Nuuskommentaar: Steel die SAUK ‘n vry en regverdige verkiesing?

Skermskoot uit die advertensie

Skermskoot uit die advertensie

Toe die Suid-Afrikaanse regering die gebrekkige algemene verkiesing in Zimbabwe erken het, het Maroela Media gemaan dat dit moontlik nie goeie nuus vir Suid-Afrika se eie verkiesing inhou nie. Onder die besware oor die Zim-verkiesing wat die Zuma-administrasie verkies het om mis te kyk was dat die speelveld nie gelyk gemaak is nie deur die effektiewe beheer wat Mugabe oor feitlik alle media in die buurland het. Lande soos Australië en Botswana het hul monde uitgespoel oor die gekonkel en geëis dat die verkiesing oorgehou word.

Dit is veral as die regerende party die staatsmedia en die openbare uitsaaier beheer wat die demokrasie gebrekkig word; wanneer die speelveld ongelyk word.

Maroela se vermaning was meer as waarskuwing bedoel om op te let wat dalk op eie bodem kan kom as wat geglo is dat dit wel sal gebeur.

Die jongste berigte dui egter daarop dat daar inderdaad probleme is.

Opsommend kan gesê word dat die ANC self besluit het om die verkiesing onder die vaandel van die kwesbare Jacob Zuma aan te durf, en nou kleinserig is oor die gevolge. Druk word na bewering op die SAUK uitgeoefen, onder meer deur die “aktivering” van politieke kommissarisse, om skade te beperk. Daar is wel diegene wat meen die DA het sy hand met die inhoud van die “verbode advertensies” oorspeel, maar dié argument word eintlik irrelevant gemaak sou daar waarheid in ander beperkende maatreël wees, soos skynbare redaksionele lekkasies dit wil hê.

Dit is egter nie net die DA wat kla nie. Ander opposisiepartye en instansies soos Right2know en Support Public Broadcasting Coalition is suur. Dit handel nie net oor die omstrede advertensies nie, maar dis nie altyd so maklik om die vinger te lê op vermeende gevalle van politieke gekonkel in die wandelgange van Aucklandpark nie. Daarom sal gevalle wat soos ‘n oorryp vy in die skoot val, bloots gery word, soos die verbod op die advertensies nou, maar ander voorvalle soos die opdrag vir die uitredigering van die uitjouery van Zuma.

Soms is die SAUK egter nie eens subtiel nie, soos die beeldmateriaal wat vertoon is van die SAUK se Sanhedrin wat ‘n biddiens bygewoon het vir Zuma se herverkiesing tydens die Mangaung-konferensie in Bloemfontein.

Die City Press som die probleem soos volg op: “For a long time, the decision makers at the SABC have come to regard the public broadcaster as their little fiefdom they run on behalf of Luthuli House. From the board level to senior executives, they have, with little shame, taking orders from whoever is master at Luthuli House.” Die City Press meld dat verneem is dat senior redaksionele lede besluit het om terug te veg om onafhanklikheid en integriteit te beskerm.

Dit is immers die ganse redaksionele span wie se integriteit in die slag bly as daar politieke agendas bedryf word, en nie almal verdien dié klad op die naam nie.

Of instansies soos die OVK en IKOSA nou vinnig genoeg sal (wil) optree om die geloofwaardigheid van die verkiesing te beskerm sal gesien moet word.

Die SAUK openbaar hom nou al ‘n geruime tyd as ‘n rare mengsel van verbasende politieke objektiwiteit en onverbondenheid aan die een kant, maar meer opvallend as werktuig van die ANC, en die Zuma-faksie in die besonder.

Die werklike gevaartekens kom wanneer joernaliste met integriteit, wat werklik geglo het hulle word redaksionele onafhanklikheid gegun, begin kla dat die instruksies wat hulle kry nie meer met dié onafhanklikheid strook nie. So kom selfs die programme wat as “eilande van objektiwiteit” bekend gestaan het se geloofwaardigheid onverdiend ook in die gedrang.

Wanneer daar politiek gekonkel word, is almal uiteindelik die verloorder.

