Nuuskommentaar: Status van Jerusalem nou weer ʼn vonk

Vlag van Israel (Foto: PublicDomainPictures, Pixabay)

Gister se aankondiging dat pres. Donald Trump van die VSA besluit het om Jerusalem as hoofstad van Israel te erken, het dadelik tot betogings in die Gasa-strook gelei waar Hamas-ondersteuners onder meer foto’s van Trump verbrand het. Hamas het aangekondig dat Trump nou die deure van die hel geopen het. Trump het voorts opdrag gegee dat die Amerikaanse ambassade “dadelik” van Tel Aviv na Jerusalem verskuif word.

Trump se beleid is geen verrassing nie. Dit was een van sy verkiesingsveldtogbeloftes. Reeds vir twee dekades is ’n resolusie goedgekeur dat die VSA sy ambassade gaan skuif (wat ’n paar jaar sou duur volgens die resolusie), maar nog geen Amerikaanse president het werklik kans gesien vir die implementering nie en elke ses maande is ’n proklamasie onderteken wat die implementering met ’n verdere ses maande uitstel.

Intussen het konserwatiewe en fundamentalistiese Christene in die VSA, soos die Christian Coalition of America, Israel blindelings gesteun. Dit het ingesluit dat Jerusalem as Israel se hoofstad erken moes word. Hulle was van Trump se getrouste ondersteuners gedurende die presidentsverkiesing.

Die redes vir die wêreldwye stramheid om Jerusalem as hoofstad te erken is legio. Selfs dr. DF Malan, destydse premier van Suid-Afrika en oudpredikant, wat Israel se onafhanklikheid dadelik op onder meer Bybelse gronde erken het, het nie kans gesien om die ambassade in Jerusalem te begin nie.

Tel Aviv, wat oorspronklik as voorstad van die Bybelse stad Jaffa (Joppe) tot stand gekom het, het de facto Israel se hoofstad geword.

Hoewel die Palestyne, wat die Wesoewer en die Gasa-strook as grondgebied ontvang het, Jerusalem (Oos-Jerusalem wat eintlik alle Bybelse dele bevat het) as hul hoofstad verklaar het, was dit ’n afsonderlike mandaatgebied waar die inwoners later deur ’n referendum oor sy toekoms sou besluit. Alle planne van die internasionale gemeenskap is egter omvergewerp toe Jordanië eers die Wesoewer verower en geannekseer het, en toe Oos-Jerusalem. Die Al Aqsa-moskee, een van die Moslems se grootste heiligdomme, is ook in Oos-Jerusalem geleë, en digby die plek op die Tempelberg waar Israel se laaste groot tempel gestaan het, maar deur die Romeine vernietig is.

Wes-Jerusalem, die Israelse stad, was in wese ’n nuutgeboude stad.

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Egipte het die Gasa-strook verower en later geannekseer. Palestina het eers weer na 1967 tot stand gekom toe Israel die Wesoewer en Oos-Jerusalem by die Palestyne afgeneem het. Jerusalem is verenig en by Israel ingelyf. Die Gasa-strook is ook by Egipte afgeneem, en het deel van die Palestynse owerheid se grondgebied geword. Dit het grootliks in terme van aanhangsels tot die Camp David-ooreenkoms, waarin die Palestynse lot eintlik net as bysaak ter sake gekom het, geskied.

Die Palestyne beskou, in die woorde van pres. Mahmoed Abbas, egter steeds Oos-Jerusalem as hul ewige hoofstad. Daar is telkemale groot ontsteltenis as Israel veral nuwe woongebiede in Oos-Jerusalem ontwikkel. Selfs argeologiese opgrawings word teengestaan, glo omdat gevrees word dat Israel se weergawe van die geskiedenis bewys kan word.

Sedert Trump se besluit laat gister Suid-Afrikaanse tyd wêreldkundig gemaak is, was daar ’n stortvloed kritiek van wêreldleiers. ’n Groep lande, wat van die VSA se getrouste bondgenote soos Japan insluit, het dadelik ’n spoedsitting van die Veiligheidsraad aangevra.

