Nuuskommentaar: Steun onwettige regeringsoptrede en dit kom hap jou

Argieffoto.

’n Suid-Afrikaner is in Desember verlede jaar as die VN-sekretaris-generaal se spesiale gesant vir RtoP aangestel. Maar wat presies behels hierdie pos, en gaan dit aan minderheidsgroepe in Suid-Afrika se lot ’n verskil maak? En sal ’n Suid-Afrikaanse vrou wat onlangs in ’n senior VN-pos aangestel is, kan sorg dat almal in Suid-Afrika waardige behandeling kry?

Terwyl die staatkundige krisis in Venezuela tot onbeskryflike lyding aanleiding gee, kibbel die wêreld oor hoe om die krisis te hanteer. Pas het tien lidlande van die Europese Unie, Duitsland, Frankryk, Swede, Spanje, Denemarke, Groot-Brittanje, Oostenryk, Portugal, Litaue en Nederland hulle by die VSA en verskeie Latyns-Amerikaanse lande aangesluit wat die parlementêre voorsitter, Juan Guaidó, as tussentydse president aangewys het ná Nicolás Maduro, omstrede president van die land, ’n ultimatum geïgnoreer het om ’n verkiesing uit te roep.

Maduro het die laaste presidentsverkiesing “gewen” nadat wyle Hugo Chavez hom met die hand as opvolger uitgesoek het. Met die parlementêre verkiesing daarna het die opposisie egter die meerderheid in die parlement behaal. Lees gerus Leopold Scholtz se ontleding hier. Lande oor die wêreld heen verskil oor wie nou as amptelike (waarnemende) president erken moet word. Die VSA, oftewel pres. Donald Trump, het gesuggereer dat daar selfs moontlik militêre ingryping kan wees.

Intussen het sake ekonomies so versleg dat ’n geraamde 3 miljoen inwoners van Venezuela na veral buurlande gevlug het. In ’n hele paar lande gaan dit erbarmlik sleg met die vlugtelinge. Dit sal na raming sowat $700 miljoen kos om die lot van die vlugtelinge draaglik te maak, maar intussen vlug tot 5 000 mense per dag uit die eens welvarende land.

Maar wie is eintlik reg? Rusland en Suid-Afrika tel onder die lande wat meen Maduro is die wettige president. Hy het immers die presidentsverkiesing gewen. Ander lande meen weer Maduro het die verkiesing bekonkel, en in elk geval sy mandaat verbeur toe die opposisie die parlement verower het.

Dit lyk egter in elk geval of Maduro nie meer die meerderheid kiesers se steun het nie, indien hy dit ooit gehad het. Min of meer dieselfde het nou in die DRK gebeur, waar die nuwe president volgens Frankryk en verskeie instansies, waaronder die invloedryke Rooms-Katolieke Kerk, glo daar was massiewe verkiesingsbedrog.

Suid-Afrika was een van die lande wat die ooglopend bekonkelde verkiesingsuitslag gesteun het en is vervolgens uit verskeie oorde daarvan beskuldig dat Suid-Afrika neig om onregmatighede goed te praat, soos met Zimbabwiese verkiesings wat ook maar erg suur geruik het. En hoeveel vertroue moet kiesers in Suid-Afrika se eie verkiesings hê as die regering despote steun wat die verkiesings gesteel het?

Maar wie behoort ’n land moreel gesproke te steun? Die organisasie RtoP (International Coalition for the Responsibility to Protect) lê die internasionale reg so uit dat die internasionale gemeenskap eintlik verplig word om by lande in te meng as erge gevolge die bevolking in die gesig staar as daar nié ingegryp word nie. Dié reg is onder meer gebruik toe hoofsaaklik Navo ingegryp het om Moammar Ghaddafi te ontsetel. Ghaddafi het onder meer gedreig om opstandige stede uit te wis. Talle lande, veral waar diktatoriale regerings aan bewind is, beroep hulle gewoonlik op die beginsel dat daar nie in die huishoudelike sake van lande ingemeng moet word nie.

