Nuuskommentaar: Stemvee of demokrasie of Zumakrasie?

Pres. Jacob Zuma. ArgieffFoto: GCIS

Pres. Jacob Zuma. ArgieffFoto: GCIS

Die ANC het pas weer, op die vooraand van die DA se mosie van wantroue in pres. Zuma, laer getrek om die beleërde president, maar die vraag is of dié uitdrukking van solidariteit die toenemende bewuswording dat die keiser eintlik kaal is, enigsins kan stuit.

“We want Pik!” het ʼn groot groep mense destyds voor die parlement geroep, maar toe kry ons ʼn ander premier.

Natuurlik was die groep se uitroepe nie noodwendig verteenwoordigend van die destydse toelaatbare kieserskorps nie, maar kry die breë kieserskorps en ander belanghebbendes noodwendig wie en wat hulle wil hê wanneer die een of ander vorm van gebrekkige demokrasie ingespan word?

Kort nadat dit in die Amerikaanse presidentsverkiesing bekend geword het dat Donald Trump die voortou geneem het, deur die “swing state” Florida, se kieskollege in te palm, het die wêreldmarkte geskud. Markte in Tokio het met 2,2 persent geduik. Die hele wêreld het belang by wie as die VSA se president verkies word, maar so min of meer is dit net die Russiese regering wat hul voorkeur vir Trump aangedui.

Die Amerikaanse stelsel, waarvolgens die Amerikaanse president verkies word, waarborg nie dat die kandidaat wat die meeste kiesers se stemme trek, die pyp gaan rook nie en dit het al gebeur dat die “minderheidskandidaat” president geword het.

Suid-Afrika se kiesstelsel sien daar heeltemal anders uit. Die wyse waarop die president verkies word, gee geen aanduiding van wie die bevolking in ʼn regstreekse presidentsverkiesing sou verkies nie. Die een wat president word, word in die praktyk deur die regerende party aangewys. En omdat Suid-Afrika, anders as die VSA, ʼn stelsel het van partygebonde koukus, kan iemand aan bewind bly, al is hy hoé ongewild onder die breë publiek. Ja, selfs al is sy presidentskap bewysbaar ʼn ramp vir die land.

Dit is presies wat nou weer aan die gebeur is. Die ANC se nasionale werkkomitee het met sy jongste beraad sy gewig weer solied agter pres. Jacob Zuma ingegooi. Dit het gebeur kort voordat die DA sy stem dik moes maak dat daar Donderdag weer ʼn mosie van wantroue in Zuma voor die parlement gaan dien.

Dit is bekend dat Zuma sterk teenkanting onder minstens ʼn paar prominente ANC-parlementslede het – lede wat selfs so ver gegaan het as om in die openbaar oproepe op Zuma te doen om as president te bedank. In seker sy mees patetiese openbare optrede tot nou toe, het die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, egter onderstreep die ANC sal in die parlement volgens die party se koukus-direktiewe stem. Met ander woorde, alle ANC-lede gaan baie lief vir Zuma wees en die mosie met die party se meerderheidstem afstem.

In die proses word die middelvinger vir die Suid-Afrikaanse kiesers gewys, van wie die meeste heel waarskynlik nou reeds tot boordenstoe vol is vir Zuma en die verleentheid op verleentheid wat hy die land besorg en dat hy gereeld met die howe (wat hy periodiek kritiseer) deurmekaar is.

Mantashe het tot toegegee dat, as die ANC-lede toegelaat word om volgens hul gewete te stem, dit die ANC sou seer maak, so asof landsbelang nie swaarder moet weeg as partybelang (of Zumabelang) nie. ʼn Mens kan maar net wonder of Mantashe die implikasies van sy woorde besef het – dat lede se gewete ʼn ondergeskikte rol tot partydiktatuur moet speel, so asof demokrasie nie juis die uitdrukking van kiesers, soos uitgevoer deur hul verkose LP’s, se gewete en vertolking van partybeleid is nie.

