Nuuskommentaar: Stadig, Maimane, moenie nou hand oorspeel

Mmusi Maimane, leier van die DA

Omstandighede, veral die bewese swak plekke van pres. Jacob Zuma, het ruimskoots daartoe bygedra dat die DA en ander opposisiepartye die afgelope jaar, en tot die mosie van wantroue, ver by hul gewigsklas verby kon boks. Die oorgewig, agterbakse skoolboelie het ’n paar lelike houe weg, en boonop is sy hemp ook nog geskeur sodat sy ma hom gaan slaan. Dié verworwe wysheid moet nou deur die opposisie gekoester word, en nié deur eensydige optrede ten opsigte van belangrike sake gerysmier word nie. Die DA moet sy brouwerk gou regmaak.

Opposisiepartye in Suid-Afrika het nou die geleentheid om, danksy pres. Jacob Zuma se voete van klei, ver bo hul gewigsklas te kan boks. En so byna het dit reeds beslag gekry toe die onlangse mosie van wantroue vir die ANC met ’n yslike warm patat gelaat het.

Die kern van die sukses is, en dit is telkemale deur die opposisie so uitgespel, dat die aanslag téén Zuma, en nie die ANC nie, gemik was. Die ANC se Achilleshiel kon van die regerende party geïsoleer word, en die opposisiepartye kon, weliswaar ongeorganiseerd, saam met ANC-alliansievennote soos Cosatu en die SAKP trek, en blinde ANC-lojaliteit so ten dele systap. ’n Beduidende vyfde kolon kon opgebou word.

Dat die mosie nie geslaag het nie, is te danke daaraan dat dit, soos Vryburger van Die Burger dit gestel het, in die ANC ontaard het in ’n “motion of no conscience”. Ander belange soos korrupsie, staatskaping, patronaatskap en baantjies vir boeties kon weer ’n dominante rol speel, terwyl die wiele van Zoeloefikasie weer duidelik aan die rol begin kom het (maar gelukkig nie almal in dieselfde rigting trek nie).

Maar dit was duidelik dat daar wel ANC-LP’s was wat die unieke geleentheid benut het om volgens hul gewete te stem. Gelukkig of ongelukkig, sal ons nooit presies weet wie hulle was nie. Die feit is, dit is nie so maklik vir die ANC om alle eendjies in gelid te kry nie. Soos toe Lindiwe Zulu ná die mosie gal afgaan oor ANC-LP’s wat so verkeerd sou wees om téén die ANC se koukusbesluit te stem, sy regstreeks deur Lindiwe Sisulu gerepudieer is wat onder meer daarop gewys het dat die konstitusionele hof van LP’s verwag om volgens hul gewete te stem – en dit is wat sommiges gedoen het. Tot baie onlangs was dit ondenkbaar dat iemand uit die ANC se Xhosa-“adel” soos Sisulu ’n Zuma-lakei soos Zulu so openlik op morele gronde sou afransel.

Kommentators het dit ook eens dat die ANC nou met baie gebakte pere sit, en self sal moet plan maak om die situasie op te klaar. Die verkiesing van 2019 is immers nie meer ver in die verskiet nie, en soos sake nou staan, kan Zuma die ANC die verkiesing kos.

Zuma klou so aan sy posisie wat hom teen vervolging en tronkstraf moet verskans, dat ’n grappie nou die ronde doen dat die Proteakeurders Zuma as kolwer moet insluit, want niemand kry hom uit nie.

Wat die DA en Maimane nou gedoen het met hul mosie dat die parlement ontbind en ’n vervroegde verkiesing gehou word, is om die opposisie die angel te ontneem dat die geveg uitsluitlik teen Zuma gemik is. Nou word die ANC aangedurf, en onmiddellik is die ANC wat dit betref op veilige grond. Hulle het mos deurgaans aangevoer die DA en ander opposisiepartye is eintlik daarop uit om die ANC by te kom.

Natuurlik moet die ANC uiteindelik onder skoot kom, maar vir eers doen die ANC op eie houtjie dié werkie aansienlik beter as wat die opposisie dit kan doen. Die ANC wurm hom al in die vuurlyn in, en word getref deur vernietigende koeëls wat eintlik vir Zuma bedoel is. Die hantering van die #GuptaLeaks is ’n treffende voorbeeld.

