Nuuskommentaar: Staking met ’n verskil

Argieffoto ter illustrasie

Dit woel in sentraal-Suid-Afrika en sake kan maklik na die res van die land uitbrei. In die Noord-Kaap voer premier Sylvia Lucas ’n skynbaar verlore stryd om die Zuma-faksie in beheer van die Noord-Kaapse ANC te plaas. In die Vrystaat trek die staking van Samwu-werkers in die Mangaung-munisipaliteit die aandag juis omdat dit oor korrupsie en verwante aangeleenthede, eerder as die gebruiklike loonkwessie, handel – ’n staking wat maklik landwyd sou kon oorspoel as deel van die verset teen pres. Jacob Zuma se voortgesette presidentskap.

Suid-Afrika is gewoond aan ’n rollende stakingseisoen. Gewoonlik is daar een oorheersende item op die agenda – verhoogde lone.

Die dienstestaking van lede van die Munisipale Werkersunie (Samwu) in die Mangaung- munisipale gebied se angel lê egter elders. In die aanloop tot die staking is heftig geprotesteer teen onder meer beweerde korrupsie in die munisipale bestuur, inmenging van politici in die dienslewering en korrupte aanstellings, en word lone baie terloops genoem – ook nie soseer vir verhogings nie, maar dat veral tydelike werkers se lone hoegenaamd betaal moet word. In die ellelange lys kom onder meer ook nepotisme en rassisme, veral in die brandweerafdeling, aan die bod.

Volgens opposisiepartye is Mangaung se geldsake beroerd. Die bankrekening is al verskeie kere deur skuldeisers laat inperk, en daar is al ’n paar keer op roerende eiendom van die munisipaliteit beslag gelê. Behalwe ongemotiveerde erkennings werp die munisipaliteit nie veel lig op die onderwerp nie.

’n Krapperigheid wat die stakers ook aanraak, is dat daar veral ná die vorige munisipale verkiesing ’n ongehoorde aantal kaders in die sogenaamde politieke poste aangestel is. Dit trek al by ver meer as honderd. Skynbaar het hierdie mense hoofsaaklik funksies soos politieke navorsing en ontleding, maar baie van hierdie aanstellings voldoen nie aan die aanstellingsvereistes nie. Die indruk is dat dit ’n versorgingsoord vir werklose kaders is.

Die Mangaung-metro maak nou die staking as nietig af, en beweer dat dienslewering sal voortgaan omdat nie al die werkers lid van Samwu is nie. Die Mangaung-raad het egter alle regstegniese opsies probeer om die staking onwettig verklaar te kry, maar elke keer verloor – ook met koste.

Samwu self maak daarop aanspraak dat dit die grootste munisipale vakbond is. Dit is een van die vakbonde wat steeds by Cosatu geaffilieer is, en dis in dié stadium net nodig om in gedagte te hou dat Cosatu daarop aandring dat pres. Jacob Zuma bedank. Bedoeld of onbedoeld – dit verhoog die druk op die Zuma-kamp.

Dit lyk inderdaad of “net” sowat ’n vyfde van die werkers staak. Maar dit vertel nie die volle prentjie nie. Daar gaan byna nie ’n dag verby wat daar nie ’n brief in Volksblad verskyn oor swak dienslewering nie. Die gewone stelsels om probleme soos riool- en waterlekkasies onder die munisipaliteit se aandag te bring, werk dikwels eenvoudig nie, en dit gee gereeld ingryping deur die raadslid af voor iets gebeur – en dit met groot moeite.

Vullisverwydering is al jare ’n netelige kwessie. In hooftrekke kom dit daarop neer dat die munisipaliteit ten duurste vulllislorries van oorsee bekom het, maar dat hulle nie in Suid-Afrikaanse toestande werk nie. Hulle is min of meer permanent in werkswinkels, en skynbaar probeer die munisipaliteit steeds dat die verskaffer die munisipaliteit vir die kat in die sak vergoed. Intussen word privaat kontrakteurs ingespan, en hulle gebruik enigiets spreekwoordelik van donkiekarre tot ossewaens om die vullis te verwyder. Hul lendelam vragmotortjies is ook gereeld stukkend, en te klein om die roete wat hulle veronderstel is om te behartig, op een dag onder die knie te kry. Vullissakke staan dus dikwels oornag.

In ’n stadium het oortydbetaling groot probleme veroorsaak, deurdat dit vir die werkers die moeite werd was om die ganse dag “lunch” te neem en dan veral oor naweke werk soos rioolverstoppings te gaan regmaak. Inwoners se frustrasievlakke kan ingedink word wanneer ’n rioollek ná omtrent ’n week op ’n Sondag “reggemaak” word, en die Maandag is die verstopping weer terug. En ongeag die aantal telefoonoproepe word niks gedoen voor die volgende Sondag nie.

Pogings van die munisipaliteit om die misbruik van oortyd kort te vat het maar net weer op stakings of ander optredes uitgeloop.

