Nuuskommentaar: Stap in rigting van rassisme-ewehandigheid

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

Moontlik word vandag, met die goed voorbereide klagtes van rassisme wat AfriForum by die SAPD indien, ’n nuwe fase ingelui om die al groter wordende emosionele impak van die bestaande onewehandigheid teen te werk. Op die oog af word die gemoedere nou net so veel oor die onewehandigheid van die aanspreek van rassisme omgekrap as die rassisme self.

AfriForum se besluit om vandag formeel strafregtelike klagte teen 12 mense te lê weens beweerde rassisme op die internet, is ’n belangrike stasie op die koers na ewehandigheid oor die kwessie. Die regstegnies goed versorgde klagte spruit alles voort uit inskrywings op die sosiale media. Ongelukkig is daar gereeld ook voorbeelde daarbuite, soos bewoording op T-hemde, optredes in restourante en vele meer.

Daar is ’n reusevrag redes waarom sommige mense aanvoer dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie. Leopold Scholtz het onlangs op Maroela Media seker een van die mees omvattende uiteensettings gegee van die “redes” wat uit veral swart bewussynskringe kom oor hoekom swart mense nie rassiste kan wees nie.

Een hiervan is die kwalifikasie dat om ’n rassis te wees moet jy in die meerderheid wees, en die mag besit. Die opvatting kan uiteraard nie op die Afrikaner van toepassing gemaak word nie, hoewel sosio-ekonomiese ongelykhede in wese die plek inneem.

Op die tuisfront kyk die apologete gewoonlik vas teen die apartheidsverlede. Daar word steeds simplisties onderskei tussen wit bevoordeeldes en swart benadeeldes. Dieselfde reëls kan dus nie op wit en swart van toepassing gemaak word nie, ongeag die tydsverloop en die hedendaagse probleme wat dit skep. Selfs sommige rubriekskrywers in Afrikaanse koerante se koppe is so ingesuig in hierdie opvattings dat hulle nie eens agterkom wanneer hulle uitgedaag word nie. (Toegegee, van die “uitgedaag” is dikwels in erg ongepoetste terme.)

Selfs in Julius Malema se haatspraaksaak was daar wye kritiek, ook onder wit intellektuele, oor sy skuldigbevinding. Net so was dit ’n lang proses met ’n unieke appèl binne die Menseregtekommissie om “Kill the Boer, Kill the Farmer” as haatspraak verbied te kry. Desondanks is die sokkerstadion in Polokwane (Pietersburg) na die voorsanger vernoem.

By Wits is besonder siek bewoording op mure en T-hemde as nie haatspraak nie bevind, maar as vryheid van spraak.

Die frustrasie oor onewehandigheid is nou al dikwels so groot dat dit moeilik is om te bepaal of die onewehandigheid, of die haatspraak/rassisme self teen wittes die meeste tot die vuurstoking bydra.

’n Goeie voorbeeld is die uitgelekte verslag oor geweld op die Kovsiekampus, wat veral wentel om die gebeure by ’n Varsity-rugbywedstryd waar betogers ’n hek gebreek het, mense uit die pad gestorm het, ’n vrou met ’n megafoon oor die kop katswink geslaan en ’n rugbywedstryd onderbreek het, met die idee om dit op te skort en “vreedsaam” te betoog.

Hoewel betreklik min mense die verslag te lese gekry het, was daar talle briewe in die media wat die onewehandigheid in die verslag veroordeel. Daar is feitelike onjuisthede in die verslag wat maklik voorkom kon wees deur die regte inligting by die regte mense te bekom, soos die kluitjies wat oor die buitekampus-koshuis Heimat verkondig is, daar was feitelike manipulasie en daar was deurslaggewende weglatings, soos die aanval op, en groot skade aan Vishuis. Veral die rol van die Sentrum vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid se aandeel tot die verslag word veroordeel. Dit kom ook daarop neer dat mense wat juis toegerus moet wees om versoening in die hand te werk, so eensydig te werk gaan dat hulle meer skade as goed doen.

Solidariteit voeg ook die verslag by sy bestaande portefeulje oor rassisme wat deur die staat bedryf word, en wat deur ’n VN-komitee wat alle vorme van rassisme uit die weg probeer ruim, ondersoek word.

En dan staan dit nog in die konteks van die stappe om met Afrikaans min of meer weg te doen terwyl die appèlsaak nog hangende is.

Die nuwe rektor gaan gou ’n formidabele taak hê om te vervul.

Die boodskap moet eenvoudig nou inslaan – rassisme en haatspraak is nié in die haak nie, ongeag of die pleger wit of swart is. Die liggame wat hieroor gestel is, moet ook besef dat die aanspreek hiervan ewehandig moet geskied, as daar enigsins erns met bepaalde versoeningsinskrywings in die Grondwet gemaak wil word.

Dit neem nie die feit weg dat elke landsburger daagliks op haas elke kontakvlak ’n verantwoordelikheid het om versoening na te streef nie. En as versoening nou as gevolg van al die rasonregte te dwars in die maag gaan lê, minstens nie die konflikpotensiaal aan te blaas nie. Dit geld ook die president wat die laaste ruk al hoe meer die rassetamboer slaan en hom nou ook al ’n paar klagtes van haatspraak by die Menseregtekommissie op die lyf geloop het – ’n skynbaar lamlendige grondwetlike liggaam wanneer dit by hierdie soort sake kom.