Daar is baie ander oorwegings hoekom opposisiepartye nie slaggereed is om nou verkiesing te hou nie, soos dat die OVK se ratte nie so gou geolie kan raak nie, en dat partye hul beplanning vir 2019 mik. Daar is bepaalde stappe waardeur professionele partye se kommunikasie strategies op verkiesings afgestem is. Geldinsameling sou ontwrig word. En ten slotte, die mosie sal misluk, en dit is sleg vir die opposisie se beeld om juis nou, terwyl die ANC nog snak na asem ná ’n bobaas-opstopper in die wind, asem te kry.

Dit staan egter ook in ’n groter konteks. Dit behoort meer as ander partye te weet, en dit is dat ’n nuwe regering lank, en moontlik permanent, koalisiepolitiek sal moet bedryf. Die kiesstelsel wat Suid-Afrika het, leen hom tot koalisievormings soos wat Wes-Europa ken. Dit beteken dat potensiële koalisievennote in veral belangrike besluite soos hierdie geken moet word om die klimaat vir samewerking te voed. Dit is klaarblyklik nie gedoen nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, het dit waarskynlik die raakste opgesom met die volgende: “Die Demokratiese Alliansie (DA) se voorgestelde mosie vir ʼn vroeë verkiesing is opportunisties, sal nie slaag nie en sal Zuma versterk. Die afgelope mosie van wantroue het getoon dat die ANC-LP’s bereid is om die party (ANC) te beskerm, ondanks ongelukkigheid oor Zuma en staatskaping.

“Die DA moet daarteen waak dat sy optrede nie die Zuma-faksie binne die ANC bevoordeel en versterk nie.

“Elke keer dat Zuma ʼn mosie oorleef, versterk dit sy aanhangers binne die ANC, aangesien dit by hulle die indruk wek dat hy ʼn sterk leier en onaantasbaar is.

“Kiesers in die algemeen begin ook moedeloos raak indien daar nie aan die verwagting voldoen word om van Zuma ontslae te raak nie. Kiesers raak apolities en gaan dan nie stem nie wat tot nadeel sal wees vir opposisiepartye in 2019.”

Maroela Media se nuuskommentaar sal binnekort kyk na die komende Duitse algemene verkiesing en die rol van koalisiepolitiek daarin, al het die Duitsers ’n gemengde proporsionele en kiesafdelingstelsel. Toe kanselier Angela Merkel die eerste keer met haar CDU/CSU-bondgenootskap die meeste stemme getrek het, moes sy noodwendig met die vorige regerende party, die sosialiste (die SPD), ’n sogenaamde groot koalisie vorm. Dit het Merkel mateloos gegrief, want dit het haar verhinder om die nodige aanpassings te maak om die ekonomie te laat groei. Eers met die daaropvolgende verkiesing kon sy die sosialiste afskud, en met die hulp van ’n kleiner party (die AfD) die ekonomie aan die gang kry.

In die daaropvolgende verkiesing moes sy opnuut in ’n groot koalisie met die sosialiste saamwerk, en haar vorige koalisievennoot kon nie die vyfpersentdrempel vir opname in die Bundestag haal nie. Interessant – die breë Duitse bevolking het ook aangedui dat hulle ’n groot koalisie verkies. Merkel se ekonomiese planne kon egter nie meer gestuit word nie.

(Dit lyk tans of Merkel en haar CDU/CSU (38,1%) en die FDP (8,5%) weer ’n koalisie kan vorm waaruit die SDP (23,9%) uitgesluit is. Die ander partye soos die Linkse, die Groenes en die AfD (min of meer die ekwivalent van Geert Wilders se PVV in Nederland) is tradisioneel nie vir die CDU of die SDP aantreklike koalisievennote nie.

Daar is geen aanduiding dat die DA selfs in die geheim voetwerk doen as sou ’n groot koalisie met die ANC in 2019 onafwendbaar wees nie. Maar die DA se skynbaar eensydige optrede met die mosie nou is ook nie bevorderlik vir ’n gewone koalisie nie. Die DA moet ook die oog daarop hou dat die ANC ook die EFF as koalisievennoot aantrekliker kan vind (wedersyds) ná die Zuma-faktor “verdwyn” het, terwyl die NFP en Agang in wese reeds ANC-surrogaatpartye is.

Oor een aspek kan daar nie ruimte vir kompromis wees nie – moraliteit. Die aanslag teen Zuma handel immers feitlik uitsluitlik oor moraliteit. Dit speel ’n belangrike rol daarin dat die SA Raad van Kerke deel is van die veldtog teen Zuma. En die SARK het deesdae ook lidkerke soos die NG en die NH kerke in sy geledere.