Onder die lande wat meen die VSA skend nou die internasionale reg, is pikant genoeg Jordanië.

In Suid-Afrika het die ANC aangekondig dat besin gaan word oor die verkleining van die Suid-Afrikaanse ambassade in Israel, of selfs die sluiting daarvan. Die ANC is lank reeds, ook uit die PLO se terreurdae, ’n bondgenoot van die Palestyne.

Daar is bykans internasionale konsensus dat internasionale pogings om vrede tussen Israel en die Palestyne te bewerkstellig, ook dié van Trump self, nou na die maan is.

Dit is moeilik om te bepaal wat die diplomatieke afloop van Trump se besluit gaan wees. Daar kan wel verwag word dat die ambassade sonder om formeel daarop te wys, in die gewese Wes-Jerusalem ingerig sal word. Die internasionale reg erken immers Israel se soewereiniteit oor daardie deel van die stad. Dit is egter te betwyfel of ander lande die VSA se voorbeeld sal volg.

Suid-Afrika en ’n paar ander lande kan hul diplomatieke betrekkinge met Israel opskort en hul betrekkinge met die VSA “afkoel”. Te drasties sal dit nie wees nie, want dit sal baie onverantwoordelik wees om die voordele van die African Growth and Opportunity Act (Agoa) op die spel te plaas.

Uiteindelik sal realpolitiek en magspolitiek harder praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Katryn ·

Daardie outjie van die States het baie krag en moed!! Ek stem saam met hom!!

Hans van Schaik ·

Dit moet gebeur. Dis verstommend dat mense wat voorgee hulle is Christene, so bybels oningelig is. Die Profete v d Ou Testament het dit telkens uitgespel, veral Sagaria. Ons sien profesie in vervulling gaan.

Cornelia ·

En die geskiedenis sal sy afloop neem tot daar waar ons Here die heerskappye van die wêreld afsluit. Baie dankie vir u altyd insiggewende voorleggings wat u opdiep wat ‘n mens tot nadenke en globale insig verskerp. En op die einde van elke gedagte weet jy God is in beheer van Sy Koninkryks Wil op aarde. Daarin is Vrede en Rus te vind.

DG ·

Wat sou Hillary Clinton gedoen het, sy het nie ruggraat nie. Dit is ‘n brawe stap van Trump.

David ·

In die artikel word daar na “fundamentalistiese” Christene verwys. Dit is ‘n deursigtige pogimg om Christene wat glo Jerusalem behoort aan Israel verdag te maak en te vergelyk met fundamentalistiese Moslems. Ek glo die Bybel en die Bybel sê meer as 100 keer dat Jerusalem aan Israel behoort. Maak dit my nou ‘n radikalis? Het ‘n Christen ‘n ander opsie as om die Bybel te glo? Kan jy nog ‘n Christen wees as jy iets verwerp wat meer as 100 keer in die Bybel staan? Ek verag Maroela se poging om my met ‘n Moslem fundamentalisme te vergelyk omdat ek die Bybel glo. Ek vermoor nie mense van ander gelowe nie. Tel julle woorde en dink wat julle sê.

Tiaan ·

Niemand het jou met ‘n fundamentalistiese moslem vergelyk nie

David ·

Tiaan, miskien nie direk nie, maar gewis en seker word die woord “fundamentalistiese” 10 keer meer van Moslems as van Christene gebruik. As jy nie verdagmakery ten doel het nie, praat jy tog van ‘n Bybelgetroue Christen en nie van ‘n fundamentalistiese Christen nie. Ek verwerp Maroela se woordkeuse onomwonde.

