Nuuskommentaar: Stembusse open

Argieffoto: Phillip Bruwer

Die stembusse open vandag reeds sodat kiesers vandag of môre by hul stempunte spesiale stemme kan gaan uitbring. Dit sluit onder meer kiesers in wat weens werksomstandighede nie Woensdag hul stemme kan uitbring nie.

Kiesers wat hul oorsee bevind kon reeds hul kruisies trek. Vandag en môre sal die OVK ook tuisbesoeke bring sodat kiesers wat weens gesondheidsprobleme of gestremdhede nie na die stempunte kan gaan nie, ook hul kruisies kan trek.

Volgens die OVK het meer as 700 000 kiesers aansoek gedoen om hul kruisies met spesiale stemme te trek.

Om jou stemreg te kan uitbring word as sekerlik die belangrikste bousteen van die demokrasie beskou. Ander aspekte sluit in persvryheid, die vryheid van meningsuiting en die onafhanklikheid van die regbank.

Die afgelope aantal jare het burgerlike instellings soos AfriForum, Freedom Under Law en Outa in belangrikheid toegeneem om te voorkom dat ’n diktatuur van die meerderheid, ook die tirannie van die meerderheid genoem, behoorlik inslag vind. Oudpres. Jacob Zuma het, volgens sy eie uitlatings, nie die verskil verstaan nie, en moes telkemale deur die howe tot orde geroep word.

Om van die stembus weg te bly, is ook ’n manier van stem, maar dan in beginsel eerder vir die party wat hierdie kiesers die minste aan bewind wil sien.

In dié stadium wissel peilings nog te veel van dag tot dag en van peiling tot peiling om akkurate voorspellings te kan maak. Histories het die ANC gewoonlik ’n sterk eindpoging gehad en dan beter gevaar as wat voorspel was. Daar is aanduidings dat dit weer aan die gebeur is, veral danksy die rol van pres. Cyril Ramaphosa.

Aanduidings bestaan dat die DA beter kan vaar, maar ironies in sy vesting, die Wes-Kaap, agteruit kan boer. Dit word veral toegeskryf aan die ontstaan van Good, asook partye soos die ACDP en Cope wat van hul oud-kiesers kan terugwen. Dit kom voor dat kiesers wat met die vorige verkiesing hul ore aan die destydse DA-leier, Helen Zille, uitgeleen het “om hul stem aan die DA te leen”, hulle stemme nou weer opeis.

Die snelle tempo van migrasie veral uit die Oos-Kaap sal ook ’n verskil maak. Of dit die ANC soveel sal bevoordeel, moet nog gesien word. Die media se aandag aan die Land Party wat in Hermanus gesetel is, waar die de facto stigter en leier, Vanessa Swanepoel woon, dui op joernaliste wat aanvoel dié party kan beter vaar as verwag. Swanepoel se media-middele en vermoëns moet egter ook nie onderskat word nie.

Vroeër jare was daar ’n gereelde politieke sêding: “Die Engelsman dink Prog, hy stem SAP, en dank die Here die NP is aan bewind.” Mite of nie, dit laat ’n mens dink aan die Afrikaanse kiesers wat min of meer soos die Vryheidsfront Plus dink, maar vir die DA stem. Uit leserskommentare en ander terugvoer wil dit voorkom of hierdie kiesers sterker gewortel geraak het as wat die aanduidings ’n paar maande gelede was. Tog lyk dit of die Vryheidsfront Plus redelik gaan groei. Die Vryheidsfront Plus vaar gewoonlik beter as wat die politieke joernaliste voorspel, wat dikwels ikabod oor die party uitspreek.

Ten spyte van die gereelde deposito-slagtings wat die deelname van mikro-partytjies behoort te ontmoedig, neem daar vanjaar sowat 40 sulke partytjies deel. Wat egter interessant is, is dat ’n hele rits hiervan ellelange kandidatelyste geregistreer het, soms aansienlik meer as die bekende partye. As elkeen van hierdie kandidate gemiddeld tien kiesers se stemme kry, gaan dit omtrent genoeg vir ’n halwe setel lewer. Die peilingkundige, Mari Harris, het toegegee dat kiesers wat hul stemme vir hierdie mikro-partytjies uitbring, effektief hul stemme vermors. Dit geld egter nie die partye soos Cope, die UDM, IVP en die Vryheidsfront Plus nie, terwyl Good sonder ’n geskiedenis van verkiesingsdeelname ook gereeld by dié groep getel word.

Onbeplande gebeure kan kort voor ’n verkiesing ’n groot rol in die stembus-opkoms speel. Dink maar hoe ’n groot impak dit op die bewuswording van die verkiesing sou maak sou dit bekend word dat Ace Magashule (bloot ’n voorbeeld) in verband met die staatskaping-sage in hegtenis geneem is.

