Nuuskommentaar: Steve, die regbank en die staatsgreep

Conrad Koch en Chester Missing Foto: Werner Beukes/SAPA

Conrad Koch en Chester Missing Foto: Werner Beukes/SAPA

Die laaste hoofstuk in die sage rondom een twiet van Steve Hofmeyr is kennelik nog nie geskryf nie. Na berig word het Steve oorlog verklaar teen diegene wat hom aanval, nadat die hof ’n voorlopige teisteringsbevel wat Steve teen Conrad Koch verkry het, tersyde gestel het. Steve moet ook die regskostes betaal.

Maroela Media volstaan by sy aanvanklike advies aan Steve om die howe in hierdie saak te vermy, en eerder die hulp van professionele beeldpoetsers in te roep. Sonder om dit as verwyt te bedoel, het Maroela op 3 November in die nuuskommentaar onder meer soos volg geskryf: “In hierdie geval sal Steve dalk goed doen, soos talle vermaaklikheidskunstenaars en selfs presidente voor hom, om ’n span beeldpoetsers te kontrakteer om te help om uit die tameletjie te ontsnap. Dit gaan nie net oor Steve self nie, maar die baie Afrikaners wat in die proses self geïnkrimineer voel. Of Steve geregverdig of ongeregverdig bygedam word, is kwalik ter sake – uit reaksies op die sosiale media en prof. Erwin Schwella gisteraand op RSG se Kommentaar-program, is dit duidelik dat baie Afrikaners ongemaklik voel oor die skadu wat op hul Afrikanerskap gewerp word. Steve hét ’n ander opsie – om regstappe teen veral die prominente instellings en persone te doen wat hom ʼn rassis noem, en so die werklike feite en bedoelings op die tafel te probeer dwing. Dis ’n komplekse soort saak, en Steve sal dit waarskynlik moeilik vind om ’n regspraktisyn te vind wat hom hiertoe sal adviseer.”

Steve het aangedui dat hy nou eers regsadvies gaan inwin.

Conrad Koch (die man agter die buikspreekpop Chester Missing) se advokaat, die bekende adv. Steven Budlender wat ’n indrukwekkende regspan gelei het, het toegegee dat Koch Steve belaster het. Hy het dit egter as irrelevant beskou, omdat die remedie wat Steve ingespan het, een teen teistering en nie laster nie was. Die landdros het egter wel vir alle praktiese doeleindes laster-norme ingespan, en hierdie is ’n saak met baie skerp hoeke. Onder die verwere teen laster tel onder meer dat iets nie laster is as dit wat gesê word die waarheid is nie, of in openbare belang is.

Dr. Dan Roodt, wat die saak namens Hofmeyr gedryf het en hom ook gister in die hof verteenwoordig het, het byvoorbeeld self ervaring van hoe ’n lasterklag terug kan byt. Roodt het by geleentheid twee persone, waaronder die bekende rubriekskrywer, dr. Leopold Scholtz, en Media 24 vir laster voor die hof gesleep. Scholtz het Roodt ’n rassis genoem, en Roodt het die saak verloor.

ʼn Verdere aspek wat deur die landdros uitgewys is, is dat Steve as openbare figuur stellings maak wat oop is vir interpretasie. Hy is ook nie net ’n kunstenaar nie, maar ook ’n aktivis. In wese kom dit daarop neer dat mense in sekere posisies hulle meer vir kritiek sal blootstel.

Bedoeld of onbedoeld, het Steve hom nou in die speelveld bevind waar die regspraak spook om ’n goeie balans te vind tussen die reg op meningsuiting teenoor die ander se reg op waardigheid. Binne die liberale omgewing word veel meer klem op die bykans onbegrensdheid van meningsvryheid geplaas. Dit word wel in ons grondwet begrens deur ’n verbod op haatspraak en die aanhitsing tot geweld. Die onlangse aanvalle op AfriForum en Solidariteit deur veral Ikey-akademici oor die Dookoom-kwessie toon hoe bykans onbegrens die liberale hierdie reg beskou, sodat die reg op waardigheid (wat ʼn mens sou dink binne ʼn liberaal-humanistiese omgewing baie belangrik moet wees) eintlik onbenullig word. (Jy hoef nie te kan hoor en sien nie, solank jy net kan praat).

Natuurlik is hierdie liberale koor minder verdraagsaam wanneer dit wat onder meningsvryheid deurloop, hul eie heilige koeie is.

Uit gister se uitspraak het dit gelyk of Steve se oorspronklike twiet vertolk is om iewers te val tussen buite perke van toelaatbare meningsuiting, en loshande anderkant die liberale se heilige koeie.

Maar Steve is meer as net kunstenaar en aktivis, en baie van sy kritici het dit op die harde manier ervaar. Steve is ook ʼn ikoon, en ikone se aanhangers is selde objektief oor hul ikone. Kritiseer ’n ikoon, en kyk hoe word jy verguis deur aanhangers wat niks verkeerd van hul held wil weet nie.

En juis hierom kan Steve se teen-veldtog heel moontlik ’n groot impak op sy kritici se borge hê. Steve meen met die uitspraak is die hekke nou oopgegooi. Gelukkig beplan hy om eers regsgeleerdes te gaan spreek, want in ’n komplekse regsmoeras soos hierdie is dit ’n geval van as een blinde ’n ander blinde lei, val beide in die dryfsand. Selfs die beste advokate word as hulle self aangekla word, aangeraai om nie hul eie sake te behartig nie omdat hulle subjektief staan.

Uit baie van die leserskommentare tot dusver blyk ’n versugting van Steve se aanhangers om die Steve wat hulle ken terug te kry. Steve die kunstenaar, Steve die mens wat ook met deernis die vrot pampoen en stukkende skoen kan raaksien, Steve wat as rolmodel dien in sy optrede na hy vir spoed gevang is – nie Steve as aktivis wat aan Don Quixote en die bestorming van windmeulens herinner nie.

Ruimte en ʼn rol vir  Steve as aktivis is daar gewis. Die omgewing waarbinne Steve optree leen hom tot bitter baie beweegruimte vir ’n aktivis. Dit is ook die beweegruimte waarin Chester Missing as satirikus optree.

Dis ’n omgewing waarin die parlement eintlik disfunksioneel geword het omdat die ANC ’n statutêre staatsgreep uitgevoer het. Van ’n regering wat in algemene belang regeer, is geen sprake nie, en vanuit Luthuli-huis word die marionettoutjies getrek van ANC-parlementslede om ’n klassieke diktatuur van die meerderheid te dryf. Stil-stil is die president, maar ook ander ministers ongrondwetlik van verantwoording doen aan die parlement (wat die opposisiepartye insluit) gevrywaar. ’n Suid-Afrikaanse diplomaat kritiseer die VN omdat Suid-Afrikaanse minderhede spreekbeurte gekry het by ’n komitee wat juis oor minderheidsaangeleenthede spesialiseer.

Dit is juis nou dat die uitgebreide demokrasie, soos die vrye media, burgerlike instellings en die kunstenaars hul rol moet speel. Dink maar aan hoe ’n groot rol skrywers en digters gespeel het om apartheid af te takel. Talle het selfs in selfopgelegde ballingskap in die buiteland gaan woon.

Maar die stemme uit hierdie geledere oor die vergrype teen demokrasie – ook grondwetskendings teen minderhede – is nie naastenby so verbaal soos gedurende apartheid nie. Tot hul krediet het uitvoerende kunstenaars wat in satire spesialiseer, en ’n aantal spotprenttekenaars nie op hul laat wag nie.

Die rol van die aktivis is egter baie komplekser. Dink maar hoe lyk die kommentaarkolomme onderaan die rubrieke van politieke analiste wat terselfdertyd ʼn aktivistiese styl aanneem. Dis dikwels ’n smerigheid wat ander laat walg.

Maar wat is ʼn aktivis nou eintlik? Definisies verskil baie. Aan die een kant word iemand wat deelneem aan ’n veldtog, ʼn aktivis genoem bloot weens sy of haar deelname daaraan. Cambridge beskryf ’n aktivis as iemand wat sterk glo in politieke of maatskaplike verandering en wat aan veldtogte daarvoor deelneem soos openbare protesaksies in ’n poging om dit te probeer bereik.

Aktivisme word ook as ’n betrokke gemeenskap beskryf. Aktiviste se doeleindes is gewoonlik edel, soos om te probeer voorkom dat ’n gemeenskapsbiblioteek gesluit word, of wat vra dat daar spoedwalle in die strate kom om kinderlewens te beveilig.

Die definisies sluit nie in dat ’n aktivis omstrede moet wees, omstrede sake moet dien, of van omstrede metodes gebruik moet maak nie. Dikwels word van hom verwag om opofferings te maak, soos om die hand in die sak te steek vir die koste om pamflette te druk, of bietjie arbeid soos vir die insameling van handtekeninge vir petisies. Daar behoort geen regstreekse aanslag te wees teen die aktivis se vermoë om in sy “gewone lewe” ’n inkomste te verdien nie.

Die aktivis moet die wysheid van Salomo in pag hê om die regte ding te sê of doen, veral as hy nie as deel van ’n span optree waar daar kollektiewe wysheid in besluite opgesluit is nie.

Die aktivis luister na raad van goeie vriende, en Steve weet waar hy altyd ’n oop deur sal kry.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarie ·

Die beste repliek op die hele drama wat hom oor die afgelope week afgespeel het. Wat baie insiggewend tydens die hele saga was dat daar min swartes was wat direk aan die sirkus deelgeneem het.

Danie ·

Ek dink die verwysing hierbo na Don Quixote hierbo moet Steve ter harte neem.Was dit nie net n gejaag na wind nie?Wat is nou eintlik bereik?Afrikaners het vir my altyd hierdie soeke na leiers,Die leier moet gevolg word en alles sal deur die leier gedoen word.Verder is die rugby die belangrikste.Verder is ons apaties.
Sluit aan by Afriforum en Solidariteit.Maak n bydrae,ek doen dit.Ek voel goed deur dit te doen,want ek voel nie so onbetrokke en magteloos nie.Ek weet ek behoort aan n organisasie wat namens my praat.Dis n groep mense wat saamwerk om iets te bereik.
Word wakker.Laat staan die apatie en die verwagting dat een leier alles sal regmaak.

Alda ·

Hi Herman

Baie goeie uiteensetting maar as jy sê meeste mense wil Steve net as sanger weer sien dink ek julle maak ’n fout, te wyte aan sy sosiale media profiel kry hy binne etlike ure maklik 7 000likes en 100e kommentaar waarvan 90% pro afrikaner polities is.
Ek dink persoonlik baie min blanke afrikaners is rassisties maar ons word op bykans enige standpunt of opinie wat meestal op feite gerig is toegesnou as rassiste deur die ANC, EFF en selfs ons eie “Liberale” mede-afrikaners. Die absolute agteruitgang van die land en die wete dat die NP regering baie beter was as die ANC regering, die onderdrukking van die Afrikaner en die afgryslike misdaad wat deur die swartmense op ons blankes gepleeg word maak dit onmoontlik om nie ras in te bring nie. Ek dink nie eens die gemiddelde Afrikaner gee meer om om ’n rassis genoem te word nie, want as ons nie in so ’n onetiese samelewing vol geweld en wanorde kan funksioneer nie, waarom moet ons skuldig voel? Ek dink ook ons soek ’n leier ja! Een wat kan opstaan en die waarheid praat. Ek hoop dat julle, Afriforum, Solidariteit en Steve kan saamwerk in die toekoms om as een front en leier na ons belange om te sien. Om ’n nasie nie sy eie ontwikkeling in sy taal en kultuur toe te laat nie is baie meer krimineel as wat apartheid kon droom om te wees. Onthou ook net dit is ook tyd om die goeie dinge van apartheid baie sterk na vore te bring. Die ANC is onder die indruk ons het nooit skoling verskaf aan die swartes nie – ons het ’n groter impak op skoling gehad onder die swartes as die huidige regering moontlik en die np regering het meer as 1/3e van die land se begroting spandeer op swart onderwys. Daar is selfs universiteite vir hulle gebou. Die ANC regering gun ons niks, wil geen bydrae wat ons kan lewer aanvaar nie en as ons ons eie ding doen wil hulle ons ook begrawe, nie omdat ons apart wil ontwikkel nie (wat niks mee fout is nie – ons pla mos niemand) maar omdat hulle bang is vir ons sukses!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.