Nuuskommentaar: Steve, Van Damme en Zille: Dit bly sukkel met ewehandigheid oor rassisme

Steve Hofmeyr (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die DA sit weer met ’n dilemma oor hoe om ’n ras-sensitiewe situasie te hanteer. Gaan die DA daarin slaag om die situasie ewehandig te hanteer en so ’n verdere uitvloei van wit stemme te stuit?

Veral twee voorvalle bly nou in die nuus, hoewel daar ook ander is wat kort-kort ’n draai in die media kom maak – twee gevalle van beweerde rassisme.

Steve Hofmeyr is deur die ANC by die polisie verkla oor ’n twiet, en die DA sit op die oog af met die hande in die hare oor twiets en die optrede van ’n gerekende lid, Phumzile van Damme.

Op die oog af lyk dit of Steve verkla is vir iets wat hy nié getwiet het nie, maar wat ’n erg bevooroordeelde groep mense eiehandig “toevoeg”. Ander glo hy is wel moontlik skuldig aan ’n ander oortreding, maar nie dít waarvoor hy aangekla is nie. Die regsproses moet nou sy verloop neem. Steve het intussen die twiet wat die moeilikheid maak, verwyder om te probeer help om die gemoedere te laat afkoel.

Die Van Damme-voorval, en voortvloeiend daarvan, haar twietgeveg met Helen Zille, het in baie kringe Van Damme se aansien erg geknou. Hoe meer Van Damme die aandag na Zille se verlede probeer verskuif, hoe meer blyk die dubbele standaarde wat die DA in die twee gevalle toepas. En ja, Zille moes haar woorde beter gekies het.

’n Voormalige Vrystaatse premier het volgens gangpraatjies by geleentheid gesê as ons dan almal moet afdank wat korrup is, hoe gaan ons ooit regstellende aksie toepas?

Kan dit wees dat die skaarsheidsfaktor ’n rol speel hoekom sekere mense met moord wegkom, en bly wegkom? Pres. Cyril Ramaphosa is byvoorbeeld erg gekritiseer omdat hy aanvanklik erg bedenklike mense in sy kabinet laat behoue bly het. Om die kabinet skoon te kry, moes hy klaarblyklik skik met Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, deur van die vrot appels as voorsitters van parlementêre portefeuljekomitees te ondervang. Het dit met skaarsheid te doen, of ’n vorm van baantjies vir boeties?

Die afgelope paar jaar is ongelooflike juridiese akrobasie geopenbaar om wit mense wat hulle aan rassisme of haatspraak skuldig maak, tot drie keer in verskillende forums vir dieselfde oortreding te vonnis, terwyl veel erger uitlatings en optredes as “vryheid van uitdrukking” en ander “regverdigings” verskoon word.

Phumzile van Damme. Foto: Facebook

Hierdie onewehandige optrede word dikwels verklaar aan die hand van die werk van wyle Franz Fanon, ’n swart geweldsfilosoof, en veral die stelling dat ’n swart persoon per definisie nie ’n rassis kan wees nie. Hierdie opvatting, per se, is reeds erge rassisme.

Dit word soms gesê iemand wat beweer hy is geen filosoof nie, is deur daardie woorde juis ’n filosoof. Hy mag dalk ’n lekefilosoof wees, of swak ingelig wees, maar hy dink ten minste oor aspekte van die lewe. As die uwe ’n filosoof is, is dit juis in hierdie kategorie. Dit is daarom met groot omsigtigheid wat ’n pas verskene artikel van prof. Anton van Niekerk kortliks onder die loep geneem word.

Van Niekerk het dit oor die FAK, Solidariteit en AfriForum wat in terme van groepe bly dink. Op die gevaar af van oorvereenvoudiging meen hy wit mense het van die begin af, en ook ná die Anglo-Boere-oorlog, voordele gehad om te ontwikkel wat swart mense ontneem is. Hy verwys daarna as ’n era van selfbevoorregting.

Sy beskrywing van hoe sake so ontwikkel het, klink meer na die ANC se propagandaweergawe daarvan as ’n behoorlike sosiologiese (en nie net ’n politiek sosiologiese benadering nie). Hy laat dit klink of die wit mense maklik gehalteskole en universiteite op die been gebring het, terwyl swart mense afskeepbehandeling gekry het. Wat van die Milner-era?

Dit is altyd moeilik om iets wat eintlik ’n omvattende akademiese stuk is en die lengte van ’n meestersverhandeling regverdig in ’n koerantartikel in gewone mense se taal akkuraat weer te gee. Om daarop te antwoord is dus nog moeiliker.

Ja, die praktykprobleme was enorm, maar soos Julius Malema gesê het toe hy Medunsa-studente toegespreek het wat gekant was teen die assimilasie van Medunsa by die ou Universiteit van Limpopo, alles van apartheid was nie net sleg nie.

Met kritiek op die motiewe van kultuurbelangegroepe maak die Seunse Weenkoor, soos die ANC, dikwels gebruik van die tegniek om die Afrikaner sommer net so aan wit mense gelyk te stel, en so rasmotiewe in te werk in sake wat deur die internasionale reg erken word.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap (Foto verskaf deur die DA)

Feit bly, daar is agterstande, en hoewel dit ’n meer komplekse beoordeling regverdig, is soveel aspekte, soos gemiddelde gesinsgrootte, erg politiek niekorrek.

Die probleem is dat ’n komplekse situasie nie opgelos word deur dit te vereenvoudig en met politieke retoriek te laai nie.

Prof. Van Niekerk het vantevore self die woord “toe-eiening” gebruik, tot minstens onlangs erg politiek niekorrek as dit na die verwagtinge van swart mense verwys. Dié woord het die bekende ekonoom, Chris Hart, byvoorbeeld sy werk gekos – dieselfde man wat nou ten nouste betrokke is by die heropbou van gemeenskappe en dorpe wat deur rasverwante aksies skade gely het. Dit wil egter voorkom asof Van Niekerk ’n meer genuanseerd akademiese begrip koester, soos “usurpation” en “cultural appropriation”.

Maar regverdig dit alles dubbele standaarde?

Die DA het pas sowat 460 000 stemme in die laaste algemene verkiesing ingeboet, en die beskouing dat die party ’n vorm van ras-ongelykheid koester, het stellig daarmee verband gehou. Die Van Damme-kwessie is dus vir die DA uiters ongeleë en ’n groot toets om die skadelike persepsie te verwerk.

Gaan die kwessie van skaarsheid ’n rol speel? Dat iemand wat swart is, voorgetrek word om die ras-verteenwoordiging op alle vlakke meer verteenwoordigend van die land se demografie te maak? Het dit byvoorbeeld sin gemaak om die talentvolle Lindiwe Mazibuku die DA se skaduminister van landbou te maak, en dr. Louri Bosman, voormalige president van Agri SA, uit die pos te rangeer? Bosman het hom intussen by die Vryheidsfront Plus geskaar.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tommie

Gelukkig het ek al lankal van DA na VF Plus geskuif

ELIZNA

Brhoede die mense as steve groener velde oorkant die water gaan soek..

lizzii

Elizna, as jy dink dis Steve wat mense na groener weivelde laat soek, is dit dalk tyd om wakker te word my mens – Suid Afrika is in een groot gemors gedompel met of sonder Steve se uitsprake.

bambi

Malema mag se wat hy wil; so doen Steve; uhhh waar trek mense dan nou die lyn?

Leon

Wil julle nou hê die VF+ moet die land regeer. As julle Steve in die parlement sit namens die VF+, dan neem hulle die land oor.