Nuuskommentaar: Stadige wegbeitel aan ANC-staatsgreep

argieffoto

argieffoto

Die belang van Dinsdag se hofuitspraak in die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat in wese die speaker se hande afkap om die polisie in te span om LP’s wat dinge kwytraak waarvan die ANC nie hou nie, te laat verwyder, kan moeilik oorskat word.

Uiteraard appelleer die ANC, in die gedaante van die regering, dadelik teen die uitspraak.

Ongelukkig is die saak wat Cope, die UDM en Agang aanhangig gemaak het om die geskiktheid van Baleka Mbete as speaker te betwis, weens prosedurefoute met maande uitgestel. Kortom kom dit daarop neer dat die ANC die hooggeplaaste ANC-kader, Mbete, uit Luthuli-huis as speaker ontplooi het om die ANC se belange in die parlement te dien. Dit druis in teen internasionale konvensie oor die onverbonde rol wat speakers veronderstel is om te speel.

En, so “weet” ons nou danksy ʼn oorvloed kommentaar van kundiges en die media, dat die ANC se vernaamste taak nou is om al sy middele in te span om te voorkom dat pres. Jacob Zuma weens ʼn spektrum van optredes en beweerde optredes aan die pen ry. Selfs die reputasie van die Openbare Beskermer word in die proses deur die modder gesleep.

Maar dit is veral die wyse waarop die regering met die Nasionale Vervolgingsgesag en aanverwante liggame omgaan, wat ʼn goeie aanduiding is dat enigeen wat in ʼn posisie verkeer om iets aan Zuma te doen, hard met die realiteit te make sal kry dat werksekerheid erg afhang van bereidwilligheid om deel van die ANC se “beskerm Zuma”-apparatuur te wees.

Dus ʼn volledige statutêre staatsgreep waar die opposisiepartye se rol tot min of meer seremoniële funksies beperk word. En dit ook binne “onskadelike” parameters soos wat veral die EFF taamlik hardhandig agtergekom het.

Só word die mees elementêre konvensie van LP’s in wese tot niet gemaak – die privilegie om, sonder vrees vir vervolging, binne die beskermende mure van die parlement te sê wat gesê moet word. Mbete het ook dit intussen probeer tot niet maak deur links en regs uitsprake tot “onparlementêr” te verklaar.

Gelukkig het ons (nog) die howe. Dis jammer dat die meeste ander wigte en teenwigte gekaap of deur swak aanstellings en toe geldkraantjies in wese gekapater is.

Baie kort na die SAUK by die DA ʼn hofloesing op die lyf geloop het oor versuim om voort te gaan met regstreekse uitsendings van die onlangse DA-kongres op ʼn oop TV-kanaal, ruk die SAUK se baas, Hlaudi Motsoeneng, by ʼn formele geleentheid self die masker af en verklaar dat die SAUK deel van die regering is. Watter deel van die begrip “openbare uitsaaier” verstaan die “baas” nie? Gee hy nou in wese toe dat ondersteuners van ander partye, of mense wat geen politieke party steun nie, nou ook nie meer lisensiegeld hoef te betaal nie? As hy die term “regering” verstaan soos wat die ANC dit nou kliphard probeer laat manifesteer, dan is dit noodwendig iets waaroor besin moet word.

Die SAUK se onbegrip oor wat aangaan blyk daaruit dat die SAUK se woordvoerders voor die hofuitspraak “verweer” het dat daar nooit beloftes aan die DA was dat die verrigtinge op SABC 2 uitgesaai sou word nie. Beloftes of nie is nie relevant nie. ʼn Openbare uitsaaier kan nie oorgretig omtrent al wat ANC-verwante geleentheid is uitsaai en dan blind wees vir die amptelike opposisie nie. Dít is waaroor die hofaansoek gehandel het.

Natuurlik het die ANC nog ʼn groot troefkaart wat soos klokslag werk – ras. In ʼn rubriek op Netwerk24 behandel Henry Jeffreys die saak in breë detail. Dit kom daarop neer dat die ANC die gemors wat dit skep oorleef deur probleme soos korrupsie aan ras te koppel. Die kritiek uit opposisiegeledere oor die omvang van korrupsie onder die ANC-bewind vervreem nie die swart kiesers nie, want die kritiek word verwring om as kritiek op swart mense oor te kom.

So ʼn taktiek mag “werk”, maar blaas polarisasie skerp aan, sodat van die swart redakteurs en liberale filantrope al gewaarsku het dat hierdie “volgehoue kritiek op die ANC nog tot ʼn bloedbad kan lei.”

Gelukkig is die howe nie al wat nog verseker dat die grondwetlike demokrasie kop bo water hou nie (al sou baie reken dis net-net). Grondwetlike demokrasieë wat goed funksioneer word ook deur ʼn vasberade vrye media gekenmerk (waarin die ANC ook reeds goed belê en ʼn duik gemaak het) en burgerlike instellings. Die een kan nie sonder die ander nie. Onderlinge verdagmakery en botsings tussen burgerlike instellings en die vrye media is sleg, maar dis deel van dit waaroor ʼn demokrasie handel.

Tans kook dinge in Burundi oor die president se voorneme om hom vir ʼn derde termyn beskikbaar te stel. Volgens die media lyk dit of die buurland, Rwanda, se president ook planne het om in 2017 ʼn derde termyn aan te durf.

Op die oomblik lyk dit nie of Zuma planne het om die grondwet hier op ʼn soortgelyke manier uit te daag nie. Sy voorganger, Thabo Mbeki, het laat deurskemer dat hy ná afloop van sy tweede termyn as president dalk sou voortgaan om die land as ANC-president vanuit Luthuli-huis te regeer. Sy planne, of beweerde planne, is egter kortgeknip toe hy ten koste van Zuma geoffer is.

Nou is daar ʼn openlike poging om die parlement en regering ondergeskik te stel aan Luthuli-huis. Dit sal interessant wees om te sien of Zuma soortgelyke planne sal begin openbaar. Op die oomblik lyk dit of hy eerder sy kornuite so posisioneer dat die ANC-aparatuur lank ná sy aftrede volledig ingespan sal bly om Zuma sy dag in die hof te ontneem.

Daar lê dus groot werk voor om die land se verval om te keer en grondwetlike demokrasie te bestendig. En daar is niks mee verkeerd om die broek met rek, ʼn gordel en kruisbande bo te hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Helena Coetzee ·

Spelfout maak titel baie verwarrend. Dit moes dalk lees: Stadige wegBEITEL aan ANC-staatsgreep ?

Sune van Heerden ·

Dagsê Helena

Baie dankie dat jy ons op die fout gewys het! Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Grassie ·

Zoempas se gesteldheid ten opsigte van sy taak as regeringsleier gaan nie oor die welvaart van die land nie, maar slegs oor hoeveel hy homself kan instop en ook oor eie prestige, soos om saam met wêreldleiers te verkeer en belangrik te probeer lyk. Ek wonder hoe lank Putin hom nog gaan verduur. Of hierdie land ooit gaan herstel van die skade wat Z se regime aangerig het,weet ek nie. Sy onbekwaamdheid gaan egter nie die ANC benadeel nie – solank hulle “grants” betaal word en beloftes dat witmense se eiendom herverdeel gaan word voortduur, sal die stemvee vir hulle stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.