Nuuskommentaar: Stof oor geskiedenis as verpligte vak het nog nie gaan lê

Argieffoto

Die stof wil maar nie gaan lê oor die voorstel dat die vak geskiedenis ’n verpligte vak vir gr.10 tot gr.12 word nie. Kommer hieroor sluit in dat dit nie gaan help dat die land die soort matrieks oplewer wat Suid-Afrika nodig het nie. Die land doen erbarmlik sleg met vaardighede in wiskunde en natuurwetenskappe, en dit is waar van die land se grootste behoeftes lê.

Voorts is daar kommer dat dit as propagandavak aangebied sal word. En al is die doel heel edelmoedig om nie daarvan ’n papegaaivak te maak nie, maar een waar leerders leer dink en analiseer, kan gewonder word hoe gereed baie leerkragte is om van papegaaileer afstand te doen.

Die insluiting van argeologie (eintlik paleontologie) by dié geskiedenisvak, gaan beslis die hare laat rys van sekere godsdiensgroepe.

En gaan die vak nou minder feitefoute as in die verlede bevat? Van die ouer geslagte het al geleer dat die Indiane in wigwams woon (en dan word ’n skets van ’n tradisionele tent daarby gevoeg), terwyl dit ’n besonder klein persentasie was wat ooit in wigwams gewoon het. Dieselfde geslag moes tot hul frustrasie sien dat hul kleinkinders steeds met dieselfde dwalings gevoer word. En hoeveel kontemporêre artikels en boeke verwys nie na die vroue en kinders in die laer van Bloedrivier nie? Dit, terwyl Andries Pretorius bepaal het dat geen vroue en kinders die strafkommando mag vergesel nie. En hoeveel bronne swyg dat daar byna net soveel bruin mense en swart skerpskutters van Alexander Biggar uit Port Natal in die laer as Voortrekkers was?

Of ’n geslag of twee wat nie van swart konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog geleer het nie?

Transnasionale vlugtelinge of ekonomiese migrasie het die kwessie van pluralisme (skynbaar as versagtende woord vir heterogeniteit) sterk op die voorgrond geplaas. As heterogene land word Suid-Afrika nie gespaar nie, terwyl baie mense wat hulself as kenners hieroor aanbied, argumenteer dat Suid-Afrika eintlik die internasionale proeflaboratorium vir die oplossing van voortspruitende probleme moes wees. Internasionaal is daar egter nog ’n politiek korrekte swye oor die regering hier self se rol om dit te verongeluk.

Intussen word die kwessie op allerlei maniere hanteer. Liberale sal die piep kry oor ’n nuwe peiling wat toon dat 32% van die Amerikaanse kiesers glo die lewensomstandighede vir jong swart Amerikaners is beter onder Donald Trump se bewind as onder dié van Barack Obama. Dit is amper dieselfde (36%) wat glo dis andersom.

Die Nederlandse koerant Trouw dra vandag nie minder nie as drie berigte oor die onderwerp van diversiteit. Die insiggewendste is dié van die meningsvormer Sylvain Ephimenco:Diversiteit is een maatschappelijk probleem, als het laatste WRR-rapport klopt.” (Die WRR verwys na die Wetenschappelijke Raad voor het Regeringsbeleid. Hy was in die verlede baie krities op die WRR omdat die liggaam in die verlede geneig het om oor te gaan tot die ideologisering van sy onderwerpe. Dit sou ook ’n uitgesproke multi-kulturele voorkeur hê.)

Ephimenco is besonder nugter wanneer hy hom oor kwessies van diversiteit uitspreek. Hy was ’n kind in Algerië toe die Algerynse opstand onder meer tot die massamoord van wit mense gelei het.

’n Artikel wat dalk nog nader aan die beoogde leerplan hier kom, vra die vraag oor hoe sleg dit gaan met die burgerskapsles op skool.  In nog ’n artikel word gemeld dat Europa verdeeld bly oor sy asielbeleid.

De Standaard van België raak ook vandag aan laasgenoemde kwessie en verwys daarna as die “Hervorming van Dublin”. In nog ’n artikel word gemeld dat Italië nie alle armes kan opvang nie.

Suid-Afrika se realiteite ondervang elkeen van hierdie kwessies, en maak dit uiters moeilik om te hanteer, laat staan nog op te los. Die Wes-Kaap word byvoorbeeld onder groot druk van “ekonomiese vlugtelinge” geplaas (’n uitdrukking wat eens deur die DA gebruik is, en groot ontsteltenis by die ANC ontlok het). Dit word egter deur sensussyfers van 2011 gedemonstreer toe die swart bevolking tot 33,4%, van 26,7% in 2001, toegeneem het. Persentasiegewys het die bruin en wit aandeel in die bevolkingsamestelling afgeneem. Nie net Kaapstad word onder geweldige druk oor dienste soos onderwys, en infrastruktuur soos paaie en elektrisiteit geplaas nie, maar daar is kort-kort onluste by Hermanus, Grabouw en Botrivier.

Dit help ook nie dat Hermanus – die vinnigste groeiende plek in die Wes-Kaap, weens die oorbenutting van bestaande infrastruktuur, ’n moratorium op onderverdeling en ontwikkeling moes plaas nie. Dit terwyl die swart bevolking in ’n gebied tussen die nywerheidsgebied en Sandbaai oorgekonsentreerd geword het, en die naaste geskikte plekke vir ontwikkeling sowat 24 km van die sentrale sakekern geleë is.