Wees nou eers konsekwent en takel Zuma, nie net oor hy die achilleshiel is nie, maar omdat dit bewysbaar noodsaaklik is om van Zuma ontslae te raak om die land op soveel terreine te red – soos die ekonomie, rasseverhoudinge in die land, en om staatskaping te stuit.

Daar sal wel ’n stadium kom waar die fokus sal moet verskuif om die ANC self te takel, en in alle waarskynlikheid sou die ANC self die proses daarvoor “saggemaak” het.

Maar hanteer dan opposisiepartye soos potensiële vennote, al is hulle klein. Een dag in die politiek kan besonder lank word. Iewers gaan die #GuptaLeaks met iets vorendag kom wat die ANC na die een of ander kant gaan laat struikel tensy hy dan reeds van Zuma ontslae geraak het.

Entoesiasme oor politieke verskuiwing beteken nie koel koppe is pretbederwers nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Charmaine Griffiths ·

Herman ek stem saam. Het ‘n voorstel wat ek ook op FB aan DA gerig het. As AL die opposisie partylede en stemgeregtigdes elkeen onderneem om ‘n voltydse werk te skep kan ons voor die einde van die maand miljoene werksgeleenthede skep. Dit is wat die ANC nog nooit kon doen nie. Sodoende kry al die ander partye stemme en die nuwe poste kan deur middel van ‘n barometer aangedui word deur alle media .

Charmaine Griffiths ·

Registreer die nuwe personeel by UIF en dan kan ANC sien hoe dit vorder en dit nie afmaak as fopnuus nie.

Charmaine Griffiths ·

Tong in die kies – trek dit by jou belasting af want jy doen wat die huidige regering NIE doen nie

John ·

Vir die ANC is etiek van min belang. Zuma se verkeerde doen en late rus net swaar op ‘n paar eerbares se gewete. Zuma maak net sy aanhangers bang en hulle swig soos ‘n huis sonder fondasie. Mmusi hoop om al die opposisie-partye onder sy vleuels te neem en begin aan ‘n hoogheilige grootheidswaan ly. Hoe meer setels die DA wen hoe groter is die kans dat korrupsie ook in eie geledere sal toeslaan. Mmusi gooi al wat glo kolonialisties is uit sy sisteem. Waar het hy aan sy Bybel gekom wat hom nou so goed en edel moet verklaar? Wie probeer hy flous? Daar is ander meer eerbare swart leiers wat eerder ons steun sou kon geniet. ‘n Dominee wat sal jok vir sy party en eie eer se onthalwe kan ook nie ons land wil lei nie. Sorry.

Alida ·

Ek dink ook Mnr Maimane is bietjie haastig. Die vervolgings en ondersoeke gaan nou in volle swang begin en die lewe vir JZ en sy maters baie moeilik maak. Gee net bietjie kans die goed vat tyd.

Adam ·

Interessante artikel. Ek sukkel om vas te stel wat die DA se ware beleid is. Hulle samestelling is uiters uiteenlopend en ek kry die idee dat die DA heel tevrede is om ‘n beleid van “ons regeer beter” te propageer by almal wat bereid is om te luister. Maimane is boonop ‘n onervare politieke leier en ek ervaar groot twyfel oor of hy inderdaad oor die vermoe beskik om so’n skip in die regte rigting te kan stuur. Sy Buchan-agtige geskreeu tydens sy politieke “preke” en sy oenskynlike verknogtheid met opportunistiese mosies, versterk boonop my vermoede. Wat die ANC aanbetref, is die skrif lankal aan die muur en hulle ondergang behoef nouliks enige betoog en sal tot ‘n groot mate van binne geskied. Die ANC word ‘n geruime tyd reeds verswak weens faksievorming en Zuma is bloot die turbo-aanjaer in die proses. Die opposisie het nie nodig om veel meer te doen as om aandag aan die opbou van hul eie partye te gee nie. Die ANC beskik nie oor die tipe leierskap wat hulle eensklaps sal verenig nie en die beste waarop hulle kan hoop is dat die behoefte om te regeer die gom sal wees wat hulle bymekaar sal sou. Die opposisie se leiers boesem ongelukkig ook nie veel vertroue in nie en dit werk ongelukkig tot voordeel van die ANC. Koalisiepolitiek is vir seker ons voorland en sal hopelik ook in die geskiedenis as ons redding opgeteken word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.