Nuuskommentaar: Stilte in die hof!

Oscar Pistorius tydens sy moordverhoor. Foto:  Alon Skuy/Times Media Group/Pool

Oscar Pistorius tydens sy moordverhoor. Foto: Alon Skuy/Times Media Group/Pool

Die Suid-Afrikaanse howe was vanjaar verskeie kere met hoëprofielsake in die nuus. Onder die sake wat die meeste aandag getrek het, is die Oscar Pistoriussaak, die Griekwastad-moorde en die uitspraak van die Shrien Devani-saak. In al drie sake het die publiek lustig “meegedoen” en is die publiek se gevoel oor natuurlike geregtigheid getoets teen die howe se ingeligte besluite teen dieselfde regsbeginsels.

Piet, Koos en Sannie het erg uiteenlopende menings oor sake gehad, en sterk vir hul eie “geregtigheid” standpunt ingeneem.

En’n verbasende aantal mense het skielik as kenners van die regsbeginsel dolus eventualis ontpop. ’n Regsbeginsel waaroor daar skynbaar nie onder die regters volkome eensgesindheid is nie, omdat regter Thokozile Masipa hierdie beginsel na die appèlhof vir groter duidelikheid verwys het – ’n regsbeginsel waaroor die appèlhof ’n aantal jare gelede reeds ’n verklarende uitspraak gelewer het.

Hier en daar was voorsittende beamptes self in die nuus. ’n Regter is na ’n hofbevel uit haar blyplek in Bloemfontein gesit omdat sy versuim het om haar huurgeld te betaal. ’n Landdros is deur ‘n regter berispe en gevonnis om uit haar eie sak kompensasie te betaal omdat sy geweier het om ’n borgtogaansoek aan te hoor omdat die stukke in Afrikaans voorberei is. Die landdros het gewoon verklaar dat haar hof Engels is, en die saak verdaag sodat die aangeklaagde daaroor ’n tyd lank in die selle deurgebring het. Plaasaanvallers se vonnisse is drasties verlaag omdat die verhoorregter te veel klem op die erns van die misdaad sou gelê het. Hieroor is goed in die sosiale media mond uitgespoel.

In die Renate Barnardsaak het die regters van die Grondwetlike Hof drie verskillende uitsprake gehad, maar in al drie uitsprake was die gevolge dieselfde. Dit na die appèlhof, die arbeidsappèlhof en die arbeidshof elke keer ’n teenoorgestelde bevinding gemaak het. Solidariteit internasionaliseer die saak nou.

Daar is verskeie redes hoekom dit belangrik is dat die regspraak en die jutse onder die vergrootglas gehou word. Van die beloofde wigte en teenwigte wat die grondwetlike regte sou verskans, het eintlik nog net die howe agtergebly. Op die oomblik lyk dit of die Openbare Beskermer haar werk na behore doen, maar van Thuli Madonsela se voorgangers het heel termyne voltooi waar daar min vertroue by die publiek ingeboesem is. Thuli gaan ook die einde van haar termyn tegemoet en dit is duidelik dat die ANC sal sorg dat die “fout” nie herhaal word om iemand soos sy aan te stel nie.

Die gevoel is ook dat die Menseregtekommissie ’n wisselvallige rekord het, met seker die kwessie oor Vrystaatse nommerplate wat die ergste uitstaan – na meer as ‘n dekade is nog nie met die ondersoek begin nie.

Hoewel sake skynbaar heelwat by die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe verbeter het, word steeds onder radarhoogte gevlieg en is dit vir die publiek moeilik om doeltreffendheid te meet. Met kwessie soos die ministeriële aanslag teen Akademia en Afrikaansmedium-onderrig by ander universiteite, die regering se rasbenepenheid met “regstellende aksie” en die aanslag teen die Christelike etos van bepaalde openbare skole, sou verwag word dat hierdie kommissie soos ’n Joan d’ Arc tussen die vegtende menigtes sigbaar sou wees, en ’n verskil maak.

Boonop, soos sake nou staan, kan die regering hierdie instellings smoor deur die geldkrane toe te draai. Die Openbare Beskermer wurg nou. Selfs hoofregter Mogoeng Mogoeng – op sy eie ‘n omstrede aanstelling – is langlippie oor die manier waarop die howe onder geldelike en administratiewe druk geplaas word.

Ten spyte van die druk waaronder die howe verkeer, is die aansien van die howe nog betreklik hoog (hoewel volgens die jongste versoeningsbarometer ook nie so uitermatig hoog nie, met veral bruin mense wat nie ’n baie hoë dunk daarvan het nie). Die howe se aandrang op hoë gehalte veroorsaak nou dat talle sake nie die pyp rook nie omdat die polisie te dikwels nie dieselfde hoë standaarde handhaaf nie, en die aanklaer se koker met stomp en skewe pyle laai.

