Nuuskommentaar: Status van Jerusalem nou weer ʼn vonk

Vlag van Israel (Foto: PublicDomainPictures, Pixabay)

Gister se aankondiging dat pres. Donald Trump van die VSA besluit het om Jerusalem as hoofstad van Israel te erken, het dadelik tot betogings in die Gaza-strook gelei waar Hamas-ondersteuners onder meer foto’s van Trump verbrand het. Hamas het aangekondig dat Trump nou die deure van die hel geopen het. Trump het voorts opdrag gegee dat die Amerikaanse ambassade “dadelik” van Tel Aviv na Jerusalem verskuif word.

Trump se beleid is geen verrassing nie. Dit was een van sy verkiesingsveldtogbeloftes. Reeds vir twee dekades is ’n resolusie goedgekeur dat die VSA sy ambassade gaan skuif (wat ’n paar jaar sou duur volgens die resolusie), maar nog geen Amerikaanse president het werklik kans gesien vir die implementering nie en elke ses maande is ’n proklamasie onderteken wat die implementering met ’n verdere ses maande uitstel.

Intussen het konserwatiewe en fundamentalistiese Christene in die VSA, soos die Christian Coalition of America, Israel blindelings gesteun. Dit het ingesluit dat Jerusalem as Israel se hoofstad erken moes word. Hulle was van Trump se getrouste ondersteuners gedurende die presidentsverkiesing.

Die redes vir die wêreldwye stramheid om Jerusalem as hoofstad te erken is legio. Selfs dr. DF Malan, destydse premier van Suid-Afrika en oudpredikant, wat Israel se onafhanklikheid dadelik op onder meer Bybelse gronde erken het, het nie kans gesien om die ambassade in Jerusalem te begin nie.

Tel Aviv, wat oorspronklik as voorstad van die Bybelse stad Jaffa (Joppe) tot stand gekom het, het de facto Israel se hoofstad geword.

Hoewel die Palestyne, wat die Wesoewer en die Gaza-strook as grondgebied ontvang het, Jerusalem (Oos-Jerusalem wat eintlik alle Bybelse dele bevat het) as hul hoofstad verklaar het, was dit ’n afsonderlike mandaatgebied waar die inwoners later deur ’n referendum oor sy toekoms sou besluit. Alle planne van die internasionale gemeenskap is egter omvergewerp toe Jordanië eers die Wesoewer verower en geannekseer het, en toe Oos-Jerusalem. Die Al Aqsa-moskee, een van die Moslems se grootste heiligdomme, is ook in Oos-Jerusalem geleë, en digby die plek op die Tempelberg waar Israel se laaste groot tempel gestaan het, maar deur die Romeine vernietig is.

Wes-Jerusalem, die Israelse stad, was in wese ’n nuutgeboude stad.

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Egipte het die Gaza-strook verower en later geannekseer. Palestina het eers weer na 1967 tot stand gekom toe Israel die Wesoewer en Oos-Jerusalem by die Palestyne afgeneem het. Jerusalem is verenig en by Israel ingelyf. Die Gaza-strook is ook by Egipte afgeneem, en het deel van die Palestynse owerheid se grondgebied geword. Dit het grootliks in terme van aanhangsels tot die Camp David-ooreenkoms, waarin die Palestynse lot eintlik net as bysaak ter sake gekom het, geskied.

Die Palestyne beskou, in die woorde van pres. Mahmoed Abbas, egter steeds Oos-Jerusalem as hul ewige hoofstad. Daar is telkemale groot ontsteltenis as Israel veral nuwe woongebiede in Oos-Jerusalem ontwikkel. Selfs argeologiese opgrawings word teengestaan, glo omdat gevrees word dat Israel se weergawe van die geskiedenis bewys kan word.

Sedert Trump se besluit laat gister Suid-Afrikaanse tyd wêreldkundig gemaak is, was daar ’n stortvloed kritiek van wêreldleiers. ’n Groep lande, wat van die VSA se getrouste bondgenote soos Japan insluit, het dadelik ’n spoedsitting van die Veiligheidsraad aangevra.

Onder die lande wat meen die VSA skend nou die internasionale reg, is pikant genoeg Jordanië.

In Suid-Afrika het die ANC aangekondig dat besin gaan word oor die verkleining van die Suid-Afrikaanse ambassade in Israel, of selfs die sluiting daarvan. Die ANC is lank reeds, ook uit die PLO se terreurdae, ’n bondgenoot van die Palestyne.

Daar is bykans internasionale konsensus dat internasionale pogings om vrede tussen Israel en die Palestyne te bewerkstellig, ook dié van Trump self, nou na die maan is.

Dit is moeilik om te bepaal wat die diplomatieke afloop van Trump se besluit gaan wees. Daar kan wel verwag word dat die ambassade sonder om formeel daarop te wys, in die gewese Wes-Jerusalem ingerig sal word. Die internasionale reg erken immers Israel se soewereiniteit oor daardie deel van die stad. Dit is egter te betwyfel of ander lande die VSA se voorbeeld sal volg.

Suid-Afrika en ’n paar ander lande kan hul diplomatieke betrekkinge met Israel opskort en hul betrekkinge met die VSA “afkoel”. Te drasties sal dit nie wees nie, want dit sal baie onverantwoordelik wees om die voordele van die African Growth and Opportunity Act (Agoa) op die spel te plaas.

Uiteindelik sal realpolitiek en magspolitiek harder praat.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

Ek haal my hoed af vir Trump.

Hans van Schaik

Dit moet gebeur. Dis verstommend dat mense wat voorgee hulle is Christene, so bybels oningelig is. Die Profete v d Ou Testament het dit telkens uitgespel, veral Sagaria. Ons sien profesie in vervulling gaan.

Cornelia

En die geskiedenis sal sy afloop neem tot daar waar ons Here die heerskappye van die wêreld afsluit. Baie dankie vir u altyd insiggewende voorleggings wat u opdiep wat ‘n mens tot nadenke en globale insig verskerp. En op die einde van elke gedagte weet jy God is in beheer van Sy Koninkryks Wil op aarde. Daarin is Vrede en Rus te vind.

DG

Wat sou Hillary Clinton gedoen het, sy het nie ruggraat nie. Dit is ‘n brawe stap van Trump.

David

In die artikel word daar na “fundamentalistiese” Christene verwys. Dit is ‘n deursigtige pogimg om Christene wat glo Jerusalem behoort aan Israel verdag te maak en te vergelyk met fundamentalistiese Moslems. Ek glo die Bybel en die Bybel sê meer as 100 keer dat Jerusalem aan Israel behoort. Maak dit my nou ‘n radikalis? Het ‘n Christen ‘n ander opsie as om die Bybel te glo? Kan jy nog ‘n Christen wees as jy iets verwerp wat meer as 100 keer in die Bybel staan? Ek verag Maroela se poging om my met ‘n Moslem fundamentalisme te vergelyk omdat ek… Lees meer »