Nuuskommentaar: Stakings, demokrasie en Ramaphosa se windeier

Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa

Min analiste wat hul sout werd is sal nou waag om met groot sekerheid te sê hoe die Suid-Afrikaanse dinamiek daaruit sien. Vreemde bedmaats neig nou om reeds verwarde kiesers nog verder deurmekaar te maak. Onder die jongstes is dat Julius Malema en sy EFF hande met die bejaarde Buthelezi en die IVP gevat het, en Amcu wat nou die eerste keer sedert dit die platinumbedryf se arbeidsveld gekaap het sy spiere wil toets, maar skielik vind dat alles ook nie is soos dit enkele weke gelede nog gelyk het nie. Amcu-drosters word nou daarvan beskuldig dat hulle deur die regering omgekoop is om die organisasie te ondermyn – wel wetend dat die regering op die oomblik ‘n geloofwaardigheidskrisis beleef.

Net ‘n bietjie meer as ‘n jaar gelede is die negatiewe persepsies oor die herverkiesing van pres. Jacob Zuma as ANC-president grootliks getemper deur die hertoetrede van Cyril Ramaphosa tot die politiek, en sy verkiesing tot die ANC se adjunk-president. Hoewel van die analiste gewaarsku het dat Ramaphosa met ‘n erge kneusing oor sy vermeende rol wat tot die Marikana-slagting aanleiding gegee het teruggekeer het, het die meeste ontleders desperaat na Ramaphosa as reddingsboei gegryp. Onder meer is in detail uitgelê hoe Zuma in wese die rol, weliswaar nie amptelik nie, van ‘n seremoniële staatshoof sal inneem, en Ramaphosa as ‘n tegnokraat die de facto eerste minister sal word.

As dit iemand se planne was, het niemand dit vir Zuma gesê nie. Zuma het dadelik gesorg dat niemand in sy skadu sou groei nie. Die politiek-ontmande Kgalema Motlanthe is as adjunk-president van die land behou, en Ramaphosa is min beweegruimte in Luthuli-huis gegun. Selfs Gwede Mantashe se vlerke is geknip, met dr. Zwile Mkhize wat na Luthuli-huis ontplooi is met analiste wat nou daarop wys dat die oog maar op Mkhize gehou kan word as Zuma se kroonprins (wat ook sal moet sorg dat Zuma nie dan teenspoed met die gereg kry nie).

Met die broeiende krisis wat dreig om in die platinum-bedryf hande uit te ruk, sou verwag word dat Ramaphosa sy invloed en kundigheid sou inspan. Maar sedert Ramaphosa tot die politiek teruggekeer het, het hy nog min glans vertoon, met die een dowwe kol na die ander. Sy Boere-opmerking het ontstel, en sy verduideliking het niemand oortuig nie.

Nou het Ramaphosa sy voet weer deeglik daarin gesit. Sy opmerking dat die kiesers nie hul stemme moet mors om vir Mickey Muis-partye te stem nie, is waarskynlik in hoofsaak verwysings na die nuwe toetreders, Agang en die EFF. Die probleem is egter dat hy in die proses totale onbegrip toon oor waaroor demokrasie werklik gaan, en sluit hy hom aan by ander figure in die ANC wat gereeld hul onkunde oor demokrasie aan die groot klok hang.

Maar het Ramaphosa ook geen selfrespek meer nie? Om die kiesers te probeer oortuig om ANC te stem omdat die ANC, volgens hom, twintig jaar se ervaring het… Ja, dit is so dat die ANC nou hard probeer om die kiesers te oortuig dat die party baie die afgelope twintig jaar vermag het. Waar dinge nog nie utopies is nie, is dit ander se skuld.

Die diensleweringsbetogings toon egter dat selfs ongesofistikeerde kiesers besef dat die goue sterre wat die ANC aan homself toeken, nie heeltemal klop met die ritse verdoemende verslae van die ouditeur-generaal nie. Die besef oor die impak van nepotisme en tribalism op die kader- ontplooiingsbeleid suurdeeg deur.