Dit ter wille van een mens wat moontlik nie die steun van die meerderheid kiesers het nie. Ja, soos in die verlede, kan verwag word dat verskeie ANC-LP’s Donderdag skielik siek sal wees, of weens ander “verpligtinge” nie in die parlement sal wees nie. Miskien druk een weer “per ongeluk” die verkeerde knoppie en stem vir die wantrouemosie. Al die beginselvaste lede, wat in die verlede tydens die stemming buite die saal van die algemene vergadering rondgedrentel het of met “dringende sake” oor die selfoon besig was, het vermoedelik nou reeds afgetree.

Maar die koukusgebondenheid maak dit vir Zuma moontlik om af te sit Addis Abeba toe om saam met ander Afrikaleiers die Libiese krisis te probeer oplos. Geen nugter mens sal na Zuma luister na wat hy met Suid-Afrika aangevang het nie.

Of hierdie gedwonge konsolidasie van steun aan Zuma en die patetiese poging om die krisis op die DA se koppe om te keer enigsins die groeiende verset teen Zuma se geklou aan die presidentskap gaan stuit of selfs net temper, lyk onwaarskynlik.

Die gewaarwording, dat die keiser eintlik kaal is, word net by die oomblik groter en daar is selfs nou ʼn woordeskat aan die ontwikkel wat die versugting aandui dat Zuma die trekpas moet kry. Woorde soos Zexit en Zamnestie. ʼn Neweproduk is dat die ANC self geloofwaardigheid verloor en daarmee saam die nuusmedia wat as beeldpoetsers vir Zuma optree.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sê net ·

Dink net wat sou gebeur as mense iets soos termibale bek-en-klouseer k9n kry van al die verbale diaree wat hul kwytraak

Arie ·

Hoe langer hy daar bly hoe groter is die kanse dat die anc gaan val

willie ·

Ek kan dwarsdeur die 6 in die top
struktuur sien,hulle weet van al die
planne wat Zuma gemaak het en deel ook saam met Zuma in die
koerupsie wat gepleeg is? Nogtans
ondersteen hulle hom,asg daarvan
is hulle net so skuldig.

Karl ·

Vraag, hoe kan ons ons kieswet verander kry om ons prisedente meer demokraties verkies te kry?

KP ·

Vergeet in hierdie land van demokrasie daar bestaan nie so iets hier nie.

dirk ·

Demokrasie is ‘n woord wat gebruik word om die blanke Afrikaners te laat skuldig voel. SA het net ‘n demokrasie op papier/grondwet. Zuma en Kie het nie ‘n saak met dit nie.

Neels ·

Behou Zuma

Zuma kry meer stemme vir DA hoe langer hy daar bly.

Dankie Zuma. Hou aan. Bly. DA vind baie baat met jou optrede

My tweesent bydrae ·

Ek het gedink daar was baie geleerde persone bertokke by die opstel van die grondwet . How kry iemand met n laerskoolopleiding dit reg om die grondwet so te manipuleer ?

John ·

Swak grondwet en swak onderhandelaars. Wat help dit om nou te kla. Zuma weet dit en die ANC weet dit. Saamstaan is hul motto anders val die spul uitmekaar soos ‘n ou bruinbrood.

REAList ·

Pres Trump gaan dalk net die persoon wees wat Pres Zuma op sy plek gaan sit.
Hy het die Republiek al beskryf as chaoties.
Wag vir die show :-/

Mossie ·

Dimitri Tsafendas wie onthou hom nog …..wonner maar net waas hy of iemand soos hy

Koos1 ·

Ek werk vir ‘n baas. As ek hom van R246mij. steel en net R7.6mij. terug betaal en as ek 783 moontlike klagtes teen my het, sal hy seer sekerlik nie van my verwag om te bedank, en dan is my sonde vergewe nie. Ek kan nie glo dat enige persoon eers daaraan dink om vir Zuma amnestie te gee nie. Hy is mos die groot bek wat altyd se dat hy nie deur ‘n hof skuldig bevind is nie, nou gee hom asb sy dag in die hof, dan praat ons weer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.