stamhooftradisie om vir elke gehoor te vertel wat hulle wil hoor nie. Sulke “goedbedoelde” mededelings staan môre in die koerante en kan deur lesers vir wie dit bitterlike slegte nuus is, gelees word. Ramaphosa se voorganger het dit ook probeer, en dit het sy geloofwaardigheid tot niet gemaak. Daar is reeds net te veel voorbeelde van waar Ramaphosa ook in die slaggat getrap het.

Een hiervan was ’n ope brief van die Afrikanerbond aan die president waarin kommer uitgespreek word dat Ramaphosa nie konsekwent is aan die versekerings wat hy tydens die AB se eeufeesviering gedoen het nie. Ook ander het Ramaphosa hiervan beskuldig.

da-verkiesing

Argieffoto: Reint Dykema

Suid-Afrika het nou werklik goeie nuus nodig om die leeggemelkte ekonomie weer op dreef te kry, en die moontlike groot olievonds kan daardie towerstaffie oplewer.

Terwyl dit nog tot ’n dekade kan neem om ’n olievonds in volle produksie te sien, sal dit bepaald die nodige atmosfeer skep vir ’n toestroming van beleggers. Geld maak wel stom wat krom is, maar dit sal nog indrukwekkender wees as dit nie gepaardgaan met beleid en praktyk wat afbreek nie.

Maar nou ja, dis verkiesingsjaar en dit kan dalk baie stemme trek deur te voed op valse persepsie. Die EFF het reeds die toon aangegee met ’n verkiesingsmanifes wat ten beste as ’n onuitvoerbare wenslys beskryf kan word.

Suid-Afrika betaal nou reeds aan die gevolge van die praktyk van “koop (en steel) nou, en betaal later”. Veral as baie geen voorneme gehad het om wel later te betaal nie.

As Brulpaddaveld wel olie het, gaan SA nog lank daarvoor wag 

As Suid-Afrika se Brulpaddaveld sowat 150 km see-in van Plettenbergbaai wel ryk aan olie is soos wat nou verwag word, gaan dit nadat dit raakgeboor is nog tussen agt en tien jaar neem voor dit in volle produksie is.

Die veld, waar die see 1 500 m diep is, en die olieboor tot op 3,42 km onder die seebodem gesink word, sal na verwagting tussen 500 000 miljoen en ’n miljard vate lewer. Van die vennote meen dit kan selfs meer as dubbel soveel wees. So ’n vonds sal aan Suid-Afrika se ekonomie ’n ander dimensie verskaf.

Boorwerk in die gebied het reeds in 2014 begin, maar die destydse boortoring kon “net” effens meer as 2 km diep onder die seebodem boor.

Destyds is gesê die boorwerk aan die Suid-Afrikaanse kus kos sowat R10 miljoen per dag.

’n Finale aankondiging dat die olie gevind is, word binne dae verwag.

Intussen is daar belowende tekens dat Suid-Afrika oor nog groot olie- en gasreserwes aan die kus, ook teenoor Port Elizabeth en die kus van KwaZulu-Natal beskik. In ’n stadium is berig dat meer as 60 eksplorasie-aansoeke aan die Suid-Afrikaanse kus ingedien is.

’n Groot bonus is dat die Mossgas-aanleg reeds bestaan. Dit word nou al etlike jare nie meer intensief benut nie, nadat Suid-Afrika se olie- en gasreserwes wat op die Agulhasplaat ontdek is, uitgeput geraak het.

Olievelde vorm dikwels waar die kontinente van mekaar weggebreek het. Ook Argentinië bemark nou sektore van sy kontinentale bank vir die soektog na olie, en verwag groot vondste. Dit word effens gekompliseer deur Argentinië se aanspraak op die Brits beheerde Falklandeilande wat ook op die kontinentale plaat voorkom.

Die ironie is dat, voor kontinentale drywing plaasgevind het, die Falklandeilande suid van die teenswoordige Plettenbergbaai geleë was, en dit is waar die olievonds nou verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

jaco ·

En al word die olie ook suksesvol ontgin, keer regstellende aksie maar net weer dat wit, bruin en Indiër daar werk sal kry.
En binne 5 jaar collapse die hele ding weens BEE eienaars se korrupsie.

Jerry ·

Vir wie moet SA die ekonomie op dreef kry, vir verdere verryking van die ANC elite en revolusionere strukture, dis vir wie! Hierdie geleentheid om Eskom en die ANC tot ons voordeel te dwing of om hulle te sink gaan nie gou weer gebeur nie omrede die ANC vorentoe net ryker en magtiger gaan raak. Loods die teen revolusionere aanslag nou sodat die teen revolusioneres ingesluit word by die ekonomie en helfte van die koek beheer!

Potties ·

As die olie storie gaan gebeur gaan daar groot korupsie weer wees aie tog !!!!!!!!