David ·

In die artikel word daar na “fundamentalistiese” Christene verwys. Dit is ‘n deursigtige pogimg om Christene wat glo Jerusalem behoort aan Israel verdag te maak en te vergelyk met fundamentalistiese Moslems. Ek glo die Bybel en die Bybel sê meer as 100 keer dat Jerusalem aan Israel behoort. Maak dit my nou ‘n radikalis? Het ‘n Christen ‘n ander opsie as om die Bybel te glo? Kan jy nog ‘n Christen wees as jy iets verwerp wat meer as 100 keer in die Bybel staan? Ek verag Maroela se poging om my met ‘n Moslem fundamentalisme te vergelyk omdat ek die Bybel glo. Ek vermoor nie mense van ander gelowe nie. Tel julle woorde en dink wat julle sê.

Grassie ·

David – fundamentalisme beteken maar net die strenge handhawing van beginsels. As iemand dus as ‘n fundamentalistiese Christen beskryf word beteken dit dat hy ‘n oortuigde, gelowige Christen is wat staan of val by sy Christelike geloof en beginsels. Dit behoort die ideaal van enige gelowige Christen te wees, iets waarop hy of sy trots is. Ek sien geen fout met die wyse waarop die woord in hierdie berig gebruik is nie.
Groetnis.

Casper Labuschagne ·

Wêreldpolitiek (en geskiedenis) is die verloop van ‘n aantal reaksies soos die
skakels van ‘n ketting, totdat een reaksie nie gebeur het nie, sal ‘n volgende
nog nie kan plaasvind nie. Nou het dit gebeur en ‘n hele boel reaksies sal
onkeerbaar volg en verder, of nader, in die toekoms lê die sloping en
verskuiwing van die Al Aqsa-moskee. Dit sal liewers moet gebeur lank voordat
Iran kernwapens ontwikkel het. Geen gelowige Jood (en sekerlik sommige
Christene ook) kan in die minste ‘n moskee toelaat op die terrein van die
Tempel van Salomo nie. En so word die ideale van die Kruistogte voortgesit en dit sal ook wees hoe die Islamietiese lande dit sal sien.

Grassie ·

Jerusalem, en ek bedoel die hele Jerusalem, is al vir duisende jare die hoofstad van die Israeliete. Baie ander volke het hulle oor die eeue heen daar kom inwurm maar hulle is telkens weer deur die Israeliete daar uitgeboender. David Ben Gurion moes in 1948, en Golda Meir tydens die ses dae oorlog, Israel skoongemaak het tot teen die oewers van die Jordaanrivier, maar hulle het geswig voor liberale druk uit Westerse lande. Die groot rusie oor die oostelike deel van Israel lê nog voor en dit kan maklik die brandpunt word wat die volgende (laaste?) groot oorlog gaan ontketen.

Niklaas ·

Pres Trump het baie moed . Word nie sommer afgeskrik nie.

Vermeende ·

Anders as in Afrika neem n goeie leier die moeilike en harde besluite en nie die populere besluite nie.

Wihan ·

Mense het vergeet dat daar `n almagtige heilige God is, en wat hy se is die waarheid en al wat saakmaak. Jerusalem en die land van Israel behoort aan sy volk verewig en altyd.

Dries ·

Trump word gehaat deur mense van links, omdat hy wil keer dat sy land in ‘n sekulêre hool verander , asook terwyl die res van die ruggraatloose weste toekyk hoe Israel vernietig word, is hy nie bereid daartoe nie

Rupert Ashford ·

Nee dit is nie ‘n vonk nie maar net maar nog weer ‘n verskoning vir verdere geweld. Dit is nie asof die Palestyne sit en Bybel of Koran lees terwyl die bose Israel en VSA dinge teen hulle bekonkel nie – sien maar die ondergrondse tonnels, vuurpylaanvalle en ander aanvalle wat voortdurend plaasvind op Israel. Mens kan nie onderhandel met mense wat in hulle beleidstukke se hulle beywer hulle vir die totale uitwissing van jou land nie. Een onnosele nasie het dit probeer en die Israeli’s het gekyk en geleer – die wereld, weste en VN (veral nie lg nie) sal jou nie help wanneer jy op hulle reken nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.