Nuuskommentaar: Staatsrede of staatstrauma?

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

Donderdag se staatsrede is heel moontlik die laaste kans wat pres. Cyril Ramaphosa gaan kry om hom as leier te vestig en baie van sy vyande koud te sit. Maar dan sal hy gou en beslissend met die Ace Magashules, om nie van die Julius Malemas te praat nie, ontslae moet raak, en van sy rasbenepenheid moet afstand doen, soos die TLU SA hom ook gewaarsku het.

“Dalk moet pres. Ramaphosa sy rassehaat eenkant toe skuif en eerder uitreik na die beste kundigheid, ten spyte van kleur, wat weet wat dit gaan verg om ons ekonomie om te draai en hulle die kans gee om die regte rigting aan te dui. Die ANC is steeds vasgevang in ʼn ideologie wat wêreldwyd nog net armoede en werkloosheid kon skep.

“Die ANC en sy drieparty-alliansievennote se gesamentlike invloed op Suid-Afrika het te duur geword vir die land. Die dilemma is dat die hef aan nog voorlê tensy die ANC by die punt gebring gaan word dat sosialisme en kommunisme in totaliteit verwerp word,” aldus mnr. Louis Meintjies, president van die TLU SA.

Donderdag is dit weer tyd vir die president se jaarlikse staatsrede. Dis ’n tradisieryke geleentheid wat gevolg het nadat pres. George Washington die eerste State of the Union-rede in 1790 gelewer het. Die term, State of the Nation, is later gebruik. Ná 1994 het dit in Suid-Afrika ’n belangrike uithanggeleentheid geword, en onder sy Engelse afkorting, Sona bekend geword.

In elke land waar ʼn Sona in gebruik is, het sy eie tradisies ’n neerslag gevind. In Suid-Afrika maak dit deel uit van ’n proses, beginnende by die ANC se sogenaamde 8 Januarie-toespraak. Dit het die naam behou, al vind dit selde nog spesifiek op 8 Januarie plaas. Dan volg die Sona wanneer die president veronderstel is om sy ANC-kepsie tuis te laat, en sy kuil as staats- en regeringshoof op te sit. Hierna volg nog aaneengeskakelde geleenthede soos die begrotingsrede, elk met sy eie fokus. Die Suid-Afrikaanse staatsrede is veronderstel om ’n opgawe van die stand van die nasie te wees, met ’n belangrike klem op al 11 amptelike tale waarin dit veronderstel is om beskikbaar gestel te word.

Van ’n waardige geleentheid is daar in Suid-Afrika nie sprake nie, nadat die EFF dit as gevegsfront teen die ANC, en meer spesifiek die president begin gebruik het. Die sogenaamde “Wit Hemde” het bekend geword weens hul omstrede taak om hardhorende en opruiende LP’s “met parlementêre waardigheid” te verwyder. Die EFF het reeds kennis gegee dat hulle Donderdag amok gaan maak as minister Pravin Gordhan “nog nie” ontslaan is nie.

Wat die EFF betref, dit toon weer die noodsaaklikheid van ’n soort “siftingsproses” wat in die hande van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gesetel is om partye wat as sodanig geregistreer word te verbind aan die bepalings van die Grondwet alvorens hulle geregistreer kan word. Weens uitlatings wat uit die geledere van die EFF gekom het, en wat hoegenaamd nie met die Grondwet gestrook het nie, het die Vryheidsfront Plus beswaar gemaak teen die EFF se voorgenome registrasie. Die OVK het besware egter geïgnoreer, en het sedertdien erg die spit afgebyt hieroor. Die les was egter nog nie geleer nie, en die BLF is in weerwil van die onsinnigheid hiervan geregistreer, maar die OVK moes onder appèl die brouwerk herstel.

Die staatsrede van vanjaar gaan dus weer sirkusagtig wees, en die regering het vooraf behoorlik kennis gekry. Die statuur daarvan is egter hoog omdat dit tradisioneel in Suid-Afrika met die parlementsopening saamval, en dus deur hooggeplaastes soos ambassadeurs, oud-presidente en ander bygewoon word. ’n Sirkusagtige geleentheid is ’n ernstige klad op die beeld van die land.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede (7 Februarie 2019). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Ramaphosa lewer vanjaar sy vierde staatsrede, met die voorafgaandes wat elk onder hoogs ongewone omstandighede plaasgevind het. Vanjaar is hy onder groot druk omdat daar min suksesse is om voor te hou, met veral staatsondernemings wat noustrop trek. Voorts raak ’n groot deel van die publiek kriewelrig oor die verdoemende getuienis wat voor die Zondo-kommissie afgelê is, maar die oranje pakke bly nog uitstaande.

Weens die styl van oudpres. Jacob Zuma het Sona ook die beeld en reputasie van kluitjies bak gekry. Nadat Ramaphosa ook ’n ruk met die waarheid kleigetrap het, is daar ’n breë konsensus dat alles wat Ramaphosa nou gaan kwytraak, die kluitjiebak-toets moet deurstaan. Hierdie bied nou die ideale geleentheid dat hy van die spook, Ramanoccio, ontslae raak.

Hy kan ook nie te lank die indruk bly skep dat hy in sy spore moet trap om nie by Comrade Eisj in die moeilikheid te wees en dan ge-Mbeki te word nie. Soms moet ’n mens baklei om ’n geveg te wen. In dié stadium lyk dit of Ramaphosa nog net liggies wil indans en pikhoutjies uitdeel voor hy weer na buite bereik wil wegdans. Miskien moet Ramaphosa se span die skeidsregter begin dophou, want iemand is besig om die president pimpel en pers te moker.

Die vermaarde Pruisiese kanselier Otto van Bismarck het sy keiser met groot oorwinnings gedien, onder meer deur sy verslane vyande nie te verneder nie. Trouens, hy het hulle met die vredesluiting laat voel hulle het eintlik gewen. Bismarck se “beloning” was om as eensame man op sy familielandgoed te gaan aftree. Dis iets waarvoor Ramaphosa ook moet oppas – om nie kort voor lank deur sy vyande wat hy so met handskoentjies hanteer, ook vereensaam op een van sy plase te beland nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

CR is in n hoek sal nie verbaas wees hy swaai i heeltemal na links en dat hierdie een vd slegste staatsredes sal wees nie soos reeds bewys is hy nie n leier wat standpunt kan inneem of leiding kan gee nie

Porseleintjie

Staatsrede maar net iets wat in n groot verleentheid vir SA gaan ontaard. Ons weet tog dis net leë woorde op die rug van die wind.

Jakes

Jammer dat CR maar n skoothondjie vir die ANC is. Die ACE Magashule faksie beheer die denke en besluite van die regering dus bly CR bloot n pion van die ANC.

ElizeK

Puik artikel en goed gestel. Ongelukkig, volgens my, is hierdie skip wat SA is, net soos die Titanic, oppad om n ysberg te tref en te sink. Dit is met groot hartseer dat ek die stelling maak, want ek was lief vir my land gewees.

Grassie

Ramaphosa het die enigste kans wat hy gehad het om van Eish ontslae te raak deur sy vingers laat glip. Hy kan hom nie afdank nie want hy is op die ANC-algemene vergadering in sy huidige pos verkies. Net toe CR aan bewind gekom het was daar baie bewerings van korrupsie daar in die Vrystaat teen ou Eish. As CR toe die Valke opdrag gegee het om dit indringend te ondersoek sou Magashule dalk gesneuwel het. Dit is nou te laat