Afrikaner ·

Jip, dalk kan die oliefonds ons denke aflei van die ANC se gebreke en in die hek se geduik, ook vergoed vir die doodwurg vir die aanvanklike Ramaforia, so wag ons nou op sy mootlike aankondiging die week sodat hy en sy party met die louere kan wegstap, so asof hy die olie ontdek het.

Ons het lankal iets positiefs nodig om ons op te beur, enigiets, en toe kom dit van buite die landsgrense af. Maar dan dag ek die oliefonds is deur Total gemaak, daar waar hulle 150 km suid van Plet doenig is, en nie Cyril nie, tensy hy sy naam nou na brulpadda verander het.

MAMMA PADDA ·

Ai Herman, hoe lekker lag ek nou oor daardie Brulpaddaveld. Baie baie goeie Nuuskommentaar, baie dankie.

humor ·

Eerstens het ek geen probleem met die eenheid waarna Trump strewe nie. Solank hy net daarna strewe dat dit aan die regte kant van die muur is. Verder kan ek net nie opgewonde raak oor die nuut gevonde oliebron nie. Afrika se mynvelde is leeg gewerk en is steeds arm. Die bietjie wat na ons kant toe val, sal in n sosialistiese kommunistiese staat nie veel vir niksseggende minderheidsgroepe van waarde wees nie.

John ·

Ja… groot drome… om Venezuela na te doen. Kyk hoe goed gaan dit met die Nigeriese bevolking. Hulle hang hier in Gauteng uit. Die volk moef altyd ‘n wortel voor die neus he. Die Sokkerwereldbeker was ook so een… Kry almal in vervoering en vergeet van die feite. En een twee drie beheer ‘n buitelandse instansie die oliebronne en die geldjies drup-drup in ons geldlaai. Wat nou gaan gebeur is dat SA groot skuld gaan maak, geborg deur die droom: Eskom styl. Ons gaan nog wens ons het ‘n muur tussen ons en die buurlande.

Riaan ·

Lekker skep hier kom ons pappie ,niks sal vir die volk oor bly

H.A. ·

Hier kom die plundering voordat enige olie nog uit is. Stem vir die anc, húlle het olie ontdek!

Jerry ·

Die ANC kan na staatskaping nie vertrou word om die ekonomie met kaderontplooiing te bestuur nie! Die ANC moet geboikot word totdat die ANC toegee aan teen revolusionere eise van onder andere die aanstelling van teen revolusionere kapitalistiese kundiges om die ekonomie te bestuur en te beheer.

Sarel ·

Eenheid, nee, verseker nie as ons kyk na wat hul reaksie op die 5 internasionale lande se brief aan Cyril was nie, BEE en grondhervorming (dis nou die terugvat van grond) is ononderhandelbaar, dit is ‘n gegewe, want dit is al wortel wat hy het om vir sy kiesers voor aan die stok te hang.

Dan my versugting:
1) Hy moet net nie vir ons vas in die oë kyk en vertel vye is nie vye nie, en uit twee monde praat nie.
2) Hy moet korrupsie NOU vasvat, soos iemand wat weet sy integriteit en oorlewing hang daarvan af, so belangrik is dit vir die land en die internasionale gemeenskap.

Spike ·

Daar is alreeds aan die papbroek pres gesê wat hy moet sê. Die comrades en kaders hou hom dop.

Spike ·

Sarel, comrades en kaders sal vertel dat vye perskes is en hulleself glo.

Gert ·

Kyk maar na “ons” beste vriend Venezuela, van die meeste olie op aarde, en almal vrek van honger. DIs wat sosialisme doen, en dis wat hier gaan gebeur. Sosialisme verwoes alles wat goed kon wees.

Gemaskerde Sopbeen ·

Daarsy!! Suig die aarde leeg…..gebruik dit op….verwoes alles….Ons kan later wonder wat het gebeur…. Word nie verniet die MENS”dom” genoem nie…

Jef ·

Dit val wel op dat China die afgelope jare intens belang stel in SA se ekonomie maar natuurlik hulle weet mos al lankal van die olie by Plet.
En dan skielik die 5 lande wat aanklop by die voordeur van SA wat ook snuf in die neus gekry het van die olie by Plet.
Hierdie betrokke lande het na my insiens geen belangstelling in die wel en wee van die burgers van SA nie want hulle het hul eie kopsorge maar waar dit by die lande om gaan is om ook n vinger in die pap te he as die tyd aangebreek het om geld te skep vir eie landsbelang.
En so raak SA al sy groot bedrywe en of fabrieke kwyt aan die buiteland, kyk maar na de Beers maatskapy en Mittal voorheen Yskor om maar n paar te noem.
Dit is maar net my mening.

Judge Dredd ·

As hulle wel olie ontdek, kyk dan hoe stroom die ekonomiese migrante die Wes-Kaap binne en daarmee saam is die DA se beheer ook daarmee heen – DA het hoogstens nog 10 jaar oor.

Stripes ·

Ek hoop ek is verkeerd maar om aankondiging te maak voor daar wel iets ontdek is klink vir my na ‘n herhaling van die Ikwezi storie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.