Ondersteun asseblief AfriForum se aksie deur voorvalle waarvan jy bewus raak, te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jordaan ·

Dit is baie waar- die onewehandigheid spreek self van rassisme in die liggame wat veronderstel is om ons regte in terme van die grondwet te beskerm. Waarom nie sommer die klagte uitbrei tot hulle (bv die MRK) ook nie?
In elk geval, baie geluk en dankie aan Afriforum vir die moeite om die klagte te le.

AL ·

Ek bevraagteken ook die MRK se integriteit en dit moet ook drasties aangespreek word. Die haatspraak teen wittes en die sogenaamde wit bevoorregting moet stopgesit word. Ek was gedurende Apartheid n arm kind gewees en het glad nie voordele gehad nie. As mens nie huishuur kon bekostig, was jy uitgesit, het jy nie elektrisiteit betaal nie, was die krag gesny. Saans was daar skaars kos op die tafel. Ek moes met harde werk en bloedsweet kom waar ek vandag is. Ons kulture en rasse kom goed oor die weg op daaglikse grondvlak, maar dan kom die politieke leiers en bevooroordeelde sensasie soek hoofstroom media en maak als ongedaan waaraan ons werk op voetsoolvlak. Rassisme moet gestop word op sosiale media en politieke byeenkomste.

Rupert Ashford ·

Stem saam met jou oor die MRK. Die probleem is die VN se universal declaration of human rights en die wetgewing (wereldwyd, SA is nie uniek) wat die MRK onderskryf is al klaar partydig. Voeg daarby die tipe persoon (meestal aktiviste) wat na hierdie tipe liggaam getrek word en jy sit met een groot politieke gemors.

simon ·

Ek vertrou dat restitution gegee sal word aan Me Penny Sparrow en regte Mabel Jansen, wie in beide gevalle hulle nie aan rassehaatspraak skuldig gemaak het nie, maar alleen maar deur rassiste daarvoor aangekla is.

Arie ·

Die anc is net so rassisties as wat die NP was, nee erger ons het hulle nie aangeval en uitgemoor soos hulle tans doen nie

Jan ·

Gaan lees gerus wat ek op Herman se ander artikel van vandag te sê het.

Johann ·

Herman, is ‘n deel van die probleem nie dat die media tog te gretig is om sensasie te soek om lesers te trek nie, kyk hoe ding hulle om mekaar mee om die sensasionele berigte. Daardeur verhoog hulle die brandpunt en ry die perd flou. Die kleinste dingetjie sal ‘n berg van gemaak word. Hulle ding mee om die beperkte aantal lesers in die land. En natuurlik het Facebook en Twitter, ook Linkedin? dit maklik vir die media gemaak om mense aan te stel wat permanent daardie kanale monitor op soek na sensasie.

Rupert Ashford ·

Jy is reg oor die media. Meeste sg fake news word deur sg “main stream media (msm) gepleeg maar dit word nou deur einste hulle veroordeel as sou dit deur die alternatiewe pers uitgevind is.

bendons ·

Ek lees en luister so alle kommentaar reaksies. Almal gee grondige opinies daar word goeie werk oorals ge doen binne ons grondwet soos jie met Agtiforum ens maar on Wit Afrikaanse Afrikaners word daaglik onderdruk en loop daagliks deur onder rasistiese gekrabbel soos bv die Uitstaling in die Kaapse museum van ” ‘F*ck the Whites” en slegs Die Front maak kapsie daarteen. Is dit nie tyd dat ons daatwerklik begin optree teen ons nasie se onderdrukking nie. ‘ n het ‘n Leier nodig wat ons kan neem na ons eie onafhanklikheid.
Ons moet regtig ophou ploeter.
Ek bid Elke aand vir ons Afrikaner nasie.
Sterke aan almal want ons almal wil dieselfde Hê nl ons vreiheid terug in’ n regverdige nuwe grondwet en bedeling.

John ·

Ons kort n wereldoorlog om hierdie gemors oor rasisme uit te roeie en die kamma human rights waaroor almal tekere gaan.

Jan ·

Herman, dit wat nou met die bakkie-insident van eergister die geval was, is deel van die probleem, ook die mense wat die vure stook en die media wat daaruit myle haal. As ek dit hier, nou al die soveelste keer ophaal, haal Maroela dit af. Dit help nie Maroela speel volstruis nie. Kyk die probleem in die oë en pak dit aan, noem die kind op sy naam, soos die spreekwoord sê.

Maroela self is ook die oorsaak daarvan dat mense vir hulle regmatig knorrig is, jy het nou die dag van die mense daaroor kortgevat.

Johannes Meintjes ·

Dankie AfriForum. Sou konstuktiewe nasionale ekonomiese fokus ons multi-kulturele landsburgers nie moontlik meer positief as blote statiese “versoening” kon help rig nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.