Moenie die kortwiek (kort week) wat die verkiesing teweeg bring kortwiek deur nie te gaan stem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

JohanL ·

Ek weet van iemand in PE wat aansoek gedoen het om spesiale stem uit te bring. Tot gisteraand nog niks gehoor van die (on)Afhanklike Verkiesings Kommissie nie.

Joseph Stalin : “Dit is net belangrik dat die kiesers dink hulle het gestem. Die resultaat hang nie af van diegene wat gestem het nie, maar van die wat die stemme tel”.

Willemien ·

En dan is daar nog Afrikaners wat opgewonde is oor die verkiesing. Miskien is dit die nostalgie van ‘n tydperk wat verby is.

Vra net ·

Is Woensdag ñ gewone werksdag en moet ons verlof in sit of is dit ñ publieke vakansie dag? Nie almal werk in die area wat hulle moet stem nie en moet met publieke transport by hulle werk uitkom en visa versa. Vra net.

Kobus ·

Vra net…Woensdag n amptelike vakansie dag wat in Februarie in Staatskoerant geproklameer is

Buite Stander ·

Vul eerder jou siekverlof vorm in, want die verkiesing gaan jou siek maak.

Wessel ·

Die ANC en DA gaan slegter doen, as in die laaste verkiesing. Kom ons kyk.

Jerry ·

Alle mense moet gaan stem, alhoewel die vorige verkiesing die belangrikste was. Opposisie partye moes na die vorige verkiesing genoeg mag gehad het om staatskaping fase 1 te keer. Dit het nie gebeur nie en wat ookal die uitslag van hierdie verkiesing gaan wees, gaan nie staatskaping fase 2 wat reeds in aanvang is, stuit nie! Opposisie partye is almal nou in n gyselaar situasie waaruit hulle nie kan ontsnap nie, daarvan het staatskaping fase 1 seker gemaak! Met staatskaping fase 2 het die sosialiste dit ten doel om belastingbetalers en pensionarisse te laat betaal vir werklose Suid Afrikaners, vir botallige kader aanstellings en vir die herstel van SOE’s. Selfs die skuld wat die staat aangaan met buitelandse lenings soos bv by China, gaan diegene wat werk en wat op pensioen is, daardie skuld teen rente moet terugbetaal! Dit is nou te se as alles regloop, loop iets verkeerd en met kaderontplooiing gaan dinge verkeerd loop, sal die staat dit wat oor is in pensioenfondse, doodeenvoudig vat, want die regerende party het in alliansie met ander revolusionere partye na stemdag die mag, nie die teenrevolusionere opposisie nie! Na stemdag gaan opposisie partye maar weer dieselfde magtelose stories opdis en deuntjie sing. Soos n gewilde Multichoice DSTV krieket kommentator gereeld se wanneer n span in die moeilikheid is “dis nag in Garries”!

Tanya ·

En hoeveel gaan weer weg gegooi word of verbrand word wonder ek.en ons weet wie sit agter dit

Frik Lotz ·

Stem vir die beskerming van jou taal en kultuur. Stem vir die regte van minderheidsgroepe en selfbeskikking. Stem vir die party wat gekant is teen regstellende aksie, SEB en onteiening sonder vergoeding. Stem vir die groeiende alternatief. Stem VF Plus!

Wildeboer ·

Selfbeskikking? Na 25 jaar op die soustrein weet die VF+ nie wat dit beteken nie.

Hendrik ·

Frik ons stem nie vir selfbeskikking nie maar werk alreeds 25 jaar aan selfstandigheid wat sal lei tot selfbeskiking. #Kleinfontein. Ons it nie stoele warm nie want ons is besig om te werk.

Adam ·

Frik, die VF+kan groei soos hy wil, maar hy is gedoem om ‘n politieke bonsai te bly.

Hendrik ·

Adam dit is baie waar. Ek sal beslis vir die VF+ stem as ek sou gaan stem het omdat dit ‘n ordentlike party is. Ongelukkig is hulle net flaggiewaaiers in die parlement met geen se nie.

Andreas ·

Herman, ek kon nog nooit verstaan hoekom mens oor ‘n saak van enorme belang en as mens sterk daaroor voel wil stilbly nie. Mens bring jou kant, al beteken dit dat ander jou misken. Jy het juis ‘n dag of so gelede van persvryheid en vryheid van spraak geskryf.

Andreas ·

Herman, julle moet tog die mense daarop attent maak dat daar ‘n swart pen is waarmee hulle hul kruis gaan trek, en nie ‘n potlood wat uitveebaar is nie.
Dan moet hulle ook seker maak dat die stembrief die amptelike stempel op het.

Wildeboer ·

Amptelike stempel? Wat praat jy nou. Die uitslag is al klaar bekook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.