Die VSA het al verskeie kere in Latyns-Amerika openlik of klandestien by die omverwerping van regerings betrokke geraak. Soms, soos by Kuba, was dit nie suksesvol nie. Gevalle waar die VSA ook die leiding geneem het om regerings te laat val, soos Irak en die Taliban in Afganistan, is baie bekend.

Terwyl daar in beginsel nie veel fout te vind is met ingryping nie as die bevolking, veral ’n minderheid, erg deur die regering bedreig word, is daar in die praktyk dikwels ’n duur prys te betaal. Die geallieerde magte onder leiding van die VSA sal byvoorbeeld baie moeilik uit Afganistan kan onttrek. Onstabiliteit volg dikwels nadat daar so ’n ingryping was.

Maar as die alternatief vir onstabiliteit wrede onderdrukking, volksmoord, oorlogsmisdade en etniese suiwering is?

Dit is veral as ’n mens na die definisie van volksmoord van Rafael Lemkin kyk, waar die vernietiging van ’n volk se waardigheid ook ingesluit word, dat gedebatteer kan word of minderheidsgroepe in Suid-Afrika nie erg bedreig word nie.

Suid-Afrika het sedert 1994 reeds verskeie dwars keuses uitgeoefen wanneer dit by sake kom waar bevolkings erge vervolging die hoof moet bied, soos Suid-Afrika se omstrede stem in die geval van Mianmar, en later selfs Isis.

Daarom bevat dit meer as net ’n tikkie ironie dat Suid-Afrika, in die persoon van dr. Karen Smith, die VN se spesiale gesant vir die reg op beskerming beklee. Sy is in Desember 2018 deur die VN se sekretaris-generaal in dié pos aangestel.

Tipiese gevalle waar die RtoP geld, word deur dié organisasie self soos volg beskryf: “The advancement of the norm to better protect populations from genocide, war crimes, crimes against humanity, and ethnic cleansing.”

Kwalifiseer van die BLF en die EFF se stellings nie om ten minste onder dr. Smith se aandag gebring te word nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

En ons eie regering sal nooit pa staan vir tekortkominge of vergrype nie, of dat hulle die minderhede in die land misken nie, soos nou met die brief van die internasionale 5, nee, nou word die 5 daarvan beskuldig dat hulle met SA se interne beleid inmeng wat die SA regering sê op niks anders as Staatskaping neerkom nie. Noujatoe, daar het ons regering oor die woord ‘staatskaping’ in hul woordeskat opgeneem, hulle is paranoïes.

Rupert Ashford ·

Sou dit nie wonderlik wees nie. Maar die VN se rekord is maar hopeloos in hierdie gevalle. Dit is gewoonlik ander groepe of koalisies gelei deur sterk lande soos die VSA wat tot aksie oorgaan terwyl die VN toekyk of hard werk om sosialisme te bevorder.

Charles ·

Ja-nee kyk Rupert, die “UN” word nie verniet as die “Useless Nations” geparodieer en bespotlik gemaak nie, genoeg gese!

Herman Goosen ·

Die SA regering sal kenmerkend sosialistiese diktators steun. Geen verrassing dat hulle so besluit het nie en die uiteinde is armoede en agteruitgang.
Solank as wat ongeregtigheid ondersteun word sal daar swaarkry wees. Die VN sukkel met polities korrektheid en slag dus vir jare lank al glad nie om enigheid of vrede en vooruitgand te bewerkstellig nie. Hulle problem is dat hulle noodgedwonge inkusief moet wees en dus word dikwels belangrike posisies aan derde wereld verteenwoordigers uitgedeel og polities korrekte lande. So eindig swak leiers op in goeie posisies wat die wereld te slegte beinvloed.
Ek kan nie sien dat die VN ooit die geld wat hulle kos kan regverdig nie sedert hulle die wereld verteenwoordig insluitend die agterlike onsuksesvolle denkwyses wat derde wereld lande skep en versukkeld hou.
Dus is die VN maar net ‘n instelling met goeie doelwitte en geen manier om dit te bereik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.