Die vraag waaroor baie katvoet loop, is waar dit alles teen die huidige trajek gaan eindig. Oplossings en “oplossings” word meestal vir die huidige gesoek, met die hoop dat dit tot volledige oplossings in die toekoms sal lei. Een metode is om migrasie te beperk of heeltemal hok te slaan. Grensbeheer word verskerp, en Trump se muurdroom met Mexiko het nog lank nie gesneuwel nie.

Is daar nie ’n dieper les te leer uit die skade wat buitelanders in Suid-Afrika telkemale ly wanneer gemeenskappe met onluste begin oor sake wat eintlik niks met vreemdelingehaat te make het nie?

Die nuwe geskiedenisleerplan sal met baie groot omsigtigheid en uiters goeie kennis saamgestel moet word. En waar dit te propagandisties is onder die dekmantel van meer Afrosentries te wees, rus ’n groot onus op ouers om te sorg dat hul kinders wel aan die werklike feite blootgestel word. Gelukkig speel die tegnologie saam en kan “dr.” Google sommer via die slimfoon geraadpleeg word. Maar… dan moet die kenners sorg dat die regte inligting wel deeglik op die internet beskikbaar en maklik opspoorbaar is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Dokkie ·

AG dis belaglik en niks minder as propaganda nie. Die ANC wil vir almal vertel watter helde hulle was en watter onderdrukkers die ou NP was en nog net verder rasseverdeling en haat saai .. OOK onder die kinders . dit is hoekom die land nooit sal regkom nie. NP helde word met ANC helde vervang .. maar dit was veroordeel in die NP era, maar word verwelkom en geregverdig in die ANC era. Die kinders gaan altyd hierdie haat en wraak jeens mekaar koester wat die staat heeltyd wakkermaak en wakker hou .. Die ‘aktiviste’, maak nie saak hoe wreed hulle was nie sal vereer word en diegene wat probeer goed doen het, sal as die villians uitgemaak word selfs 25 jaar na apartheid reeds geval het .. GESKIEDENIS dien in elk geval nie enige doel nie, en as ek sien hoe word die geskiedenis oor LAND verdraai, kan ek net dink hoe die geskiedenis verdraai gaan word om die wittes as die varke in die verhaal uit te beeld en al die ander groepe as helde !! Dank die Heer my kinders is uit die skool uit. Begin so gou moontlik jou kinders home school .. dat hulle nie aan die indoktrinasie onderwerp word nie.

Peet van Breda ·

Geskiedenis war reg en feitelik deur gegee word is belangrik. In Suis Afrikaanse konteks is daar egter teveel klem op die sogenaamde onderdrukking en geen waarde bygevoeg ten opsigte van die suksesvolle tuisland beleid en ontwikkeling nie. Ek het eendag agter n groep toeriste gestaan en die Suid Afrikaanse gids n total vals prentjie hoor skets by die voortrekker monument.

Natan ·

My geskiedenis maak my trots en realisties. Van uitvinding van die wiel, Noormanne/Vikings, Romeine , Spaanse Inkwisisie, Napoleon, Luther, Renaissance, Sosiale orde, ens. Die geploeter van die Afrikane is maar swak daarteen en sal my laat slaap in die klas. Die apartheidstryd weet ons nou gaan eintlik om Suid Afrika te plunder deur misdadigers. Oulik van geskiedenis is dat die vrugte van elke boom met tyd sigbaar en eetbaar word.

Liberaal ·

Gister is aangekondig dat die amerikaanse werkloosheidsyfer nou die laagste is in 50 jaar, my liberale mediameesters was seker bietjie deurmekaar toe hulle die wereld wou waarsku dat VSA ekonomie gaan ineenstort onder Trump. Weet iemand dalk hoekom ons liberales nie van Trump moet hou nie?

dr Sakkie van der Merwe ·

Die kruks van die saak berus by die ouers wat moet toesien dat hul kinders gebalanseerd opgevoed word (sien die doop belofte) maar ons ouers is traak-my-nie-agtig en kontroleer nie wat die onderwys dept (sien anc) in skole propageer nie. Ma/Pa word wakker jy is besig om jou kind vir die wolwe te voer.

Retha ·

Ek is self ‘n onderwyseres. Met die huidige werkloosheidsyfer onder jongmense sal mens dink daar sal groter klem geplaas word op praktiese vakke wat leerders tegniese en entrepreneursvaardighede aanleer…. Geskiedenis as vak, ongeag die inhoud, gaan NIE werk skep of kos op die tafel sit. Punt en klaar. Ons regering se prioriteite is gruwelik verkeerd!

Casper Labuschagne ·

Wat ons ook al hieroor te sê het, die regering se plan is die volgende:

History = [his]story = [black]story

Linda van Mosselbaai ·

Dit het niks met Geskiedenis te maak nie -hierdie haal die fokus as van wat werklik die brandpunt in die onderwys is. Ek het so baie vrae die belanrikste: Hoekom is daar na al die jare vd nuwe regering nie onderwysers opgelei om kinders in hulle moedertaal onderrig nie ? Hou liewer die skole in stand – bou genoeg skole – moet asb dit nie afbrand nie. Kyk waar ons die onderwysers kan help – nie nog hul las swaarder maak nie.

Marthinus Willemse ·

`n Skool is `n plek waar kinders geleer word om te skryf, te lees, en te dink. Kinders moet ook as heelmens ontwikkel word: as geestelike, liggaamlike, sielkundige, seksuele, denkende, mens. Ons kannie net entrepreneurs skep nie, ons moet ook denkers, filosowe, skep. Geskiedenis is `n wonderlike vak vir die dinkproses.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.