Die ANC kon hom veral sedert die Mbeki-era telkemale uit verkiesingsteenspoed wikkel deur bloot die rassekaart te speel en so te verseker dat die verkiesing in ‘n rassesensus verander. Dit was duidelik dat die ANC dit steeds as troef gehou het, en selfs daardie kaarte begin speel het, maar skielik wou die kaarte nie meer so reg val nie.

Onder die redes is juis die Mickey Muis-partye. Dit is nie meer so maklik om die kritiek op Zuma in die besonder, en op die ANC in die algemeen, na ‘n minagtende wit samespanning te herlei wat hoogstens deur “coconuts” bygestaan word nie. Nou kom van die felste kritiek van Malema wat niemand se coconut is nie. Van die mees gesofistikeerde kritiek kom uit Agang, ook sonder ‘n wit gesig wat prominent as mag agter die troon beskou kan word.

Die DA sal, ondanks pogings om swart leiers te bou, nog lank as die “wit gevaar” afgemaak kan word, maar skielik is dit nie meer so ‘n krisis nie, want daar is buite die DA genoeg geloofwaardige kritiek op die ANC.

Intussen moet die ANC nog uitpluis om te keer dat die Cosatu-Vavi-Numsa-tameletjie die ANC se rassekaarte heeltemal verteer.

Die peilings begin nou ook ‘n storie vertel – die ANC begin nou ‘n prys betaal vir sy besluit om Zuma sy gesig vir die verkiesing te maak. Die probleem is al lank besef, en daar is byvoorbeeld hard daaraan gewerk om die president deur veral die TV ‘n presidensiële baadjie aan te trek. Zuma het egter sy eie grootste vyand gebly met opmerkings wat bly boemerang het. Nkandla se spook gaan nie weg nie.

Die paar oorblywende bruin lede in die ANC se hoogste kringe word nou op die een safari na die ander na die Wes-Kaap gestuur om die bruin kiesers te herwin wat met die Solidariteit-DKD-saak in ‘n warboel is. Tina Joemat-Pettersson kan nie meer ingespan word nie, en die taak rus nou veral op die moeë Jesse Duarte en Marius Fransman, terwyl Tony Ehrenreich, geknou na die DKD-saak, ook moet probeer red wat te redde is.

Skielik het Zuma “verdwyn.” Dit is nog te vroeg om te sê of dit ‘n tydelik maneuver is, en of Zuma nou beter gekoester gaan word waar hy minder skade kan aanrig. Hy loop van die provinsiale bekendstellings van die ANC se verkiesingsmanifes mis, omdat hy roetine mediese toetse ondergaan. Die mense word verseker dat hy piekfyn is.

Na Zuma verlede jaar erg voor die internasionale media skandes in Davos gemaak het, is daar nog geen aanduiding dat hy vanjaar weer die Wêreld Ekonomiese Forum se Davos-beraad gaan bywoon nie. Die land stuur sewe ministers na die beraad, die helfte kommuniste, en, ironies, net een etniese swarte wat die aandrang op die insluiting van ‘n etiese swarte in die Protea-krieketspan na huigelary laat lyk. Die ministers is Yunus Carrim, Rob Davies, Pravin Gordhan, Derek Hanekom, Trevor Manuel, Edna Molewa en Ebrahim Patel.

Of hierdie afvaardiging die skade wat die komende staking in veral die platinummyne tot gevolg gaan hê, wat eintlik op ‘n drastiese uitbreiding neerkom van stakings wat reeds in die bedryf aan die gang is en ook reeds voorvalle van geweld opgelewer het, sal eers later blyk. Intussen het Gordan gewaarsku dat die staking die ekonomie gaan skaad.

Dit sal Ramaphosa loon om ‘n oomblik te besin of die “Mickey Muis”-partye nie dalk sou moes uithaal om ‘n groter gemors as die ANC aan te rig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.