Nuuskommentaar: ‘Stille Nag, Heilige Nag’ en ‘Somerkersfees’

wyse_manne_kersfees.jpg

Foto: pixabay.com

Meer as 2 000 jaar gelede het die engele in die veld in hul aankondiging van Jesus se geboorte voor herders die toon aangegee vir die gebruik dat Kersfees met Kersliedere besing word. Vanjaar is dit 200 jaar sedert “Stille Nag” as Duitse lied die lig gesien het, en oor twee jaar is dit 50 jaar sedert Koos du Plessis se treffende “Somerkersfees” geskryf is.

Dit is vanjaar presies 40 jaar gelede dat die strokieskarakter Charlie Brown die vraag gevra het of niemand dan meer weet wat die ware betekenis van Kersfees is nie. Sy vriendjie, Linus, wat gereeld met sy duim in sy mond was, het die duim uitgehaal, die kollig op die verhoog betree en die wêreld met kinderlike wysheid en akkuraatheid ingelig. Nou, 40 jaar later, het pres. Donald Trump min of meer dieselfde gesê. Rasmussen Reports het Linus en Trump se weergawes in ’n kort video hier vasgevang.

Vandag, meer as 2 000 jaar later, kan ons steeds die engele se weergawe lees soos wat hulle dit aan die herders in die veld oorgedra het.

Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!

En dit is vir julle die teken: julle sal ʼn kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ʼn krip lê.”

Skielik was daar saam met die engel ʼn menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:

“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het!” (Lukas 2:9-14)

Hoewel die Bybel nêrens skryf dat die engele gesing het nie, ook nie hier nie, het dit tog so ’n sterk tradisie geword sodat dit wat die engele gesê het, in talle liedere vasgevang is. Maar ook talle ander Kersliedere is oor die eeue geskryf om hierdie heuglike geleentheid met die mooiste musiek vas te vang. Boney M het selfs met “Little Drummer Boy” en “Jesus Boy Child” treffers die lig laat sien wat dekades later steeds gewild is.

Die immergroen Kerslied, “Stille Nag, Heilige Nag, is vanjaar 200 jaar oud. Die lied is oorspronklik in Duits geskryf, en het gou oor die wêreld heen in talle tale gewild geword. Die Nederlandse weergawe waaruit die Afrikaanse vertaling ontwikkel het, is na berig word nou reeds 153 jaar in gebruik.

Hoewel daar nou meer Afrikaanse Kersliedere is as deel van die florerende gospelmusiekbedryf is die bekendste Afrikaanse Kerslied stellig die immergroen “Somerkersfees van Koos du Plessis, wat na berig word die eerste keer in 1992 (ná Koos se dood in 1984) opgeneem is, maar die eerste twee strofes en liriek reeds in 1971 geskryf is. Jannie du Toit het die derde strofe geskryf. Bloot interessantheidshalwe, Koos se eerste lied, “Kinders van die wind”, is vanjaar 50 jaar gelede geskryf.

Die sogenaamde Kerslied wat in die VSA so gewild is en oral oor luidsprekers en radio’s gespeel word, “Jingle Bells”, is oorspronklik as lied vir Thanksgiving geskryf, maar later as Kerslied aangebied. Dit het egter geen verwysing na Christus nie, en nog minder sy geboorte.

Wanneer is Christus gebore?

Ons weet nie op watter datum Jesus gebore is nie, en ook nie watter jaar nie. Ons weet byna vir seker dit was nie op 25 Desember nie, want dit is onwaarskynlik dat herders in die middel van die Judese winter met hul diere in die veld sou oornag. Ons weet ook beslis dat dit nie aan die begin van die jaar nul was nie, al word ons huidige kalender aangebied as sou dit die Christelike jaartelling verteenwoordig. Herodes, wat vir die kindermoord verantwoordelik gehou word, is reeds in die jaar 4 voor Christus dood. Boonop het die “getal” nul eers later in die Weste in gebruik gekom wat dinge nog verder bemoeilik. Om na astronomiese verskynsels te kyk wat die ster van Bethlehem kon verteenwoordig, help ook nie veel nie. Die mees waarskynlike verskynsel was in die jaar 7 voor Christus.