Die voordeel van die gesukkel in Bloemfontein en omstreke was dat opposisiepartye lank reeds geleer het hulle kan nie mense tot raadslede verkies kry bloot omdat hulle iemand se maatjie is, of statuur het nie. ’n Raadslid wat lyf wegsteek, is gou blootgestel en plaas enorme druk op die provinsiale struktuur van sy politieke party. Kortom, raadslede, veral wyksraadslede, weet dat hulle elke sent van hul besonder ruim toelaes moet verdien.

Mangaung se probleme is nie nuut nie, en stellig ook nie uniek nie. Wat wel van belang is, is dat soveel werkers so ernstig oor sake voel wat nie oor jaarlikse salarisverhogings handel nie, dat daaroor gestaak word. Die staking sal na verwagting tot Vrydag duur, wat beteken die stakers verloor ongeveer ’n kwart van hul maandelikse loon. En die tipe verwyte wat Mangaung se politieke hoofde en bestuur teen die kop geslinger word, is tipiese klagtes wat op ook ander vlakke teen die ANC geslinger word. (In die Noord-Kaap, te midde van ’n domino-uitwerking van die premier se skommeling van haar uitvoerende raad, ondersoek die Valke nou of staatsgeld nie gebruik is om die ANC se pas afgelope provinsiale kongres op Colesberg mee te finansier nie.)

Gegewe die land se geskiedenis van rollende stakings en oproer, hoe lank gaan dit duur voor ook ander stede en dorpe die nuutjie van stakings ervaar oor ander redes as loonverhogings en besoldiging?

Met die verdelingslyne van die ANC wat nou daagliks duideliker word, is dit nou nie meer so “vreeslik” om die ANC vanuit eie geledere oor morele kwessies aan te spreek nie. Korrupsie (in sy wyds moontlike leke-betekenis) is in Mangaung aan die orde gestel, terwyl die tafel elders ook gedek is vir dié soort aksies.

Dit volg nie lank nadat Zuma op Werkersdag die kous oor die kop in die einste Bloemfontein gekry het, en met sy gevolg van 12 voertuie die hasepad gekies het nie. Dit, tesame met hierdie staking, dui daarop dat die beergreep wat premier Ace Magashule op die ANC in die Vrystaat hou, en as deel van die sogenaamde premierliga binne die Zuma-kamp gehou het, ernstige krake vertoon.

As dit eers deel is van ’n politieke stryd, vervaag die oorspronklike doelwitte van die massa-optrede dikwels.

Maar aan die ander kant, dinge haper al so lank in Mangaung dat ’n behoorlike uitskud hoogs tydig sal wees.

Oor of Samwu dalk meer sukses sou behaal deur die openbare beskermer, Valke en ander instellings te nader, kan maar net bespiegel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

rissiepit ·

ry maar enige Sondag van Sabie af Pelgrimsrus toe en jy sal n grieo werkers om elke draai teekom. kamma besig om skoon te maak. dan staan daar 8 – 10 op hulle besems en grawe geleun. net 2 is besig om o, so suutjies te skoffel. met elke derde winkels in Pelgrimsrus toe wanneer jy oor n uur weer verby kom, skoffel twee ander en daar is net 20cm skoon. hoekom oirtyd betaal? as hulle nie n dag se werk gegee het nie kan hulle eenvoudig nie n dag se loon betaal word nie. gee werklose blankes ook graaf of hark of besem om teen betalings te vertroetel. dalk kom Suid Afrika weer heel en skoon.

Johann ·

Wat moet gebeur moet gebeur, hoe gouer hoe beter. Die mense kry wat hulle toekom, hulle het vir die diens wat hulle kry ‘n tyd gelede gestem. En hulle het voor die tyd geweet dat die dienslewering pateties is, hulle het dit dan al reeds vir jare ondervind. Dan maak hulle dit net nog erger deur te brand en te breek, plaas dat hulle eerder vir die regte party stem, maar nee, dit sal ook nie gebeur nie.

Eish ·

Kennis is om te weet tamaties is vrugte. Wysheid is om te weet om nie tamaties in vrugteslaai te gebruik nie. In onse lappie Afrika word alles deurmekaar in die pot geboender en totaal verbrand.

snoefie ·

voor enige mens kan gaan staak vir dienslewering, moes so n mens eers seker maak sy/haar rekening is op datum betaal. in alle reverdigheid kan niemand diens verwag sonder betalings nie. die spul #fees must fall by universiteite het willens en wetens n ooreenkoms geteken om teen n vasgestelde bedrag by n instansie te studeer. hie kan hulle middle tot einde van die jaar in opstand kom oor die prys waarvan hulle sedert die begin al kennis dra? hie kan mense willens en wetens kinders verwek en dan n huis eis, kos eis, gratis skoling eis, gratis medies eis om daardie kinders in groot te maak? besin tog eet jy begin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.