Volgens ‘n baie onlangse Rasmussen-peiling in die VSA meen net 19% van die respondente die federale regering hou hulle by die mandaat van die kiesers. In nog ‘n peiling meen 72% van die respondente dit sal beter wees as die bestaande verteenwoordigers nie weer verkies word nie, terwyl nog ‘n peiling toon dat 78% van die kiesers meen politici is minder eties as mense in ander beroepe. Voorts meen 63% dat Kongreslede te veel betaal word. Net 30% meen dat die VSA is in die regte koers op pad. Tog dui die peilings daarop dat die Republikeine en die Demokrate min of meer kop-aan-kop loop met die oog op die verkiesing wat later vanjaar plaasvind. En niemand betwis dat die VSA se verkiesings media- en geldgedrewe is nie. In Suid-Afrika is daar miskien meer “gewoontekiesers” wat hulle nie deur die media laat beïnvloed nie, maar die media bly steeds die mees potente middel waardeur partye kiesersoortuigings kan beïnvloed, en daarom sal die media se eie oriëntasie onder die vergrootglas by. Kyk maar na die Heil Potch-debakel.

Iets wat die bodem van geloofwaardigheid van ‘n nuusmedium vinnig uitruk, is as dit daarop aanspraak maak dat dit politiek onverbonde en neutraal is, maar dit nie is nie. Dit is ‘n ou bemarkingsbeginsel dat as die kliënt agterkom iemand probeer hom beïnvloed, sal hy hom verset. Vaar dus maar liewer onder die eie vlag, dan loop ‘n mens nie die gevaar dat die kliënt meen sy intelligensie word onderskat nie.

Met die omvang van die sosiale media, is dit baie moeilik om vir die lesers, luisteraars of kykers met ‘n stel donkie-ore te probeer uitrus.  Die omvang van inligtingsvloei is eenvoudig te groot, en as die publiek waarneem dat dit wat hulle in die konvensionele media sien nie strook met alternatiewe media nie, ontstaan wantroue.

In die VSA kry 56 persent van die kiesers hul nuus hoofsaaklik van die TV, en 25% wat die internet as hoofbron gebruik. Tog sê 40% die internet is die beste manier om nuus te bekom, terwyl net 37% meen die TV is die beste nuusbron. Tien persent gebruik koerante as nuusbron, en sewe persent die radio. Slegs ses persent beskou die nuus as baie betroubaar.

In Suid-Afrika sal die prentjie om verskeie redes met ‘n sleurffek anders lyk, maar die geweldige omvang van selfone bring die kuberruim tog binne die bereik van meer mense as wat normaalweg geglo word.

Verslaggewers Sonder Grense meet die vlak van persvryheid ook aan die hand van die mate waartoe die media – ook die private media, politieke diversiteit weergee. Daarom is ‘n opmerking van die redakteur van Rapport, Waldimar Pelser, op RSG se program “Kommentaar” kommerwekkend dat hy glad nie belangstel wat klein partye te sê het nie. Sou so ‘n norm gegeld het toe die DA se voorganger, die DP, ‘n klein party was, sou Suid-Afrika se opposisiepolitiek vandag waarskynlik baie anders daaruit gesien gewees het. Tog, in ale billikheid, gee Rapport onder sy redakteurskap ‘n veel groter politieke spektrum weer as onder die redakteurskap van Lisa Albrecht.

Daar is baie maniere om die kat in die donker te knyp, en ook om ‘n beeld van politieke onverbondenheid voor te hou. So kan ‘n nuusmedium homself onverbonde verklaar, maar sorg dat veral sy senior redaksionele span ‘n sekere politieke gees adem. Of kan die aanbieder van aktualiteitsprogramme sy deelnemers so kies dat hulle hoofsaaklik een deel van die politieke spektrum verteenwoordig.

‘n Vrye media word dikwels as die vierde, maar nie-amptelike been van die demokrasie beskryf. Trouens, so nie-amptelik is dit ook nie noodwendig nie, want dit word dikwels formeel in grondwette verskans. Maar dan moet die bepalings in die grondwet nie bloot iets op papier wees wat swig onder druk van regering, belangegroepe of korporatiewe geldelike belange nie.

Maroela Media sal sy deel doen om te verseker dat die verkiesing so vry en regverdig as moontlik plaasvind, en die demokrasie so ongeskonde as moontlik daarvan afkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.