Met die beginsels van bo redelike twyfel (in die geval van strafsake) en met ’n oorwig van waarskynlikhede (in die geval van siviele sake) het die howe nie ’n keuse as verslonste polisiewerk nie die kriteria haal nie. Regslui is dit daarom eens dat die regter nie verkeerd was dat Shrien Devani vandag terug in Engeland is nie, nadat sy ganse optrede die afgelope aantal jare daarop gedui het dat hy ’n benoude kat is wat benoude spronge uitvoer.

Hierdie soort uitsprake laat egter ook die vraag ontstaan oor tot watter mate geld die skuldigbevindings en vonnisse beïnvloed.

Voorts is misdadigers wat weer misdade soos moord en verkragting pleeg terwyl hulle op borgtog of parool is kort-kort in die nuus, en dit help nie om vertroue in die strafregstelsel te bou nie.

Menings oor die regverdigheid van die regstelsel verskil wêreldwyd. Rasmussen het pas ’n omvattende peiling bekend gemaak oor hoe die Amerikaners oor die regverdigheid van regspraak voel. Onder die bevindings is dat terwyl meer as die helfte van die blankes meen die regstelsel is regverdig teenoor swart mense en Latyns-Amerikaners, voel net 9 % van die swart mense dieselfde. (Die peiling bring ook aan die lig dat soortgelyke getalle menings oor die polisie het – so sien 38 % van die swart mense polisielede as ’n bedreiging. Teen die agtergrond van die Ferguson- en Staaten-eilandgevalle is die peiling die moeite werd om te lees.)

In Suid-Afrika skud die publiek ook soms die kop oor hoe vinnig ANC-begunstigdes wat skeeftrap, parool kry – selfs mediese parool terwyl hul gesondheid klaarblyklik nie lewensbedreigend is nie. Algehele amnestie is ook nie ongewoon nie. Daarenteen is die hand baie toe as dit by gevalle soos Clive Derby-Lewis kom. Nie juis bemoedigend as verwag word dat Suid-Afrikaners se geloof of wantroue in die regstelsel nie dieselfde rasselyne as in die VSA moet begin volg nie.

Met die kabinet en die parlement wat nou regstreeks uit Luthuli-huis regeer word, is dit gebiedend noodsaaklik dat die regstelsel onafhanklik bly. Dit durf nie soos die uitvoerende en wetgewende gesag, en daarmee saam deursigtigheid en verantwoordbaarheid, net ingesluk te word nie.

Suid-Afrika beskik oor verstommende goeie regslui. ’n Mens hoef maar net te let na die wêrelde van verskil tussen ’n D.Phil-proefskrif in die regte, en ’n proefskrif vir ’n LL.D. Die mate waartoe Suid-Afrika in die internasionale reg ingebind is, en in veral vakgebiede soos die arbeidsreg nie tot die lande met Romeins-Hollandse regstelsels in wisselwerking is nie, is verstommend en herinner aan ’n nietige aarde in die grote kosmos.

Geen wonder nie ’n regspraktisyn moet ook ‘n ewige student wees nie.

Die regspraak durf nie die slagoffer word van politici nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Henry ·

Uitsendings van hofsake is nie veel verskillend van 7de Traan en ander soapies waaraan Jan en Sannie Alleman verslaaf is nie.
Daarom sal daar noodwendig kommentare en allerlei menings wees wat gewoonlik meer van die kommentator vertel, as wat dit van enige nut vir die regspraak, of vir mens en dier mag wees. Om aan’t teem te raak oor die ou volkie se verslawing aan die prul van soapies en hofsake, is dus nie van veel nut nie. Is maar hoe dit is my tjaaina.
Ek het begrip vir Dewani se bokspronge om ten alle koste uit die kloue van die Suid Afrikaanse regsstelsel te bly. ‘n Stelsel waar politieke gedienstigheid die bepalende faktor is wanneer aanstellings op die regbank, die vervolgingsgesag en die polisie gemaak word.
Onafhanklikheid van die regsprekende gedeelte van hierdie staat se gesagsinstellings is bloot ‘n droom wat algaande en alhoe meer in ‘n nagmerrie verander.

Eish! ·

Ennnnnn ‘n kind wat dalk fouteer het word lank toegesluit en grootmense (mans) wat van beter weet loop lekker los! 10 Hoera’s vir die wet van die opgeneukte SA! (Ek se dalk, want ek glo in sy onskuld en nee ek ken hom gladnie)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.