Nuuskommentaar: Steve, kom huis toe vir Kersfees asseblief…

Argieffoto

Argieffoto

Oor twee weke is dit Oukersaand, en die dag daarna Kersfees. Dit is tradisioneel die tyd wat gesinne wat weens werksomstandighede en huwelike ver uit mekaar woon, probeer om bymekaar te wees – ’n familiefees in die kleine, en ook nie altyd eens so danig in die kleine nie. Die gemeste kalf by wyse van spreke, en die kalkoen meer dikwels, word geslag vir ’n fees. Waatlemoene en spanspekke, gemmerbier, kleinkoekies, ’n vrugtekoek, gebakte aartappels, roomys…

Saamwees word dikwels as sinoniem met gelukkig wees beskou. Hierdie kuiers word om die beurt by die ouers en die skoonouers gehou.
In die gees van wat meer as 2 000 jaar gelede in Israel gebeur het, is dit ook die tyd wanneer families tradisioneel baie tyd aan versoening spandeer. Binne families, en selfs binne gesinne, kan onmin oor baie dinge broei en groot verwydering veroorsaak. Oor Kerstyd neem gemiddeld meer mense hul eie lewens – mense wat juis dan wanneer ander van vreugde straal, sy of haar eie vereensaming die meeste voel.

Dikwels sal die “swartskaap” en sy gesin juis dan hul eie nuwe familiefees begin, met die beste voorneme dat die foute wat tot die verwydering met die ander gelei het, nie herhaal sal word nie. Maar die mens is feilbaar, en iemand sal wel weer ‘n fout maak (wat hy nie sal erken nie) en nuwe verwyderings tree in.

Maar is dit nie maar ’n spieëlbeeld van die werklike lewe nie? Gemeenskappe wat onderling soveel met mekaar deel, soos taal en liefde vir daardie taal, wat dan om ander redes soos ideologiese redes uit mekaar dryf en in groot bitterheid of selfs vyandskap teenoor mekaar te staan kom.

Terwyl die duisende stemme van Kersliedere by kerslig gisteraand in verskeie Bloemfonteinse woonbuurte ver gehoor kon word, het die gedagte aan kerse by baie gemengde gevoelens opgeroep wees beurtkrag die vorige dag, terwyl Eskom se grootbaas joernaliste probeer verseker dat Eskom geen probleme (behalwe met kraglewering) het nie. Dit slaan weer diep vore in die gemoedere van gemeenskappe wat oor mense met die nodige kundigheid beskik, maar wat weens die kleur van hul vel nie nadergetrek word om te help nie.

Munisipaliteite is weens kaderontplooiing in groot moeilikheid, en nou ontplooi die minister 122 amptenare van sy departement om hierdie munisipaliteite te gaan help om sake reg te ruk. Sou die minister (nuut in hierdie portefeulje), nie weet dat dié oefening al telkemale op die proef gestel is nie? Dat munisipaliteite steeds agteruitboer ten spyte van die huur van peperduur konsultante? Uit die sosiale media se kommentare lyk dit of min mense veel hoop het dat hierdie span – wat ook hopeloos te min is – hond haaraf sal kan maak.

Die jongste versoeningsbarometer dui ook daarop dat sake ver weg gedryf het van die reënboognasie-konsep. Ja, die regering met sy rasbenepenheid speel ‘n enorme rol hierin. Maar die individue, dikwels warm gebroei in kletskamers of ander groepe, kan ook enorme skade aanrig. Hierdie individue se skadelike optrede ontlok dikwels weer reaksie waar die een wat reageer, die ander probeer oortref, en die verwoestende tsunami word net al sterker.

Uit ’n mediaverklaring van Front Nasionaal blyk dit dat ’n werknemer van die departement van onderwys in KwaZulu-Natal die volgende op haar Facebookblad geskryf het: “F*ck all of you white c*nts…” (Sterretjies deur ons aangebring.) Sy word by die naam genoem, en dit behoort dus vir die departement maklik te wees om haar op te spoor en teen haar op te tree.

En die onus rus nou swaar op die departement om ewehandig op te tree, want hierdie rassisme/haatspraak is waarskynlik erger as dit waaraan twee leerkragte van die Vrystaat – een ’n skoolhoof – skuldig bevind en oor ontslaan is.

Maar is dit erger as die kômmintaar van iemand wat by dr. Corné Mulder van die VF Plus se Facebookfoto, waar Mulder saam met Anchen Dreyer van die DA en Lindiwe Zulu van die ANC voor ’n TV-debat verskyn, skryf as hy self saam met ‘n m**d op ‘n foto moet verskyn pleeg hy selfmoord?
Dit is goed en wel as ‘n instansie mense soos hierdie by die bevoegde instellings gaan verkla, en sorg dat hul gif nie mooi projekte – soos die skep van ’n Afrikaanse universiteit – kelder deur die versterking van vooroordele nie. Maar dit is nog belangriker dat wanneer mense in eie geledere skeeftrap, daar in daardie geledere self met so ‘n persoon in liefde, maar beslis gehandel word.

Maar daardie persoon is byna gewaarborg om elders omarm te word.

Iemand wat in die ANC droogmaak, en dan wel teenspoed op die lyf loop (gewoonlik eers wanneer hy met pres. Jacob Zuma begin fout vind), weet hy gaan soos ’n held in die EFF ontvang word. Hy word in sy kwaad gestook.

Al manier om tot die sin van redelikheid terug te keer, is om ’n beroep op die persoon wat in ’n oomblik van woede of welke rede ook al uitgehaak het, se redelikheid te doen.

Om eerder deel van die oplossing te wees, as deel van die probleem.

Voor Kerstyd sal daar baie oproepe wees om “nukkerige kinders” te oortuig om tog nou “nie so te wees nie” en saam Kersfees te kom hou. Waar lapwerk moontlik is, sal seker baie voorwaardes gestel word om te probeer keer dat die kuier ontspoor word. Beloftes sal gemaak (en dikwels kompulsief gebreek) word. Hier en daar sal ’n nefie en niggie mekaar bloedneus slaan in ‘n stryery oor wie se ouma die ouma nou eintlik is, en van woede sal een gesin moontlik kort voor die geskenke oopgemaak word, die pad vat.

Maar in die breër verband van ’n volk se meningsvormers behoort meer volwassenheid te kan seëvier. ‘n Huis wat in homself verdeeld is, kan immers nie bly staan nie. En ’n huis wat deur eenogiges gebou is, ook nie. Veral nie as dit boonop die gevaar inhou dat dit die stewige huis langsaan met die omvalslag erg kan beskadig nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Kobus ·

Herman, ek lees ook jou kommentaar onder aan Christi se skrywe in Netwerk24 oor SA en Israel. Een ding wat die realiteit is, is dat beide jy en Leopold Scholtz seker dié ewewigtigste skywers is oor die werklikhede soos dit is.

Julle het daai insig om te evalueer en dinge in plek te sit sonder dat enige eie voorkeure met julle op loop gaan.

Julle is realiste, analiseer en gee dit weer soos dit werklik is.

Kobus ·

Skuus, en toe sê ek nie dankie vir ‘n ongelooflike gevoelvolle skrywe nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.