Maar maak dit hoegenaamd saak? God is immers die skepper van elke dag van ewigheid tot ewigheid. Elke dag behoort aan Hom. Dit is dan mos niks meer as reg nie: as heidene van God se dae “steel” om hul feesdae te hou, sal daardie dae by die bekering van die heidene vir God teruggeneem word!

Die sewe dae lange week was byvoorbeeld lank reeds in onder meer Mesopotamië in gebruik. Sewe deel mooi in die 28 dae in wat dit die maan neem om om die aarde te wentel, en het ’n lewensvatbare getal dae gebied om besproeiingsbeurte vir die titelhouers van grond (kleitablette volgens sommige teoloë bekend as huisgode) toe te ken. Toe God later die Sabbat as sewende dag met Moses en die volk ingestel het, is die sewe dae ook gebruik.

Daar kan dus niks mee verkeerd wees as Christene Kersfees op 25 Desember vier nie, solank dit nie gedoen word om ook die paganisme te vereer nie.

Nie dat alle gebruike wat Kersfees en die Paasfees betref vir Christene aanvaarbaar mag wees nie. Soos die kommersialisering van Kersfees, ook deur nie-Christene, wat lustig meedoen om Kersfees uit te buit, maar as dit by Kersgroete uitdeel kom, word die godsdiens-neutrale “Happy Holidays” ingespan. Opnames in die VSA toon dat vele Christene aanstoot neem deur dié gebruik.

Christene behoort Christus se geboorte elke dag van die jaar te herdenk of vier, soos met die geval van verskeie vakansiedae, Christelik of sekulêr, die geval is. Versoeningsdag, Vrouedag, die Paasfees en Menseregtedag is voorbeelde waar die boodskap elke dag gekoester moet word, en nie net op een dag in die jaar nie. God self het tyd geskep, soos blyk uit die twee verse in die Bybel wat aandui dat een dag vir die Here soos ’n duisend jaar is, en ’n duisend jaar soos een dag – 2 Petrus 3 en Psalm 90. (Duisend dui gewoonlik simbolies die ewigheid of die oneindige aan.)

Dit lyk nie of die Bybel ’n grotigheid van verjaardae, anders as bruilofte, maak nie. Die enigste twee verjaardae wat in drie tekste genoem word, is dié van die farao wat die bakker se kop laat rol soos Josef voorspel het, en dié van Herodes (seun van Herodes die Grote) wat Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord laat aandra. Die farao was ’n heiden, en die Herodes-dinastie van Edomitiese afkoms, wat hoewel hulle die Joodse godsdiens aangeneem het en besny is ook ’n losbandige lewenswyse onderhou het.

Hierdie soort verjaardagvieringe staan in regstreekse teenstelling met die boodskap van die engele aan die herders.

Dit is ’n geleentheid van groot blydskap, met die fokus van eer aan God.

Jannie du Toit stel dit so in sy derde strofe van “Somerkersfees”:

Voel jy ook nou sy warm liefde
As ons die dag gedenk,
Toe Hy sy Seun aan ons gegee het –
Ons grootste Kersgeskenk.

Koos se twee verse lui soos volg:

Welkom o stille nag van vrede,
onder die suiderkruis,
wyl stemme uit die ou verlede
oor sterrehemel ruis.

Kersfees kom, Kersfees kom –
gee aan God die eer.
Skenk ons ʼn helder Somerkersfees
in hierdie land, o Heer.

Hoor jy hoe sag die klokke beier
In eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye
vertel die ou verhaal.

Kersfees kom, Kersfees kom –
gee aan God die eer.
Skenk ons ʼn helder Somerkersfees
in hierdie land, o Heer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae